Tubby en Toby het stil geword. Hulle albei het na Pappie vraend en verras gekyk, asof hulle nie seker was of hy gemeen het wat hy gesê het nie. Toe het hulle weer na hulle kosbare potjies gekyk.
"Pappa," het Tubby gesê, "neem vir Pappie hierdie potjie konfyt."
"Baie dankie, my kind, maar ek wil regtig nie jou konfyt hê nie - ek het sommer gespeel."
"Nee, maar Pappie moet dit neem," het Tubby aangehou en hy het die potjie kkonfyt voor Pappie neergesit.
"Pappie sien, ek sal mos nog een vir myself hê."
Pappie was baie bly daaroor, maar op daardie oomblik het hy belanggestel in iets anders. Hy het gesit en loer na Toby.Daar het 'n stryd in Toby se binneste gewoed. Hy het hard asemgehaal en dan na die een en dan weer na die ander van sy potjies konfyt gekyk. Hy het die lemoenkonfyt opgetel en dit weer neergesit, toe het hy die braamkonfyt opgetel - 'n mens kon sien daar was 'n groot stryd aan die gang.
"Pappa," het hy eindelik gesê, "ek sal vir Pappie ook een van my potjies konfyt gee. Pappie kan die potjie met die brame kry."
So gesê, het Toby die potjie voor Pappie neergesit.
"Julle is twee dierbare seuns," het Pappie trots gesê. "Natuurlik sal ek nie julle konfyt neem nie, maar ek is darem baie bly dat julle dit aan my gegee het. Ek sal dit altyd onthou. En nou sal ek sien wat ek kan kry."
Pappie het in sy linkerbroeksak rondgevoel en daar was die geklink van geld - 'n geluid waarmee Tubby en Toby maar te goed bekend was!