Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
Toe die ou Ford gaan staan het
Hier is 'n wonderlike storie wat ek onlangs gehoor het - dit is so wonderlik dat julle sal dink dat ek dit sommer opgemaak het. Maar ek het nie. Dit het werklik gebeur met 'n predikant-vriend van my, en hy het my verseker dat dit heeltemal waar is. Jare gelede was hierdie meneer Brown - dis sommer 'n skuilnaam - baie platsak. Hy het geen geld in sy beursie en geen geld in die bank gehad nie. Ook het hy nie vriende gehad wat hom kon help nie.
Van alle kante het hy rekeninge gekry totdat hy nie meer geweet het wat om te doen nie.
Waaroor hy hom die meeeste bekommer het, was die doktersrekening. Julle sien, mevrou Brown en ook die baba was baie lank siek, en die doktersrekening het al groter en groter geword totdat dit later vir hom gelyk het dat hy dit nooit sou kon betaal nie. Hy moes nou weer sy vrou en kind na die dokter neem, maar hoe kon hy, aangesien hy nog nie die vorige rekening betaal het nie. Sake het maar baie swart vir hom gelyk.
Hulle het toe vir die Here gebid en staatgemaak op Sy beloftes om in al hulle behoeftes te voorsien. Mevrou Brown se toestand het baie versleg, en hullle het besluit om dokter toe te gaan, geld of nie geld nie. Maar hulle sou darem vreeslik gelukkig gevoel het as hulle die geld gehad het om eers die ou rekening te betaal.
Een agtermiddag het hulle vertrek na die dorp. Hulle motor was baie oud - dit was 'n ou Ford, en dit het so geratel en geskud dat dit enige oomblik uitmekaar kon val op die pad.
Hulle was net 'n paar myl onderweg na die dorp toe die motor skielik gaan staan het soos 'n bot muil wat nie 'n tree verder wou gaan nie. Meneer Brown het na die petrol, die olie, en alles waraan hy kon dink, gekyk, maar dit het alles niks gehelp nie. Toe het hy gedink aan die spotpraatjies dat as 'n Ford gaan staan, moet jy onder hom inloer om te sien watter onderdeel uitgeval het.