Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
Sakkies - Die verhaal van 'n brakkie
"Pappie! Kom kyk gou wat het ons in die tuin gekry."
Lewies en Ralie het hul Pappie letterlik aan sy moue uit sy studeerkamer gesleep kombuis toe, waar die prettigste en mooiste ou brakkie in die hele wêreld gespeel het.
"Mag ons hom tog nie maar hou nie, Pappie? Ag toe, Pappie, hy is mos 'n arme ou verdwaalde hondjie wat baas soek." Dit was Lewies wat so mooi gepleit het.
"Maar ek het reeds twee honde en ek kan dit nie bekostig om nog een aan te hou nie. Pappie het eers na Lewis en toe na Ralie gekyk.
"Maar hy is tog so klein, dit sal nie veel kos om hom te hou nie," sê Ralie.
Maar Pappie was glad nie lus vir die brakkie nie en het verder beswaar gemaak. "Altemit behoort hy aan iemand."
"Nee, ons het orals by al die bure verneem en niemand weet iets van hom nie," sê Lewies.
"Nou ja, hou hom dan maar vir 'n week hier," het Pappie toegegee.
Wat 'n vreugde! Hulle kon hom hou! Hy was hulle s'n!
Juis toe loop die brakkie hom vas teen die melkbeker wat Ralie op die vloer langs die piering laat staan en daar stroom die melk oor die vloer en die ou brakkie het net so vinnig as wat hy maar kon, met sy tongetjie begin oplek.
"So 'n karnallie, maar ek is seker hy sal dit nooit weer doen nie," roep Lewies uit.