Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
Steve se Selfaansitter
Steve was nie 'n slegte seun nie, maar daar het een ding by hom ontbreek, hy het 'n selfaansitter kortgekom.
Miskien is dit nie heeltemal reg om te sê dat hy glad nie een gehad het nie, want wanneer daar gespeel moes word, het hy 'n selfaansitter gehad wat uitstekend gewerk het; of wanneer sy moeder hom na die winkel gestuur het om lekkers te gaan koop, dan moes julle gesien het waar trek Steve. Maar wanneer Moeder hom gevra het om briewe te gaan pos, wel dan wou Steve se selfaansitter nie werk nie.
Beide Vader en Moeder het lankal agtergekom dat as Steve iets wou doen vir homself, het hy geen moeilikheid ondervind nie, maar wanneer hy iets moes doen vir ander, het hy sommer baie ekskuse en besware gehad.
Miskien ken julle ook 'n seun of dogter wat soos Steve is. Ek wonder! Steve se Vader en Moeder het glad nie gehou van hierdie streek van hom nie, en hulle het gewonder wat hulle kon doen om sy selfaansitter behoorlik te laat werk. Wel, eendag so teen die einde van die somer, het Vader besluit dat dit tyd was om die amandels af te pluk van die groot amandelboom in die tuin, want die amandels het al begin afval, en dit was 'n teken dat die oes ingesamel moes word.
Dit was net die werk vir Steve, het hulle gedink. Al wat hy moes doen was om die amandels met 'n lang stok af te slaan, en hulle dan in 'n emmer op te tel. Vader was seker dat Steve van die werk sou hou, maar hy het hom misgis, want Steve se selfaansitter wou weer nie werk nie. As Vader hom gevra het om die boom te klim, wel dan sou dit heeltemal 'n ander saak gewees het, want Steve het daarvan gehou om boom te klim.