Maar Baas wou nie huis toe gaan nie. Hy het met smekende oë na Pa gekyk. "Huis toe!" het Pa kwaai gesê.
Baas het toe stert tussen die bene in die rigting van die huis gedraf. Pa het toe met sy werk aangegaan en skoon vergeet van Baas totdat hy laat daardie aand by die huis gekom het.
"Het Pappie vir Baas gesien?" het Bert gevra toe hy hom tegemoet gehardloop het. " Hy was die hele dag nie hier nie."
Toe het Pappie onthou. "Ja, hy het my vanmore na die berg gevolg, maar ek het hom teruggejaag. Het hy nog nie huis toe gekom nie?"
"Nee Pa, ons het hom glad nie gesien. Miskien het hy seergekry daar in die bos, of moontlik het hy verdwaal."
Bert het hom vreeslik oor die hondjie bekommer en Pappie ook, want die nagte was bitter koud, ver te koud vir 'n hond om buite te slaap.
Toe Bert gaan slaap, het hy vir Baas gebid. "Liewe Jesus, sorg asseblief vir arme Baas. Hou hom tog warm daar op die koue berg en bring hom veilig terug na my toe."
Die anderdagmore - toe Bert wakkerskrik - het hy 'n geblaf daar onder sy kamervenster gehoor. Bert het uit die bed gespring, die trappies afgehardloop ondertoe. En daar was Baas, heeltemal gesond- 'n mens sou nooit sê dat hy verdwaal het nie.