
Vir tant Emma het ek ontmoet toe die karavaantjie destyds nog op Tietiesbaai gestaan het, maar ek sal haar seker vir altyd onthou, want elke keer as ek my kerriemengsel aanmaak, onthou ek - dis tant Emma se resep. 'Masala' het sy dit genoem, maar in my gedagtes sal dit vir altyd 'tant Emma se kerrieresep' bly.
"Hoe lyk die kool dan dié djaar daa' agte' in die dyne, menee'?" vra sy toe sy haar sit gekry het voor in die bakkie. Ek het haar tussen Paternoster se witgeverfde vissershuisies by die bushalte opgelaai toe dit lyk of die noordwessie weer begin druk aan die donker reënwolke wat uit die see uit opstaan.
Sy trek die outydse wit hekelrok onder haar in en knyp die swart plastiekhandsakkie nog stywer onder die arm vas. Die hare is met 'n swart doekie in 'n yl bollatjie agter op die kop vasgemaak. Twee van die voortande is nie meer daar nie - miskien van jongmeisiedae af al. Krom skouertjies, maer, verweerde lyf, en 'n vinnige manier van kyk en weer wegkyk wanneer sy met jou praat.
Iemand wat 'n lang pad geloop het dié, besef ek toe ek na die gelynde gesig en die los wangvelle kyk. 'n Lang pad. En dit was nie die hele ent teerpad nie.
Sy sien ek verstaan nie mooi nie.
"Die hotnoskool, menee'. Of wat sê hille nou skielik vi' dit...? Véldkool. Ma' hótnotskool, dis wat ons van die outyd af gewend was om vi' dit te sê."
Ek vertel vir haar van die duine wat groen staan van die 'hotnoskool', van die Voorbaai af tot by Moordbaai verby en om tot in Melkbaai en Varswaterbaai.
Sy luister met oop mond, die oë stip op die waterpoele waardeur ons ry, asof sy my nie hoor nie, maar wanneer sy haar vinnige kyk na my kyk, is dit of ek die onthou van baie jare in haar donkerbruin oë kan sien.
"Dis waa' ons allie djare loep pluk het, menee'. Dié tyd, as Meimaand se reëns beginte val ... dan vat djy djou messietjie en djou mandjietjie... En die bietoubessies, menee'. Dié djaar gaat die voëls soe sweerlikwaa' wee' mit dit alles jeen. Ve'domme dywe."
"Ja, die bietoubossies sit trossies van die kos en die swerms duiwe het al begin aankom."
"Ek siet hille, menee'. Ek siet hille illeke dag ve'bykom dyne toe. Dis al wat hu mens kin doen as djy oud is. Djy kin maa' net voorrie hys sittingkyk. Ma' altemits ... noulat Hennerik trugkom sie toe... As die krief vollende soemer vi' hulle kin goed wies en hy kin vi' hom 'n karrentjie koep, dan sil hy my na die dyne toe kin vat, aankomste winter. Maa' ek wil nie hê lit hy moet trugkom sie toe nie, menee'. Dis my jongste en hy's al wat ek het. Die anner is amal deurie sie weggevat..."
Sy vertel van die jare toe sy alleen die vier seuns moes grootmaak na die 'sie' vir Outhys, haar man, weggevat het. "Allie gesikkel vi' niks, menee', want dis net mooi lit ek hille groothet, toe vaddie sie vir Hans, en die vollende djaar vi' Willem en Ouboet, somme' soe in ien nag. Ek voel die Djere kin maa' liewes gemaak lit Hennerik gebly-it waa' hy is daa' innie Kaap... Maa' nie, nou wil hy opsluit by sy ma wies... Maa' as menee' nou hu lekker proe wil proe, dan moet menee' daai hotnoskool sam mit hu potjiekie kerrieskinkels oppie vuur sit. Maa' da' moerit oek nie somme' net hu kerrie wiesie, dit moerrie regte masala wies wat mens self ammaak..."
