Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
Waarom die hele wêreld hartseer was
Die hele wêreld was hartseer toe Koning Eduard VIII sy troon verlaat het. Vir dae voor hy dit werklik gedoen het, het die mense van niks anders gepraat nie. Die gerugte het in feitelik al die koerante van die wêreld verskyn.
In die groot stede, in afgeleë dorpe, en in die woestyn is daar oor niks anders gepraat nie. By 'n afgeleë grage in die eensame Arizona-woestyn, was die eerste vraag wat aan my gestel is nie "hoeveel petrol wil u hê nie?" maar "Wat van die koning?"
Orals het dit so gegaan. In die kerke, in die skole, in die eetplekke, en in die winkels, het die mense net die een vraag gehad, "Wat van die koning?"
En toe hy eindelik sy abdikasie aangekondig het, het die mensdom verslae gestaan. In sommige plekke het sake daardie dag gesluit. Waarom het die mense hom so liefgehad? Die vernaamste rede, meen ek, was sy bedagsaamheid teenoor ander, gepaard met 'n begrip van hulle behoeftes. Daar was iets omtrent sy opregte vriendelikheid, en veral sy belangstelling in gewone mens, wat die liefde van almal gewin het - Engelse, Australiërs, Kanadese, Suid-Afrikaners, Amerikaners, en die mense van alle lande.
Onthou julle nog die mooi ding wat hy gedoen het met die tewaterlating van die "Queen Mary" in die Clyderivier? Daar word beweer dat hy daardie dag altesame sewe myl op die skip gestap het op sy inspeksietoer. En toe hy klaar was en almal gereken het dat hy nou sou huis toe gaan, het hy, tot verbasing van die speurders wat hom bewaak het, deur die groot skare gedring en die huise van die mense daar by die dokke besoek. Die meerderheid van hulle het in die agterbuurte gewoon - plekke wat konings nie gewoonlik
nie besoek nie - maar dit het Koning Eduard nie afgeskrik nie. Hy het by daardie huisies in- en uitgegaan, en met die verbaasde moeders en kinders gesels asof hulle aan Sandringham-paleis behoort het.
"As dit reg was om die Queen Mary te besoek, dan kan dit tog seker nie verkeerd wees om die mense te besoek wat daardie skip gebou het nie." Dit was sy houding, en toe die verhaal die volgende dag in die koerante verskyn, het dit die hele land in beroering gebring.
Dit laat my dink aan 'n ander vriendelike daad wat hy 'n aantal jare tevore gedoen het toe hy nog Prins van Wallis was.