Toe het Rosalind gesê "As Mammie die medisyne op die tafel neersit en die kamer verlaat, beloof ek dat dit alles weg sal wees as Mammie terugkom."
"Nou ja, goed dan," het sy gesê, bly dat daar nou 'n oplossing gevind is. "Hier is dit, wees nou 'n soet kind en drink dit alles en wanneer ek terugkom, sal ek vir jou iets lekkers bring."
Mammie het toe die kamer verlaat en die deur toegemaak. 'n Rukkie later het sy weer teruggekom, die leë glas gesien en toe vir Rosalind 'n paar lekkers gegee. Die kind het vir haar nie te gelukkig gelyk nie, maar Mammie het gedink dat dit die uitwerking van die slegte medisyne was.
Daardie aand was Rosalind se koors baie hoog en sy het ylhoofdig geword. Mammie was baie onrustig en Rosalind het al sieker geword. Sy het later soveel pyn gehad dat sy maar liewer wou doodgaan. Mamma het byna pal by haar gesit om haar te help en te troos.
"Mamma," het Rosalind die volgende aand gesê, "daar is iets wat ek vir Mamma moet vertel."
"Is daar? Ek wonder wat dit kan wees, miskien moet jy nie nou te veel praat nie. Wag tot jy beter is, dan kan jy my vertel."
"Nee, ek moet dit nou vertel, want...e...e...miskien word ek nie beter nie."
"Wat is dit dan?"
"Wel Mammie, ek weet waarom ek so siek is.
"Weet jy regtig?"
"Onthou Mamma daardie medisyne wat ek nie wou drink nie?"
"Ja, wat daarvan?" het Mammie met 'n glimlag gevra. "Jy bedoel seker daardie medisyne wat jy nie wou drink voordat ek die kamer uit is nie?"
"Ja," het sy baie verleë en droefgeestig gesê, "ek het dit nooit gedrink nie."
"Wat? Rosalind!"
"Ja, ek het dit by die venster uitgegooi."
Toe was daar vir 'n paar minute stilte.
"Is Mammie nou baie kwaad vir my?"
"Nee, ek is nie kwaad nie, maar net baie jammer en teleurgesteld."
"O dit maak dit nog erger!"
"Maar nou verstaan jy, Rosalind, nie waar nie?"
"Ja Mamma."
"Jy kan nou self sien dat dit te duur kos om ongehoorsaam te wees?"