
DEEL IV
INLEIDING
Teen 1854 was die Britse regering blykbaar daarvan oortuig dat dit vir hom die voordeligste sou wees om slegs die beheer te behou oor die kuskolonies, en het daarom besluit om die binneland prys te gee. Die gevolglike totstandkoming van twee onafhanklike Boererepublieke het aan die Voortrekkers territoriale magsbasisse gegee en 'n nuwe fase in die geskiedenis van Suid-Afrika ingelui.
Die Kaapkolonie, wat die mees vooruitstrewende, kultureel ontwikkelde en progressiewe staat van dié tyd gebly het, gevorder van verteenwoordigende tot verantwoordelike regering, gebaseer op kleurblinde stemregkwalifikasies.Natal het slegs lippediens bewys aan die beginsel van Swart stemreg, terwyl Swartmense en Kleurlinge in die twee republileke die stemreg ontsê is.
Die mate van samewerking wat in die Kaapkolonie bestaan het tussen Swartmense, Kleurlinge en Blankes kon nie verhoed dat geweld en konflik voortduur nie. Die geleidelike konsolidering van Blanke mag in die republieke is deur geskille tussen die Boere self in die wiele gery. Swart gemeenskappe in dié gebiede kon ook geen verenigde front tot stand bring nie, maar hulle het nie die toenemende ontvreemding van hul grond gedwee aanvaar nie. In 1860 het ingeboekte arbeiders uit Indië na Natal gekom, en baie van hulle het permanente inwoners van Suid-Afrika geword.
Die ontdekking van diamante was die begin van die minerale revolusie en het die grondslag van die moderne Suid-Afrikaanse nywerheidsgemeenskap gelê. Sosiale, ekonomiese en politieke verandering het vinniger plaasgevind, en hoewel die onderskeie bevolkingsgroepe meer van mekaar afhanklik geword het, het die spanning en konflik toegeneem.
In die sewentigerjare van die 19de eeu het hernieude imperiale belangstelling in die binneland meegebring dat die swak bestuurder Transvaal in 1877 sy onafhanklikheid verloor het. Twee jaar later het dit ook 'n bloedige oorlog tussen Brittanje en die Zulu laat uitbreek. Die Transvaalse Onafhanklikheidsoorlog van 1880-1881 het uitgeloop op die herstel van republikeinse onafhanklikheid noord van die Vaal. Dit het ook Afrikaner-nasionalisme aangewakker en was 'n vooruitskaduwing van die veel groter Tweede Anglo-Boereoorlog aan die einde van die eeu.
--- --- ---
Hoofstuk 11
Die Boererepublieke, 1852-1881: D.H. Heydenrych
In Januarie 1852 het die Britse kommissarisse W.S. Hogge en C.M. Owen op die plaas Sandrivier in die noorde van die Oranjerivier-Soewereiniteit 'n afvaardiging oor-Vaalse Voortrekkers onder Andries Pretorius en W.F. Joubert ontmoet om die Sandrivier-konvensie te onderteken. Hierdeur het Brittanje die eerste keer ná die begin van die Groot Trek die onafhanklikheid van 'n Voortrekkerstaat erken.
Sir Harry Smith, goewerneur van die Kaapkolonie, het die kommissarisse oorreed om nie die Oranjerivier-Soewereiniteit ook sy onafhanklikheid te gee nie, maar toe hy aan die begin van 1852 vervang is met sir George Cathcart, het vrees vir onbeheerste uitgawes in Britse koloniale beleid die oorhand gekry en het die waarde van koloniale besittings sterk onder verdenking gekom. Benjamin Disraeli, minister van finansies in die Konserwatiewe regering, se bekende oordeel in 1852 oor kolonies as "millstones around our necks" het die heersende gevoel in Brittanje geword. Die Agtste Grensoorlog (1851-1853) en die onoortuigende militêre vertonings van Britse magte in Junie 1851 en Desember 1852 by Viervoet en Bereaberg teen Moshweshwe se Basotho het die skaal finaal ten gunste van die onttrekking laat swaai.
Die Bloemfontein-konvensie, wat die Blanke bewoners van die Oranjerivier-Soewereiniteit hul onafhanklikheid gegee het, is op 23 Februarie 1854 onderteken. Die Britse onttrekking uit die binneland was volkome en skynbaar permanent, en die Groot Trek het sy logiese uiteinde bereik.
Die Republiek van die Oranje-Vrystaat
In 1848 het die Britse Oranjerivier-Soewereiniteit gestrek van die Oranje tot die Vaal en in die ooste tot by die Drakensberg-platorand. In 1849 is dié gebied verklein toe die Wardenlyn min of meer langs die Caledonrivier getrek is as grens tussen die Britse gebied en dié van die Basotho onder Moshweshwe. In die vrugbare verowerde gebied in die Caleldonriviervallei is die reënval hoër as in die res van die Vrystaat en dus baie geskik vir die kweek van graangewasse. Vir die Blanke boere was die gebied waardevol, maar vir die Basotho was dit van kritieke belang, omdat die res van hul woongebied te bergagtig was vir akkerbou.
Swart groepe tussen die Oranje en Vaal
Twee splintergroepe van Tlhaping, nl. die Barolong onder Moroka en Lepui en sy mense, het in die vroeë dertigerjare voor Mzilikazi suid van die Vaal na Transgariep gevlug. Die Barolong het die Oos-Vrystaat gewoon in 'n gebied met Thaba Nchu as middelpunt wat die sendeling James Archbell vir hulle van Moshweshwe gekoop het. 'n Goeie verhouding, gedood in 1880 tussen die Barolong en die Vrystaat bestaan, en die Barolong se onafhanklikheid is geëerbiedig.
Lepui en sy sowat 3 000 volgelinge het gelyktydig met Moroka suidwaarts verhuis en aanvanklik by Philippolis in die Suid-Vrystaat gaan bly. Struwelinge met Adam Kok se Griekwas het hulle verder laat trek tot by Bethulie, waar 'n gebied deur bemiddeling van die Franse sendeling J.P. Pelissier vir hulle afgebaken is. Mettertyd is die gesonde verhouding met die Vrystaters vertroebel deurdat Lepui grond aan Blanke boere verkoop het.
Die kleinste Swart gemeenskap was die Kholokwe onder Witsie by Witsieshoek, suidwes van Harrismith. Hulle het ook voor Mzilikazi gevlug en aanvanklik by Dingane beskerming gesoek, maar ná die slag van Bloedrivier het Witsie en 'n handjievol vlugtelinge oor die Oranje getrek. Ná veediefstalle en indringing op Blanke plase is Witsie en sy mense in die middel van 1856 deur 'n Vrystaatse kommando uit hul woonplek verdryf - die eerste gewapende botsing tussen Blank en Swart ná die totstandkoming van die republiek.
Die talrykste gekleurde groep tussen die Oranje en Vaal was die Griekwas, oorspronklik van Wes-Kaapland. Een groep, by wie Khoikhoi-bloed oorheers het, het omstreeks 1771 onder Adam Kok uit die omgewing van Piketberg en Vanrhynsdorp noordwaards getrek. By die noordgrens van die Kaapkolonie het meer Khoisan, Basters en Blanke avonturiers by hulle aangesluit. Ná Adam Kok se dood in 1795 het sy seun Cornelius (Cornelis) die leier geword. By die tweede groep, onder leiding van Barend Barends (Berend Berends), was Blanke bloed weer oorheersend. Albei groepe was as Basters bekend.
In die begin van die 19de eeu is Cornelius Kok en sy mense deur sendelinge van die Londense Sendinggenootskap oorreed om hul semi-nomadiese bestaan te laat vaar en hulle by 'n fontein met die naam Klaarwater (die latere Griekwastad) te vestig. Ook Barens se mense het daar gaan woon. John Campbell, 'n direkteur van die Londense Sendinggenootskap, het die Basters in 1813 oorreed om die naam Griekwas, wat teruggryp na die Grigrikwa, die oorspronklike Khoikhoi-groep waaruit Adam Kok se mense ontwikkel het, te aanvaar.
Die toenemende rol wat die sendelinge in sowel politieke as kerklike sake geseel het, het Kok en Baren nie aangestaan nie. Kok het na Namakwaland teruggetrek, en sy seun Adam Kok II het in sy plek agtergebly. Barends het hom uiteindelik by Danielskuil gevestig. In 1820 het ook Adam Kok II uit protes teen sendeling-inmenging as leier leier bedank en hom by sy familie gevoeg, wat reeds by Campbell gewoon het. In dieselfde jaar is Andries Waterboer gevolglik by Griekwastad as kaptein van die plaaslike bevolking gekies.
Barends en Kok het dié verkiesing as onwettig beskou, maar Waterboer se status het toegeneem, veral toe hy in Junie 1823 as aanvoerder van 'n Griekwamag saam met die Tlhaping van Mothibe 'n oormag van die Hlakwane op 'n strooptog by Dithakong, hoofstad van die Tlhaping, verslaan het. Om Waterboer se gesag nog verder te versterk, het John Melville, agent van die Kaapse regering, daarvoor gesorg dat Adam Kok II, Waterboer se vernaamste teenstander, as hoof by Campbell-vervang word deur Cornelius Kok II.
Barends het hom uiteindelik by Boetsap naby die Hartsrivier gaan vestig, en Adam Kok II op dr. John Philip se uitnodiging in 1825 by die sendingstasie Philippolis in die suidelike Trans-Oranje. In 1835 is hy deurAdam Kok III opgevolg.
Vanaf die twintigerjare was Philip besorg oor Blanke indringing in die Transgariep. Sy voorstel dat Brittanje die Griekwagebied annekseer om hul besitreg te beskerm, is nie aanvaar nie. Nogtans is 'n verdrag in Desember 1834 met Andries Waterboer aangwegaan waarvolgens hy in ruil vir 'n salaris misdadigers aan die Kaapse owerheid sou uitlewer, die kolonie teen aanvalle sou waarsku en die Oranjeriviergrens van Kheis tot by Ramah sou beskerm.
Die Groot Trek het die moontlikheid van grondtwiste slegs vergroot. Om hul grondaansprake te verstewig, het Waterboer en Kok in 1838 'n verdrag aangegaan waarin hul onderskeie gesagsgebiede omskryf is. Filantropiese druk het uiteindelik tot Britse inmenging gelei, en die Napier-verdrag, wat Adam Kok se onafhanklikheid erken en die hele gebied tussen die Oranje- en Modderrivier aan hom toegeken het, is in Oktober 1843 aangegaan. Blanke boere in die gebied het geweier om Kok se gesag te aanvaar. Daarom het die Maitland-verdrag van 1846 Kok se gebied verdeel in 'n onvervreembare gebied (van die Oranje tot aan die Rietrivier, en sy tak, die Kromellenboogrivier) waar Blankes nie grond kon koop of huur nie, en 'n vervreembare gebied (van die Riet- tot aan die Modderrivier) waar Blankes grond kon huur, maar nie koop nie. Geskille tussen Griekwas en Blankes wat voor 1846 grond gekoop het, het egter voortgeduur tot 1861, toe Adam Kok sy regte noord van die Oranje aan die Vrystaat verkoop en 'n nuwe tuiste in Griekwaland-Oos ontvang het.
Oos van die samevloeiing van die Harts- en Vaalrivier het 'n paar klein Korana- en San-stamme gewoon wie se woongebiede reeds deur Warden langs die Vaalrivier afgebaken was. Nie een van dié groepe kon egter die versoeking weerstaan om van hul grondgebied aan Blankes te verkoop nie. Die laaste klein groepie binne die Vrystaat was Adam Opperman se Basters by Bethanie, 'n sendingstasie van die Berlynse Sendinggenootskap. In 1860 het hy met sy volgelinge verhuis na 'n plaas naby Jacobsdal, en tot vandag bewoon sy nakomelinge dié sg. Oppermansgronde.
Die Vrystaatse samelewing
Die Vrystaatste samelewing het deurgaans landelik gebly. Van die 12 859 Blankes in 1856 het slegs 500 in dorpe gewoon. 'n Beduidende persentasie van die Blankes was Engelssprekendes, en in die belangrikste dorp, Bloemfontein, was hulle trouens teen 1854 in die meerderheid. Polities het hulle hul met die Kaapkolonie en sy Britse instellings geïdentifiseer. Omdat die meeste van hulle die heranneksasie van die Vrystaat deur die Kaapkolonie voorgestaan het, is die benaming "heranneksasioniste" mettertyd aan hulle gekoppel. Hul teenpool was die groep Afrikaanssprekendes, veral in die distrik Winburg, wat aansluiting by die Zuid-Afrikaansche Republiek gesoek het. Dit hulle die naam "verenigingsgesindes" besorg. Geleidelik het 'n derde, gematigde groep ontwikkel wat gesteld was op die selfstandige voortbestaan van die Oranje-Vrystaat. Ná die verkiesing van J.H. Brand as president in 1864 het hy dié middelgroep in so 'n mate om sy persoon verenig, dat hulle die politieke toneel oorheers het.
Teen 1880 het Bloemfontein nog maar 1 688 Blanke en 879 gekleurde inwoners gehad. Die regering en dorpsowerhede het probeer om die toestroming van gekleurdes na die dorpe te ontmoedig. Dié wat werk gehad het, is apart van die blanke woongebied in lokasies gehuisves. Burgerskap en stemreg is in die grondwet uitdruklik tot Blankes beperk. Gekleurdes se vryheid van beweging is deur landloperwette ingekort, en hulle was nie vry om hulle na willekeur te vestig nie, aangesien die getal Swartes per Blanke plaas beperk is.
Daar was aanvanklik geen wet wat arbeidsverhoudinge gereël het nie. In 1856 is 'n wet aanvaar wat streng beperkings op die inboek van Swart kinders geplaas het, maar die eerste behoorlike arbeidswet is eers in 1873 aangeneem. In beginsel het Swartmense 'n vrye keuse van werkgewer gehad en is geen dwang op hulle geplaas om te werk nie. Die wet het egter die regte van die werkgewer eerder as van die werknemer beskerm, en in die praktyk het Blanke boere maniere buite die wet om gebruik om genoeg arbeiders te verkry. Verder het die staat ook deur middel van 'n hutbelasting - later vervang deur 'n kopbelasting - druk op Swartmense uitgeoefen om die arbeidsmark te betree.
Eerste onsekere treë
Die Bloemfontein-konvensie is nie eenparig en uitbundig verwelkom nie. Baie Vrystaatse Afrikaners was ontevrede omdat hulle één Voortrekkerrepubliek onder Andries Pretorius noord van die Oranje wou hê, en 'n beduidende groep Britsgesindes het protesbyeenkomste in Bloemfontein en Smithfield gehou.
In dié negatiewe atmosfeer het die eerste verkose Volksraad aan die einde van Maart 1854 'n grondwet begin opstel. Hiervoor was die liggaam swak toegerus, maar met die hulp van 'n paar buitelanders en met die Amerikaanse, Franse en Nederlandse grondwet as voorbeeld, is 'n eenvoudige maar doeltreffende republikeinse grondwet daargestel. Burgerskap is toegeken aan alle Blanke inwoners wat ses maande in die land woonagtig was. Mans bo die ouderdom van 18 jaar was stemgeregtig. Die wetgewende gesag was in die hande van die Volksraad, wat minstens een maal per jaar moes vergader, 'n Staatspresident wat deur die burgers vir 'n termyn van vyf jaar verkies moes word, was aan die hoof van die uitvoerende gesag en verantwoordelik vir die staatsadministrasie. Die regspraak sou op die Romeins-Hollandse reg berus en deur landdroste behartig word. Die krygstelsel was gebaseer op die verkiesing van veldkornette vir die onderskeie wyke, wat tydens oorlog uit hul geledere 'n kommandant-generaal gekies het. Dié het sy instruksies van die staatspresident ontvang en sy amp neergelê wanneer die oorlog verby was. Kommandodiens was verpligtend vir alle manlike burgers tussen 16 en 60 jaar. Eiendomsreg, persoonlike vryheid en persvryheid is gewaarborg. Nadat die grondwet goedgekeur was, is Josias Philippus Hoffman, een van die ondertekenaars van die Bloemfontein-konvensie, tot eerste staatspresident verkies.
--- --- ---
Josias Philippus Hoffman is in 1807 op Stellenbosch gebore. 'n Goeie kennis van Engels, Nederlands en boekhou het hom goed te pas gekom in die grootliks ongeletterde gemeenskap noord van die Oranje. In 1840 het hy skoolmeester in die huidige distrik Smithfield geword en later transportryer. In dié jare het hy 'n hegte vriendskap met Moshweshwe gesluit. In 1853 was hy een van die afgevaardigdes wat met sir George Clerk oor die oorhandiging van die regering aan die Blanke inwoners onderhandel het. In Maart 1854 is hy as voorsitter van die eerste volksraad aangewys en in Junie as eerste staatspresident van die OVS verkies.
Bewus van die swakheid van die jong staat, het Hoffman 'n beleid van vreedsame onderhandeling met Moshweshwe gevolg, hom in Maart 1854 in Bloemfontein onthaal en hom later dié jaar by Thaba Bosiu besoek. Dié besoeke het 'n potensieel plofbare toestand langs die Caledonrivier egter nie ontlont nie en heftige teenstand in die OVS uitgelok.
In die spanningsvolle Volksraadsitting van 1854 is 'n voorwendsel gevind om die president af te takel. In 'n verslag oor sy besoek aan Moshweshwe het hy nagelaat om te meld dat hy 'n vaatjie buskruit aan die opperhoof geskenk het ter vervanging van dié wat in die afvuur van verwelkomingsalute gebruik is. Dié saak is uit verband geruk, en gerugte is versprei dat Hoffman die buskruit na Moshweshwe gesmokkel het. Ty dens die Volksraadsitting van 1855 het gevoelens só hoog geloop dat kanonne op die presidentwoning gerig is, en Hoffman het in Februarie bedank.
--- --- ---
In sy eerste jaar is die republiek se politiek oorheers deur onstabiele toestande op die grens met Basotholand. Weens die staat se swakheid was bondgenote noodsaaklik, en in Junie 1854 is drie Volksraadslede na die Transvaalse Volksraadsitting in Rustenburg afgevaardig. Hulle het versoek dat die twee state in "een band van vereeniging" tree, maar hiervan het niks gekom nie, hoofsaaklik vanweë die interne verdeeldheid in Transvaal. Toe M.W. Pretorius Bloemfontein in Augustus 1854 besoek, het sy verenigingsgesinde aanhangers hul saak bepleit, maar besliste optrede van 'n sterk groep in die Volksraad het verhoed dat daar van dié populêre krete iets kom.
Konsolidasie onder J.N. Boshof
In Februarie 1855 is Hoffman verplig om te bedank. Sy opvolger was J.N. Boshof, wat dadelik begin het om die landsadministrasie te orden. Hy was 'n oortuigde voorstander van onafhanklikheid los van die ZAR. Die verenigingsgesindes en die "heranneksasioniste" het albei tydens sy bewind hul onderskeie sake probeer bevorder, maar slegs daarin geslaag om die Blanke bevolking te verdeel.
In Februarie 1857 het M.W. Pretorius Bloemfontein weer besoek en die Vrystaatse Volksraad toegespreek. Hy het die vergesogte aanspraak gemaak dat die Britse koningin die Vrystaat aan sy vader gegee het en dat dit hom as erfgenaam toekom. Toe hy deur die Vrystaatse owerheid verplig word om die land te verlaat, het hy gedreig om met 'n gewapende mag sy "eiendom" te kom opeis.
In Mei 1857 het Pretorius met 'n kommando by die Vaalrivier opgedaag en sy ondersteuners - hoofsaaklik uit die Winburgse distrik - opgeroep tot die stryd; sowat 150 van hulle het by hom aangesluit. Boshof het met 'n sterk kommando die bedreiging tegemoet gegaan. 'n Botsing is slegs op die laaste oomblik deur bemiddelaars, onder wie Paul Kruger, verhoed. Op 1 Junie 1857 is die Vaalriviertraktaat onderteken, wat die twee republieke se wedersydse onafhanklikheid gewaarborg en Pretorius se eise as ongegrond afgewys het.
Boshof se grootste toets was egter die dreigende konflik met die Basotho. Twee jaar nadat die sg. Napierlyn van 18543 neergelê is om Basotho-regte te beskerm, het Maitland Moshweshwe gevra om 'n vrugbare driehoekige gebied tussen die Caledon en Oranje aan die Vrystaat af te staan. In dié omstandighede het Moshweshwe nie veel waarde aan die grenslyn geheg nie en oorskryding daarvan deur sy mense oogluikend toegelaat. Op 19 Maart 1858 het Boshof oorlog teen die Basotho verklaar, maar weens ongekoördineerde en ongedissiplineerde optrede het dit met die Vrystaters in die oorlog sleg gegaan. Die Basotho was gedugte teenstanders en het reeds teen dié tyd oor minstens 6 000 berede manskappe met gewere beskik. Boshof was verplig om bondgenote te soek. Sir George Grey, wat in 1854 goewerneur van die Kaapkolonie geword het, het geweier om betrokke te raak en het Kaapse vrywilligers verbied om die Vrystaat te help. Die president moes dus noodgedwonge sy ou vyand, M.W. Pretorius, se hulp inroep, maar Pretorius het as voorwaarde vir hulpverlening gestel dat die twee republieke moes verenig.
Toe die Volksraad in Junie in Pretorius se teenwoordigheid vergader, het Boshof 'n verklaring van Grey voorgelees dat die konvensies in die geval van vereniging van die republieke sou verval. Weer het Pretorius gefgrustreerd oor die Vaalrivier teruggekeer. Onderhandelings oor vrede met die Basotho is intussen gevoer en aan die einde van September 1858 is 'n verdrag deur bemiddeling van Grey onderteken wat Warden se westelike grenslyn bekragtig het, maar tussen die Caledon en Oranje nog vyftig plase aan die Basotho toegeken het.
