Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
Twee dapper brandweer manne
Die moeilikheid kon nie op 'n meer ongeleë tyd gekom het nie. Pappie was nie tuis nie en Mammie moes nog met krukke aansukkel as gevolg van 'n ongeluk wat sy 'n paar weke tevore gehad het. Die twee seuns, negejarige Dawid en sestienjarige Gideon, het so pas herstel van die masels en hul ouer suster was in die koshuis.
Terwyl Dawid by die kombuisvenster gestaan het, het hy rook agter die skuur sien uitkom.
"Kyk daar," het hy vir Gideon gesê, "wat se rook is daardie? Daar brand iets."
Toe skielik het hy onthou dat sy sussie papier aan die brand gesteek het op die ashoop agter die skuur. Die vuur het moontlik vir 'n hele tyd gesmeul, weer opgevlam en toe in die gras gekom.
"Brand, brand!" het hy uitgeroep.
"Wat brand?" het Mammie uit die kamer gevra onderwyl sy met haar krukke aangesukkel het.
"Dis die gras wat aan die brand is," het Dawid gesê. "Netnou is die skuur ook aan die brand, want die vuur versprei vinnig!"
Arme Mammie het nog nooit so hulpeloos gevoel as juis toe nie. Daar was groot gevaar en daar was sy nou hulpeloos met haar beseerde voet. "Dawid, hardloop vir water, maak gou!"
"Ja Mammie," het Dawid gesê. Hy het twee emmers gegryp en na die stroompie gehardloop - dit was sowat vyftig treë daarvandaan.
Gideon het ook 'n emmer gegryp en Dawied agternagesit. Gou was hulle terug met die water en hulle het die gras naby die skuur natgegooi. Toe het hulle weer afgesit na die stroompie en weer water op die gras gegooi.
Dit het gelyk of dit hopeloos was. Hoe kon twee seuns so 'n brand bestry met 'n paar emmers water?
"Hou die vlamme weg van die petroldromme," het Mammie geskree. "Kyk daar, die vlamme gaan daarheen."
Die vlamme het al nader gekruip na die kosbare voorraad petrol wat Pappie vir sy trekker gebruik. As dit ontplof, sal die skuur, die huis en alles in gevaar kom.