Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
Verwelkte blomme
Ben was omtrent tien jaar oud en vir Monica wat in die volgende straat gewoon het, was hy alles wat 'n seun behoort te wees. Sy was maar net ses, maar Ben was haar held, sterk en dapper en edel. Sy het daarvan gehou om hom by haar venster te sien verbyloop om te gaan speel. Hy was die langste en die breedste en - natuurlik - ook die mooiste. As hy na haar gekyk en geglimlag het, was die hele dag vir haar mooi en gelukkig.
Een middag, toe sy gedink het dat dit omtrent tyd was vir hom om verby te kom, het sy besluit om hom 'n bossie blomme te gee. Daar was nie baie blomme in haar tuintjie nie, maar - het sy vir haarself gesê - sy gaan ten minste die bestes vir hom pluk.
Sy het hulle toe baie sorgvuldig uitgesoek en net die mooistes gepluk: 'n paar wittetjies, 'n paar rooietjies, een helder oranjekleurige, 'n paar groen blaartjies en 'n paar gesiggies. Baie versigtig het sy 'n stukkie lint van haar pop se rokkie om hulle gebind en toe gaan wag by die tuinhekkie vir Ben om verby te kom.
Maar Ben het nie gekom nie. Die middag het verbygegaan en vanweë die warm son en Monica se klewerige klein handjies, het die blomme begin verwelk. Maar Monica het dit nie gemerk nie.
Einde ten laaste hoor sy tog die bekende geluid van Ben se hartlike lag. Eindelik kom hy! Hoe bly was sy nie dat sy maar gewag het nie!
Ben het met die straat aangestap gekom, sy hart vol van die rugbywedstryd wat hulle pas gespeel en gewen het.
Monica was maar 'n klein stippeltjie op sy horison.
Maar Ben was soos die son vir haar. Toe hy verbyloop, het sy geroep: "Ben, ek het vir jou 'n paar blommetjies gepluk."