Kort nadat Grey goewerneur van die Kaapklonie geword het, het hy besluit dat die versnippering van Suid-Afrika in Britse kolonies en Boererepublieke tot die nadeel van sowel Brittanje as die Blanke inwoners was. Hy wou graag 'n sterk Britse magsblok van die kus tot aan die Vaalrivier en die Drakensberg vorm.
Grey het hom dus met die heranneksasioniste in die Vrystaat verbind in die hoop dat hulle van binne af die bevolking op federasie met die Kaapkolonie sou voorberei, en op 7 Desember 1858 het die Volksraad met 'n meerderheid van een stem besluit om met die Kaapkolonie oor federasie te onderhandel. Toe Grey deur die koloniale kantoor in Londen gepols is oor 'n federasie van die Kaapkolonie, Natal en Brits-Kaffrarië, het hy die insluiting van die Vrystaat hierby bepleit. Die koloniale kantoor woudit egter nie aanvaar nie en in 1860 is Grey teruggeroep.
Uit verenigingsgesinde kringe, veral in Winburg en Kroonstad, is beskuldiginge van verraderlike pro-Britse gesindhede teen Boshof gemaak en in 1859 het hy bedank.
'n Verenigingspoging en ontnugtering
M.W. Pretorius het nou weer vierkant in die Vrystaatse politiek beland. Die verenigingsgesindes in die Noord-Vrystaat het openlik propaganda gemaak vir Pretorius, wat toe reeds president van die ZAR was, en in 1859 is hy met 'n oorweldigende meerderheid as Vrystaatse president verkies. Hy het dadelik stappe gedoen om die Vrystaatse grondwet met die oog op vereniging in ooreenstemming met dié van die ZAR te bring, maar dié keer het die Transvaalse Volksraad gevrees dat die Sandrivier-konvensie sou verval indien vereniging deurgaan. Op Pretorius se voorstel het die Vrystaatse Volksraad in Maart 1860 egter 'n referendum oor die kwessie van vereniging gehou, en die burgers het oorweldigend - met 1 076 stemme teenoor 104 - daarvoor gestem.
Met dié mandaat toegerus het die Volksraad in Julie 1860 'n kommissie afgevaardig om met die Transvalers samesprekings te voer. Die Uitvoerende Raad in die noorde was steeds onwillig om die ZAR tot enigiets te verbind, maar tog is besluit dat kommissies van die twee republieke twee keer per jaar sou byeenkom om sake van gemeenskaplike belang te bespreek. Intussen het die Transvaalse Volksraad Pretorius verplig om eervolle ontslag uit die presidentsamp in die ZAR te aanvaar.
In 1861 het Pretorius vir die Vrystaat 'n slag geslaan deur Adam Kok se grond tussen die Oranje- en Ruietrivier en die Campbell-gronde wes van die Dawidsgraf-Platberglyn vir £4 000 te koop, nadat Kok se mense 'n nuwe tuiste in Griekwaland-Oos ontvang het, maar die Vrystaters se dringendste probleem - die twis met die Basotho - kon hy nooit werklik onder die knie kry nie.
Teen Januarie 1862 het die grenstoestand só verswak dat die boere van die distrik Smithfield 'n kommando op die been gebring het om 'n vergeldingsaanval ná grensskendings te loods. Pretorius het dit op die nippertjie verhoed, maar sy onbesliste optrede is openlik gekritiseer.
Ook Pretorius se talle besoeke aan Transvaal, wat verhoed het dat hy sy onverdeelde aandag aan dringende Vrystaatse sake gee, het hom veel kritiek op die hals gehaal en in Junie 1863 het hy bedank.
J.H. Brand se presidentskap: Basotho-oorloë, diamante en vooruitgang
In November 1863 is die veertigjarige Kaapse parlementslid Johannes Henricus Brand met 'n oorweldigende meerderheid as president verkies. Brand het dadelik die inisiatief geneem en onderhandelinge met Moshweshwe aangeknoop. Toe Moshweshwe die beswaar opper dat die Basotho nie weet waar die grens is nie, het Brand die Kaapse goewerneur, sir Philip Wodehouse, gevra om die grenslyn aan te wys. In Oktober 1864 het Wodehose die ou Wardenlyn, met 'n paar geringe afwykings, herbevestig. Brand het die Volksraad daarna oorreed om die Basotho tot 31 Januarie 1865 kans te gun om na hul kant van die grens terug te trek, daarna sou die oorblywendes met geweld teruggedryf word.
Die situasie van die teenstanders het sedert die eerste botsing aansienlik verander. Die Vrystaat was relatief sterker vanweë inspirerende leierskap en groter dissipline. Die Blanke bevolking het sedrt 1858 toegeneem, en ook finansieel was die republiek beter daaraan toe. Daarteenoor was Moshweshwe reeds sowat 79 jaar oud en besig om beheer oor sy senior seuns en hoofmanne te verloor.
--- --- ---
Moshweshwe (ca. 1786-1870)
Omstreeks 1786 is 'n seun met die naam Lepoqo by Menkhoaneng in die noorde van die huidige Lesotho gebore. Ná sy inlywing het hy deelgeneem aan 'n strooptog op naburige nedersettings, en om die sukses van dié eskapade te besing, het hy 'n gedig gekomponeer waarin die naam "Moshweshwe" voorkom. Dié naam, wat afgelei is van die klank van 'n skeermes, het sy eie geword.
In 'n verskeurde wêreld van die Mfecane het Moshweshwe besondere politieke en militêre talente getoon. Ná 'n aanval op Butha-Buthe deur Manthatisi se Tlokwa in 1824 het Moshweshwe met sy volgelinge na Thaba Bosiu (Berg van die Nag), sowat 80 km suidwes, getrek. Met sy vader, Mokhatshane, en 'n aantal sy volgelinge het Moshweshwe hom bo-op die kruin van dié tafelkopberg gevestig, en ander volgelinge het rondom die voet van die berg en op nabygeleë koppe gaan woon. In tye van gevaar kon hulle hul almal op die berg verskans en die passe met groot klippe verseël.
Moshweshwe se gevolg het gegroei namate sy reputasie as leier toegeneem het. Hy het vroue uit verskillende geslagslyne geneem om sodoende met al die groepe onder hom te identifiseer. Teen die vroeë dertigerjare was sy volgelinge reeds bekend as die Basotho (Suid-Sotho), en het Moshweshwe al die status van 'n koning gehad.
Moshweshwe het vroeg die waarde van perde en gewere besef Gewere is gebuit of op die Diamantvelde verdien, en perde is van Griekwas en Blankes gekoop. Mettertyd het die Basotho uithaler-skuts en -ruiters geword.
Moshweshwe is op 11 Maart 1870 oorlede en op Thaba Bosiu begrawe.
--- --- ---
Hoewel die Basotho teruggetrek het, het aanvalle oor die grens voortgeduur. Ná ongedissiplineerde optrede van die Vrystaatse grenspatrolliemag het die spanning toegeneem, en in Junie 1865 het Brand die burgers tot die stryd opgeroep. Hulp is ook van 'n Transvaal kommando onder Paul Kruger ontvang nadat 'n aantal Transvaalse transportryers deur die Basotho vermoor is. Nogtans het die Vrystaters se moreel by tye só laag gedaal dat drostery plaasgevind het. Brand het egter deur gereelde besoeke aan die kommando's 'n mate van entoesiasme aan die gang gehou. Ná twee mislukte pogings om Moshweshwe se vesting Thaba Bosiu te verower (tydens een waarvan die aanvoerder van die Suid-Vrystaters, Louw Wepener, gesneuwel het), het die Vrystaters hul taktiek verander en begin om die Basotho se vee te buit en oeste te vernietig. Nadat Moshweshwe se seun Molapo 'n afsonderlike vrede gesluit het, was die koning ook verplig om op 11 April 1866 die vrede van Thaba Bosiu te aanvaar, waardeur sy gebied tot aan die Caledonrivier in die weste en die Phuthiatsana-rivier in die noorde teruggedruk is, terwyl 'n groot deel van die driehoek tussen die Caledon en Oranje ook afgesny is. Die noordelike derde van Basotholand is as Molapo se Reservaat onder Vrystaatse toesig geplaas.
Die Vrystaatse regering was baie tydsaam met die toekenning van grond in die verowerde gebied, wat die Basotho kans gegee het om weer na die Vrystaatse kant van die nuwe grenslyn deur te sypel. Weer eens het die spanning opgelaai en in Maart 1867 het die Vrystaatse regering 'n gewapende mag op die been gebring om die ooreenkoms af te dwing. Die Basotho het min weerstand gebied, maar dit was geensins die einde van die spanning nie. In Junie 1867 is Blankes in die distrik Ladybrand vermoor. Toe Brand eis dat die moordenaars uitgelewer word, het Moshweshwe verontskuldigend geantwoord dat hy nie die grenslyn van 1866 goedgekeur het nie en dat die voorvalle dus nie op Vrystaatse grondgebied plaasgevind het nie. Hierop is die Vrystaatse kommando's weer in Julie 1867 gemobiliseer, en vir die derde keer in tien jaar was daar oorlog tussen die Vrystaat en die Basotho.
Die Vrystaatse magte het gou groot sukses behaal. Moshweshwe het nou probeer om die Britse regering by die situasie te betrek en sy saak só te sterk. Toe hy geen bevredigende reaksie van Wodehouse ontvang nie, het hy hom tot die Natalse luitenant-goewerneur, R.Wl Keate, gewend. Keate het sy versoek na Londen deurgestuur, en teen dié tyd het die mening in die koloniale kantoor reeds ten gunste van inmenging geswaai. In Desember 1867 het Wodehouse dus instruksies ontvang om met Moshweshwe te onderhandel vir die erkenning van sy mense as Britse onderdane. Op 12 Maart 1868 is Basotholand geannekseer.
Die Volksraad was onthuts oor die Britse inmenging. 'n Vrystaatse deputasie is na Engeland om die anneksasie herroep te kry, maar sonder sukses. Die Tweede Verdrag van Aliwal-Noord (12 Februarie 1868) het die Caledon as grens tussen die Vrystaat en Basotholand vasgestel. Die Vrystaat moes heelwat van die verowerde gebied van 1866 afstaan, maar die vrugbaarste deel van die riviervallei, die westelike oewer, het nietemin hul besit gebly. Daarteenoor het die Basotho veel van hul tradisionele woongebied vir goed verloor. In vergelyking met die Verdrag van Thaba Bosiu het hulle 'n groot bewerkbare stuk grond in die weste bygekry, maar in vergelyking met alle vroeëre grenslyne het hulle sleg daarvan afgekom. Die nuwe orde het egter beteken dat die grensgeskille feitlik tot 'n einde gekom het.
--- --- ---
Die Vrystaat en die Keate-uitspraak
Pres. Brand van die Vrystaat was bereid om in die Diamantveld-geskil 'n arbiter ten opsigte van die sg. Campbell-gronde (sien ook Hoofstuk 12) te aanvaar, maar nie oor die gebied tussen die Oranje en Vaal nie. Die Kaapse regering het egter in Desember 1870 'n magistraat by Pniel in dié gebied geplaas om orde onder die delwers te handhaaf. Die Vrystaatse regering het hierteen geprotesteer, want 'n Vrystaatse landdros was reeds daar gestasioneer. As 'n demonstrasie van die Vrystaat se vasberadenheid om sy grondregte te beskerm het Brand 'n kommando opgeroep. Hierteen het sir Henry Barkly, Kaapse goewerneur en Britse hoë kommissaris, heftig beswaar gemaak en 'n krisisatmosfeer het geheers. Brand het besef dat militêre optrede aan die Britte 'n stok sou gee om die Vrystaat mee te slaan en hy het dus die kommando ontbind.
In Oktober 1871 het lt.-goew. Keate van Natal, wat as arbiter in die Diamantveld-geskil aangestel is, bevind dat alle grondgebied wes van die lyn van Ramah aan die Oranje oor Dawidsgraf na Platberg aan die Vaal Waterboer se regmatige eiendom is. Dié gebied is ingelyf by die nuwe kolonie Griekwaland-Wes, wat op 27 Oktober deur Barkly geproklameer is. Brand het sterk protes teen dié optrede aangeteken en sowat vier jaar lank met die pen en in onderhoude die Vrystaat se saak bly stel. Uiteindelik het hy in 1876 sukses gesmaak toe die Kaapse Hooggeregshof in opdrag van die Britse regering uitspraak gegee het in verband met teenstrydige grondaansprake in Griekwaland-Wes en bevind het dat Waterboer nooit enige aanspraak op die betwiste gebied gehad het nie. Om sy gewete te salf, het die Britse regering £90 000 as skadevrgoeding aan die Vrystaat betaal.
--- --- ---
In die weste het ander grensprobleme opgedoem. Die ontdekking van diamante by Hopetown in 1867 en later by die huidige Kimberley het die Oranje-Vrystaat by teenstrydige grondaansprake betrek. Brittanje het nooit sedert die Bloemfontein-konvensie van 1854 op die driehoekige gebied oos van die samevloeiing van die Oranje- en Vaalrivier aanspraak gemaak nie, en boonop het M.W. Pretorius die grond tussen die Oranje- en Modderrivier in 1861 van Adam Kok gekoop. Daarom was daar aan Vrystaatse kant geen twyfel dat die diamantdraende gebied aan die republiek behoort nie.
Die prokureur David Arnot het hom egter bemoei met die aansprake van die Griekwa-kaptein Nikolaas Waterboer, wie se grondgebied wes van die samevloeiing van die Oranje- en Vaalrivier geleë was. M.W. Pretorius het namens die ZAR die arbitrasie van lt.-goew. R.W. Keate van Natal oor die betwiste gebiede aanvaar, maar Brand het dit geweier, omdat hy ingesien het dat dit om magspolitiek eerder as teenstrydige grondaansprake gegaan het.
Die Basotho-kwessie en die Diamantveld-dispuut het hewige anti-Britse gevoelens onder die Vrystaatse burgers gaande gemaak en nasionalisme aangewakker. Dié nasionalistiese sentiment was aanvanklik grootliks rondom die bekwame Brand gesentreer, maar teen 1877 was daar onder 'n toenemende groep Vrystaters ontevredenheid met hul president, omdat hy hul mening té toeskietlik teenoor die Britse owerheid was. Sy neutrale houding tydens die Transvaalse anneksasie van April 1877 het hulle in dié opvatting gesterk. Tog het die republiek onder sy leiding groot vooruitgang gemaak. Op finansiële gebied was die Vrystaat aanvanklik in 'n onbenydenswaardige situasie want groot hoeveelhede papiergeld moes uitgereik word, wat vanweë die koste van die oorloë teen die Basotho geweldig in waarde verminder het. 'n Groter voedselafset en vraag na vervoer op die Diamantvelde het die ekonomie in die sewentigerjare egter laat verbeter, en die note se waarde het weer herstel. In Augustus 1872 is die Vrystaat ook deur middel van 'n Traktaat van Vriendskap, Handel en Uitlewering van Misdadigers met sy susterrepubliek verbind. Verder is die ekonomiese lewe versterk deur die oprigting van 'n Nasionale Bank in Junie 1877.
Op onderwysgebied was daar ook vooruitgang. In 1874 was daar slegs tien regeringskole met 348 leerlinge in die Vrystaat, maar daarna het die onderwys onder dr. John Brebner, 'n Skotse opvoedkundige, groot vooruitgang gemaak, ten spyte van die klag dat daar te veel van Engels as taalmedium gebruik gemaak is. In 1875 het die weeklikse koerant De Express naas The Friend of the Free State begin verskyn en 'n groot bydrae gelewer om Afrikanerdenke en -nasionalisme te bevorder. Ook op die gebied van die regspraak was daar vooruitgang met die totstandkoming in 1875 van 'n hooggeregshof met F.W. Reitz as hoofregter. Die jong republiek het onder Brand se leiding ook 'n doeltreffende staatsdiens verkry.
Die aansien wat Brand asstaatsman geniet het - en wat ook op sy staat gereflekteer het - word getoon deur die feit dat hy in 1881 deur die Britse owerheid gevra is om as tussenganger op te tree om die Eerste Transvaalse Vryheidsoorlog te beëindig. Die Vryaat was teen die begin van die tagtigerjare onder Brand se leiding in baie opsigte 'n modelrepubliek.
Die Zuid-Afrikaansche Republiek
Eers in September 1853 is die benaming Zuid-Afrkaansche Republiek amptelik aanvaar vir die nuwe staat van die "emigranten Boeren Noord van den Vaalrivier", die enigste grens wat in die Sandrivier-konvensie genoem is. Binne dié vaag omlynde gebied het verskeie Blanke en Swart gemeenskappe gewoon, wie se vestigingspatrone en bestaanswyses grootliks deur natuurlike omstandighede bepaal is.
Die Transvaalse Hoëveld bestaan uit 'n suidelike derde grasveld en 'n noordelike twee derdes bosveld. Albei bied uitstekende weiding, wat sowel Blanke as Swart veeboere aangelok het. Die eerste Blanke plase is uitgekies langs riviere en spruite, of by fonteine, en gevolglik is die oewers van die Marico-, die Mooi- en die Apiesrivier vroeg reeds dig bewoon.
Die Transvaalse plato word deur heelwat berge onderbreek, o.m. die Magaliesberge, die Waterberg, die Soutpansberg en die Transvaalse Drakensberge. Toe die Blankes Transvaal binnegekom het, was die vlaktes feitlik ontvolk, omdat die meeste Swart stamme hulle vanweë aanvalle tydens die Mfecane in die berge verskuil het.
Die stigting van dorpe soos Ohrigstad en later Lydenburg het daarenteen verband gehou met die strewe om 'n verbinding met Delagoabaai te bewerkstellig, en net so het die hoop op die skakeling met Inhambane 'n rol in die aanlê van Schoemansdal gespeel. Die naaste beskikbare hawe was Durban, maar die lang afstande en hoë vervoerkoste daarheen het die uitvoer van landbouprodukte ontmoedig, en voedselprodukte soos graan moes dus deur die produsent self verbruik word. Dit het 'n bestaansekonomie in die hand gewerk en ook veroorsaak dat baie boere in die winter voltyds gejag het om 'n kontantinkomste te verkry en slegs in die somer hul plase bewoon het.
Blank en Swart noord van die Vaal
Die oorwegend landelike bestaan het 'n yl Blanke bevolkingspatroon tot gevolg gehad. Die dorpe was wyd versprei met min inwoners. In die suidweste het die volgelinge van Andries Pretorius rondom Potchefstroom en Rustenburg gewoon, en in die verre noorde het 'n groep onder leiding van Andries Hendrik Potgieter hulle rondom Schoemansdal in die Soutpansberg gevestig. In die ooste was daar in die omgewing van Lydenburg en Ohrigstad 'n derde groep onder W.F. Joubert. 'n Vierde klein groepie, woonagtig langs die Buffelsrivier in die suidooste, het die benaming Utrecht vir hul gemeenskap gekies. Hoewel Utrecht in werklikheid buite die Transvaalse grondgebied gelê het, het dié mense reeds teen 1852 by Lydenburg aansluiting gesoek.
Ander dorpe was Pretoria, wat in 1855 as sentrale regeringsentrum aangelê is en Potgietersrus in die noorde en Wakkerstroom in die suidooste, wat in die vyftigerjare aangelê is om die belange van gevestigde bevolking te dien. Verdere dorpsontwikkeling het eers met die ontdekking van spoelgoud en -diamante in 1870 plaasgevind toe Bloemhof en Christiana in Suidwes-Transvaal en Pelgrimsrus in Oos-Transvaal ontstaan het.
'n Hele aantal Swart gemeenskappe het noord van die Vaal gewoon. Die Venda het na aan die noordelike Blanke gemeenskap in die Soutpansberg gewoon, terwyl die Pedi onder hul opperhoof Sekwati in die Luluberge tussen die Olifants- en Steelpoortrivier gevestig was. Groot getalle Pedi het reeds lank voor die bewindsoorname van Sekhukhune in 1861 in die Kaapkolonie (veral in die Port Elizabeth-omgewing) gaan werk. Met hul verdienste het hulle veral vuurwapens en ammunisie gekoop.
Die Swazi het gewoon in die gebied tussen die bolope van die Vaal en die Limpopo en hul naam ontleen aan Mswati, wat van 1839 tot 1865 opperhoof was. Die Lobedo, bekend vanweë hul kultus rondom Mojaji, die reënkoningin, was 'n Sotho-kapteinskap wat in die Strydpoortberg, naby die huidige Tzaneen, gewoon het. In die Waterberge het die Langa onder Mapela beheer gehad oor die strategiese Makapanspoort-deurgang na die noorde. In die berge weerkante van die Nylrivier het Sotho-kapteine soos Makapane ook oorlewendes van die Mfecane versamel, en tussen die Venda en die Pedi in die noordooste was daar 'n gedurige instroming van Tsonga uit die benedevallei van die Limpopo.
Langs die Hartsrivier oos van Kuruman het die Tlhaping gewoon, en wes van die bolope van die Limpopo was die Ngwato onder Sekgoma en Macheng. Suid van hulle het die Kwena onder Sechele in die Kolobeng-omgewing gebly, en nog verder suid die Ngwaketse onder Gaseitsiwe in die omstreke van Kanye.
Al dié Swart groepe saam het die Blankes baie ver in getal oortref. Die feit dat hulle dikwels só na aan mekaar gewoon het sonder dat daar behoorlike grenslyne neergelê was, het 'n spanningstoestand geskep wat baie maklik in konflik kon oorgaan.
