Richard het weer gekyk na die man, en skielik het hy baie jammer gevoel vir hom. "Kyk daar," het Moeder gesê; "hy wil oor die straat gaan, en daar is so baie verkeer. Gaan help hom gou, Richard."
Richard het sy mandjie neergesit en die man gaan help. "Mag ek u help oor die straat?" het Richard baie hoflik gesê, en sommer ook die man se arm gevat. Die blinde man was baie bly, en Richard het hom veilig oor die straat gehelp. Daar was heeltemal 'n ander uitdrukking op richard se gesig toe hy weer sy mandjie neem. Toe hy daardie blinde man gehelp het, het hy homself vir 'n paar oomblikke vergeet, en hy het baie gelukkig gelyk. "Dit moet vreeslik wees om blind te wees," het hy na 'n rukkie gesê.
"O, ja, dit is" het Moeder gesê. "Om net na dinge te kan kyk behoort ons baie gelukkig te maak, al kan 'n mens nie alles koop wat jy sien nie. Het jy gehoor van die man wat nou die dag weer sy gesig herwin het?"
"Nee, ek het nie," het Richard geantwoord; "hoe het dit gebeur?"
"'n Beroemde dokter het 'n operasie aan sy oë gemaak, en nou kan hy weer sien. Toe hy twee jaar oud was, het hy masels gekry en dit het hom blind gemaak. En nou, in sy nege-en-twintigste jaar, het daardie dokter 'n suksesvolle operasie gemaak."
"Blind vir sewe-en-twintig jaar!" het Richard uitgeroep. "Maar dit moes vreeslik gewees het. Hy was seker baie bly toe hy weer kon sien."
"Bly is nie die woord nie. Toe hy die bome en blomme en geboue, sy huis en sy vriende sien, het hy hard geskreeu - 'Ek kan dit nie glo nie.'
"En ek het gehoor," het Moeder voortgegaan, "dat hy hardop gehuil het toe hy sy moeder en suster sien."
'Om te dink, Moeder dat dit nou die eerste keer is dat ek u gesig sien.'
Richard het na sy Moeder gekyk, en hy het gesien dat daar trane in haar oë was. "Ek is baie jammer dat ek so naar was," het hy gesê. "Dit is aangenaam om saam met Moeder winkel toe te gaan, regtig dit is."
Moeder het sy hand so effense drukkie gegee. Sy het verstaan.