
Reeds jare verseg ek om Kersfees te vier, allermins in die boesem van die familie, want jou mense onderstreep als wat vals is omtrent dié dag: snikke en trane en blinkpapier. Tog kruip ek nie weg in die feestyd nie, o, nee; ek loop op straat en drink in kafees; kyk en bekyk, maar altyd apart, 'n buiteman.
Op Kersaand, verlede jaar, loop ek ouder gewoonte in die middestad rond. Dit was 'n lekker aand, nie te warm nie, sodat ek ontspanne kon nuuskierig wees. Die strate en die Parade was vol van die ou clichés: dronkies en boere en dienders; en moffies en kinders wat stuitig lawaai. Omdat ek gelukkig en gesond was, was alles en almal vir my boeiend of snaaks.
Ek was méér as gelukkig. Ek was wellewend van kop tot tone. En ek kon dit bekostig, want ek was nie betrokke nie; ek was nog altyd buite als.
Toe kom ek op hulle af.
Hulle staan bymekaar in die inham van 'n winkel, man en vrou; die vrou verwag, die man is moeg.
Die man is rondom dertig, met 'n robuuste lelikheid wat selfs nou, terwyl hy afgerem en tam is, simpatie en vertroue aanmoedig. Sy neus is lomp, maar onder verbleikte wenkbroue is sy oë verbluffend blou en mooi. Hy het 'n seilbroek en 'n sportbaadjie aan, en 'n oopnekhemp wat geskif is by die kraag. Sy lyk gewoon: 'n gesig met min verbeelding, en 'n mond wat te gedwee is.
Was dit nie somer nie, sou jy sê hulle soek 'n bietjie warmte, so styf staan hulle teen mekaar. Vreemdelinge in die stad, as ek moet raai; en beslis nie besig met vensterinkopies nie. Die stadstroom het hulle uitgedruk, nou staan hulle hier in die inham, verlore en, wat die man betref, 'n bietjie desperaat.
Die man moet gesien het ek kyk na hom, want skielik, voor ek kan padgee, staan hy reg voor my.
"Ekskuug tog, meneer," sê hy.
Eintlik behoort ek nou te loop. Maar ek bly staan, want die man se eerlike houding hou my gevange. "Ja?" vra ek nugter.
Die man probeer my stemming peil. "Toe maar," sug hy moedeloos, "ek neem u nie kwalik nie," en hy stap terug na sy vrou wat hand op die maag vir hom staan en wag.
Ek vererg my oor sy toegewing. Ek het dan niks gesê nie; en om formeel te wees is nie noodwendig onvriendelik nie!
"Wag," roep ek hom agterna, en strenger, om hom tot verantwoording te daag, "wag so 'n bietjie!"
Die man draai hom onseker na my. Die vrou kyk na hom, en van hom na my; haar mond hang half bekommerd oop.
"Wat wou jy gehad het?"
"Advies, meneer. Of u my kan sê waar ons vanaand 'n slaapplek kan kry. Losies vir die nag, meneer; vir één nag, meneer."
Nog voor ek my mond kan oopmaak, onderskep hy my vraag. "Nie 'n hotel of 'n losieshuis nie, meneer, of ons het al daar probeer."
"Die Y.M.C.A en ..." ek soek na die afkorting.
"Die Y.W.C.A," vul hy my byna ongeduldig aan. "En die Heilsleër, én twee dominees van die N.G, Kerk."
Die vrou se onderlip ruk asof sy wil huil.
Ek wens dat ek van maatskaplike werkers weet, mense wat die antwoord in dié situasie ken. "Wat van die tronk?" My vraag klink so hardvogtig dat ek my skaam daaroor. "Ek het eenmaal gehoor," krabbel ek terug, "dat die polisie in noodgevalle selle afstaan vir die nag."
Die man vat aan sy vrou se arm, asof hy haar teen verdere vernederings wil beskerm.
"Mens het jou eer, meneer."
"Nood breek wet," lag ek senuweeagtig.
Die man kyk my vas in die oë met 'n houding van Vader-vergeef-hom-want-hy-weet-nie-wat-hy-doen-nie. Dié oomblik, dié besondere assosiasie, is fataal: dit ontketen 'n spel met die romantiek. En eenmaal was daar ook twee vreemdelinge in 'n oorvol stad, en die vrou was swaar; en moes amper baar.
"Kom saam met my; ek kan julle weghelp vir nag." Ek sê dit stug, soos een wat tot 'n skulderkentenis gedwing is.
"U bedoel dit nie."
Was dit 'n berekende greep aan sy kant? Ek glo nie; sy lelike gesig is uitgeput, maar oop, sonder 'n sweem van kwaadwilligheid. Stomme, moeë Josef: hy wantrou bloot die goedheid.