Groeipyne van die Blanke gemeenskap
Vir die drie geografies geïsoleerde Blanke gemeenskappe was daar een gesamentlike staatsinstelling, nl. die Volksraad, wat die hoogste politieke gesagsliggaam was. Die Volksraad het al om die paar maande op 'n ander plek vergader, maar die groot afstande en die boerderybelange van die lede het veroorsaak dat die sittings meestal swak bygewoon is. Bowendien was daar geen effektiewe uitvoerende gesag wat kon toesien dat besluite toegepas word nie.
In Desember 1852 en Julie 1853 onderskeidelik is twee van die Voortrekkerleiers, nl. A.H. Potgieter en Andries Pretorius, oorlede. Potgieter is deur sy seun Piet opgevolg, en ná sy dood twee jaar later het die mantel in Soutpansberg op die skouers van Stephanus Schoeman geval. Andries Pretorius is opgevolg deur sy seun Marthinus Wessel. Sowel M.W. Pretorius as Schoeman was eiesinnig en ambisieus, en W.F. Joubert en sy Lydenburgers was ewe koppig. Botsings was dus onvermydelik.
'n Regeringsetel is eers ná veel gesukkel ingestel. Deur die bemoeienis van M.W. Pretorius is twee plase in 1853 aan die Apiesrivier gekoop vir die aanlê van 'n sentrale hoofstad, waaraan die naam Pretoria gegee is. Toe 'n Volksraadsvergadering in Maart 1856 in Rustenburg gehou is om die grondwet te oorweeg, was Lydenburg verteenwoordig, maar ou strydpunte is weer opgehaal en die Volksraad het onverrigtersake en in wanorde verdaag. In Oktober 1856 het sake 'n nog ernstiger wending geneem toe die Lydenburgers hulle onafhanklikheid van die sentrale gesag verklaar het. Die eerste afsonderlike Lydenburgse Volksraad het in Desember 1856 vergader.
M.W. Pretorius het intussen oor sy hantering van die grondwetkwessie ook die steun van Stephanus Schoeman verloor, maar is tog as president aangewys en op 6 Januarie 1857 ingesweer. Schoeman is as kommandant-generaal verkies, maar het nie vir die insweringsplegtigheid opgedaag nie. Sy verset het egter uiteindelik verkrummel, en ná talle onderhandelinge het hy en sy volgelinge hulle aan die grondwet onderwerp.
Die grondwet van Februarie 1858 het die Volksraad, wat uit minstens twaalf lede sou bestaan, tot wetgewende liggaam verklaar en Pretoria as sy setel aangewys. Die uitvoerende mag was in die hande van 'n Uitvoerende Raad bestaande uit die president as staatshoof die kommandant-generaal en drie ander lede. Die president is vir vyf jaar deur die landsburgers verkies, die kommandant-generaal vir 'n onbepaalde tyd en die Uitvoerende Raadslede vir drie jaar. Die Volksraadslede is vir 'n maksimum van twee jaar verkies, en die helfte van hulle moes jaarliks uittree. Die kommandant-generaal was aan die hoof van die krygsmag met kornette onder sy bevel. Regterlike gesag was in die hande van landdroste, van wie drie 'n hooggeregshof sou vorm. Die Vierkleur is as landsvlag aanvaar en "Eendraght maakt magt" as leuse.
In September 1859 is Utrecht tot distrik van die ZAR verklaar, en Lydenburg is op 4 April 1860 met die ZAR verenig. Dit was egter spoedig duidelik dat staatkundige eenheid nog geensins 'n waarborg vir eensgesindheid en samewerking was nie.
--- --- ---
Broedertwis (1860-1864)
Die Voortrekker-nasate noord van die Vaal was beswaarlik verenig toe nuwe twiste ontstaan. Die Volksraad het Pretorius in September 1860 erplig om sy presidentsamp in Transvaal neer te lê nadat hy tot Vrystaatse paresident verkies is, maar sy ondersteuners in Potchefstroom was hieroor bitter ontevrede. In Desember 1860 het Stephanus Schoeman met 'n aantal gewapende Potchefstromers na Pretoria opgeruk en homself tot waarnemende staatspresident uitgeroep.
Byna 'n jaar lank het Schoeman se onwettige bewind voortgeduur. In November 1861 is die saak op die spits gedryf toe Schoeman met 'n rebelliekkommando naby Pretoria teen 'n staatskommando onder Paul Kruger te staan gekom het. Ironies genoeg het M.W. Pretorius op die toneel verskyn en tussen die twee kante bemiddel. 'n Nuwe Volksraad is verkies, maar op 15 Augustus 1862 het Schoeman 'n tweede onsuksesvolle staatsgreep uitgevoer, waarna hy weer na Potchefstroom gevlug het. In September 1862 het die "staatslaer" onder Kruger dáár teenoor Schoeman se "volkslaer" te staan gekom. M.W. Pretorius het weer op die kritieke oomblik opgedaag, maar hom met die rebelle geïdentifiseer. Toe die dorp onder die koeëls gesteek en een man gedood is, het Pretorius en Schoeman die Vrystaat in gevlug.
In Januarie 1863 het Schoeman nogmaals in Pretoria opgedaag en sy derde staatsgreep uitgevoer. 'n Kommando onder Paul Kruger hom die tweede keer na die Vrystaat laat vlug, waarna hy voëlvry verklaar is. In April 1863 het Pretorius as president van die Vrystaat bedank en na Transvaal teruggekeer. Dadelik het hy hom saam met Schoeman en Jan Viljoen tot onrusstokery gewend. In Desember 1863 het Paul Kruger by Potchefstroom teen 'n oormag onder Viljoen te staan gekom, Hy was verplig om die kommando te ontbind en tydelik in die Vrystaat te gaan bly.
In Januarie 1864 het Kruger na Transvaal teruggekeer en 'n staatskommando teen die rebelle gelei. By die Krokodilrivier het hy hulle gevoelige verliese toegedien. Pretorius het weer as vredesagent opgetree, en die wapens is neergelê. Uiteindelik het die gemoedere tot bedaring gekom en is M.W. Pretorius in Mei 1864 weer tot staatspresident verkies.
--- --- ---
M.W. Pretorius
Marthinus Wessel, oudste seun van Andries Pretorius, is in 1819 in die distrik Graaff-Reinet gebore. In 1838 het hy die Kaapkolonie met sy vader se trekgeselskap verlaat. Aan die begin van 1848 het hy en sy familie hulle naby die Magaliesberg, sowat 30 km wes van Pretoria, gevestig. Ná die dood van sy vader in 1853 is hy tot kommandant-generaal en voorsitter van die krygsraad verkies. Net soos sy vader wou hy die trekkergemeenskap noord van die Oranje verenig, maar hy het dikwels ongeduldig en oorhaastig opgetree. Veral sy optrede tydens die burgeroorlogperiode in die ZAR (1860-1864) was hoogs twyfelagtig. Hy het hom as vredemaker voorgedoen, maar hom ook meer as een keer met die rebellie vereenselwig.
Pretorius se beperkings as staatshoof het duidelik tydens die Diamantveldgeskil geblyk. Hy het die ZAR se saak swak bepleit en ook 'n totale onkunde omtrent die nuwe aggressiewe Britse beleid teenoor die Suid-Afrikaanse binneland getoon. Toe sy hantering van die ZAR se saak in die Volksraad ter sprake kom, het hy pateties erken dat sy bekwaamhede ver te kort skiet en in November 1871 bedank. Ná die anneksasie van die ZAR in 1877 was hy 'n lid van die komitee wat in 1879 met sir Bartle Frere onderhandel het, asook voorsitter van die nasionale vergadering by Wonderfontein in 1879. Hiervoor is hy van hoogverraad aangekla en gevange geneem, maar byna dadelik weer op borgtog vrygelaat. In Desember 1880 is hy saam met Piet Joubert en Paul Kruger aangewys as lid van die driemanskap aan wie die republikeinse regering toevertrou is. Ná die ondertekening van die Pretoria-konvensie in Augustus 1881 het hy die politieke toneel vir goed verlaat.
Sy laaste jare het Pretorius in Pretoria deurgebring. Op 'n koue nag in Mei 1901 het Britse soldate hom wakker gemaak en twee uur lank in die buitelug ondervra. Vir die grysaard se gestel was dit te veel, en 'n paar dae later het hy gesterf.
--- --- ---
Saambestaan en konflik tussen Blank en Swart
As gevolg van die vrede ná die vlug van Mzilikazi het die Swart bevolking in Transvaal vinnig toegeneem. Teen 1852 was daar waarskynlik sowat 100 000 Swartes teenoor ongeveer 15 000 Blankes tussen die Vaal en die Limpopo. Teen 1880 het die getalle tot onderskeidelik 773 000 en 43 260 aangegroei. In so 'n situasie kon spanning tussen Blank en Swart oor hul onderskeie woongebiede en weidings- en jagregte maklik ontstaan. Dié situasie is vererger deur die feit dat hoewel woongebiede of "lokasies" (in die sin van reservate) ná 1852 aan sommige Swart stamme toegeken is, daar in die geheel nie voldoende voorsiening vir grond vir Swartes gemaak is nie. Eers in 1881 is kragtens die Pretoria-konvensie voorsiening gemaak vir die aanstelling van 'n lokasiekommissie met die doel om vir die Swartes voldoende grond opsy te sit.
Stemreg en burgerskap is vir Blankes gereserveer en Swartes kon ook nie vaste eiendom besit nie. Die Blankes het van die Swartes verwag om vir hulle te werk en het hulle ook naby konsentrasies van Swartes gevestig, juis omdat hulle naby die arbeidsbronne wou wees.
Arbeidsverhoudinge was 'n belangrike bron van konflik. Twee soorte werknemers is in die republiek aangetref: ingeboektes (of inboekelinge) en gewone werkers. Inboekelinge was ouerlose Swart kinders wat op 'n vroeë leeftyd in die sorg van 'n Blanke geplaas is, dikwels ná veldtogte teen Swart stamme. Sulke kinders was dan tot op 25-jarige leeftyd by 'n Blanke ingeboek en verplig om vir hom te werk. Inboeking moes onder toesig van 'n landdros of veldkornet geskied, wat hom moes vergewis dat die kind wettig bekom is. Die voog was ook verplig om die kind op te voed. Ten spyte van dié voorskrifte om misbruike te voorkom, het die stelsel van inboeking die ZAR baie kritiek op die hals gehaal. Daar is beweer dat dit 'n verfynde vorm van slawerny was en dat Swart nedersettings soms aangeval is net om kinders in die hande te kry. Ná die aanval op Setshele se nedersettings in 1852 het die sendeling David Livingstone bv. geskryf: "The Boers ... carried off two hundred of our children into slavery."
Werkgewers kon slegs deur middel van 'n veldkornet met 'n Swart kaptein oor gewone arbeiders onderhandel, en daar was beperkings op die getal Swart gesinne per Blanke plaas wat 'n boer in diens mog neem, ten einde 'n eweredige verspreiding van plaasarbeiders te verseker. In 1864 is 'n algemene kopbelasting op Swartmense gehef. Dit is enersyds as inkomstebron beskou en andersyds as 'n aansporing vir Swartes om te werk, maar in die praktyk was dit dikwels feitlik onmoontlik om die belasting in te vorder, en in 1870 is dit met 'n hutbelasting vervang. Swartmense wat gewerk het, het minder betaal as dié wat nie gewerk het nie - weer eens was die oogmerk om Swartmense aan te spoor om op plase en elders in diens te tree.
'n Paswet van 1866 het bepaal dat elke Swarte wat sonder 'n pas van sy werkgewer, opperhoof, sendeling, landdros of veldkornet buite sy woondistrik aangetref word, deur enige landsburger aangehou en vir straf aan die naaste veldkornet oorhandig kon word. Die doel van dié wet was duidelik: om beheer oor die bewegings van Swartmense uit te oefen en hulle te verplig om 'n gevestigde leefwyse te aanvaar. Latere wetgewing het gedifferensieer tussen werkende Swartes en dié wat nie werk nie. Baie dikwels is dié reëlings deur die Swartmense omseil of ontwyk, maar op die duur het dit spanninge en konflik tussen Blank en Swart veroorsaak.
Reeds 'n maand ná die Sandrivier-konvensie het die eerste gewapende konfrontasie tussen Blank en Swart plaasgevind. Kommandant P.E. Scholtz het die kapteins van die Kwena en die Ngwaketse in die weste vrede aangebied mits hulle belasting betaal en vir boere werk. Mosielele, 'n onderhorige kaptein, wou dié voorwaardes nie aanvaar nie en het beskerming gaan soek by Setshele, 'n kaptein van die Kwena, wat geweier het om hom uit te lewer. Scholtz het daarop 'n aantal van Setshele se nedersettings aangeval, oeste vernietig, 200 kinders en vroue gevange geneem en die huis van David Livingstone, sendelinge onder Setshele se mense, by Kolobeng verwoes. Op die terugtog is die kraal van Montshiwa van die Tshidi-Rolong, wat geweier het om manskappe vir die kommando te verskaf, ook aangeval.
Konflik is ook in die hand gewerk deurdat die Transvaalse regering geen westelike grens van sy gebied vasgestel het nie. In 1858 het Mahura, 'n kaptein van die Tlhaping aan die Hartsrivier, gevra dat duidelikheid verkry word oor die grenslyn tussen sy gebied en dié van die Blankes, maar op dié versoek is nie gereageer nie. Onderdane van Mahura en van Gasibone, die opperhoof, het later daardie jaar 'n aantal Blankes vermoor en vroue ontvoer, en 'n kommando onder Paul Kruger is teen hulle gestuur. Gasibone is onthoof en sy kop aan Mahura gestuur, wat vrede gesluit het. Mahura is met 8 000 beeste beboet en terselfdertyd tot opperhoof verhef voordat die Tlhaping kans gehad het om self 'n opvolger aan te wys.
In die noorde het Makapane en sy mense in 1854 in die Waterberge 'n Blanke jagekspedisie om die lewe gebring, waarna 'n Boerekommando as vergelding van Makapane se mense in 'n grot vasgekeer en ongeveer 3 000 van hulle gedood het. Verder noord in die Soutpansberg het Joao Albasini, superintendent van die Swart stamme oos van Schoemansdal, en andere deur ongevraagde aanvalle op Venda-nedersettings vergeldingsaanvalle van die Venda uitgelok. In 1867 het die Blanke inwoners Schoemansdal verlaat, waarop die Venda van kaptein Makhado die dorp verwoes het. Die onrus het suidwaarts versprei, waar Makapane en ander kapteins in opstand gekom het. Feitlik die hele Soutpansbergdistrik tussen die Olifants- en Limpoporivier is deur die Blankes prysgegee.
In die ooste was daar ook konflikpotensiaal oor grond. In 1846 het die Swazi reeds die hele Oos-Transvaalse gebied tussen die Olifantsrivier in die weste en noorde, die Lebomboberge in die ooste en die Krokodilrivier in die suide aan die Boere verkoop - met inbegrip van die woongebied van die Pedi tussen die Olifants- en Steelpoortrivier. In 1857 is met Sekwati van die Pedi ooreengekom oor die Steelpoortrivier as die oostelike grenslyn tussen sy mense en die boere maar die bepalings van dié verdrag was dubbelsinnig, en Sekhukhune het nie aan die onderhandelinge deelgeneem nie - 'n situasie wat later tot konflik sou lei.
--- --- ---
Sekhukhune (ca. 1810-1882)
Sekhukhune I was die seun van Sekwati, opperhoof van die Pedi, wat in 1861 oorlede is. Sy opvolger, Sekhukhune se halfbroer Mampuru, is deur Sekhukhune onttroon. Sekhukhune was ontevrede met die Steelpoort as oosgrens, waar die Pedi geruime tyd saam met Blankes gewoon het in 'n tipiese "oop" grenssituasie.
Teen 1876 was die toestand só gespanne dat Blanke boere in die distrik Lydenburg in laers saamgetrek was. Op 16 Mei 1876 is oorlog teen Sekhukhune verklaar. Die ZAR kon nouliks 2 000 man bymekaarskraap. Geen aanvoerder het vorendag gekom nie, en pres. Burgers was verplig om self die bevel oor te neem. Ná aanvanklike suksesse het 'n mislukte aanval deur 'n mag van 150 Lydenburgers, bygestaan deur 2 000 Swazi, op die stad van Johannes Dinkwanyane, Sekhukhune se halfbroer, 'n demoraliserende uitwerking op Burgers se manskappe gehad. Op 2 Augustus is 'n halfhartige aanval op Sekhukhune se vesting uitgevoer, maar die meeste manskappe het lafhartig skuiling gesoek en geweier om verder te veg. Uiteindelik het Burgers forte opgerig en deur vrywilligers laat beman wat vir hul dienste vergoed is. Dié taktiek het Sekhukhune gedwing om op 15 Februarie 1877 'n vredesooreenkoms te aanvaar, wat hy egter kort daarna verwerp het. Die twis hieroor was nog onopgelos toe die republiek in 1877 deur Brittanje geannekseer is.
Kapt. R.A. Clarke, wat as spesiale kommissaris aangewys is om die Pedi-probleem op te los, het sy taak weens 'n gebrek aan troepe onmoontlik gevind. In November 1879 moes Sekhukhune egter swig voor 'n oormag van 8 000 Swazi-krygers en 'n Britse mag onder sir Garnet Wolseley. Hy is in Pretoria gevange gehou, maar met die herstel van die ZAR se onafhanklikheid in Augustus 1881 vrygelaat. Hy is in 1882 in sy stat in die Luluberg deur sy aartsvyand, Mampuru, in sy slaap vermoor.
--- --- ---
Toegang tot die kus
In 1854 het Pretorius vertoë tot die Natalse regering gerig om die invoerregte op goedere vir Transvaal te verminder. Dit was egter een van Natal se belangrikste inkomstebronne en die koloniale owerheid het geweier om 'n toegewing te maak. Ook 'n versoek vir 'n spesiale tegemoetkoming ten opsigte van die invoerregte op lood en kruit is van die hand gewys.
Dié probleme sou natuurlik grootliks deur 'n eie hawe verlig kon gewees het. In 1853 en weer in 1859 is vergeefs met Mpande onderhandel om toegang tot St. Luciabaai te verkry. Toe Mpande en Cetshwayo hulle boonop op die Natalse owerheid beroep, het Brittanje sy voet dwars gesit om te verhoed dat die ZAR 'n vastrapplek aan die Zoeloelandse kus verkry. Pretorius moes die stryd gewonne gee.
Ná nog 'n vergeefse poging in 1865-1866 om van Natal toegewings oor invoerheffings te kry, het Pretorius met die hulp van Alexander McCorkindale, 'n Britse onderdaan wat 'n nedersetting in Oos-Transvaal begin het, onsuksesvol probeer om toegang tot die Mosambiekse kus te verkry. 'n Verdere poging om dié doel te bereik en terselfdertyd die gebied rondom Tati in die noordwese te bekom, waar Karl Mauch in in 1867 goud ontdek het, het ook misluk.
In April 1868 het Pretorius met die goedkeuring van die Volksraad die republiek se grens deur 'n proklamasie behoorlik omskryf.: 'n klein strokie Transvaalse gebied het langs die suidoewer van die Maputorivier tot aan die kus geloop: verder was die grens die Lebomboberge, dan noord tot diep in die huidige Zimbabwe, dan wes tot by die Ngamimeer, daarvandaan reguit suid tot aan die Oranjerivier, en verder langs die Vaalrivier.
Portugese besware teen die seegrens, en die van Brittanje teen die grensproklamasie in sy geheel - vanweë die koloniale kantoor se hernieude belangstelling in die Suid-Afrikaanse binneland - was egter só heftig dat dit 'n dooie letter gebly het. Die versuim om die republiek se grense - en veral sy wesgrens - vroeër vasgestel en erken te kry, sou die land spoedig duur te staan kom.
Diamante en Britse Imperialisme
Ná die ontdekking van spoeldiamante naby die samevloeiing van die Vaal- en Hartsrivier in 1868 het sowel die ZAR as die Swart stamme in die weste op dié gebied aanspraak gemaak. Daarby was Brittanje uiteraard in die nuwe rykdom geïnteresseerd en was die behoud van die Britse "weg na die noorde" ook in gedrang. Deur as voorvegter vir die regte van die Swartes en Griekwas op te tree, kon die Britse regering sy eie saak bevorder.
Toe diamante ook in September 1879 by Dutoitspan naby die latere Kimberley ontdek is, het die stryd om die besit van diamantegebied toegeneem. M.W. Pretorius het 'n naïewe geloof in sy eie saak gehad. Hoewel geen formele grens vasgestel was nie, het die ZAR immers reeds jare lank tot so ver wes as die Hartsrivier gesag uitgeoefen - daarvan het die bestaan van 'n gevestigde dorp soos Bloemhof getuig.
Die arbitrasie van Oktober 1871 (sien latere bespreking) het rampspoedig vir die ZAR verloop as gevolg van die bekwame hantering van die Griekwas en die Swartmense se aansprake deur die prokureur David Arnot, en - daarteenoor - Pretorius se onbeholpe optrede namens die republiek. Die ZAR se wesgrens is langs die Makwassiespruit - 'n hele ent oos van die Hartsrivier - vasgestel. Transvaalse boere in die nabyheid het wel voordeel uit die Diamantvelde geput deur voedel en transport aan delwers te voorsien, maar die verlies aan grondgebied het dié voordeel oorskadu. Die Volksraad het egter geweier om die grenslyn te aanvaar en sy afkeuring van M.W. Pretorius se hantering van die hele saak uitgespreek. Gevolglik het Pretorius in November 1871 bedank.
