"Ek hou nie van kool nie," het een gesê. "Ek wil nie aartappels hê nie," het 'n ander geskreeu. "Ek wil daardie aartappel hê," het 'n derde geskreeu, terwyl 'n vierde gekla het omdat hy nie soveel as die anders gekry het nie.
Die lawaai was oorverdowend en arme Moeder, moeg van al die gepruttel, het die beste van alles wat sy voorberei het, vir die kinders uitgedeel. Sy moes tevrede wees met die wat al die ander nie wou hê nie. Sy het waarlik honger gely sodat die ander kon tevrede wees.
Wel, die oudste dogter het eers niks gesê nie; sy het maar net die spulletjie so sit en bekyk. Maar later het sy losgetrek en hulle vertel net wat sy van hul maniere gedink het. En weet julle wat? Hulle het almal gesê dat hulle dit nie opgemerk het nie!
Hulle was almal so besig om hulleself te help dat hulle nooit aan Moeder gedink het nie.
Maar toe hulle eers gesien het wat aangaan, het dinge verander. Hulle het almal gesê: "Natuurlik moet Moeder eerste gehelp word aan die tafel. Moeder werk die hardste en moet dus die beste kos kry."
En so het daardie arme Moeder wat honger gely het, eindelik gekry wat sy verdien het. Van toe af is sy eerste pleks van laaste bedien. Die kinders het haar bedien en nie sy vir hulle nie. Sy het op die sagte en nie op die hardste stoel gesit nie. Sy kon van die lekkerste kos kry in plaas van te eet wat oorgebly het.
En gevolglik het sy begin beter word; en ek is seker almal in daardie huis was gelukkig omdat hulle nie meer so selfsugtig was nie.
Maar ek wonder hoeveel ander Moeders is daar nie wat stadig van honger te midde van oorvloed sterf nie!