Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
Wat God Gaan Doen
"Mamma," het Neelsie gesê toe die drie weer eens voor die kaggel gesit het, "ek het oor nog twee vrae gedink wat ek Mamma wil vra."
"Laat ek hulle hoor. Ek hoop dat ek hulle sal kan beantwoord," het Mammie gesê.
"Hier is die eerste een: Mamma het ons vertel hoe hierdie wêreld gemaak is en hoe die mense daarop gekom het; maar hoe kan ons regtig seker wees dat God alles gemaak het?"
"Dis 'n baie goeie vraag, seun, en daarop is daar 'n duidelike antwoord. Hoeveel dae is daar in 'n week?"
"Sewe," het Iris geantwoord.
"Natuurlik, maar waarom?" het Mammie gevra.
"Ek het nog nie daaraan gedink nie. Dit is seker omdat daar maar altyd sewe was," het Neelsie geantwoord.
Toe het Mammie gevra: "Hoeveel maande is daar in 'n jaar?"
"Twaalf, het Iris dadelik gesê, "Januarie Februarie..."
"Dis reg Iris, maar waarom?" het Mammie weer gevra.
"Ek weet nie," het Iris gesê.
"Dit het iets te doen met die maan," het Neelsie gesê - hy het dit by die skool gehoor.
"Ja Neelsie, die maande word afgebaken deur die maan in sy beweging om die aarde, maar daar is niks in die lug wat die week afbaken nie. En tog is daar altyd net sewe dae in die week. elke week begin om Sondag en eindig op Saterdag - een, twee, drie, vier, vyf, ses, sewe - en dan begin dit weer van voor af. Sal ek julle vertel hoe dit begin het?"
"Ja, asseblief Mamma."
"Luister dan. Onthou julle wat die vierde gebod sê? 'Dink aan die sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen, maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God' (Ex. 20:8-10).
"Dit is die enigste verklaring wat enigeen kan gee van die week," het Mammie verduidelik. "Dit het begin toe hierdie wêreld begin het en elke sewende dag wat tot ons kom, behoort ons daaraan te herinner dat die skeppingsverhaal van die Bybel waar is en dat die mens en hierdie aarde, en die son en die maan en die sterre deur die hand van God gemaak is."
"Ek het nog 'n vraag," het Neelsie gesê.
"Nou ja, goed, vertel ons wat dit is," het Mammie gesê.
"Wat gaan met hierdie wêreld gebeur? Wat gaan God daarmee maak?" het Neelsie ernstig gevra.
"Dis darem nou weer 'n ander saak, is dit nie?" het Mammie gesê, maar dit pas tog in by wat ons die afgelope paar aande bespreekk het.
"In die begin het Jesus die wêreld baie mooi gemaak en daar het Hy twee volmaakte wesens geplaas, geskape, 'na sy ewebeeld'. Hy het hulle liefgehad en ek is seker dat Hy alles sou gedoen het om hulle gelukkig te maak. Maar hulle het verkeerd gehandel en ten gevolge daarvan het hulle al die goeie dinge verloor.
"Julle weet wat toe gebeur het; die mense het so sondig geword dat God die Sondvloed laat kom het om hulle te vernietig. Alleen Noag en sy gesin het in die ark behoue gebly. Maar toe die mense weer vermenigvuldig het, het hulle God vergeet en van daardie tyd af was daar oorloë en baie boosheid.
"Deur die jare heen het Jesus gesorg vir die wêreld; Hy het boodskappers gestuur om die mense te vertel van Sy liefde vir hulle en om hulle te vra om terug te kom na Hom toe. Baie het teruggekom en hulle het hul liefde vir Jesus getoon deur goeie lewens te lei te midde van die sonde.
"Eindelik het Jesus self na hierdie wêreld gekom en Hy het dit baie duidelik gestel dat Hy ons almal liefhet. Terwyl Hy hier op aarde was, het Hy Sy dissipels iets vertel van wat Hy vir hulle sal doen. Dit is wat Hy gesê het: 'In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is' (Joh. 14:2,3).
"Jesus sal dus eendag terugkom na hierdie aarde toe om diegene wat Hom liefhet, te kom haal na daardie wonings wat Hy vir hulle gaan berei het in Sy goue stad.
"Maar dis nie al nie. Die Bybel leer ons dat Jesus hierdie wêreld weer sal nuutmaak. Dit sal dan 'n heeltemal nuwe wêreld wees, baie mooier as die ou wêreld wat Hy eers gemaak het. alles wat verkeerd en sondig is, sal verbrand word en in die plek daarvan, sal al die heerlike dinge kom wat Jesus lank gelede vir hierdie wêreld beplan het.
"Die nuwe wêreld sal een groot stad hê, die goue Godstad, waar diegene wat Jesus liefhet, vir ewig sal lewe. Hulle sal almal pragtige wonings en heerlike tuine hê met vrugtebome en blomme en niks sal ooit gebeur om hulle ongelukkig te maak nie. Niemand sal daar ooit wil ween nie, want daar sal geen pyn wees nie en niemand sal ooit sterf nie.
"Ek sou graag daar wil woon," het Iris gesê.
"En jy kan, enigeen wat Jesus liefhet, sal 'n woonplek kry in daardie heerlike tuiste," het Mammie geantwoord.
"So dit is dan wat met hierdie wêreld gaan gebeur," het Neelsie geantwoord.
"Ja, eendag. Dit is wat die Bybel ons leer en daarom moet dit waar wees," het Mammie gesê.
"Dink Mamma dat Jesus gou sal kom?" het Iris gevra.
"Ek dink so, Iris, maar natuurlik kan niemand sê presies wanneer nie. Hy het eenmaal gesê dat Hy sal wegbly totdat die hele wêreld die evangelieboodskap gehoor het - dan sal Hy kom."
"Dit sal wonderlik wees om Jesus te sien!" het Neelsie uitgeroep.
"Ja, dit klink amper te goed om waar te wees. Maar ons moet ons vir Hom voorberei sodat ons nie teleurgesteld sal wees en uit sy koninkryk uitgesluit sal wees nie," het Mammie geantwoord en verder gesê: "Laat ons áltyd hierdie gebedjie bid: Berei my siel, o Here, Vir daardie grote dag. O, was my in U dierbaar bloed, en neem al my sondes weg."