Die bestaanswyse van die Swartmense noord en wes van die nuwe diemandstad, Kimberley, is op diepgaande wyse deur die diamantontdekkings beïnvloed. Tot 1870 het individuele Tlhaping op 'n betreklike groot skaal spoeldiamante aan prospekteerders en handelaars verkoop. Later het hulle die sowat 50 000 mense wat teen die einde van 1871 in die Diamantvelde saamgetrek was, voorsien van voedsel soos melk, wildsvleis en sorghum, asook van ander noodsaaklikhede soos brandhout, riete, gevlegte matte en dekgras. Dié verandering van 'n oorwegend agrariese bestaansekonomie na 'n markgeoriënteerde ekonomie het groot tydelike voordele vir baie Swartmense ingehou, maar op die duur het dit hul ekonomiese vryheid ondergrawe. Die voorraad aan wild, brandhout en dekgras het uitgeput geraak, en die meeste Swartmense is hul natuurlike bestaandsmoontlikhede ontneem. Die betreklike welvarendheid van sommige individue en hul gepaardgaande groter ekonomiese onafhanklikheid het die gesag van die kapteins ondermyn. Boonop het die anneksasie van Griekwaland-Wes as 'n kroonkolonie deur Brittanje in Oktober 1871 Blanke nedersetting i n die gebied aangemoedig. Maar en meer stamgrond het dus vervreem geraak. Teenstand teen dié proses het uiteindelik in 1878 uitgeloop op 'n opstand van die Griekwas en die Swartes, wat genadeloos onderdruk is.
Die Diamantvelde het ook Swartmense verder weg van die toneel beïnvloed. Tussen 1871 en 1875 het ongeveer 50 000 Swartmense uit die binneland Kimberley jaarliks as arbeiders binnegekom en verlaat. Die meeste was Pedi uit Noordoos-Transvaal, wat daarheen gelok is deur hoër lone as elders in Suider-Afrika - lone wat hoofsaaklik gebruik is vir die koop van gewere, 'n noodsaaklike middel vir die politieke voortbestaan van onafhanklike Swart gemeenskappe. Swart groepe soos die Pedi was dus teen die middel van die sewentigerjare goed bewapen en toegerus om hul onafhanklikheid te verdedig.
Die ZAR onder T.F. Burgers
Ná die vergeefse beroepe op pres. J.H. Brand van die Vrystaat om hom ook vir die Transvaalse presidentskap beskikbaar te stel, het die keuse op 'n jong predikant van Hanover in die Kaapkolonie, T.F. Burgers, geval. Hy is op 1 Julie 1872 in Pretoria as staatspresident ingesweer.
'n Gedugte taak het op Burgers gewag. Die staat se finansies was in wanorde en die papiergeld in omloop weinig werd; die republiek was nog steeds ekonomies aan die genade van die Britse kolonies oorgelewer; die twis met die Britse hoë kommissaris was nog steeds aan die gang; die onderwys was primitief; die republiek was feitlik onbekend en sonder vriende in die buiteland; en onrus het van tyd tot tyd onder die Swartmense in en om Transvaal geheers. Al dié vraagstukke het Burgers met groot ywer, toewyding en optimisme aangepak. Hy het 'n lening van die Cape Commercial Bank verkry, die byna waardelose papiergeld ingewissel en die finansies op 'n stewige grondslag geplaas. Hierin is hy ook gesterk deur die ontdekking van die Lydenburgse goudvelde in 1873.
'n Nuwe onderwyswet wat grotendeels Burgers se eie skepping was, is in 1874 aanvaar. 'n Superintendent van onderwys wat direk aan die volksraad verantwoordelik was, is aangestel en bekwame personeel in die buiteland gewerf. 'n Verdrag van Vriendskap, Handel en Uitlewering van Misdadigers is tussen Burgers en Brand gesluit en het in Augustus1872 van krag geword. Later het Burgers in Europa vir die ZAR diplomatieke betrekkinge aangeknoop met Nederland, België, Portugal en Frankryk, terwyl goeie buurskap steeds met die Portugese owerheid by Delagoabaai nagestreef is.
Die betreklik primitiewe perswese in die staat het 'n belangrike inspuiting gekry met die totstandkoming in 1873 van die eerste Nederlandstalige private koerant, De Volkstem. Burgers het ook die eerste stappe gedoen om 'n infrastruktuur daar te stel vir die regverdige administrasie van Swartes, bestaande uit 'n superintendent van naturellesake en -kommissarisse, waarvan later ook tydens die Britse besetting gebruik gemaak is. Voorts het hy wapentuig uit Duitsland laat invoer, en 'n Duitse offisier is na die republiek gebring om 'n artilleriemag op die been te bring in 'n poging om 'n staande mag te skep.
Twee sake, nl. die mislukte spoorwegskema en die veldtog teen Sekhukhune, het egter Burgers se presidentskap verongeluk. Burgers het die Volksraad oortuig dat die regering self 'n spoorweg na Delagoabaai moes bou, en hy is na Europa afgevaardig om 'n lening vir dié doel aan te gaan en om toestemming hiertoe van die Portugese regering te kry. Intriges in die Britse koloniale kantoor het dit vir hom onmoontlik gemaak om in Brittanje die nodige finansiering te bekom. Hy het hom dus op Amsterdam toegespits en huis toe laat weet dat die lening weldra volskryf sou word. In België het hy spoorwegmateriaal ter waarde van £63 000 bestel. 'n Helde-ontvangs in Pretoria het egter eensklaps 'n bitter smaak gekry toe dit blyk dat slegs een derde van die leningsbedrag van £300 000 volskryf was. Die hele spoorwegskema het hiermee platgeval.
'n Nog groter terugslag was die oorlog teen Sekhukhune, wat die staatskas 'n ernstige knou toegedien het. Nog belangriker was dat baie Transvalers begin twyfel het aan die regering se vermoë om hulle te beskerm. Toe die delwersgemeenskap van die Oos-Transvaal hul lot by die imperiale owerheid bekla, het Brittanje 'n voet in die deur gekry en die staat se onafhanklikheid begin bedreig.
Anneksasie en oorlog
Lord Carnarvon, Britse minister van kolonies sedert Februarie 1874, wou die Britse kolonies en Boererepublieke in federale verband onder die Britse vlag saamsnoer. Burgers was te vinde vir samewerking met die Britse kolonies, maar nie onder die Britse vlag nie. Toe 'n konferensie van Suider-Afrikaanse state wat Carnarvon in Augustus 1876 in Londen gehou het, misluk, het die ministter hom voorgeneem om Transvaal deur anneksasie binne sy beoogde federasie te bring; daarná sou die Vrystaatse republiek beswaarlik alleen buite kon bly.
Om dié plan uit te voer, het Carnarvon sir Theophilus Shepstone van Natal as spesiale kommissaris na Transvaal gestuur. Op 22 Januarie 1877 het Shepstone, 'n paar Natalse amptenare en 'n geleide van 25 man van die Natal Mounted Police in Pretoria aangekom.
Shepstone het veral gehamer op die swak finansiële posisie van die regering en sy onvermoë om die Swart groepe in die land te beheer. In samesprekings met die regering was hy aanvanklik ontwykend oor die doel van sy sending, maar aan die einde van Januarie het hy teenoor Burgers erken wat sy opdrag was. Toe die Volksraad vergader, het Burgers vergeefs probeer om die erns van die toestand aan die lede oor te dra. Hy het hervormingsmaatreëls voorgelê in 'n poging om Shepstone se besware tegemoet te kom en só die gevaar af te weer, maar die Raad het tot sy ergernis aanvanklik besluit om dit nie te behandel nie. Die finansiëlekrisis het uiteindelik aan die lig gekkom toe 'n kommissie bevind dat die staatskuld reeds £192 399 beloop het. Dit het ook geblyk dat daar selfs Volksraadslede was wat versuim het om hul belastings te betaal.
Shepstone het dit uiteindelik duidelik gemaak dat anneksasie onvermydelik was; hervormings sou nie help nie, want die regering was inherent swak. Hy het selfs beweer dat hy oor meer as 3 000 handtekeninge ten gunste van anneksasie beskik. In dié omstandighede het Burgers sy laaste toevlug tot 'n protesskrif geneem. Terselfdertyd het die Volksraad besluit om 'n afvaardiging na die buiteland te stuur om die republiek se besware teen die beoogde anneksasie wêreldkundig te maak. 'n Beroep is ook op die landsburgers gedoen om hulle van geweldpleging te weerhou omdat dit slegs die land se saak in die buiteland sou benadeel.
Om 11h00 op Donderdag, 12 April 1877, is die anneksasie-proklamasie op die Kerkplein in Pretoria gelees. Die Zuid-Afrikaansche Republiek het nie meer bestaan nie; dit was nou die Britse kolonie Transvaal.
Shepstone het gou agtergekom dat die administrasie van die nuwe kolonie oneindig moeiliker as die anneksasie was. As administrateur het hy Transvaal met die hulp van 'n paar amptenare as 'n kroonkolonie geregeer. Hy het gou 'n groot tekort aan geld ondervind en by die koloniale kantoor in Londen in onguns geraak oor sy finansiële beleid. Die bou van die spoorweg na Delagoabaai moes voorlopig uitgestel word en is uiteindelik op die lange baan geskuif. Vir die administrasie van Swartmense is Naturellekommissarisse aangestel, maar Sekhukhune het versuim om die boete waarvoor hy in die vredestraktaat met die vorige regering aanspreeklikheid aanvaar het, te betaal, en Shepstone het nie die nodige troepe gehad om hom tot orde te roep nie. 'n Jaar ná die anneksasie was die toestand in Oos-Transvaal gevaarlik. Op die suidoosgrens het Shepstone ewe min sukses met die Zulu gehad, en boere moes hul plase verlaat.
Shepstone is in Maart 1879 deur sir Owen Lanyon as administrateur vervang. In September is die Britse gesag in Transvaal, Natal en Zululand versterk toe sir Garnet Wolseley as hoë kommissaris vir dié drie gebiede en as goewerneur van Transvaal aangewys is. 'n Uitvoerende Raad en 'n Wetgewende Vergadering is ingestel om 'n minder outokratiese voorkoms aan die adminisrtrasie te gee, maar slegs minder gesiene Boereleiers was gewillig om in dié regering te dien, en die twee liggame het nooit veel aansien gehad nie.
Wolseley het uiteindelik in Desember 1879 ná 'n stryd van twintig maande daarin geslaag om Sekhukhune se mense te onderwerp en die opperhoof gevange te neem. Die oorlog teen die Zulu in Natal is in September ook afgesluit, en dit het 'n einde aan die onrus op die suidoosgrens gemaak. Dié suksesse het egter te laat gekom om die Boere met die Britse bewind te versoen. Die vreedsame protes van die Transvalers teen die anneksasie van hul land het intussen ver gevorder. Reeds in Mei 1877 het die eerste deputasie (Paul Kruger, E.J.P. Jorissen en W.E. Bok), waarop al vóór die ananesasie besluit was, na Europa vertrek. Op 'n volksvergadering by Pretoria in Januarie 1878 moes hulle egter rapporteer dat hulle lord Carnarvon nie van die onregverdigheid en ongewildheid van die anneksasie kon oortuig nie.
Die Transvaalse Afrikaners het hierna 'n reeks vergaderings gehou waardeur die wil om hul onafhanklikheid te herstel, verder versterk is. Die leiers het nog steeds 'n vreedsame wyse om die anneksasie ongedaan te laat maak, voorgestaan. 'n Tweede deputasie moes egter teen die begin van 1879 onverrigter sake van 'n onderhoud in Londen met Carnarvon se opvolger, sir Michael Hicks Beach, terugkeer, en toe die Kaapse hoë kommissaris, sir Bartle Frere, die Boereleiers in April 1880 op uitnodiging by Kleinfontein ontmoet, moes hulle ook van hom verneem dat daar geen hoop op die herroeping van die anneksasie was nie. 'n Troos vir die ongeduldige Transvalers was die sukses van 'n sending van Paul Kruger en Piet Joubert na die Kaapkolonie in April 1880. Die Kaapse Afrikaners het hulle behoorlik op die hande gedra. Die stemming in die Kaapkolonie het sodanig teen federasie gedraai dat 'n voorstel wat sir Gordon Sprigg, die Kaapse eerste minister, met die oog op die finale deurvoering daarvan in die Parlement ingedien het, teruggetrek moes word.
Die vreugde van dié oorwinning is egter feitlik onmiddellik deur nog 'n teleurstelling gedemp. Toe die Liberale Party onder W.F. Gladstone in April 1880 die verkiesing in Brittanje wen, is 'n brief aan die nuwe eerste minister gestuur om vir die herstel van onafhanklikheid te vra, want Gladstone het as opposisieleier ernstige bedenkinge oor die Britse beleid in Transvaal geopper. Hy het intussen egter tot ander insigte gekom, en sy negatiewe antwoord het die laaste fase van verset ingelui.
Die steun van Afrikaners suid van die Vaalrivier het die Transvalers bemoedig. Die Vrystaatse Volksraad het in Mei 1879 die eerste keer onomwonde gevra dat die Transvaalse onafhanklikheid herstel word. Terselfdertyd het die Kaapse Afrikaners, veral in die Paarlse koerant, Di Patriot, sterk morele steun aan h ul noordelike stamgenote verleen. In Oktober 1880 het dié koerant onomwonde in 'n redaksionele berig verklaar: "Lydelike verset word nou ydelik verset."
Toe ene P.L. Bezuidenhout in Potchefstroom weier om sekere kostes behalwe sy belastingaanslag te betaal, is op sy wa beslag gelê. Op 11 November het P.A. Cronjé met 100 man die wa gewelddadig van die balju afgeneem en aan Bezuidenhout terugbesorg. Ná dié voorval het die volkskomitee wat intussen aangewys is, die erns van die toestand besef en die volksvergadering wat vir 8 Januarie 1881 belê was, na 8 Desember 1880 vervroeg. Tussen 8 000 en 10 000 man het by Paardekraal, naby die huidige Krugersdorp, opgedaag. Voorbereidings vir oorlog is getref en veldkornette aangewys. Op 12 Desember is die leiding in die hande van 'n driemanskap bestaande uit Paul Kruger, Piet Joubert en M.W. Pretorius geplaas. Die volgende dag het die driemanskap 'n proklamasie uitgereik wat die herstel van die republikeinse regering aankondig. Daarna het die hersaamgestelde regering na Heidelberg vertrek waar die Vierkleur op 16 Desember 1880 gehys is. Die driemanskap het geëis dat Lanyon die regering aan hulle oorhandig, maar hy het geweier en stappe gedoen om die opstand te onderdruk.
Die eerste skote in die Transvaalse onafhanklikheidstryd het op 16 Desember 1880 by Potchefstroom geklap nadat kmdt. Piet Cronjé deur die Heidelbergse regering met 'n kommando daarheen gestuur is om sy eerste proklamasie te laat druk. Terwyl hulle daar was, het 'n Britse patrollie van die garnisoen in die fort buite die dorp 'n Boere-offisier en 'n paar manskappe gewaar en skote is gewissel. Die gevolg was 'n hewige geveg tussen Cronjé se kommando en die Britse garnisoen, wat in die fort beleër is en eers ná 'n heroïese verset van drie maande oorgegee het.
Die Heidelbergse regering het dadelik troepe na sewe dorpe in Transvaal gestuur om die Britse garnisoene daar te beleër. Dié taktiek het die Britse troepe binne Transvaal vasgekeer en Piet Joubert kon dus op 27 Desember 1880 met 800 perderuiters na die Natalse grens vertrek.
Intussen het kommandant Frans Joubert reeds op 20 Desember die 94th Regiment, wat van Lydenburg na Pretoria op pad was, naby Bronkhorstspruit verras en 'n slagting onder hulle aangerig. By Laingsnek, waar die pad van Natal af teen die platorand van die Transvaalse Hoëveld begin uitstyg, was Piet Joubert gereed vir die Natal Field Force van 1 146 voetsoldate en 191 berede manskappe onder aanvoering van genl.-maj. sir George Pomeroy Colley.
Colley sou eers by die Boerestellings by Laingsnek moes verbykom, maar sy eerste twee pogings was onsuksesvol. Hy het by Mount Prospect, 'n paar kilometer van Laingsnek, sy basis ingerig en op 28 Januarie 1881 'n vastrapplek teen die skuinste probeer kry deur 'n strategiese tafelkop 'n entjie van die pad af te beset. Ná 'n uur moes hy egter met gevoelige verliese die aftog blaas, en so ook op 8 Februarie laer af by Schuinshoogte, toe genl. Nicolaas Smit 'n Britse patrollie daar voogelê het.
Dit het Colley opgeval dat die berg Majuba bo Laingsnek uittroon. Indien hy dié kruin sou kon beset, het hy gemeen, sou dit hom 'n onbelemmerde uitsig op die Boere se stellings gee en hulle verplig om die nek te ontruim. Dan sou die weg oop wees om Transvaal binne te gaan.
Tydens die slag van Majuba het die Boere net een man verloor, teenoor 92 dooies en minstens 50 gevangenes aan Britse kant. Die Boere, van wie sir Owen Lanyon nog drie maande tevore gesê het: "I don't believe these cowardly Boers have it in them to fight", het 'n oorwinning behaal wat die magtige Brittanje geskok en die wêreld se aandag getrek het.
Dié verpletterende slag het onafhanklikheid vir die Transvalers binne bereik gebring. Reeds voor die slag van Majuba was daar pogings van Britse kant om met pres. Brand van die Vrystaat as tussenganger 'n skikking te bereik, en op 6 Maart 1881 het Piet Joubert en Colley se opvolger, sir Evelyn Wood, by Laingsnek 'n wapenstilstandooreenkoms onderteken, wat op 23 Maart deur 'n vredesooreenkoms gevolg is.
Op 3 Augustus 1881 is die Konvensie van Pretoria, ten spyte van bedenkinge oor sommige bepalings, deur die Boerleiers onderteken, en vyf dae later het die driemanskap die regering van Transvaal oorgeneem.
--- --- ---
Die slag van Majuba
Ongeveer 20h00 die aand van Saterdag, 26 Februarie 1881, het genl.-maj. Colley beveel dat 579 man by Mount Prospect moet aantree. Hulle moes die artillerie, masjiengewere en vuurpylbuise agterlaat en slegs handgewere saamneem. Ná 'n vermoeiende staptog het die eerste manskappe omstreeks 03h40 die volgende oggend die kruin van Majuba bereik.
Teen dagbreek het die Boere in die laer direk onder Majuba met ontsteltenis die Britse soldate op die kruin gevaar. Genl. Piet Joubert het dadelik deur die laer gery om vrywilligers vir die bestorming van die berg te vind en ook beveel dat die waens opgepak moet word om die laer te ontruim, omdat 'n bombardement enige oomblik van Majuba af verwag kon word.
Ongeveer 06h00 het 150 Boerevrywilligers onder dekkingsvuur van verskillende kante teen die berghang begin opklouter. Teen 11h00 het die Boere se vuur op die soldate by die kruinrand al hoe akkurater begin word. Twee offisiere het dit aan Colley meegedeel, maar hy was van mening dat sy posisie op die berg oninneembaar was. Toe 'n offisier later sy kommer oor die naderende Boere aan Colley wou rapporteer, het hy die generaal aan die slaap gevind.
Ongeveer 12h30 is Colley deur hewige geweervuur gewek: die eerste Boere het toe reeds daarin geslaag om 'n bres deur die verdedigers te slaan. Colley moes verdwaas aanskou hoe sy manskappe om hom retireer. Op die onbeskutte plato het die Britte nou agter 'n rotsrif stelling ingeneem. Namate meer Boere op ander plekke oor die kruinrand gebreek het, het die Britte se moed hulle begin begewe. Sommige het op die vlug geslaan met die bergpaadjie terug na Mount Prospect. Die panier het aansteeklik gewerk en meer het hulle gevolg. Terwyl die laaste weerstand om hom verkrummel het, is Colley dodelik in die kop geword. Daar was later gerugte dat hy selfmoord gepleeg het, maar verskeie Boere het daaroop aanspraak gemaak dat hulle die skoot gevuur het wat hom sy lewe gekos het.
--- --- ---
'n Volledige aanbevole lees- en bronnelys is aan die einde van dié hoofstuk.
--- --- ---
Hoofstuk 12
Die Britse kolonies
Die Kaapkolonie, 1854-1881: J. Benyon
In 1854 het 'n wetgewende Parlement, bestaande uit 'n laerhuis (die Wetgewende Vergadering) en 'n hoërhuis (die Wetgewende Raad), die eerste keer vergadering en het sir George Grey ná 'n geslaagde ampstermyn in Nieu-Seeland as goewerneur in Kaapstad aangekom. Ná 'n lang reeks militêre goewerneurs was daar nou weer 'n burgerlike in dié pos, 'n aanduiding van 'n nuwe Britse houding teenoor bestuur in Suid-Afrika. Die nuwe Parlement moes tot elke prys funksioneer, want die Grensoorlog van 1850-1853 het getoon dat 'n langduriger en konstruktiewer grensbeleid as die droewige reeks mislukte skikkings van die verlede noodsaaklik was. Voorts het die nuwe semi-diplomatieke verhouding met Transvaal en die Oranje-Vrystaat wat in die Sandrivier- en Bloemfontein-konvensie beliggaam is, daarop gedui dat die goewerneur takt én beslistheid sou moet besit om imperiale invloed oorkant die onstuimige noordoosgrens uit te brei.
Grondwetlike en politieke ontwikkeling
Die Kaapkolonie kon sy nuwe verteenwoordigende Parlement van 1854 finansieel in stand hou, en dit het dus gelyk asof dit nie lak sou duur voordat die uitvoerende departemente na die model van verantwoordelike regering van imperiale na koloniale beheer oorgedra sou word nie. Byna twee dekades sou egter verloop voordat dit in 1872 gebeur het, en een van die vernaamste redes vir die vertraging was die kwessie van ras en kleur. Die lae, nie-rassistiese stemregkwalifikasies in die Kaapkolonie kan toegeskryf word aan die toedoen van sowel die Britse regering as 'n groep Engels- en Hollandssprekende liberale wat merendeels in Kaapstad gewoon en die politieke leiding van John Fairbairn, die ou kampvegter vir persvryheid, gevolg het. Dié "Kaapse liberalisme" van die koloniale hoofstad is egter nòg in die Hollandssprekende wynboudistrikte van die weste nòg in die Engelse setlaar- en grensdistrikte van die ooste gesteun. Vanweë dié polarisering van standpunte het burggraaf Grey, die Britse minister van kolonies, 'n uitvoerende liggaam van imperiale amptenare in die nuwe grondwet vervat as teenwig vir moontlike onbesonnenheid wat rassekwessies betref aan die kant van hardvogtige koloniste. Vorentoe sou dit die bestuur egter telkens laat vasval.
