Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
Tom se Onbedagsaamheid
Dit was 'n vakansiedag en Tom en sommige van sy skoolmaats het besluit om in die park te gaan speel. Hulle het almal toebroodjies saamgebring en ná hulle 'n hele ruk gespeel het, het hulle onder 'n groot eikeboom gaan sit om die heerlike kos te eet wat hul ma's vir hulle ingepak het.
Hulle het gou klaar geëet en omdat hulle niks beters het het om te doen nie, het hulle mekaar begin gooi met piesang- en lemoenskille en die papier waarin hulle toebroodjies was, het hulle ook sommer daar rondgestrooi.
Terwyl hulle nog besig was met die gooiery, het daar 'n ouerige man verbygekom. Toe hy verby die seuns loop, het hy op 'n piesangskil gegly en baie hard geval. Tom het opgespring en die ou man weer op sy voete gehelp.
"Ek hoop u het nie seergekry nie, meneer," het hy gesê.
"Ek glo nie, dit was darem vir my 'n skok. Ek dink ek sal 'n bietjie hier sit, as jy nie omgee nie."
Tom het hom na een van die banke gehelp en die seuns het daar rondgestaan en gewonder of die man seergekry het.
"Ek voel nou heeltemal reg," het hy na 'n rukkie gesê. "So 'n val is baie gevaarlik vir iemand van my ouderdom. Dis darem nie mooi dat mense so onverskillig is om die piesangskille sommer so in die pad rond te gooi nie."
"Ja, dit is," het Tom gesê met ' n skuldige blik na die ander seuns.
"Ek hoop dat julle seuns nooit piesangskille so sal rondstrooi nie."
Tom het taamlik gebloos.
"Dis vreeslik selfsugtig, is die nie?" het die ou man voortgegaan.
"Ja dit is," het Tom geantwoord.
"As mense net maar sou dink aan die pyn wat hulle ander kan veroorsaak, dan is ek seker dat hulle dit nooit sal doen nie."
"Nee, hulle sal nie," het Tom gesê.
"En kyk bietjie hoe lê die papier hier rond," het die ou man gesê. "Dit is seker baie onbedagsame mense wat so iets kan doen."
"Ja," het Tom weer gesê, want daar was niks anders wat hy kon sê nie.
Die ou man het voortgegaan. "As mense maar net 'n bietjie wou dink aan ander, dan sou hulle ook nie so 'n gemors in die park maak nie, sou hulle?"