Tommie het skielik 'n ingewing gekry. Wat van Veerpoot, sy eie kapokhennetjie? As sy die eiers kan warm hou, sal sy ook die hondjies kan warm hou. Die vraag was of sy op hulle sou sit? Tommie het vir die hennetjie 'n nes langs die stoof gemaak, haar daarop gesit, en die hondjies onder haar geplaas.
Die hennetjie het sommer hard begin kloek, en sy was vreeslik in haar skik met haar twee snaakse babas. Vir twee weke lank het die hennetjie die hondjies warm gehou, en toe het eers die een en toe later ook die ander hondjie doodgegaan. Dit was nie die hennetjie skuld nie; glad nie. Sy het haar bes vir die hondjies gedoen en het hulle baie liefgehad. Waarom hulle doodgegaan het, het Tommie nie geweet nie.
Nadat die hondjies dood was, het hy vir Veerpoot weer op die werf gelos, maar sy wou nie daar bly nie. Wanneer die kombuisdeur oopgaan, het sy dadelik ingestap na haar plekkie daar langs die stoof waar sy so gelukkig was met die hondjies.
Eendag het daar 'n baie snaakse ding gebeur. Veerpoot was weer in die huis, en sy het van kamer tot kamer geloop asof sy na iets soek. Skielik het sy 'n klein porseleinhondjie op die klavier gesien. Sy het dadelik op die klavier gevlieg, hard begin kloek, en op die hondjie gaan sit asof sy eindelik gevind het waarna sy so lank gesoek het. Die arme Veerpootjie, sy moes daardie kleinhondjies seker baie liefgehad het!