Die onvermydelike konfrontasie tussen die wetgewende en uitvoerende mag het nogtans eers in die sestigerjare voorgekom, deels danksy sir George Grey se innemende persoonlikheid en knap bestuursvermoë, maar ook danksy ekonomiese welvaart en die koloniste se gedurige gekibbel oor "separatisme" - grootliks 'n paaiboelie wat deur die Graham's Town Journal en sy redakteur, "Moral Bob" Godlonton, aan die lewe gehou is. Dié beweging het ontstaan deels uit die oosgrensbevolking se chroniese onsekehrid, deels omdat handelaars hul belange na die republieke in die noorde en die Kaffrarië-gebiede in die ooste wou uitbrei, en deels omdat Grahamstad met Kaapstad meegeding het om die posisie van sentrum van die Kaapkolonie. Ná 1854 het die beweging egter net nog af en toe invloed gehad - hoofsaaklik wanneer gemeenskaplike streekkwessies 'n tydelike eenheid aan die oostelike distrikte gegee het.
Een van dié kwessies, waarby wolprodusente betrokke was, het in 1860 gelei tot die stigting van die Separation League, wat die regering se voorstelle oor 'n wolbelasting verskeie jare lank beveg het. Selfs die wolkwekers van Graaff-Reinet het Grahamstad se pretensies om alternatiewe hoofstad te word, egter onaanneemlik gevind. Toe goewerneur Wodehouse in 1864 'n sitting van die Kaapse Parlement in Grahamstad hou in 'n poging om die dooie punt tussen "koloniale" wetgewende en "imperiale" uitvoerende mag te verbreek, het dié eksperiment die belastingbetaler 'n derde meer gekos as die gemiddelde Kaapse sitting, en dit is nooit herhaal nie.
Die inwoners van die Oostelike Provinsie het gevoel dat die Westelike Provinsie hulle oorheers en teen hulle diskrimineer, maar in werklikheid was hulle met 22 setels in die Wetgewende Vergadering (teenoor 24 vir die Westelike provinsie) en 7 setels in die Wetgewende Raad (teenoor 8 vir die Westelike Provinsie) aansienlik oorverteenwoordig. Dit verklaar ook deels waarom Engelssprekendes in die Kaapse arlement oorheers het tot 1874, toe die streekverteenwoordiging van die Oostelike Provinsie opgehef het. Die inwoners van dié gebied het daarna ondersteuners geword van 'n nuwe soort separatisme, nl. die federalisme van lord Carnarvon, Britse minister van kolonies in die sewentigerjare.
Grey as goewerneur en hoë kommissaris
Agter sy innemende uiterlike was sir George Grey 'n koppige en hooghartige administrateur. Sy tekortkominge op dié gebied het eers aan die lig gekom toe sy dinamiese persoonlikheid nie meer daar was om alle hindernisse uit die weg te ruim nie. Aanvanklik het hy die koloniste in die Wetgewende Vergadering gevlei en gepaai, en die volle steun gekry van 'n Uitvoerende Raad wat bestaan het uit die hoofde van staatsdepartemente, onder wie die vernuftige koloniale sekretaris, Rawson W. Rawson.
Grey se hantering van grensbeleid is die beste voorbeeld van sy regeringstyl. Van sy voorganger, sir George Cathcart, het hy 'n gemilitariseerde gebied oorkant die grens en 'n onbestendige verhouding met die Xhosa geërf. Die volgehoue weerstand van die Xhosa was oënskynlik nog militant, maar dit was besig om geleidelik te swig voor die druk van die Blanke gemeenskap en die groot terugslae van die opeenvolgende grensoorloë. In 1855, toe daar weer eens 'n botsing aan die grens gedreig het, het Grey besef dat hy dit kon gebruik om Cathcart se segregasionistiese "militêre" skikking van 1852-1853 tot niet te maak en die vinnige uitbreiding van Wes-Europese invloed op die Swart gemeenskap oorkant die grens te bevorder. In Maart 1855 het hy die Kaapse Parlement aangespoor om hom te help om Brits-Kaffrarië te vul met 'n "aansienlike getal Blankes ... om ons verder in daardie gebied te versterk". Voorts het hy gepleit dat die Swartes "opgehef" moet word tot "die Christendom en die beskawing, deur die stigting onder hulle en anderkant ons grens van sendingstasies waaraan daar ambagskole gekoppel is, en deur hulle by openbare werke in diens te neem".
Die einddoel van Grey se grensbeleid was om die chronniese onsekerheid in dié streek te beëindig en duur militêre botsings te vermy. Die beleid het egter 'n verdere vervreemding van Swart grond aangemoedig, asook dieper verdeelheid onder die Xhosa tussen tradisionaliste en diegene wat op die sendingstasies die Christendom en Westerse kleding aanvaar en aan die ontwikkelende markgerigte ekonomie van die kolonie begin deelneem het, het sy as lede van die groeiende "kleinboer"-element aan die grens of as arbeiders onder die indringende Blankes. Hoewel Grey se "assimilasie"-beleid ten opsigte van die Xhosa in die verlede aangeprys is, is daar tans historici wat die negatiewer aspek daarvan beklemtoon, nl. die "onderontwikkeling" van die Xhosa deur die onmededingende voorwaardes waarop hulle tot 'n tegnologies gevorderde samelewing toegelaat is. Baie het egter die uitdaging aanvaar en deur grondhuur en deelsaaiery vir die koloniale mark geproduseer - moontlik die gevolg van 'n toenemende besef by desperate stamlede dat hul tradisionele lewenswyse vir goed verby was, eerder as Grey se inisiatief.
In 1856-1857 het die tradisionaliste onder die Xhosa in plaas van oorwinning deur oorlog, soos in 1847, 'n oorwinning deur middel van versoening met die bonatuurlike nagestrewe. Dit het uitgeloop op die "groot veeslagting". Op 18 Februarie 1857, het die Xhosa geglo, sou die son opkom en weer in die ooste ondergaan, en alle Blankes en afvalliges sou deur 'n werwelwind die see in gewaai word. Maande lank het hulle hul vee en gesaaides vernietig, maar die groot dag het aangebreek sonder dat die voorspelling vervul is. In die woorde van die Blankes het dit gelyk of die Xhosa "selfmoord" pleeg.
Die bekende verklaring van die ramp is dat 'n jong meisie, Nongqawuse, bodes uit die land van die dooies ontmoet het by die poel waar sy water gaan haal het. Sy het haar oom, Mhlakaza, priester-siener van die senior Gcaleka-tak van die Xhosa, daarvan vertel, en van hom het dit versprei na die hele Xhosa-nasie. Onder druk van die skikking ná die jongste grensoorlog, die bevolkingstoename in Brits-Kaffrarië, Blanke intrekkers se aansprake op nog meer stamgrond, die sendelinge as vernietigers van tradisionele gebruik en die groot longsiekte-epidemie van 1856 was die Xhosa bereid om hul toevlug tot desperate optrede te neem. Hulle het geglo dat die euwels wat hul wêreld geteister het, slegs uitgeskakel kon word indien die nasie deur sy voorvaders die band met die bonatuurlike herstel, en hiervoor moes die veeverliese weens longsiekte in 'n groot offer omskep word.
Onlangse antropologiese navorsing, veral in die westelike gebiede van die Stille Oseaan, toon dat die verskynsel van chiliasme of 'n totale geloof in 'n bonatuurllike manier om 'n beter wêreld in die toekoms te verseker, gewoonlik verband hou met die vinnige disintegrasie van 'n tradisionele gemeenskap onder sterk druk. Ongelukkig het min Blankes besef wat besig was om te gebeur. Grey het die verskynsel vertolk as 'n boosaardige plan om nog 'n grensoorlog te ontketen en het teen die hoofmanne opgetree. Dié konfrontasie het die skaal van die ramp slegs vergroot. Eers toe die goewerneur die ware aard van die begweging begin agterkom, het hy noodlenigingswerk begin aanpak.
Die gevolge van die ramp het egter sy planne regstreeks bevorder, want vir die doel van regspleging kon hy nou magistrate in die plek van die opperhoofde stel. 'n Aantal vooraanstaande hoofmanne is verban, en hul verhongerde volgelinge is òf opgeroep om in die kolonie te werk, òf by Grey se openbare werke in Brits-Kaffrarië ingeskakel. Ander is buite stamverband in groot, maklik hanteerbare dorpsgemeenskappe gevestig, waardeur die goewerneur vroeëre eksperimente in individuele en trusbesit van grond onder die Mfengu ("Fingo's") na die Xhosa uitgebrei het.
Daar word bereken dat sowat 30 000 mense aan hongersnood dood is en 'n verdere 30 000 geëmigreer het. Net sowat 30 000 het oorgebly. Grey kon nou blanke immigrasie aanmoedig om die werk van die terugkerende sendelinge en handelaars te steun. Eers was daar soldate van die ongebonde Anglo-Duitse Legioen, en in 1857 die vestiging van stoere Noord-Duitse kleinboere wat deur die firma Goddefroy in Hamburg gewerf is. Derdens is die kolonie se ou Swart bondgenote, die Mfengu, toegelaat om in die "Koninklike Reservaat" in die Amatole in te trek nadat die volgelinge van Sandile opperhoof van die Wes-Xhosa, daaruit verwyder is.
Onder Grey is die ou politieke grens tussen Swart en Blank vir goed uitgewis. In arbeidsverhoudings het 'n n7uwe grens gou merkbaar geword, maar dit was nie altyd tot nadeel van die Swartman nie. By sendingstasies soos Lovedale, wat deur Grey gesubsidieer is, is Swartes opgelei as timmermans, grofsmede en wamakers, wat hulle meer mededingend help maak het. Akademiese onderrig was ook voortreflik, en heelwat vooraanstaande Blanke koloniste was trouens trot daarop dat hulle op Lovedale skoolgegaan het.
--- --- ---
Tiyo Soga
'n Voortreflike Swart oud-student van Lovedale, was Tiyo Sioga (1829-1871). Hy is op Gwali, 'n sendingstasie van die Glasgow-sendinggenootskap, gebore. Soga was die eerste geordende Xhosa-predikant, 'n sendeling en vertaler. Nadat hy as predikant van die Presbiteriaanse Kerk gekwalifiseer het, het hy in 1857 met 'n Skotse vrou, Janet Burnside, getrou. In sy wyse en verdraagsame woorde aan sy gekleurde kinders is 'n aangrypende en blywende boodskap vervat: "Julle moet altyd die nagedagtenis van jul moeder as 'n opregte, pligsgetroue, spaarsame, Christelike Sjitse vrou in ere hou... Om jul eie ontwil ... moet julle nooit die indruk skep dat julle jul skaam ... omdat julle vir 'n deel Swart bloed geërf het nie. Dit is net so goed en suiwer as dié wat deur die are van my ligter broers vloei." Hy het in 1871 gesterf terwyl hy besig was met sendingwerk onder die senior Gcaleka-tak van sy volk. Soga was 'n toonbeeld van die nuwe orde wat soos 'n feniks verrys het uit die as van die tradisionele Swart gemeenskap.
--- --- ---
In die Transkei het Grey in 1858 vorbereidings begin tref vir verdere anneksasie deur Sarhili se Oos-Xhosa of Gcaleka tot oorkant die Mbashe te verdryf. Mfengu-kleinboere het in dié gebied ingetrek en spanninge tussen hule, die verplaaste Gcaleka en die naburige Thembu veroorsaak. Verder noord het Grey in 1861 die verstiging van Adam Kok se geknelde Griekwas in "Niemandsland" aangemoedig. Die anneksering van verdere grondgebied tot aan die grens van Natal was oënskynlik die volgende logiese stap in Grey se konfederasieplanne, maar hier het hy hom ernstig misreken.
Grey was nie net goewerneur nie, maar ook hoë kommissaris, wat hom in die praktyk 'n sekere mag gegee het om anderkant die grens van die kolonie in te gryp. Dié mag is egter aan bande gelê deur die sg. "konvensiebeleid", wat Britse betrokkenheid in die binneland grootliks beperk het tot diplomatieke invoed oor inskiklike republikeinse Boere en Swart hoofmanne. Grey wou egter die imperiale plan vir die konsolidering van Britse besittings in die kusstreke uitbrei tot 'n herinlywing van die Oranje-Vrystaat as Britse grondgebied in 'n federasie met die Kaapkolonie en Natal. Sulke ambisieuse ondernemings was egter duur. Die £40 000 wat die Britse regering jaaerliks bewillig het, het nooit die werklike onkoste van die hoë kommissaris se projekte selfs net in Brits-Kaffrarië gedek nie, laat staan nog dié wat hy vir die hele subkontinent beplan het. Desondanks het dié projekte steeds toegeneem, bv. die Grey-hospitale in King William's Town en Pietermaritzburg, die Grey-kollege in Bloemfontein, die Grey-instituut in Port Elizabeth en die Zonnebloem-stigting vir die seuns van hoofmanne in Kaapstad. Die Kaapse Parlement het Grey gehelp om mense en geld vir sommige van dié ondernemings te vind, maar teen die laat vyftigerjare het die Parlement self 'n finansiële tekort ondervind, en Grey is herroep deur 'n afkeurende minister van kolonies op grond van die spandabelrigheid en ongehoorsaamheid. Hoewel die herroeping ongedaan gemaak is en Grey in 1860 na die Kaap teruggekeer het, is hy reeds in 1862 deur sir Philip Wodehouse opgevolg.
Die Wodehouse-jare
Net soos Grey was Wodehouse 'n outokraat. Hy was ook versigtig, ingetoë en onwillig om die aansienlike beheer wat hy kragtens die grondwet van 1854 oor die bestuur van die Swart groepe aan die grens gehad het, te deel of af te staan. Hy was ten gunste van imperiale oorheersing deur 'n stelsel van rade wat die bedreigde Swart stamme aan die grens moontlik beter beskerming sou kon bied as die alternatief van verantwoordelike regering. Die Blanke koloniste het Wodehouse aanname dat sy bestuur beter as hulle s'n was, egter betwis.
In 1864 moes Wodehouse uitbreiding in die Transkei stopsit. Bestuur oorkant dié grens deur die hoë kommissaris was moontlik onwettig en die behoedsame minister van kolonies en Wodehouse self was bekommerd oor die onkoste waarmee Grey hulle opgesaal het. Die volgende stap in die proses van rasionalisering was om Brits-Kaffrarië, wat in 1860 'n kroonkolonie geword het, in 1865 by die Kaap te voeg. Die koloniste was egter onwillig om verdere bestuurskkoste te aanvaar, en het die goewerneur verwyt dat dit aan hulle opgedwing het. In die depressie van die sestigerjare het die goewerneur die Wetgewende Raad op sy beurt verwyt omdat te min geld aan hom toegestaan word, en die Parlement het Wodehouse en sy Uitvoerende Raad aangeval omdat hulle die koloniste, wat die hoë onkoste moes dra, nie méér seggenskap in die bestuur wou toelaat nie.
Wodehouse se teenstanders in die Westelike Provinsie onder leiding van John Molteno het in 1863 en 1867 sonder welslae probeer om verantwoordelike bestuur te verkry. Die goewerneur het 'n teenaanval geloods deur die parlementsitting van 1864 in Grahamstad te hou en in 1867 en 1869 voor te stel dat die Parlement self afgeskaf word ten gunste van 'n wetgewende liggaam met minder as 20 lede (amptenare en verkose lede). Baie inwoners van die Oostelike Provinsie het geglo dat verantwoordelike bestuur die imperiale rem op oorheersing deur die Westelike Provinsie sou verwyder en die Britse regering bowendien 'n verskoning sou gee om sy duur regimente uit die kolonie te onttrek. Teen 1870 het drie belangrike ontwikkelings egter gesamentlik gehelp om oor dié dooie punt heen te kom, nl. die beëindiging van die stryd oor Basotholand, die besluit van Gladstone se kabinet in Brittanje om die onttrekking van troepe te koppel aan die kwessie van verantwoordelike bestur, en die ekonomiese herlewing ná die ontdekking van diamante.
Die eer vir die oplossing van die Basotholand-krisis kom Wodehouse toe. Hy het sy gesag as hoë kommissaris gebruik en ingemeng in die verhouding tussen die Vrystaat en die Basotho, en in Maart 1868 het hy aan die Basotho die beskerming van sy gesag geb ied. Ná Wodehouse se vertrek in 1871 is Basotholand egter deur die Kaapkolonie geannekseer, deels omdat Wodehouse ná 1868 koloniale polisie en amptenare gebruik het om sy hoëkommissaris-bestuur daar te steun, en deels omdat die Britse regering die verdediging en bestuur van die grens voortaan deel wou maak van die kolonie se verpligtinge onder verantwoordelike bestuur.
Die aanvang van die minerale-revolusie: Die ontdekking van diamante
In 1867 het twee kinders, "Klonkie" en Erasmus Jacobs, 'n blink klippie uit 'n kalkbank naby Hopetown aan die Oranjerivier gegrawe. Die klippie is eers na Colesberg gestuur, en toe na Grahamstad, waar Atherstone, Macowan, Ricards en Galpin, wat 'n sekere kennis van diamante gehad het, bevestig het dat daar moontlik edelstene naby die samevloeiing van die Oranje en die Vaal kon wees. Verdere ontdekkings, soos die beroemde "Ster van Suid-Afrika", het alle twyfel uit die weg geruim, en twee groot stormlope het gevolg - eers na die spoeldelwerye by Pniel en Klipdrift (Barkly-Wes) in 1869 en in 1870 na die droëdelwerye byDutoitspan en Bultfontein. Teen die middel van 1871 is die Kimberley-myn (die "Groot Gat") in Colesbergkoppie geopen. sy fabelagtige opbrengs het daarop gedui dat dié enorme vulkaniese pype van diamanthoudende gruis 'n minerale revolusie op die lang termyn in Suid-Afrika teweeg sou bring. Toe hulle binne die eerste tien jaar van ontginning diamante ter waarde van £60 miljoen oplewer, is dié vermoede bevestig.
Die bestuur op die Diamantevelde is in die begin gekenmerk deur informele "delwerskkomitees" wat in Junie 1870 uitgeloop het op 'n "Delwersrepubliek" onder die oud-matroos Stafford Parker by Klipdrift. By tye het 40 000 delwers pres. M.W. Pretorius uitgetart, lippehulde aan die Kaapse magistrate en Vrystaatse landdroste gebring en op 'n kleurslagboom aangedring. Imperiale anneksasie deur Barkly in 1871, en die skepping van die Kroonkolonie Griekwaland-Wes ein 1872, is gevolg deur volwaardige bestuur onder lt.-goew. Richard Sothey in 1873.
Die Kaapkolonie het nou vir die eerste keer nie net genoeg Europese kapitaal gelok nie, maar ook binnelands inkomste en ontwikkelingskapitaal opgebou, en waar die kolonie in die verlede gedurig met skuld belas was, het dit nou 'n oorskot gehad. Van die koloniale hawens is spoorweë ma Kimberley gebou en ondanks die voltooiing van die Suez-kanaal in 1869 het al hoe meer skepe die kolonie in die sewentigerjare aangedoen.
--- --- ---
Die Diamantveld-geskil
Vier partye het aanspraak gemaak op die spoeldelwerye naby Klipdrift. Die ZAR het verwys na sekere verdragsreëlings en die feit dat die Sandrivier-konvensie geen wesgrens vir die republiek bepaal het nie; die Rolong- en Tlhaping-hoofmanne het aangevoer dat hulle die gebied bewoon; Nikolaas Waterboer het daarop aanspraak gemaak dat hy oor Cornelis Kok gesag uitgeoefen het en dat die grond hom ná Kok se dood toegeval het; en die Oranje-Vrystaat het bewyse aangebied dat hulle die grond van Adam Kok III gekoop het.
Op die droëdelwerye was daar twee aanspraakmakers: Nikolaas Waterboer en die Oranje-Vrystaat. Twee grenslyne was die kern van die geskil. Van Ramah noord tot by Platberg aan die Vaal het 'n grenslyn geloop wat gebaseer was op 'n verdrag van 1838 tussen Waterboer se Griekwastaatjie en Adam Kok se Philippolis-grond. Waterboer se bekwame Kleurling-prokureur David Arnot wou die geldigheid van die volle lengte van die lyn bewys, want dan sou die vier groot diamantpype by die huidige Kimberley binne Waterboer se grond lê. Noord van Ramah is dié lyn van oos na wes gesny deur die Vetberglyn, wat Waterboer in 1855 aanvaar het as grens tussen sy gebied en dié van die Oranje-Vrystaat. Die Vrystaat het hom op die Bloemfontein-konvensie beroep om te bewys dat hy noord van dié lyn regsbevoegdheid uitgeoefen het.
Die geskil is in 1871 vir finale arbitrasie verwys na lt.-goew. R.W. Keate van Natal. Op die beskikbare getuienis, wat beperk en swak aangebied is, was sy uitspraak regverdig genoeg. Van wes na oos het hy 'n grens getrk tot die Platberg (wat die Rolong- en Tlhaping-aansprake uitgeskakel het) en van die Vaal suid langs Makwassiespruit (wat die ZAR se aanspraak uitgeskakel het). By implikasie was die uitspraak in die guns van Waterboer. Daar was egter geen beslissing oor die geldigheid van die lyn Ramah-Dawidsgraf-Platberg in sy geheel nie.
