Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
Vreugdevuur-Aand
In Engeland steek al die seuns en dogters vreugdevure aan op die vyfde November. Hulle noem dit "Vreugdevuur-aand". Wekelank maak die kinders allerhande goed bymekaar en gooi dit op 'n h oop in die agterplaas vir die groot aand. Daar is stukkies plank, onkruid, kaste, ou koerante en allerhande rommel.
"Ag Pappie, gaan Pappie dan nie vir ons klappers koop nie?" het Jim vir die honderdste keer daardie môre gevra.
"Ek glo nie ons behoort geld uit te gee vir klappers nie; nie vandag nie," het Pappie gesê. "Soos ek gesê het...."
"Ag maar Pappie," het almal geskree, "net 'n paar! 'n Paar sal niks maak nie en dit sal nie mooi lyk sonder eers een ou klappertjie nie."
"Ag wêreld, ek sal dan maar seker 'n klompie moet koop," het Pappie gesug.
"Pappie is darem maar 'n gawe kêrel. Klappers, vuurpyle, dink net, en....."
"Maar julle het gesê net 'n paar!"
"Nou ja, Pappie kan sê hoeveel."
"Wel, as ek 'n paar kry, is dit op die voorwaarde dat julle nie daaroor gaan rusiemaak nie!"
"Nee, ons sal nie," het almal gelyk gesê. "Ons sal nie rusiemaak nie, ons maak nooit rusie nie!"
"O ja, natuurlik maak julle nie. Ek dink ek het daardie storie al voorheen gehoor. Ons sal sien," het Pappie geantwoord.
Eindelik het dit aand geword en het die oomblik aangebreek waarop almal so angstig gewag het. Maar Pappie was skoonveld en gevolglik was daar ook geen klappers nie.
"Dit is darem baie swak, hy kon hulle tog gebring het," het Jim gesê.
Die minute het verbygegaan en Pappie kom maar nie. Die kinders word al net baie ongeduldig. Eindelik sê Jim dat hy in elk geval die vuur maar gaan aansteek. Hy trek ook sommer 'n vuurhoutjie en die vlamme skiet dadelik hoog die lug in. Dit was 'n pragtige gesin, maar nogtans was dit of daar iets kortgekom het sonder Pappie.
"Hoekom het Pappie nie gekom nie?" het een na die ander droefgeestig gevra. "Hoekom het Pappa nie die klappers gebring nie? Hoekom bederf Pappie dan die hele aand so?"
Die vuur het alweer begin doodgaan, toe iemand skielik uitroep: "Hier is Pappie!"
Ja regtig, daar kom Pappie - wat by die kantoor vertraag was deur belangrike besigheid - aangehardloop met 'n yslike klomp klappers.
"Hoekom is Pappie so laat?" het Jim gevra.
"Die aand is bederf," het 'n ander een gesê.
"Dis jammer," het 'n derde gesê, "die klappers is nou niks werd nie, dis te laat."