Sy vrou, wat skeef teen die winkelruit leun, kyk pleitend na hom, vertwyfeld na my. Daar's trane in haar oë.
"Kom," sê ek beslis, "my motor staan op die Parade." Ek stap te vinnig vir hulle, want skielik voel ek opgelug. My Kersaand het 'n tema gekry, 'n aanloop tot 'n avontuur.
By die motor sê die man: "As meneer nie omgee nie, ons het goed op die stasie. As ons net 'n tas vir die nag kan kry..."
Ná ons 'n verrinneweerde koffer by die stasie opgelaai het, ry ons reguit na my cottage toe. Op pad probeer ek meer omtrent my gaste agterkom. Sy naam is Steven, hare kon ek nie behoorlik hoor nie, Kay of Fay of so iets. As ons by die robotte moet wag, kyk ek skrams na hom, probeer hom plaas.
"Ons storie het u al dikwels gehoor," sê die man, "u hoef dit nie te glo nie. Ek het kom werk soek in die stad - in die koerante gesien Basson soek fitters en turners. Ons is by my skoonouers weg om die huis te vol geword het en daar... nou ja, oor daar 'n bietjie stry gekom het tussen my en Pa..."
Die vrou, wat agter in die motor sit, skuif vorentoe, en raak aan haar man se skouer.
"Toe maar," sê hy kortaf.
Ons ry in stilte tot by my huis.
Intussen begin ek allerlei bedenkinge ontwikkel oor my onbesuisde goedhartigheid. Skurkery kan die mees bisarre vorms aanneem: sie sê die vrou is nie 'n man nie? In my eie huis kan ek mishandel en beroof word! Erger nog, blatante letters voor kafees: wrede moord op vrygesel.
Maar ek skud my versinsels van my af: vannag word 'n toets aan my menslikheid.
Op my drumpel, die tas in sy hand, sê die man nadruklik: "Onthou, meneer, ons wil betaal." Die vrou knik haar steun. Sy skud 'n rooi krul los uit haar hare - onteenseglik 'n vrouekrul!
Ek maak 'n ontwykende gebaar. "Later," sê ek, "ons praat nie nou daaroor nie."
Fay het nog 'n probleem. "Wat sal meneer se vrou sê?"
"Ek het nie 'n vrou nie," sê ek kortaf, "ek bly alleen."
In die sitkamer soek die man benoud na 'n plek waar hy die tas kan neersit. Die baie tapyte en vreemde meubels verskrik hom, en dan nog spieëls wat alles herhaal. Sy vrou trek haar asem skerp in, loer vinnig na haar man, en besluit om niks te sê nie.
Ek neem die tas by hom oor. "Sit, mevrou; en Steven, sit gerus; jy verdien die rus.
Die vrou gaan sit op die punt van 'n stoel.
"Sit gemaklik, mevrou," sê ek ergerlik, "die stoel is sterker as wat hy lyk."
Die man sak diep terug in sy stoel, maar met 'n gekrenkte trek op sy gesig.
Ek wil vergoed vir my taktloosheid, en praat hoog en opgewonde: "En nou gaan ons eers ietsie drink. Wat sal dit wees?" Ek kyk na die vrou. Sy kyk na haar man.
Die man praat namens sy vrou:: As u nie omgee nie, meneer, net 'n koeldrank vir my vrou."
"Sekerlik - en vir jou?"
Steven lyk bekommerd.
"Dop-en-dam" My poging om gemoedelikheid laat my goedkoop voel, maar dis effektief.
"Nou goed, meneer, maar gooi hom dood. Op 'n leë maag, sien..."
Sy vrou maak groot oë vir Steven, maar die koeël is deur die kerk.
"Hoe ingedagte van my! Sommer nou-nou gaan ons kos maak, maar 'n flouetjie vooraf om die eetlus te wek!"
Wanneer ek ná 'n rukkie van die kombuis af terugkom met 'n skinkbord, sit Steven en Fay presies in dieselfde posisies, te bang, so lyk dit my, om selfs te praat. Bedruk die ryk omgewing hulle, of eis die spanning van 'n lang dag nou sy tol?
Hoe dit ook sy, oor die drankies ontdooi hulle, en Fay sommer gou; want haar drankie is glad nie onskuldig nie. Ek het naamlik 'n flink dop jenewer in haar koeldrank gegooi. Steven, sy bene lank voor hom uitgestoot, vertroetel onwetend 'n dubbele dop.
Fay smak haar lippe. Met 'n geel kring om haar mond sê sy: "Mag God jou seën, meneer, vir wat jy aan ons doen vannag."
Steven kyk boos na haar. As daar te praat is, dan praat hy!
Om die delikate spanning te oorbrug, spring ek op en kondig aan: "Nog 'n ronde, wat! Dis nie aldag Krismis nie, of hoe!"