Waterboer het die gebied wat as Griekwaland-Wes bekend was, aan Brittanje aangebied, en sir Henry Barkly het dit aanvaar. In 1876 het 'n grondhof onder regter Stockenström Waterboer se aanspraak ongeldig verklaar, en £90 000 is as "vergoeding" aan die Vrystaat betaal.
--- --- ---
De Beers Consolidated word 'n monopolie
Onder die eerste aandelemaatskappye wat in 1874 gestig is om die diamante te ontgin, was die Old De Beers Company van Cecil Rhodes, wat aanvanklik slegs die junior vennoot was van sy broer Herbert, die twee Rudds en die Kaapse sakeman Tarry. Teen 1880 het die mynmaatskappye in plaas van die konsolidering van kleims begin met die konsolidering van aandelepakkette. In die vroeë sewentigerjare is kleims tot ongelyke dieptes uitgegrawe, en dit het aanleiding gegee tot die eerste klein gesamentlike onderneming, maar gou was daar 'n behoefte aan 'n enkele groot maatskappy wat 'n strategie vir die ontginning van 'n hele pyp kon ontwikkel. Rhodes het besef dat dit 'n tyd lank vir hom voordelig sou wees om sy aansienlike besit volgens die dagmynmetode deur sy New De Beers Company (in Maart 1880 gestig) te laat ontgin, maar dat hy kwesbaar sou wees wanneer mededingende ondergrondse werksaamhede in die ryk Kimberley-pyp teen die laat tagtigerjare aan die gang sou kom.
Op vaardige wyse het Rhodes hom dus toegelê op die verstewiging van bande met die mededingende Compagnie Française, met die aandelehandelaar Alfred Beit, en deur hom met die aksepbankiers en kapitaalvoorsienings van Europa, veral die Rothschilds in Londen, en sodoende begin met sy grootskaalse poging om die Kimberley Central Company uit te koop. In die kamp van die vyand het hy 'n nuttige bondgenoot gevind in Barney Barnato, 'n Jood van Londen, wie se ondersteuning beloon is deur lidmaatskap van die eksklusiewe Kimberley Klub, wat geen Jode toegelaat het nie. Uiteindelik het die koopkrag van die Rhodes-kombinasie oor die minderheid van wederstrewige aandeelhouers van Kimberley Central geseëvier en is 'n reusagtige skikking van meer as £5 miljoen in 1889 aangegaan. Teen 1891 is die monopolie van Rhodes se maatskappy - De Beers Consolidated - dan ook op die Diamantvelde gevestig.
--- --- ---
Diamante en die Swart gemeenskappe
Die rykdom wat die ontdekking van diamante meegebring het het 'n nuwe krag en selfvertroue aan die blanke gemeenskap gegee. Dit is gou deur onafhanklike Swart gemeenskappe aangevoel en het ook weldra 'n reaksie uitgelok. Aanvanklik was dié reaksie positief, maar op die duur kon hulle die ongelyke stryd nie volhou nie. In die eerste paar jaar het Swart voedselproduksie in gebiede soos Basotholand vinnig gestyg, en daar is berig dat "duisende muddens" graag gestuur word om die menslike miershoop by Kimberley te voed. Die ander groot uitvoerproduk van die Swart gebiede was arbeid.
Die vraag na sekere Europese verbruiksgoedere was oor die grootste deel van Suider-Afrika reeds goed gevestig, maar die Swartes het instinktief besef dat hulle gevaar staan om polities onder blanke bestuur ingelyf te word, en daarom was veral een produk, nl. gewere, in groot aanvraag. Baie van die Swart stamlede wat op die Diamantvelde gewerk het, het - dikwels in opdrag van hul hoofmanne - na hul gesinne teruggekeer sodra hulle in besit was van die primêre doelwit, wat dikwels in plaas van hul loon aan hulle uitbetaal is.
In arbeidsverhoudings was daar op die Diamantvelde 'n neiging tot 'n duidelike onderskeid tussen 'n permanente en toenemend professionele bevolking van blanke mynwerkers en 'n gedurig wisselende bevolking van ongeskoolde Swart stamlede. Om hulle te beheer en te dissiplineer, asook om te verseker dat hulle selfs aan hul korttermynkontrakte gehou word, en die sluikhandel in diamante teen te werk, is 'n kampongstelsel ingevoer. Mettertyd het daar tussen die Blanke stadsbewoners en die Swart trekarbeiders 'n diep afgrond ontwikkel. Dit het gespruit uit vroeëre patrone van indiensneming in die Kaapkolonie, maar daar was ook unieke kenmerke van konsentrasie en gewettigde differensiëring wat byna net so oorgeneem is deur die veel groter nywerheidskompleks wat n á 1886 aan die Witwatersrand ontstaan het. Dit was die begin van die ooreenstemming van klas- en kleurskeidslyne wat soveel van die latere industriële geskiedenis van Suid-Afrika sou kenmerk.
--- --- ---
Die instelling van verantwoordelike bestuur en vroeë probleme
Die Kaapkolonie het Griekwaland-Wes, soos die Diamantevelde intussen bekend geraak het, eers in 1880 geannekseer - nadat die Kaapse goewerneur, sir Henry Barkly, die Kaapse koloniale sekretaris, sir Richard Southey, en die Kaapse prokureur, David Arnot, gesamentlik die aansprake van die Vrystaat daar verydel het. Albei gebeure het verband gehou met die instelling van verantwoordelike bestuur. Die Gladstone-ministerie van 1868-1874 in Brittanje wou hê dat die Kaapse regering moes besluit oor die aanvaarding van verantwoordelike bestuur en die onkoste van plaaslike verdediging. Die imperiale garnisoen moes herroep word, en om dié stap en die instelling van 'n plaaslike verdedigingstelsel aan te help, het die nuwe goewerneur, sir Henry Barkly, opdrag ontvang om die gebiede van Suid-Afrika tot federasie aan te moedig. Die gevoel was dat die Diamantvelde moontlik die nodige inkomste hiervoor sou verskaf.
Die instelling van die nuwe grondwet in 1871-1872 en 'n Uitvoerende Raad van koloniste-verteenwoordigers in die plek van professionele administreerders in imperiale diens het Barkly groot probleme besorg. Uiteindelik moes hy genoeë neem met die stugge John Molteno - slegs sy vierde keuse as premier. (Molteno se intimiderende bynaam, die "leeu van Beaufort", het hy trouens as vernaamste teenstander van die vorige goewerneur gekry!) Hierdie prikkelbare kolonis was begryplik agterdogtig oor alles wat vir hom na 'n bemoeisieke "imperiale faktor" gelyk het, veral nadat sy Hollandssprekende ondersteuners in Wes-Kaapland vervreem is deurdat die aanspraak van die Vrystaat op die Diamantvelde arbitrêr van die hand gewys is. Ná 1872 moes die Britse regering ongeduldig wag tot die Kaapkolonie onder Molteno versoen raak met die vooruitsig om die Diamantvelde òf in te lyf òf te absorbeer.
Aan die oosgrens en in Basotholand het Barkly begin om die "imperiale" gesag van die hoë kommissaris oor Swart administrasie te integreer met dié van die onlangs ingestelde Kaapse "Departement van Naturellesake" onder Charles Brownlee. Uit waardering vir die administratiewe vaardighede op die gebied van grensbestuur wat Barkly aan Molteno se ministers beskikbaar gestel het, het Molteno onwillig ingestem om die gevangenisstraf van die Natalse "rebel" Langalibalele op Robbeneiland te versag, maar sy onwillige houding moes die imperiale owerheid gewaarsku het dat druk wat inbreuk maak op die konstitusionele regte wat aan die koloniale ministerie afgestaan is, gevaarlik kan wees.
Die eerste groot krisis in Kaapse verantwoordelike bestuur het juis ontstaan toe grenskwessies oorvleuel het met die federasiebeleid wat Brittanje nou in Suid-Afrika wou bevorder. In 1871 het Barkly 'n kommissie genoem om federasie te ondersoek, met klem op die amalgamering van Britse besittings, en die moontlikheid om die "separatisme" van die Oostelike Provinsie te akkommodeer in 'n formule vir gedesentraliseerde maar gekoördineerde bestuur. Hy het gehoop dat die Vrystaat vir dié inisiatief te vinde sou wees, maar dié hoop is verydel. Aangesien Barkly van mening was dat die inisiatief vir federasie van die Suid-Afrikaanse state self moet uitgaan, is die onderneming daarna onbepaald uitgestel.
Toe lord Carnarvon in Mei 1875 probeer om die pas na federasie te versnel, het Barkly hom daarteen gewaarsku. Carnarvon het die waarskuwing egter verontagsaam en die beleid probeer afdwing deur Molteno te oordonder en deur middel van sy vriend, die historikus J.A. Froude, die kwessie van "separatisme" te laat herlewe. 'n Konfrontasie tussen kolonie en imperiale mag was die gevolg. Hoewel die Kaapse premier en Carnarvon in 1876 hul geskille wel min of meer in Londen besleg het, het Carnarvon hom intussen vooirgeneem omv an 'n breër territoriale basis as die Kaapkolonie te werk. Gevolglik is sir Theophilus Shepstone in 1877 van Natal gestuur met gesag om Transvaal te annekseer, en terselfdertyd is Barkly as goewerneur opgevolg deur sir Bartle Frere, met die hoër bykomende status van "hoë kommissaris vir Suid-Afrika".
Die erfenis van Grey se skikkings, droogte en die toenemende invloed van Blanke handel en bestuur het in 1877-1878 gelei tot rebellie onder die Ngqika-Xhosa en die laaste versetstryd onder die Gcaleka-Xhosa. Frere het besluit om dié krisis te gebruik ter bevordering van sy vernaamste doelwitte, nl. die skepping van 'n afsonderlike Swart provinsie in die Transkei en Basotholand onder Britse bestuur, wat by die konfederasie gevoeg moes word, en die invoer van genoeg imperiale troepe om dié skikking vinnig te bewerkstellig. Die troepe sou ook gebruik kon word om die Zulu-monargie se mag te breek en dit vir die kolonie veilig te maak om hom politiek met die Zulu se bure in Natal en Transvaal te verbind. Frere se planne was, in teenstelling met Molteno se standpunt (waartoe Barkly en die vorige Britse regering hom aangemoedig het), dat die Kaapkolonie Transkei self geleidelik moes absorbeer. Die vraag wie van die imperiale of die koloniale owerheid opdrag moes gee vir die beëindiging van die Negende Grensoorlog het daarote gelei dat Frere Molteno se ministerie in 1878 afdank. Die nuwe ministerie onder sir Gordon Sprigg was besonder afhanklik van Frere, en hul paranoia oor strenger grensbeheer (die ministers was van Kafferarië en die oostelike kiesafdelings afkomstig) het hulle geredelik die volgende stap in Frere se strewe na konfederasie laat aanvaar.
Sowel Frere as Sprigg was van mening dat die ontwapening van die Transkeise stamme en die Basotho dit amliker sou maak om hulle in die beplande provinsiale eenheid wat die "Swart" bousteen van konferasie in die suidooste moes uitmaak, in te lyf. Die Basotho het gevrees dat die territoriale integriteit van die "reservaat" wat Wodehouse in 1868 vir hulle gewaarborg het, nou bedreig word. Hulle het dus die gewere wat hulle op die Diamantvelde verkry het, gegryp en hulle gereed gemaak om ontwapening tot die dood toe te weerstaan.
Die "Geweer-oorlog" van 1880-1881 tussen die Kaapkolonie en die Basotho was die geslaagste van Suid-Afrika se Swart opstande. Militêre skaakmat het ontwikkel, en die Britse en Kaapse regering het daarna onwillig ingestem tot die aftakeling van koloniale bestuur. Uiteindelik is die eerste imperiale hoëkommissarisgebied in Basotholand ingestel. Bestuur was indirek deur hoofmanne, 'n stelsel wat die hoë kommissaris in die tussenstadium ná 1868 en voor anneksasie deur die kolonie 1871 daar ontwikkel het.
Van politieke traagheid tot optrede
Ná afloop van die Negende Grensoorlog het Frere sy haastig ingevoerde soldatemag gou hergroepeer en dit in 1879 op sy tweede doelwit - Zululand - afgestuur. Hier het die onverwagte ramp van Isandlwana sy reputasie en gesag egter 'n noodlottige knou gegee. Terselfdertyd was die Transvaalse Boere gretig op soek na bondgenote in hul protes teen die Britse anneksasie van 1877, en hulle het met Sprigg en Frere se teenstanders aan die Kaap gemene saak teen konfederasie gemaak. In April en Mei 1880 het die Transvaalse leiers, Paul Kruger en Piet Joubert, Kaapland besoek en is hulle deur die Paarlse koerant Di Patriot hartlik verwelkom. In 'n oproep wat plaaslike gevoelens weerspieël het, het die koerant geëis dat sake nou "tot uitbarsing moet kom". Die politiek trae Wes-Kaapland het tot optrede oorgegaan, o.m. as gevolg van teologiese twiste en die algemene aard van Britse bestuur.
Ingevolge die imperiale bepalings van 1827 en 1853 was die verrigtinge in howe en die Parlement in Engels. Onder die bekwame James Rose Innes, wat van 1839 tot 1859 as superintendent van onderwys gedien het en ook as lid van die Watermeyer-kommissie van 1861, het opvoeding aansienlik ontwikkel en het Engels deur die Education Act van 1865 veral op sekondêre vlak groot vordering gemaak. Vir 'n professsioneel opgeleide Hollandssprekende in Kaapstad was dit dalk draaglik, maar vir baie mense op die platteland was dit onduldbaar.
Die gemiddelde "Hollands-" of Afrikaanssprekende plattelander het met die Britse koloniale stelsel saamgeleef, sonder om enige liefde daarvoor te koester. Engelse prosesreëls en juriediens het die vertroude Romeins-Hollandse reg gekompliseer, en die "amptelike" taal was vir hom grootlliks vreemd. Ná 1865 het die instelling van Afdelingsrade egter 'n seker eopening vir politieke talent op die platteland verskaf. Vir die meeste Afrikaners - wat driekwart van die Blanke bevolking uitgemaak het en vir wie 'n koloniale Parlement met Engelse reëls, tradisies, taalgebruik en personeel vreemd was - was dit ook moontlik om in die konteks van die plaaslike kerkgemeenskappe en "Boeren Vereenigingen" op te tree. Teen die laat sewentigerjare het frustrasie saamgeva met ontwikkelings in die Kerk, die "Vereenigingen" en die wyer konteks van Suid-Afrika om die kiem van 'n "nasionale" Kaapse politieke party op te lewer.
Soos in Europa het 'n stryd tussen liberale predikante en dié met streng evangeliese beginsels in die kolonie gewoed. Deels onder die invloed van die Skot Andrew Murray, wat sedert 1862 sewe keer moderator van die Nederduitse Gereformeerde Kerk was, is dié stryd ten gunste van laasgenoemde besleg. Die opwekkingsbeweging, wat vinnig van ds. Murray se gemeente in Worcester versprei het, is versterk toe ds. G.W.A. van der Lingen in 1858 die Paarlse gimnasium stig. Op sy beurt was dit die voedingsbron vir die pas tevore opgerigte kweekskool op Stellenbosch.
Kort daarna het Arnoldus Pannevis en C.P. Hoogenhout - albei gebore Nederlanders - begin om Afrikaans as skryftaal te propageer, veral met die oog op 'n Afrikaanse Bybelvertaling . Dié ywer vir Afrikaans as landstaal, saam met die Calvinistiese herlewingsbeweging, het kulturele besieling verskaf aan plaaslike jongelinge soos ds. S.J. du Toit, wie se lewenshouding gevolglik "modern-nasionalisties" eerder as "patriargaal" of "konserwatief" was. Die Genootskap van Regte Afrikaners, wat in Augustus 1875 deur Du Toit en andere in die Paarl gestig is, het aanvanklik op die bevordering van die Afrikaans van die sg. "Eerste Taalbeweging" gekonsentreer. Du Toit se propaganda ten gunste van 'n Afrikanerbond in Junie 1879, die steun wat Di Patriot onder redaksie van sy ouer broer D.F. du Toit daaraan gegee het en die spontane, wydverspreide simpatie met die Transvaalse Boere in hul oorlog van 1880-1881 het op die ontwikkeling van 'n politieke beweging onder Afrikaners oor die hele Kaapkolonie begin dui. Dat dit nie plaasgevind het nie, was deels te wyte aan die parallelle maar nie heeltemal komplementêre werksaamhede van J.H. ("Onze Jan") Hofmeyr.
As redakteur van De Zuid-Afrikaan het Hofmeyr die saak van Nederlands as parlementêre taal op bekwame wyse bevorder. Hy was egter verstandig genoeg om sy eie werk grotendeels aanvullend tot dié van die Du Toit-broers te maak, terwyl hy sy politieke basis vergroot het deur uitbuiting van die ontevredenheid wat in die Westelike Provinsie bestaan het oor Sprigg se duur projekte soos die "lugspoorlyne" (die Kowie-brug, wat in 1911 ingestort het!) en die ontwapeningsdebakels in die Transkei en Basotholand. Gou was Hofmeyr besig met die oprigting van boerebeskermingsverenigings teen die brandewynaksyns waarmee die Sprigg-ministerie sy ondernemings wou finansier.
Teen Junie 1880 het Hofmeyr se groep in die Kaapse Parlement hom met die toenemende Engelssprekende opposisie teen Sprigg verenig om die premier se voorstelle vir 'n konferensie oor konfederasie te neutraliseer. Dié veto het daartoe gelei dat Frere in Augustus 1880 herroep i s. Die steun wat Kruger en Joubert ontvang het, het met hul welslae in die vryheidsoorlog van 1880-1881 aan momentum gewen. 'n Tyd lank was Du Toit se Afrikanerbond gewilder as Hofmeyr se Boerebeskermingsverenigings, maar vredesluiting en die steun van die voormalige Molteno-groep, in dié stadium onder T.C. Scanlen en John X. Merriman, het Hofmeyr genoeg invloed gegee om Nederlands in 1882 as voertaal in die Parlement erken te kry. Dit het gelei tot Hofmeyr se deelname in die gesamentlike Engels-Hollandsprekende regering onder Scanlen wat die Sprigg-regering in Maar 1881 vervang het. Terselfdertyd het Hofmeyr die Du Toit-broers begin teëwerk deur die boerebewegings in Oos- en Wes-Kaapland met die Afrikanerbond te probeer amalgameer. Deur konferensies op Graaff-Reinet, Cradock en Richmond in 1882-1883 is hulle almal onder sy invloed of regstreekse beheer geplaas.
Teen 1881 het 'n meer onverbiddelike groepering in die Kaapse politiek duidelik geword. 'n Gemnatigde maar sterk leier, Hofmeyr, het die Afrikaners aangevoer. Onder Engelssprekendes daarenteen was daar 'n defensiewe beweging om die terugslae wat die imperiale faktor in 1880-1881 gely het, te probeer goedmaak. Die koloniale Engelse het egter ewe min as Hofmeyr 'n ekstreme posisie ingeneem. Intussen het die andneksasie van Griekwaland-Wes in 1880 'n bron van rykdom in die noorde verseker wat die verouderde "separatisme" tussen oos en wes help uitwis het. Die beliggaming van dié dinamiek was Cecil John Rhodes, wat in 1881 perlementslid vir Barkly-Wes geword het. Solank sowel Hofmeyr as manne soos Merriman en Rhodes betreklik gematig gebly het in hul houding, was dit onwaarskynlik dat die Kaapse politiek die ideologiese en organisatoriese bipolariteit van 'n starre partystelsel sou ontwikkel.
Die Kaapkolonie in 1881
Teen 1881 was die Kaap glad nie meer dieselfde plek as die kolonie wat Grey in 1854 oorgeneem het nie. Sy grensprobleme was nie beëindig nie, maar dié het nou met kwessies van interne regulering eerder as eksterne inlywing te make gehad - in werklikheid het die grens grotendeels gesluit. 'n Tyd lank het die onkoste van wanbestuur in Basotholand aanleiding gegee tot die spotroep "Sprigg, Sprigg, gee ons ons miljoene terug!", maar dié twyfel en selfondersoek was gou verby. Die "Naturelle-vraagstuk" het begin draai om die probleem hoe om vir Brittanje se nuwe Swart onderhoriges plek te maak sonder om Blanke belange in die Kaap se "meerrassige" stelsel te benadeel. Talle Swartes het hulle in nuwe mark- en politieke verhoudings bevind, en weldra het hul stemme in 'n halfdosyn kiesafdelings die uitslae beïnvloed.
Die Kleurlingmans van Wes-Kaapland het gevind dat daar 'n groter vraag na hul vaardighede as ambagslui en arbeiders was namate werkgeleenthede toeneem, veral op die nuwe spoorlyne en elders waar spooruit breiding aan die gang was. Aan die debietkant het die Nederduitse Gereformeerde Kerk in 1857 afbreuk gedoen aan die kolonie se meerrassige beginsel deur "omrede die swakheid van sommiges" afsonderlike dienste vir Kleurlinge en Swartes in te stel. Dit was 'n onheilspellende voorteken.
