Mammie het goed geweet dat Fido nie die blomme sou afbyt nie en ook dat Tommie dit nie gedoen het nie.
"Ek sal nou maar binne toe gaan," het Mammie gesê en daar was ieets in haar stem wat Winifred laat skrik het.
"Gaan ons nou eet?" het Winifred gevra.
"Ja," het Mammie geantwoord. "Neem maar jou plek by die tafel in."
"Mag ek my melk in my eie bekertjie kry?"
"Nee, nie vanaand nie," het Mammie gesê.
"Hoekom nie?"
"Omdat die koei nie vanaand melk wil gee aan dogtertjies wat onwaarhede vertel nie."
Winifred het vir 'n rukkie stil gesit en toe het sy gevra: "Kry ek nie botter op my brood nie?"
"Dit spyt my," het Mammie gesê, "maar die botter wil nie uit die yskas kom nie - dit wil eenvoudig nie kom nie."
"Hoekom?"
"Jy weet goed waarom nie, Winifred."
"Smeer dan asseblief heuning op my brood."
"Ek is jammer," het Mammie gesê, "maar die heuning wil ook glad nie uitkom nie."
"Hoekom nie?"
"Jy weet goed hoekom nie."
Toe was daar weer vir 'n ruk stilte. "Gee my dan maar 'n stukkie koek," het Winifred gesê.
"Jy kan ook nie koek kry nie," het Mammie geantwoord, "want die koek sê dat dit geëet wil wees net deur dogtertjies wat altyd die waarheid vertel."
Nou het daar trane in Winifred se oë gekom. Dit het geskyn of haar wêreldjie ineengestort het. Al die heerlike dinge wat voorheen so gereeld gebeur het, het nou nie meer gebeur nie. Miskien sou hulle nooit weer gebeur nie.
"Dis nou slapenstyd, gaan na jou kamer toe," het Mammie gesê.
"Gaan Mammie nie vanaand vir my 'n storie vertel nie?"
"Nee, nie vanaand nie. Jy sien, niemand wil graag stories vertel aan dogtertjies wat...."
Dit was te veel vir Winifred en dadelik het die trane soos twee riviere gestroom.
"Boe-hoe-hoe! Ek het die ... blomme gepluk ... Mammie," het Winifred gestamel. "Ek is baie jammer. En ... ek ... sal ... nooit weer ... leuens vertel nie. Ek sal nooit weer jok nie."
En om die waarheid te sê, sy het baie hard probeer om haar belofte te hou.