Ek maak korte mette met my gaste se besware. As toegewing skink ek met ligter hand. My eie drank verdun ek met water en ys. 'n Waarnemer mag sy afstand nie verbeur nie.
Ek stel 'n aksieskema voor. Eers kan Steven en Fay gaan bad; daarna sal ons saam 'n ete prakseer ... en o, ja, as Fay gemaklik wil voel, hoef sy glad nie skaam te wees nie: my japon hang agter die badkamerdeur.
Ek gaan wys hulle die gastekamer. "Jammer dis net 'n driekwartbed," sê ek skalks, maar my ondeundheid gaan aan hulle verby.
"Ag, dis niks nie, meneer," sê hulle byna gelyk.
Terwyl Fay en Steven in die badkamer is, trek ek laaie oop in die kombuis, en soek na kos in kaste. Ek kry 'n spyskaart agtermekaar: koue hoender, slaai, ertjies en wortels uit 'n blik, en, as kroon op die maal, spanspekke met kersies en duur likeur.
Eindelik is die tafel gedek, die kos gereed.
Uitgeput van opwinding, sak ek terug oop 'n stoel, kyk na my arbeid, en vind dat dit goed is en feestelik. Drie kerse brand stil oor silwer en glas.
Vanuit die kombuis kyk ek reg op die gang. Ek roep na Fay wanneer sy uit die badkamer kom. Haar hare hang los op my syjapon.
"Jislaai, maar dis mooi! Kan ek meneer dan nie help met iets nie?" Skielik onthou sy van die vuil hopie klere in haar hand. Sy steek dit agter haar rug weg. "Ekskuus tog," sê sy skaam, "ek gaan bêre dit gou."
Steven kom, baadjie oor die arm, langs die yskas staan. Hy kyk na die kerse, die tuite van die rooi servette, en hy skud sy kop en lyk bedroef.
"Meneer, ek weet nie hoe ... Asseblief, u móét my sê wat dit alles kos!"
Hoekom moet hy dít nou weet? Ek wil my goedheid geniet sonder vraag of blaam!
"Niks," mompel ek, "en dis die laaste woord oor die hele saak!"
"Asseblief, meneer, dis 'n kwessie van eer."
"Dè, hierso: maak asseblief dié bottel vir my oop." ek besef dat ek hom beveel het, en lag lughartig om my fout te herstel. "Dit lyk na 'n prop wat 'n sterk hand vra!"
Steven glimlag hoflik, maar daar bly 'n frons tussen sy winkbroue wanneer hy die kurktrekker pak. Die prop sit vas, want die bottel is oud. Ek merk hoe sy hemp oor sy voorarm span.
"Maak los die knoop, rol op jou mou," sê ek dringend.
Hy lyk verwonderd; stroop dan, terwyl hy na my kyk, sy hemp tot bo die elmboog. Daar is 'n tatoeëermerk op sy arm: 'n arend wat met gespreide kloue op die aardbol sit.
"Ag, dié ding," sê hy skaam, "dis toe ek nog in die navy was..."
In dié stadium sluit Fay by ons aan. Sy het nog altyd my kamerjas aan, lyk opgetoë en vroulik daarin.
"Loop trek jou eie klere aan," sê Steven kwaai. "Wat moet meneer van jou staan en dink!"
"Laat bly," sê ek, "ék het die voorstel gemaak. Solank sy maar ontspanne voel."
Steven beur weer 'n slag; 'n smakgeluid - die prop is uit.
"Eintlik," sê ek, "moes dié wyntjie eers kon asemhaal. Maar so met die aand kom hy tog tot sy reg."
Fay giggel onbegrypend; Steven kyk berispend na haar.
Die wyntjie kry nie juis kans om tot verhaal te kom nie. Fay drink ook. Steven laat haar begaan; maar wanneer sy te wild na die slaaibak reik, en my mou in die gevaar kom, spring hy in. "Oppas," raas hy met haar, "dis 'n duur ding dié." Hy stryk met 'n vinger oor die fyn materiaal.
"Dit kom uit die Ooste - 'n present aan myself." En in dieselfde asem kondig ek aan: "Tyd vir koffie."
"Asseblief, meneer, laat ek dit maak!"
"Goed, Fay, sê ek inskiklik, "ek sit die dinge vir jou reg. Ons gaan drink daar voor, als is hier so deurmekaar."
Fay bly lank weg. Vanuit die sitkamer hoor ek breek- en messegoed en besef dat sy besig is om skottelgoed te was.
Steven draai een van my sigare om en om tussen sy sterk vingers. "Dit was 'n mooi aand," sê hy en kyk verwytend na my.
Ek verstaan sy luim so half en half. Gekwetste ego: hy kan sy eer nie bekostig nie.