Vir die koloniale Engelssprekende het die omgewing ook verander. Plaaslike blaaie soos die Cape Monthly Magazine en die jongste koerante en tydskrifte van oorsee het die dagblaaie van die groter dorpe en die weekblaaie van die plattelandse gemeenskappies aangevul. Vanaf 1872 het sir Donald Currie se Castle Line en sy ouer vennoot, die Union Line, 'n weeklikse skeepsdiens na Europa gebied. Eenvoudige "skole" was besig om tot groter "kolleges" uit te groei, terwyl tersiêre onderwys van sir George Grey se Raad van Eksaminatore in 1858 tot die eksaminerende Universiteit van die Kaap die Goeie Hoop in 1873 ontwikkel het. Grey se manjifieke skenking van sy groot biblioteek oor godsdienstige, etnografiese en linguistiese onderwerpe aan die Suid-Afrikaanse Openbare Biblioteek in Kaapstad het die toenemende boekbesit en reputasie van dié instelling nog verder verryk. Wat die Hollandssprekendes betref, was daar nie net toenemende kulturele en politieke bewustheid nie, maar ook 'n fokus vir aspirasies op h ierdie gebiede in die "amalgamering" van die Afrikanerbond en die boereverenigings. Ten spyte van 'n aantal negatiewe kenmerke was die Kaap besig om mondig te word.
--- --- ---
Die Kaapse stemreg (1836-1956)
In 1836 is 'n meerrassige stemreg in Kaapse munisipaliteite ingevoer, wat 'n presedent vir toekomstige stemregwetgewing aan die Kaap geskep het.. Met die bekragtiging in 1853 van die ordonnansie wat die Kaapse parlementêre stemreg bepaal het, is 'n inkomstekwalifikasie van £50 en 'n bewoningskwalifikasie van £25 neergelê. In die woorde van die koloniale sekretaris, John Montagu, was dit gebaseer op "só 'n beskeie kwalifikasie dat die intelligente en arbeidsame gekleurde man daartoe in staat sal wees om met sy mede-koloniste van Blanke afkoms te deel in die voorreg om vir die verteenwoordigers van die volk te stem".
Ondanks dié aanvanklike doelwit het die Registration Act van 1887, wat die gemeenskaplike grondbesit van 'n stam nie as kwalifikasie erken het nie, die Swart "kombersstem" in verkiesings vir twee nuwe Transkeise setels uitgesluit. Bowendien is die eiendomskwalifikasie ingevolge die Franchise and Ballot Act van 1892 van £25 na £75 vehoog en 'n basiese toets vir geletterdheid voorgeskryf op 'n tydstip toe Swart en Kleurlingkiesers in byna 'n kwart van die Kaapse kiesafdelings die uitslag kon beïnvloed. Die individuele besit van grond op ewigdurende erfpag ingevolge Rhodes se Glen Grey-wet van 1894 is eweneens nie as kwalifikasie aanvaar nie.
In 1909 is die meerrassige Kaapse stemreg deur die Nasionale Konvensie as verskanste artikel in die Suid-Afrika-wetsontwerp ingesluit, maar in 1936 het genl. J.B.M. Hertzog se regering die Swartmense van die gemeenskaplike kieserslys verwyder. In 1956 is die verskanste stemreg van die Kleurlinge tydens die premierskap van J.G. Strijdom beëindig. Meer as 'n eeu lank was die meerrassige stemreg 'n sentrale element van die sg. Kaapse liberale tradisie.
--- --- ---
Natal, 1854-1881: Ruth Edgecombe
Hoewel Natal reeds in Mei 1843 as Britse grondgebied erken is, is die eerste luitenant-goewerneur, Martin West, eers op 12 Desember 1845 in Pietermaritzburg beëdig. Hy moes die gebied, wat uit 'n ekonomiese oogpunt nie met groot geesdrif deur die Britse regering beskou is, as 'n distrik van die Kaapkolonie bestuur.
Dit was bekend dat daar in die noordweste van Natal steenkool was en dat katoen moontlik verbou kon word, m aar die beweegredes vir die anneksasie was filantropies en strategies eerder as ekonomies. Die Voortrekkers se plan om duisende Swartmense suid van die Mzimkhulu te hervestig, het gedreig om die reeds onbestendige Kaapse oosgrens nog verder te ontwrig. Bowendien wou Brittanje verhoed dat die Voortrekkers onafhanklike toegang tot die see verkry.
Die grondbeleid van die Brise owerheid
Die West-bestuur is met twee ernstige probleme gekonfronteer, nl. die chaotiese toestand wat uit die grondbeleid van die Voortrekkers ontstaan het, en die vestiging van 'n groot Swart bevolking wat daagliks aangevul is met vlugtelinge van oorkant die Thukela-Mzinyathi-grens. Dwarsdeur die veertigerjare het groot getalle Voortrekkers uit Natal na die binneland teruggekeer. Ontnugtering met Britse bestuur is deur die nuwe grondbeleid vererger. Die Britse regering het besluit om grondbriewe te erken indien die grond reeds twaalf maande voor die aankoms in Natal van sir Henry Cloete, die Britse kommissaris, bewoon was.
Min van die Voortrekkers kon dié vereiste nakom, want dit was moeilik om bewoning op die grond waarop hulle aanspraak gemaak het, af te dwing, en min daarvan was bewerk. Die uittog van Voortrekkers het dus onverhinderd voortgeduur. In die driehoek tussen die Thukela, die Mzinyathi en die Drakensberge het die Trekkers 'n uitweg gesoek deur in Januarie 1847 die Kliprivierrepubliek onder opperheerskappy van die Zulukoning Mpande uit te roep. Ander het Andries Pretorius afgevaardig om hul griewe in Oktober 1847 op Grahamstad aan die Kaapse goewerneur en Britse hoë kommissaris , sir Henry Pottinger, voor te lê, maar Pottinger het geweier om Pretorius te woord te staan. Sy opvolger, sir Harry Smith, het in 1848 persoonlik na Natal gegaan en verklaar dat elke man 'n plaas van 2 500 ha kon kry om te bewoon. Nogtans het die getal Voortrekkergesinne in Natal tydens West se bewind gedaal van vierhonderd tot sestig. Baie van die Voortrekkers se grond het reeds teen 1843 in die hande van spekulante oorgegaan. Teen 1847 kon dertien handelsake, waarvan die meeste in die Kaap gevestig was, aanspraak maak op 62 plase met 'n totaal van 93 000 ha waarvoor hulle minder as 1d ('n pennie) per hektaar betaal het. In sy grondbeleid het die West-bestuur sleg begin, veral as in gedagte gehou word dat die totale grondgebied van Natal ná die uitbreiding van die suidgrens tot aan die Mtamvuma-rivier in 1866 minder as 5 000 000 ha beslaan het, waarvan sowat 50 persent te bergagtig vir boerdery was.
Die Swart beleid van die Britse bestuur
In 1845 was daar sowat 100 000 Swartmense in Natal, tenoor on geveer 2 500 Blankes. In 1846 het West 'n kommissie benoem om groot dele van Natal opsy te sit sodat Swartmense daar afsonderlik van Blankes gevestig en bestuur kon word. Die kommissie het voorgestel dat die lokasies onder magistrate geplaas word, en dat skole gestig moes word om die Europese beskawing aan die Swart inwoners te bring. Die Britse regering het egter daarop aangedring dat die bestuur goedkoop moet wees, en uiteindelik was die lokasies bloot plekke waar die Swartes hul eie lewe kon lei.
Aanvanklik is sewe lokasies afgebaken, waarvan dele as sendingreservae afgebaken is. Later is nog lokasies en sendingreservate bygevoeg, en teen 1864 was daar 42 lokasies met 'n totale oppervlakte van sowat 800 000 ha en 21 sendingreservate met ongeveer 70 700 ha.
Die historikus De Kiewiet het geskryf: "Die geskiedenis van Natal, meer as dié van enige ander kolonie, is die geskiedenis van naturellebeleid", en die kern van dié beleid was grondbeleid. Dié twee faktore het die politiek, samelewing en ekonomie van die 19de-eeuse Natal gevorm.
Theophilus Shepstone, die seun van 'n Metodiste-sendeling, wat aansienlike ondervinding van Swart sake aan die Kaapste oosgrens opgedoen het en vlot Xhosa en Zulu kon praat, is in 1845 as politieke agent by die Swart stamme aangestel.
Shepstone was nie ongevoelig vir die Blanke koloniste se aandrang op goedkoop Swart arbeid nie. In 1852 het hy bv. die belastings van Swartmense wat by koloniale boere in diens was, kwytgeskeld, en ingevolge die Refugee Law van 1854 was elke Swart immigrant in Natal onderhewig aan drie jaar vaste diens by 'n boer teen 'n vasgestelde loon.
Die ontwikkeling van 'n funksionele apparaat vir die bestuur van Swartmense was vir hom egter van groter belang. Weens 'n tekort aan geld en mannekrag was Shepstone van stamstrukture afhanklik vir bestuur in die lokasies. Waar 'n hoofmanskap oorerflik was, is dié hoofman erken, in ander gevalle is hulle geskep. Die kern van Shepstone se beleid was 'n magtige opperhoof, wat vir die stamme vreemd was voor Shepstone dit as 'n nuttige middel by beheer geskep het. Kragtens wet is die magte van die opperhoof aan die luitenant-goewerneur verleen, maar in die praktyk het Shepstone dit aself uitgeoefen in sy hoedanigheid as sekretaris van naturellesake, soos hy vanaf 1853 geheet het.
Shepstone was ook die administreerder van 'n afsonderlike regterlike stelsel wat nodig was omdat die ordonnansie van 1849 die Romeins-Hollandse reg afgeskaf en gewoontereg erken het het sover dit die Swart bevolking van Natal betref. Teoreties het gewoontereg bestaan uit 'n bekende stel Nguni-regsreëls en -gebruike. Voor 1863 was dié reg egter nie gekodifiseer nie en was daar geen oorkoepelende kennis van die aard daarvoor vóór Britse bestuur nie. In werklikheid het die regters die gemenereg geskep. In 1863 het 'n Swartman dit beskryf as "iets waarin die brein die enigste boek was waarna daar gekyk word". 'n Regstelsel wat een stel wette vir Swartmense en ' n ander vir Blankes behels het, het ernstige probleme ten opsigte van regsbevoegdheid veroorsaak. Dié probleme is oorkom deur dit vir 'n Swartman in Natal feitlik onmoontlik te maak om volle Britse burgerskap te verkry.
Die Swart inwoners van Natal het 'n belangrike bydrae tot die inkomste van die kolonie gelewer. Reeds sedert 1849 is 'n belasting van sewe sjielings op elke hut gehef. Dit het 'n aansienlike inkomste opgelewer: Teen 1871 was die Swart bevolking byna 300 000 teenoor 'n Blanke bevolking van sowat 17 000-18 000. In 1869 is 'n belasting van £5 op Swart huwelike gehef. Voor die Langalibalele-"opstand" was die inkomste uit Swartmense voldoende om die bestuur van die hele kolonie te dek, en slegs 'n klein gedeelte hiervan is aan Swart ontwikkeling bestee. In 1876 is die huweliksbelasting afgeskaf, maar die hutbelasting tot veertien sjielings verhoog, deels om die koloniale inkomste aan te vul en deels om meer Swartmense in die arbeidsmark in te dwing. Nie net direkte belasting was egter belangrik nie. In 'n kolonie soos Natal is ' n aansienlike deel van die inkomste verkry uit invoerbelasting, en hier het die polities magtelose deel van die bevolking onvermydelik die swaarse belas is.
--- --- ---
Die Langalibalele-"opstand"
Theophilus Shepstone het die Hlubi onder Langalibalele teen die hange van die Drakensberge gevestig as buffer teen rooftogte deur die San, wat nog in dié bergvestig verskans was. Die Hlubi het besonder goed by die Blanke ekonomie van Natal aangepas, en welvarend en talryk geword. Ná die ontdekking van diamante in Griekwaland-Wes in 1869 het baie van Langalibalele se mense daar gaan werk en teruggekeer met gewere wat hulle in plaas van lone verdien het. Herhaalde opdragte van die magistraat om die gewere te registreer, soos vereis is deur 'n Natalse wet wat grootliks i n onbruik geraak het, en 'n opdrag dat Langalibalele hom persoonlik in Pietermaritzburg moes aanmeld, is verontagsaam en dit is beskou as 'n daad van rebellie teenoor die opperhoof. As belangrike hoofman moes hy dus vinnig en deeglik gestraf word. Intussen het Langalibalele met sy beeste in Basotholand gaan skuil, moontlik met die doel om werklik in opstand te kom, maar die Sotho-hoofman Molapo, by wie hy 'n heenkome gesoek het, het hom aan die koloniale owerheid uitgelewer. In 'n skermutseling met die Natal Carbineers in die Boesmansrivierpas is drie karabiniers gedood en daarna het Natalse troepe die Hlubi-lokasie binnegeval en 150 Hlubi gedood. Langalibalele is afgesit, sy stam opgebreek en hul grond en beeste gekonfiskeer. Dieselfde lot het hul bure, die Ngwe, getref.
Langalibalele is in Januarie 1874 in Pietermaritzburg deur 'n spesiale hof verhoor en tot lewenslange verbanning gevonnis. Onder die regters was Benjamin Pine, in sy hoedanigheid as luitenant-goewerneur, wat ingevolge Ordonnansie 3 van 1849 as opperhoof opgetree het, en Shepstone, as sekretaris van naturellesake. Nóg die hofverrigtinge nóg die vonnis kon kragtens Britse reg of gewoontereg goedgepraat word, en biskop John William Colenso het dié onregverdigheid aan die lig gebring. As gevolg hiervan is sekere verbeteringe deur die Native Administration Bill teweeggebring, bv. die instelling van die Natalse Naturelle-hooggeregshof, waardeur Shepstone se regterlike funksies opgehef is.
--- --- ---
Johan William Colenso
Colenso is in 1814 in Cornwallis, Engeland gebore. Hy het aan die St. John's College, Cambridge, wiskunde studeer, en in 1836 is hy tot eerste biskop van Natal gewy. Colenso was ' n veelsydige man wat op die gebied van sendingwerk, opvoeding, Bybelkritiek, geskiedenis en die Zulutaal gepresteer het. Hy het belang gestel in die groot intellektuele ontwikkelinge wat die Victoriaanse samelewing tot in sy fondamente geskud het, en h et Charles Darwin se Origin of Species (1959), waardeur die verwantskap van die mens met alle lewe getoon is, gelees.
Die opstand en verhoor van die Hlubi-hoofman Langalibalele het Colenso in 1873-1874 in 'n gewetenskrisis gedompel. As vurige imperialis was hy van mening dat die uitbreiding van Britse bestuur deur die voorsienigheid verorden is, maar dat die bewerkstelliging van regverdigheid en vrede ' n onderdeel daarvan was. As sendeling het Colenso taktvol en met verdrag te werk gegaan. Sy groot vriend, Theophilus Shepstone was ook 'n gradualis in sy werk as sekretaris van naturellesake, maar bloot omdat hy nie oor genoeg middele en mannekrag beskik het nie. Die Langalibalele-voorval het verskille tussen hulle aan die lig gebring en hul vriendskap vernietig, wat Colenxo het begin glo dat Shepstone se optrede op geradigheid gegrond was eerder as om regverdigheid en waarheid na te strewe.
In 1879 het Colenso vir Cetshwayo in die bresse getree. Hy het geglo dat Shepstone en sir Bartle Frere, die Britse hoë kommissaris, die Zuluvolk as nasie wou vernietig, om konfederasie te bevorder, en het die verspreide briefwisseling oor Zulu-aangeleenthede in die Britse blouboeke begin verwerk en met inligting uit die koerante en in Zululand self vergelyk. Sy samevatting is in 1879-1883 gepubliseer. Tydens die oorlog het hy hom vir vrede beywer, en ná die gevangenisneming en verbanning van Cetshwayo het hy sy terugkeer probeer bewerkstellig.
Hy is op 20 Junie 1883 in Pietermaritzburg oorlede, maar die sake is verder gevoer deur sy famillie, veral sy dogter Harriette. Hoewel Colenso op politieke gebied nie veel vermag het nie, word hy vandag deur die Zulu met agting en geneentheid onthou.
--- --- ---
Grondbeleid ná 1849
West se ongelukkige grondbeleid is deur sy opvolgers voortgesit. Die spekulante wat Voortrekker-grond in die hande gekry het, was nie van plan om dit self te bewerk nie. Hulle Natal eerder tot 'n aantreklike gebied vir immigrante uitbou. Tussen 1849 en 1852 het sowat 5 000 nedersetters onder verskillende immigrasieskemas, besonderlik dié van J.C. Byrne, na Natal gekom. In 1852 was daar 7 500 nedersetters, die meeste van Engelse of Skotse herkoms. Weens ontoereikende grondtoewysings, gebrek aan ondervinding en tekort aan kapitaal en arbeid het dié immigrante egter min welslae in die landbou behaal. Baie van hulle het uiteindelik in Durban of Pietermaritzburg beland en hulle tot die handel, transportryery, jag en houtkappery gewend, en die grond wat hulle verlaat het, het weer in die hande van spekulante beland.
In 1857 het lt.-goew. John Scott immigrasie probeer aanmoedig deur hulp met die reisgeld te verleen, maar dit het minder as 300 verdere immigrante gelok, terwyl daar vir hulle 550 000 ha grond onteien moes word. In 1864 het die immigrasieraad gekla dat immigrasie duer gebrek aan grond bemoeilik word.
Die uitbreek van die oorlog tussen die Basotho en die Vrystaat in 1865 het 'n handelskrisis en depressie in Natal veroorsaak. Die ekonomie van die kolonie het swaar gesteun op die "overberg"-handel met die Hollandse boere, en die onderbreking daarvan het ernstige gevolge gehad. Die depressie het grondwaardes laat daal en die mark is oorlaai met goedkoop grond, wat in die hande van 'n paar spekulante gekonsentreer geraak het. De Kiewie het bereeken dat slegs sowat 1 600 000 van Natal se 4 800 000 ha grond in daardie jaar nog in die hande van die regering was en tog was die Blanke bevolking jammerlik klein - slegs sowat 18 000. Tekenend van Natal se kwistigheid was die pogings in 1874 om wetsontwerpe aanvaar te kry om 1 000 000 ha van die kolonie se oorblywende braakgrond aan spooraanlegmaatskappye af te staan. Uiteindelik moes Natal lenings aangaan en die belasting op Swartmense verhoog om spooraanleg te finansier.
'n Ondeurdagte grondbeleid het die ekonomiese ontwikkeling van Natal ernstig belemmer. Groot grondeiendomme het nie ' n regverdige verhouding van die belansting opgebring nie, Krooneiendom was onvoldoende om grootskeepse immigrasie aan te moedig en 'n klein, verspreide Blanke bevolking tussen 'n groot Swart bevolking het tot 'n gevoel van onsekerheid en swakheid gelei wat in sekere mate die streng en beperkende Swart beleid en verwoede reaksie op die dreigement, werklik of vermeend, van Swart opstand verklaar. Na raming is 2 000 000 ha van die grond in die hande van maatskappye of individue beset deur Swart plakkers vir wie daar in die lokasies geen plek was nie. Swart boere het goed op die uitdaging van die Blanke se ekonomie gereageer en teen die middel en einde van die 19de eeu was hulle die grootste produsente van mielies en sorghum in die kolonie en kon hulle 'n aantreklike huurgeld aan die grondverhuurder uitbetaal. Onder die prominentste van dié verhuurders was die Natal Land and Colonisation Company.
Die lokasies, wat uit die swakste grond in die kolonie bestaan het, was ernstig oorbevolk. Die situasie was beter op die sendingreservate, wat 'n gunstige klimaat vir Swart ekonomiese ekskperimentering verskaf het. Die Lutherse, Metodiste- en Anglikaanse sending het uitgebreide plase aangekoop in 'n stadium toe grond goedkoop was. Tot omstreeks 1879 het hulle dus genoeg grond gehad vir die behoeftes van hul bekeerlinge, hoewel die Swart Christenbevolking teen 1880 nog maar tussen 8 000 en 10 000 was. In die sestigerjare het die sendelinge Swartmense ook aktief aangemoedig om grond op die ope mark aan te koop, maar nie baie hulle het hierin geslaag nie. 'n Groot deel van die Swart bevolking kon nie in die lokasies of die sendingreservate gehuisves word nie en moes dus op grond woon waarop hulle geen regmatige aanspraak gehad het nie, wat 'n potensieel gevaarlike situasie geskep het wanneer die grond vir ontwikkeling verkoop en die Swart bevolking uitgesit moes word.
Konstitusionele ontwikkeling
In 1856 het die Charter of Natal dié kolonie van die administratiewe gesag van die Kaapse goewerneur losgemaak en 'n beperkte vorm van verteenwoordigende bestuur ingestel in die vorm van 'n Wetgewende Raad van sestien lede waarvan twaalf verkose was. Die ander vier was amptenare: die koloniale sekretaris, die koloniale tesourier, die prokureur-generaal en die sekretaris van naturellesake. Alle mans bo 21 wat onroerende eiendom ter waarde van £50 besit of sodanige eiendom teen £10 per jaar gehuur het, het vir stemreg in aanmerking gekom.
In 1883 het die Franchise Amendment Law ook aan "loseerders" stemreg gegee. Teoreties was daar geen kleurslagboom in die grondwet nie, maar Wet 11 van 1865 het alle Swartes wat nie van die gewoontereg vrygestel was nie, geen stemreg gegee nie. Vrygestelde Swartes kon om stemreg aansoek doen as hulle twaalf jaar in Natal woonagtig was en sewe jaar lank 'n vrystellingsbrief besit het, maar selfs dan is nie noodwendig aan die versoek gehoor gegee nie. Vrystellingsbriewe is ook nie geredelik toegestaan nie, en teen 1905 het slegs drie Swart Natallers stemreg besit.
'n Sentrale probleem in die Natalse grondwet vanaf 1856 tot 1893 was die konflik tussen die uitvoerende en die wetgewende mag. 'n Siviele lys, wat £5 000 vir "naturelledoeleindes" ingesluit het, was nie onder beheer van die Wetgewende Raad nie. Die verteenwoordigers van die koloniste het dié naturelle-reserwefonds as beginselkwessie aangeval. Hulle was ook ontevrede oor die lokasiebeleid, wat na hul mening broodnodige arbeid van hulle weerhou het. 'n Bittere twispunt in die eerste Natalse verkiesing van Februarie 1857 was Shepstone se beleid, en volgens die historikus Stanley Trapido het lt.-goew. Scott tot die Exemptions Law en die Native Franchise Law toegestem om die naturelle-reserwefonds en Shepstone se lokasies te red.
