Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
So veilig soos 'n Bank
"Julle moet nou vir niemand vertel nie, hoor?" het Louisa aan Lulu en Isabel gesê. "Ek het julle vertel omdat julle my twee ekstra spesiale maats is. Dit is 'n groot geheim en julle moenie 'n woord verklap nie. Beloof julle?"
"Ons sal nie 'n woord sê nie," het albei beloof. "Julle moet hierdie geheim so veilig bewaar soos 'n bank 'n mens se geld," het Louisa gesê.
"Wat beteken dit?" het Isabel gevra.
"Dis wat my Pappie sê. Banke het brandkaste wat so sterk is dat diewe niks daaruit kan steel nie. Ek wil hê julle moet ook so wees."
Isabel het nie juis mooi verstaan nie. Die brokkie nuus wat Louisa hulle meegedeel het, was so interessant dat sy eintlik gebrand het om dit vir iemand te vertel. Sy het ook spesiale maats gehad, en kort hierna het sy hulle ook ontmoet.
"Julle moet dit nou aan niemand vertel nie," het sy aan hulle gesê, "maar ek het nou net iets gehoor wat so interessant is dat julle dit moet weet. Luister."
Sy het haar stem laat sak en alles vir hulle gefluister wat Louisa aan haar vertel het.
"Maar dis 'n geheim," het sy gesê, "en Louisa sê ons moet vir niemand sê nie."
"Goed," het die ander gesê, en hulle het hulle spesiale maatjies gaan soek om die geheim aan hulle te vertel, natuurlik nadat hulle belowe het om dit geheim te hou. Lulu was egter anders. Sy het baie gedink oor wat Louisa gesê het."
"So veilig soos 'n bank," het sy die woorde herhaal. Dis 'n goeie idee. Ek sal probeer om so te wees. En wanneer die diewe kom, sal hulle niks kan steel nie en net die ystermure sien."
Dit het nie lank geduur nie of een het na haar toe gekom. "Jy is een van Louisa se intieme maats, nie so nie?" het die meisie gevra.