
Dirk was 'n skatlike seuntjie van ses jaar. Hy was reeds 'n jaar al op skool en daarop was die outjie baie trots. Hy het graag skoolgegaan en hy was baie lief vir sy onderwyseres. Maar hy het een fout gehad: hy was nooit betyds vir skool nie.
Ek wil nou nie beweer dat hy elke dag laat was nie, want dit sou nooit btaal nie, maar so al om die ander dag het hy doodluiters vyf of tien minute ná die skool begin het, daar aangekom.
Die onderwyseres het alles probeer om hom te laat besef dat dit nie so hoort nie. Soms het sy hom in die hoekie laat staan. Een keer het sy hom selfs weer huis toe gestuur, maar niks het gehelp nie. Sy Ma het nie geweet wat om te doen nie, want hoe sy ook probeer het om te help, het sy nie daarin geslaag nie.
Ek dink dat die wortel van die kwaad daarin geskuil het dat Dirk te veel belang gestel het in sy speelgoed en dat hy nie b esef het hoe vinnig die tyd kan verbysnel nie. Sy Pa het vir hom in die agterplaas 'n mooi sandhoop laat aanry, net soos die een by die skool. Daar het Dirk vir ure aaneen gesit en speel. Hy het mynskagte en tonnels en kastele gebou, soos die wat die kinders op die strand bou. Sodra hy van die skool af tuisgekom het, is hy reguit na die sandhoop toe en daar het hy gespeel totdat Mammie hom geroep het om te kom eet.
Maar, soos julle sal kan begryp, was hy maar baie onwilllig om in te kom wanneer sy Ma hom geroep het. Hy ht altyd gesê: "Ag Mammie, ek sal netnou kom, ek wil nog net hierdie kasteel klaarmaak." Sy Ma het hom dan 'n paar minute tyd gegee en hom weer geroep, maar al wat kom, was hy. Baie maal moes sy hom gaan haal om te kom eet.
Mammie was al net moet vir Dirk se streke en sy het besluit om daar 'n einde aan te maak. Sy het gesê: "Dirk moet geleer word wat tyd is en hoe belangrik dit is om dinge op tyd te doen."
Haar kans het ook sommer net die volgende dag gekom. Soos gewoonlik het Dirk van die skool af gekom en is reguit na sy sandhoop. Mammie het hom genoeg tyd gegee om lekker te speel en toe het sy hom geroep om te kom eet.
Dirk het geantwoord: "Ek sal oor 'n rukkie kom, Mamma, ek is besig om 'n brug te bou en as ek dit nie nou klaarmaak nie, sal dit inmekaarsak."
Mammie het nie weer geroep nie en Dirk het maar ewe salig aangehou speel. Omtrent 'n uur later het hy begin honger word, toe het hy opgestaan om te gaan eet. In die huis was alles doodstil. Hy het na sy Ma geroep, maar daar was geen antwoord nie. Daar was ook niks om te eet nie. Die tafel was afgedek en alles was gebêre. As daar iemand was om te hoor, sou Dirk gehuil het, maar aangesien hy alleen was, het hy besluit om hom maar grootman te hou.
Toe skielik het hy onthou dat die onderwyseres belowe het om hom deeglik te straf as hy weer laat by die skool aankom. Hy het dus besluit om maar gou skool toe te gaan en uit vrees dat hy laat sou wees, het hy gehardloop, maar hy was tog hopeloos te laat.
By die skool het nog 'n verrassing op hom gewag. Daar was niemand by die skool nie. Hy het nóg kind nóg onderwyseres gevind. Wat kon van hulle geword het? Hy het toe maar besluit om te wag totdat hulle terukom en op die skool se sandhoop gaan speel.
Na sowat 'n uur het Dirk kinderstemme gehoor en daar het al sy maats en die onderwyseres by die skoolhek ingekom.
"'n Dame het ons almal na haar tuin genooi," het een van die seuns opgewonde gesê.
Toe het 'n ander een hom in die rede geval en beduie: "Sy het ons toegelaat om appels en pere te pluk en te eet."
"En sy het ons ook lekker verversings gegee," het 'n derde uitgeroep.
En toe het die onderwyseres gesê: "Ja Dirk, vandag het jy darem iets goed gemis. Waar was jy dan? Dit is die verrassing wat ek julle 'n tyd gelede belowe het."
Dirk het sommer begin huil. "Kan ek nie maar nou gaan nie?"
"Ek is bevrees dis nou te laat en dit sal jou niks help nie," was juffrou se antwoord. "Maar waarom het jy dan nie betyds skool toe gekom nie?"
"E-e-ek w-e-e-e-t nie, ek was s-e-e-ker maar laat."
Arme Dirk het so sleg gevoel dat die onderwyseres maar besluit het om hom nie verder te straf nie. Sy het gemeen dat die vreeslike teleurstelling voldoende straf was. Maar sy het hom ook goed laat verstaan dat dit met hom glad nie goed sal gaan nie as hy weer laat sou kom vir skool.
Maar dit was nooit weer nodig om Dirk te berispe omdat hy laat gekom het nie.