Ná die koffie stel ek voor dat ons kamers toe gaan. Fay sit in haar stoel en slaap.
Die rol van Samaritaan het my opgeskerp: ek kan maar nie tot ruste kom nie. Ek loop terug op my spoor tot waar ek Steven en Fay ontmoet het; repeteer die aand tot ek dit besit. Enkele beelde spook by my: Fay wat 'n glasie lig teen die kerslig, en met warm wange sê: "Op 'n Krismis wat ons nie verdien nie"; Steven wat met pleitende oë na my kyk: "Assebief, meneer, dis 'n kwessie van eer."
Ek skik 'n kussing teen die katelstyl en stel my bedlamp vir lees. My aandag is nie by die boek nie, sodat ek dadelik 'n plank in die gang hoor kraak, en kort daarna weet: daar's een by my deur.
'n Tik teen die deur.
"Binne," sê ek gedemp.
Steven staan in die deur. Sy hemp is oopgeknoop bo sy harige bors.
Ek probeer my skrik wegsteek.
"Is daar iets verkeerd? Het julle iets nodig?"
Ek praat te hard. Steven lê 'n vinger op sy lippe. As 'n ekstra voorsorg trek hy die deur suutjies toe.
Ek dink aan drie, vier dinge gelyk. Hy lyk nie aggressief nie, eerder skaam, maar wat wil hy hê? My romantiese aard sit op loop met my: "Jou vrou ... is dit dalk sulke tyd?"
"Nee, nee, sy's nog maande ver. Sy slaap soos 'n klip van die moeg en die drank."
'n Koue vrees begin my sloop. Ek kyk hoe ver die venster is. As ek net 'n wapen by my gehad het!
"Asseblief," sê die man, "moenie bang wees nie."
Ek is verlig oor dié woorde, want nou is ek kwaad; my bang is weg. "Ek is nie báng nie. Maar sê my net wat jy wil hê."
Hy sluk, en kyk na die tapyt. Sy hand rus swaar op sy dy. Daar's 'n dik blou aar op sy werkershand.
"Dis net dat ons so skaam voel. Jy ontvang ons of ons jóú soort mense is. Ons kan niks vir jou terugdoen nie..."
Ek protesteer floutjies. Steven is vasbeslote om deur te byt: "Toe wonder ek - kyk, ons is tog grootmense, né?" Hy kyk ondersoekend na my, asof hy die een of ander versekering by my soek.
Hy vind dit nie; gaan wankel voort: "Al is jy ryk, is jy tog alleen. Jy ken nie die troos van 'n ander nie."
Die gesrek raak boeiend. Ek knik ter aanmoediging. Hy glimlag verlig, soos een wat sy waarheid bevestig sien.
"Nou ja," sê hy, "as jy nie omgee nie, ék is gewillig..."
Ek kan skaars dink, so onthuts is ek. "Loop," roep ek skel, "asseblief, lóóp!"
Steven staan beteuterd, 'n kind wat 'n onverdiende klap gekry het. Hy haal swaar asem in die stilte tussen ons.
"Ek wou jou nie beledig nie," sê hy bitter, en loop dan met 'n trots rug weg. Die deur klink agter hom toe. Dadelik is ek by die deur, sluit dit toe.
My eerste impuls is om die polisie te bel. Gelukkig bedink ek my betyds. Wat sal m y klag wees? Dat 'n vreemdeling in my poorte op sy manier vir my goed wou wees?
Ek sit op die rand van die bed, bedag op verder gevaar. Ag, nie gevaar soseer nie, sommer iets...
Niks gebeur nie. en die hele tyd bly in my ore naklink, skril en onbeskaaf, my eie stem. Teen drie-uur se stryk besluit ek: "Te hel!"; drink 'n pil; gaan lê bo-op my komberse, want die nag is swoel.
Wanneer ek wakker skrik, val die son breed by my venster in. Ek is dadelik nugter wakker. ek soek na my japon, onthou dat dit by Fay is; sluit my deur oop en haas my, nog in my slaapklere, na die sitkamer.
Elke ding staan op sy plek. Geen spoor of teken van diefstal nie.
Die kombuis is so aan die kant as wat Fay dit gelaat het.
Voor die gastekamer aarsel ek; klop dan beslis. Geen antwoord nie. Die kamer is verlate. Die bed staan opgemaak, en op die kussing lê my japon netjies opgevou.
Ek gaan sit op die bed en stryk afwesig oor die pers japon. 'n Onredelike verwyt kom in my op: Hulle kon iets laat bly het. 'n Briefie. 'n Haarnaald. 'n Verkreukelde papiersakdog. 'n Dosie vuurhoutjies.
Iets kon hy hier laat bly het.
Minnie Postma