Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
Wat Jane vergeet het
"Jane, hou op om vir arme Eric te terg," het Mammie deur die kombuisvenster geroep.
"Ek terg hom nie, hy is sommer vir niks kwaad nie," het Jane teruggeroep.
"Jy het hom kwaadgemaak, jy terg hom gedurig. Jy het hom nou al twee keer vanmôre uit die kruiwa laat val."
"Hy hou daarvan," het Jane geantwoord.
"Ek glo dit nie. Hoe sal jy daarvan hou om op die harde grond omgekeer te word, Jane?"
"Ek dink ek sal nogal daarvan hou," het Jane met 'n ondeunde glinstering in haar oë gesê.
"Wel, probeer tog soet wees en moet hom tog nie so terg nie," het Mammie mismoedig bygevoeg.
'n Paar minute lank waas daar min of meer stilte. Die twee het gelukkig en soet saamgespeel. Maar toe was daar weer moeilikheid.
"Boe-hoe-hoe!" het Eric gehuil en Mammie het weer deur die kombuisvenster gekyk om te sien wat aangaan.
"Wat is die moeilikheid nou weer?" het Mammie gevra.
"Jane het sand op my kop gegooi!" het Eric huilend geskree.
"Ek het sommer met hom gespeel. Hy het daarvan gehou," het Jane teruggeskree.
"Dit klink nie so nie. Jane, jy moet my nou mooi verstaan: ek gee jou nog één kans. As ek weer 'n gehuil hoor, kom jy dadelik huis toe, gehoor?"
Weer was daar stilte....maar nie vir lank nie.
Mammie het net begin dink dat haar waarskuwing gehelp het, toe sy weer daardie bekende geluid hoor - hierdie keer net harder as ooit te vore.
"Boe-hoe-hoe-hoe!"
Sy hardloop weer om uit te kyk - en wat sou sy sien? Daar was Jane besig om die arme Eric met 'n gieter nat te gooi asof hy 'n blom is.
"Jane, wat op áárde doen jy? Hou dadelik op!" het Mammie geskree.
"O, hy hou daarvan. Hy sê hy kry so warm. Hy hou regtig daarvan," het Jane geroep.
"Wag net tot ek daar kom," het Mammie geskree.