Arme Mammie het nog nooit so hulpeloos gevoel as juis toe nie. Daar was groot gevaar en daar was sy nou hulpeloos met haar beseerde voet. "Dawid, hardloop vir water, maak gou!"
"Ja Mammie," het Dawid gesê. Hy het twee emmers gegryp en na die stroompie gehardloop - dit was sowat vyftig treë daarvandaan.
Gideon het ook 'n emmer gegryp en Dawied agternagesit. Gou was hulle terug met die water en hulle het die gras naby die skuur natgegooi. Toe het hulle weer afgesit na die stroompie en weer water op die gras gegooi.
Dit het gelyk of dit hopeloos was. Hoe kon twee seuns so 'n brand bestry met 'n paar emmers water?
"Hou die vlamme weg van die petroldromme," het Mammie geskree. "Kyk daar, die vlamme gaan daarheen."
Die vlamme het al nader gekruip na die kosbare voorraad petrol wat Pappie vir sy trekker gebruik. As dit ontplof, sal die skuur, die huis en alles in gevaar kom.
Die seuns was nou al baie moeg. Dit was of die afstand na die stroompie al groter geword het! Maar hulle het so hard gehardloop as wat hulle kon en algaande het hulle tot Jesus gebid dat Hy hulle moes help om die vuur dood te kry.
Hulle het nie 'n minuut te gou daarin geslaag om die vlamme van die petrol af weg te keer nie. Hulle was baie bly, maar hulle het geen hoop gehad om te verhoed dat al die gras in die kamp afbrand nie, maar die skuur en die huis het ongeskonde gebly. Hulle het gewen!
Dit het so gekom: toe die seuns so moeg was dat hulle nie meer kon hardloop om te gaan water haal nie, het die wind van rigting verander sodat die brand in die rigting van die stroompie versprei het - verder as die water kon dit natuurlik nie.
Die dapper brandweermanne! Mamme was baie trots op hulle en sy het dit ook gesê. Toe Pappie tuiskom en hoor wat gebeur het, was hy ook baie bly oor die optrede van die seuns.
Dawid en Gideon het later aan my gesê dat hulle seker is dat hulle die brand gekeer het omdat hulle gebid het tewyl hulle heen-en-weer na die stroompie gehardloop het met hulle emmers.