*** *** ***
Teen die einde van die winter, toe die 'hotnoskool' begin min raak, pluk ek 'n emmertjievol en vat dit saam Peternoster toe om vir tant Emma te gaan gee, maar toe ek tussen die visserhuisies begin rondvra, sê hulle vir my tant Emma is nie meer daar nie. Een van die drie vissermanne wat weggeraak het toe hulle skuit naby die mosselbanke omgeslaan het, was 'Hennerik'. Dit is vir tant Emma weggesteek, maar terwyl hulle nog na die lyke gesoek het, is sy sommer so skielik in haar slaap oorlede. Sonder dat sy ooit geweet het dat die 'sie' vir 'Hennerik' ook gevat het. Of het hulle dit miskien nie goed genoeg weggesteek nie? Iemand wat weet dat die bietoubessies ryp is wanneer die 've'domme dywe' verbykom...
Elke keer as ek tant Emma se kerrieresep aanmaak, dan wonder ek maar weer van vooraf.
*** *** ***
Tant Emma se kerrieresep
So het ek die kerrieresep op die bakkie se enjinkap gestaan en afskryf die dag op Vredenburg waar ek vir tant Emma afgelaai het, op die plek waar sy vir die bus gaan sit en wag het wat van die Kaap afkom:
Twee oopgehoopte teelepels sterk kerriepoeier, twee opgehoopte teelepels borrie, 'n afgeskraapte teelepel gemaalde rissie of vars rissie, 'n mespunt gemaalde kaneel of 'n stokkie kaneel, twee lourierblare, een kardemomsaad, 'n afgeskraapte teelepel gemmer, vier huisies gekapte knoffel, tien heel swartpeperkorrels, twee groot uie.
Sny die uie in ringe. Gooi 'n bietjie kookolie in 'n platboom-ysterpot, net genoeg om die boom te bedek. Sit die pot op die vuur en maak rookwarm. Sit die uieringe in die pot se deksel, keer die deksel met uie en al op die pot om en tel dadelik van die vuur af. Hou die deksel op tot die uie glaserig word. Meng die res van die bestanddele en strooi oor die gebraaide uie. Laat die olie in die 'masala' intrek en sit op 'n stadige vuur. Moenie die deksel terugsit nie. Roer aanhoudend en braai tot die kleur verander van geel na goudbruin.
En dan is hy reg.
Wat 'kardemomsaad' is, het ek nooit uitgevind nie en ek laat dit uit die resep. Die ou boepenspot met die afgesaagde pote wat ons op die driepoot sit, vind ons uit, werk net so goed as 'n platboompot. Wat nie veranderbaar is nie, is die 'rookwarm' pot, die deksel met die uie wat jy daarin moet omkeer en die aftel van die vuur af. Elke keer nog dat ons dit anders probeer doen het, het ons kerrie gebrand.
Die mensel soos hierbo is die hoeveelheid wat ek en die Ingilsman vir een hoender of vir twee kilogram vis gebruik, maar ek moet sê, as jy hom so wil gebruik, dan moet jy dalk sorg dat jy ook liewers iemand saam met jou invat - om te help sweet. En vasstaan. Want sweet gaan jy. Ons hou van stérk goed.
As dit 'n dis is wat saam met tant Emma se kerrie gekook moet word soos hoender of maalvleis - of dalk 'hotnoskool' met skinkels - gooi dit net by die kerriemengsel in die pot saam met 'n bietjie water - en asyn, as julle mense is wat van 'n surigheidjie saam met die kerrie hou. As dit 'n mengsel is wat jy aangemaak het om die vis in te lê, hou hom op die vuur wanneer hy 'reg' is, gooi 'n halfkoppie asyn en 'n koppie water by en wanneer die ou lotjie kook, roer 'n opgehoopte eetlepel maizena, wat met 'n bietjie water aangemaak is, by. Roer tot die mengsel dik word, gooi 'n egalige lagie daarvan oor die hele bodem van die bak waarin jy jou kerrievis wil lê, sit 'n laag vis in, bedek met kerriemengsel, sit nog 'n laag vis op, bedek. En so verder.
Omdat ons baie kerrie gebruik - by vis, by mossel, by seekat, by vleis - maak ons groot hoeveelhede op 'n keer aan, skryf 'Tant Emma se kerrie' op 'n lugdigte deksel van die wyebekbottel en hou dit tussen die ander kruie. Reg vir gebruik. Waar daar ook al in hierdie boekie van 'kerrie' gepraat word, bedoel ek "Tant Emma se kerrieresep'.
Sweet maar lekker.
H
Hennie Aucamp