Die enigste manier om die konflik tussen die uitvoerende en wetgewende mag op te los, was deur die toekenning van verantwoordelike bestuur, maar dit het die verpligting van verdediging van die kolonie uit eie middele meegebring, wat in die omstandighede van Natal nouliks uitvoerbaar was. Dit sou ook die volle koloniale beheer oor Swart administrasie meebring, waartoe die imperiale regering nie graag wou instem nie. In 1870 is 'n eis vir verantwoordelike bestuur tentatief ingedien en weer teruggetrek. In 1874 het die Natalse koloniste weer eens verteenwoordigende bestuur aangevra, maar as nasleep van die Langalibalele-"opstand" en -verhoor is hul konstitusionele vryheid ingekort.
Sir Garnet Wolseley, wat vir ses maande as administrateur na Natal gestuur is, het die Wetgewende Raad in 1875 met genoeg benoemde lede gelaai om die verkose meerderheid te oorstem. Die Natalse koloniste, met onvoltooide spoorlyne en 'n patologiese vrees vir die Zulu oorkant die Thukela-Mzinyathi-grens, het Britse krediet en regimente nodig gehad. Wolseley se veranderings is dus nie teengestaan nie en die voorstanders van verantwoordelike bestuur is in die verkiesing van 1880 en 1882 verslaan. Eers in 1893 is verantwoordelike bestuur aan Natal gegee.
Ekonomiese ontwikkeling
Die omvang van die ekonomiese ontwikkeling in Natal tussen 1850 en 1883 kan uit die volgende syfers afgelei word. Die algemene inkomste van die kolonie het van 1850 tot 1883 gestyg van £29 33 tot £962 915. Die waarde van invoer per see het in dié tyd toegeneem van £111 015 na £1 751 705 en dié van uitvoer per see van £17 109 na £831 747. Dié syfers toon 'n mate van ontwikkeling, maar kan nouliks as skouspelagtig beskryf word.
Ekonomiese ontwikkeling is veral belemmer deur 'n onvoldoende kommunikasienet. In die 19de eeu is "die gevare van die ankerplek en die gesukkel om die hawe binne te vaar", wat sir George Napier in 1842 aangeteken het, nie te bowe gekom nie. Die baai waaraan Durban geleë was, moes deur 'n geul uit die Indiese Oseaan benader word. Weens 'n sandbank by die ingang van dié geul moes skepe bo 'n sekere tonnemaat buite die baai anker gooi. In 1849 het John Milne die sandbank begin bagger, maar dié werk is eers in 1904 voltooi.
Vir binnelandse vervoer is daar staatgemaak op die tydsame ossewa met sy beperkte dravermoë van twee ton. In die nat somers was daar wel volop weiding vir die osse, maar dan was die paaie moerasse, en die sterk vloeiende riviere moes sonder brûe oorgesteek word. In die droë winters was voer vir die osse weer 'n probleem. Beessiekte-epidemies soos longsiekte en rooiwater het die vervoerstelsel ook ernstig ontwrig, en aangesien die deurvoerhandel en doeaneregte so belangrik vir Natal se inkomste was, is vasberade pogings aangewend om die osse met spoorweg te vervang.
Hoewel die eerste spoorlyn in Suid-Afrika in 1860 tussen die Punt en Durban gwebou is, is 'n spoorverbinding tussen Durban en Pietermaritzburg - 'n afstand van 80 km - eers in 1880 ingestel. Die ontdekking van diamante in 1869 en goud aan die Witwatersrand in 1886 het spoorwegaanleg na die binneland egter aangemoedig. Op dié gebied het Natal sy finansiële middele tot die uiterste ingespan om nie deur die sterker Kaapkolonie getroef te word nie, en die spoorverbinding met Johannesburg is uiteindelik in 1895 voltooi. Teen 1889 het 'n spoorlyn ook die steenkoolvelde van Noord-Natal berek en die ontwikkeling van 'n steenkoolbedryf in Natal moontlik gemaak.
--- --- ---
Die koms van die Indiërs na Natal
In die laat veertiger- en vroeë vyftigerjare het dit duidellik geword dat suiker lonend aan die Natalse kus verbou kan word. Hiervoor was arbeid egter nodig, waaraan daar 'n tekort was. 'n Oplossing is gevind deur die invoer van ingeboekte Indiër-arbeiders. Die eerste Indiër-immigrante het in 1860 in Durban aangekom, en teen 1866 was daar reeds 6 445, twee derders van hulle mans. Hulle het gekontrakteer om vyf jaar lank teen 'n ooreengekome, lae minimumloon te werk, waarna hulle kon kies om vir 'n verdere vyf jaar te werk, hul vryheid te verkry, of na Indië terug te keer. Hulle sou egter eers ná tien jaar 'n vrye passaat terug na Indië kry.
Die ingeboekte Indiërs was hoofsaaklik van Madras afkomstig. Tagtig persent van hulle was Hindoes, meeste uit die lae kastes, twaalf persent Moslems en vyf persent Christene. Die depressie van 1866 het Indiër-immigrasie 'n tyd lank onderbreek, maar hul arbeid was in 'n groot mate verantwoordelik vir die vinnige groei van die suikerbedryf tussen 1854 en 1866. Die waarde van die suikeruitvoer het bv. van £26 000 in 1862 tot £100 000 in 1864 gestyg.
Ná die depressie was Indiër-arbeid weer in aanvraag, maar toe gerepatrieerde Indiërs in 1871 in Indië begin aankom en berig oor hul behandeling deur koloniale plantasie-eienaars, het die Indiese regering verdere werwing verbied tot stappe in 1872 gedoen is om bv. afranseling en oormatige aftrekkings vir afwesigheid reg te stel en 'n "beskermer van Indiër-immigrante" aangestel is. Hierna is die immigrasie van meer vroue toegelaat en meer huwelike geregistreer. Meer grond is ook toegeken aan immigrante wat hul dienstyd uitgedien het, en die neerhalende benaming "koelie" is uitgeskakel. Teen 1880 was daar 12 823 Indiërs in Natal. Indiërs was onderhewig aan die wette van die kolonie en is as gewone staatsburgers beskou, sodat sommige selfs vir stemreg in aanmerking gekom het. In die laat sewentigerjare het 'n nuwe klas "passasier"-Indiër na Natal gekom, nl. Goedjarati-sprekende Moslems wat in die handel met Blankes meegeding het, en teen 1886 was die Indiër-bevolking van Natal 29 828.
--- --- ---
Natal en Zululand
Shepstone, 'n vurige imperialis, het altyd besef dat die lokasies uiteindelik ontoereikend sou wees vir Natal se Swart bevolking en daarom het hy bykomende grond gesoek as uitlaatklep vir die Swart bevolking, en om Britse invloed te vergroot. In die vyftigerjare het hy sonder welslae probeer om suid van die Mzimkhulu 'n "Swart koninkryk" tot stand te bring w at deur homself namens Brittanje beheer sou word. In die sestigerjare het hy die Sotho-gebied in die oog gehad, en hy het Zululand altyd as Natal se eie sfeer beskou.
In die vroeë vyftigerjare was daar intense wedywering oor opvolging tussen die seuns van die Zulukoning Mpande. In Desember 1856 het Cetshwayo sy vernaamste mededinger, Mbuyazi, verslaan. Cetshwayo was egter nog nie volwasse nie, want sy vader het hom n og nie toestemming gegee om die hoofring te dra en te trou nie.
In die laat veertiger- en vyftigerjare het Mpande sekere boere toegelaat om hul vee langs die boloop van die Mzinyathi te laat wei. Teen die laat vyftigerjare het hulle hul stewig daar ingegrawe en selfs begin aanspraak maak op Zulugrond oos van die Ncome. Met die steun van die Boere het Cetshwayo besluit om teen sy mededingers op te tree, veral sy broer Mthonga, wat daarna deur Natal na Transvaal ontsnap het. In Maart 1861 het die Boere Mthonga in ruil vir grondooreenkoms aan Cetshwayo uitgelewer en hom implisiet as erfgenaam erken.
In Mei 1861 het Shepstone die Zuluhof die eerste keer besoek om Cetshwayo as erfgenaam te erken. Shepstone het die yl bewoonde grensstreek van die Zuluryk in die oog gehad as woonplek vir Natal se toenemende Swart bevolking en as buffer teen die Boere se pogings om die see te bereik. Dié sending het egter nie veel opgelewer nie, behalwe dat Mpande gedwing is om Cetshwayo as sy erfgenaam te erken, hoewel hy Transvaal en Natal steeds teen Cetshwayo uitgespeel het, en die steun van sendelinge gesoek het om sy eie posisie te verstewig. Op sy beurt het Cetshwayo hom verbind met Blanke handelaars uit Natal, veral John Dunn, wat 'n sleutelfiguur in sy betrekkinge m et die Natalse regering en die nedersetters geword het. Deur John Dunn het Cetshwayo vuurwapens verkry, sodat 'n hele paar honderd van sy volgelinge teen die vroeë sewentigerjare reeds b wewapebn was. In 1867 het Mpande hom uiteindelik toestemming gegee om te trou, en die volgende jaar is sy seun Dinuzulu gebore.
Met die 1861-ooreenkoms as grondslag vir verdere grondaansprake het die Boere in 1864 'n grens begin afbaken. Cetshwayo het Natal se hulp gevra, soos ook by talle latere geleenthede. Teen die laat sestigerjare was hy gewillig om 'n bufferstrook af te staan, maar die Britse regering het Shepstone belet om dié aanbod te aanvaar.
Mpande is in Oktober 1872 oorlede, en Cetshwayo se posisie is in dié stadium bedreig deur vyf broers in Natal en Transvaal. Twee van hulle, Mkhungo en Mthonga, wat in 1865 weer na Transvaal ontsnap het, het aktief teen hom saamgespan. Cetshwayo het 'n afvaardiging van hoë gesagsbekleërs na Pietermaritzburg gestuur om h ulp te soek. Shepstone het gretig gereageer op dié kans om Britse invloed in die Zuluryk te vergroot, wat dit moontlik sou maak om Britse oorheersing oor al die onafhanklike Swart state in Suidoos-Afrika te vestig. In Augsutus-September 1873 het Shepstone Cetshwayo tot koning van die Zulu "gekroon".
Die Anglo-Zulu-oorlog
Teen die middel van die sewentigerjare het die grondgeskil met Transvaal akuut geword, en Cetshwayo het steeds Natal se hulp gevra. Shepstone het met die Zulu gesimpatiseer, omdat die inbreuk van die Boere 'n dreigement vir die uitbreiding van Britse invloed anderkant die noordgrens van Natal uitgemaak het. Sy anneksasie van Transvaal in April 1877 het Shepstone se perspektief egter abrup verander. In die woorde van 'n koloniale amptenaar het hy "op die mees skaamtelose wyse omgeswaai", en die Zulu as aggressors bestempel. 'n Konferensie tussen Shepstone en 'n Zulu-afvaardiging in Oktober 1877 kon die saak nie skik nie, en oorlog met die Zulu het onvermydelik gelyk.
In 1877 het sir Bartle Frere as Britse hoë kommissaris in Suid-Afrika aangekom met die spesifieke doel om Carnarvon se konfederasieskema uit te voer. Hiervoor was die onderwerping van die Zulu 'n voorvereiste en daarom het Frere met Shepstone se bystand begin om Cetshwayo as bloeddorstige tiran en die Zulunasie as 'n bedreiging vir vrede in die gebied uit te maak. Die dood van drie Christen-bekeerlinge vroeg in 1877 het as wat op die propagandameul gedien. Bulwer, die luitenant-goewerneur van Natal, wou egter oorlog vermy en in Desember 1877 het hy aan Cetshwayo aangebied om in die grondgeskil te bemiddel. 'n Grenskommissie is in Maart 1878 benoem en het in Junie aan Bulwer gerapporteer. Frere het die verslag in Julie ontvang. Die vernaamste aansprake van die Boere is verwerp, maar dit het Frere nie ontmoedig nie - hy het die verslag eenvoudig agterweë gehou.
Lt.-genl. Thesiger, die latere lord Chelmsford, is in Julie 1878 na Natal gestuur om die inval in Zululand te beplan. Dit is gevolg deur 'n groot toename in die aantal groepe in die kolonie. Op 11 Desember 1878 het 'n ontmoeting tussen Britse en Zulu-afgevaardigdes aan die oewers van die Laer-Thukela plaasgevind en die bevinding van die grenskomissie is bekend gemaak. Die Zulu sou die eiendomsreg hê, maar die Boere sou in fisieke besit van die betwiste gebied gelaat word. Cetshwayo is met 'n ultimatum gekonfronteer wat binne dertig dae beantwoord moes word. Almal wat hulle onlangs aan grensoortredings skuldig gemaak het, moes aan die Natalse owerheid uitgelewer word en boetes in die vorm van beeste betaal word. Ope en regverdige verhore moes plaasvind, die jaarregimente moes afgeskaf word en Cetshwayo se onderdane moes toegelaat word om sonder sy toestemming te trou. Laasgenoemde het die basis van die koning se mag uitgemaak en Cetshwayo kon nie daaraan gehoor gee nie.
Op 11 Januarie 1879 is Zululand binnegeval. Cetshwayo wou in wese 'n defensiewe strategie volg, maar die vernederende nederlaag van Britse troepe by Isandlwana op 22 Januarie, en die slag by Rorke's Drift op Natalse grondgebied die dag daarna, het sy planne verydel. Vir die Britte kon daar nou niks minder as 'n totale oorwinning wees nie. Laat in Mei 1879 het die tweede en laaste inval in Zululand plaasgevind. Cetshwayo is gevange geneem en in ballingskap weggevoer, waarna die Zulu die vredesvoorwaardes wat die Britte gestel het, aanvaar het. Vir eers sou daar geen anneksering wees nie. Die Zulu sou hul onafhanklikheid behou, maar daar sou 'n einde aan die Zulu-monargie gemaak word en 'n balans van antagonistiese magte tot stand gebring word sodat geen onderdeel oorheersend sou kon word nie. Nie net was daar geen sprake van vrede in Zululand nie, maar die land sou eerlank deur burgeroorlog verskeur word. Cetshwayo is in 1883 as koning herstel, maar op sulke ongunstige voorwaardes dat dit die twis vererger het. Hy is die volgende jaar oorlede. Die Britse regering het Zululand in 1887 finaal geannekseer en die gebied tien jaar later by Natal ingelyf. Deur die Zululand Lands Delimitation Committee is Zululand in 1903-1904 in gebiede vir Swart en Blanke bewoning opgekerf.
--- --- ---
Die slag van Isandlwana
Die eerste groot veldslag van die Anglo-Zulu-oorlog was by die berg Isandlwana, waar 'n tydelike kamp van die middelste van drie Britse kolomme wat Zululand binnegeval het, opgeslaan is. Net voor dagbreek op 22 Januarie 1879 het kol. Blyn, aanvoerder van dié kolon, en lord Chelmsford, bevelvoerder van die Britse leër in Zululand, die kamp met 'n sterk mag verlaat. Hulle het nie geweet dat die hoofleër van die Zulu. ongeveer 20 000 sterk, die vorige dag in 'n vallei 5 km van die kamp stelling ingeneem het nie.
Isandlwana is agtergelaat onder bevel van kol. H. Pulleine, met sowat 1 174 troepe. Om 08h00 is berig dat groot getalle Zulu uit die noordweste nader. Kort ná 10h30 is kapt. Shepstone met berede troepe gestuur om Zulu van hooglilggende terrein bo die kamp te verjaag, maar net toevallig afgekom op die hoofleër van die Zulu, wat agter die Nquthu-rant versteek was. Die Zulu is hierdeur tot 'n aanval gedwing en het in die tradisionele sekelformasie ontplooi om die kamp te omsingel. Die aanval van die Zulu se hoofmag is tydelik gestuit, maar om 13h00 is die aanval hervat. Georganiseerde Britse weerstand het sowat 'n uur later geëindig.
'n Zulukryger het die toneel later só beskryf: "Sommige het hul gesigte met hul hande bedek omdat hulle die dood nie wou sien nie. Sommige het weggehardloop. Sommige het in die tente ingegaan. Sommige was verontwaardig, maar hoewel hulle swaar verwond is, is hulle dood waar hulle gestaan het, op hul pos."
Sommige Britte het gevlug en die Buffelsrivier, wat in vloed was, probeer oorsteek by Fugitive's Drift. Hulle is deur die Zulu-reserwemag agternagesit, maar ongeveer veertig man het weggekom. Onder dié wat gesneuwel het, was luitenante N. Coghill en T. Melville, wat die vaandel van die 24ste regiment probeer red het - waarvoor die Victoria Cross postuum aan hulle toegeken is. Britse verliese was 52 offisiere en 806 Blanke en 471 Swart manskappe. Zulu-verliese was meer as 1000. Vir Cetshwayo was die slag net 'n skynsukses, want dit het Britse en koloniale wraaksug aangewakker.
--- --- ---
Die slag by Rorke's Drift
Toe die middelste kolom van die Britse leër Zululand binneval, i s troepe onder luit. Chard van die Royal Engineers agtergelaat om by Rorke's Drift 'n pos wat bestaan het uit 'n Sweedse sendingkerk en 'n huis wat in 'n pakhuis en hospitaal omskep is, te bewaak. Om 15h15 op 22 Januarie het die berig van die ramp by Isandlwana Rorkie's Drift bereik, en ook 'n berig dat 'n groot Zulumag vinnig daarheen op pad was. Luit. Chard, wat siekes onder sy sorg gehad het, het besluit dat die garnisoen hulle moet verdedig, en 'n verdedigende grensomheining van mieliesakke, beskuitblikke en waens om die sendinggeboue opgerig.
Kort ná 16h00 het 'n Zulumag van sowat 3 000 tot 4 000 krygers hul verskyning gemaak. Dit het bestaan uit die reserwemag by Isandlwana wat die vlugtelinge agtervolg het. Die Zulu, wat dae lank geen behoorlike voorrade gehad het nie en die sterk vloeiende Buffelsrivier moes oorsteek deur menslike kettings te vorm, het eers gerus. Intussen het die berede troepe en voetsoldate van die Natal Native Contingent op loop geslaan, en agt Britse offisiere en 131 manskappe, onder wie 35 siekes, agtergelaat om Rorke's Drift te verdedig. Chard het die verskansing dus ingekort en 'n linie beskuitblikke oor die omheinde gebied begin bou. Dié werk was nog nie klaar nie toe die Zulu om 16h30 aanval nie. Die aanval was strydig met Cetshwayo se uitdruklike bevel om nie Britse grondgebied binne te val nie, omdat hy 'n verdigende oorlog teen die Britte in sy koninkryk wou veg.
Een verwoede Zulu-aanval na die ander is geloods en dikwels het man teen man op die barrikades geveg. Die verdedigers het omstreeks 18h00 van die hospitaal na die beskutting van die onvoltooide linie beskuitblikke teruggeval en toe na 'n skans van mieliesakke. Eers teen dagbreek het die Zulu teruggetrek. Sewentien verdedigers is gedood en een offisier en vyf manskappe gewond. Zuluverliese is teen 'n minimum van 500 geraam. Aan elf van die verdedigers is die Victoria Cross toegeken - die meeste nog vir 'n enkele veldslag.
--- --- ---
Die keiserlike prins
Napoléon Louis Eugene Jean Joseph, die seun van Napoleon II en die aanspraakmaker op die Franse keiserkroon, het op veertienjarige leeftyd met sy familie na Engeland gevlug ná sy vader se nederlaag in die Frans-Pruisiese Oorlog. Hy het drie jaar aan die Royal Military Academy by Woolwich deurgebring (1872-1875), en ná die slag van Isandlwana as vrywilliger by die Britse leër in Zululand aangesluit. Deur aktiewe diens in die Britse leër wou hy sy aanhang in Frakryk verstewig, maar daar was sterk politieke argumente teen die stap. Sy wens is nogtans toegestaan deur die tussenkoms van sy moeder, keisering Eugénie, en koningin Victoria. Hy het in Maart 1879 in Durban aangekom en 'n vaag omskrewe posisie op lord Chelmsford se staf is aan die 23-jarige toegesê.
Op 1 Junie 1879 het hy aangesluit by 'n klein verkennersgroepie van ses man onder luit. Carey, vergesel van 'n Zulutolk. Ses Basotho sou by hulle aansluit, maar was laat, en die groepie het sonder hulle vertrek. By 'n pas ontruimde Zulunedersetting het hulle stilgehou om te rus, sonder om 'n wag uit te sit. Die geselskap is aangeval, en luit. Carey en sy manskappe het gevlug. Die keiserlike prins het ook probeer vlug, maar toe hy sy senuweeagtige perd probeer bestyg, kon hy net die leerbande van die sal beetgryp. Hy is 200 m ver gesleep voordat die band gebreek het. Sy swaard, wat aan sy beroemde grootoom, Napoleon Bonaparte, behoort het, het tydens sy paniekerige pogings om die perd te bestyg, uit sy skede geval. Bewapen met 'n rewolwer het hy vergeefs verder probeer vlug en toe dapper omgedraai om sy agtervolgers te trotseer. Daar het hy gesneuwel, met agtien assegaaiwonde van voor. Saam met hom het die hoop van die Huis van Bonaparte in Frankryk gesterf.
--- --- ---
'n Aanbevole lees- en bronnelys oor die hoofstukke rakende die Kaap en Natal is aan die einde van dié hoofstuk aangebring.
--- --- ---