
"Mag ek ook na die spruit gaan, Mammie, al die ander seuns gaan vandag," het Robert gevra.
"Nie vandag nie, Robert, jy weet hoe siek jy was.
"Ja ek weet, maar ek is nou gesond."
"Jy is nog nie heeltemal gesond nie, maar as jy baie versigtig is, sal jy teen aanstaande week heeltemal gesond wees."
"Asseblief Mammie, laat my gaan!" het hy gesoebat.
"As ek seker kon wees dat jy nie in die water sal gaan nie, sal ek nie omgee dat jy maar saamstap nie."
"Mamma hoef nie daaroor te bekommer nie, ek sal nie in die water gaan voor aanstaande week nie."
"Op daardie voorwaarde kan jy dan maar gaan."
"O baie dankie, Mammie!" het Robert geskree terwyl hy uit die huis hardloop, die straat af na die spruit toe.
Dit was hoogwater en die see het in die spruit opgestoot. Die son het helder op die water geskyn. 'n Endjie daarvandaan het 'n ou seilboot liggies op die water gewieg. Dit was 'n heerlike namiddag wat sommer enige seun se hart sou blymaak.
"Hoe, hier's ou Robert weer!" het die klomp seuns geskree wat reeds in die water was en dit skynbaar baie geniet het. "Kom in Robert. Dis te heerlik, trek uit jou klere!"
"Ek is jammer, ouens, maar ek kan nie vandag swem nie. Ek het ook nie my swemklere gebring nie."
"Ek sal jou myne leen," het klein Teddie Brown gesê. Ek moet nou uitkom, want ek is die hele dag al in die water."
"Ek is bevrees ek sal nie kan swem nie. My Ma het gesê dat ek nie in die water moet gaan nie."
"Ag, Mammie se ou kindjie!" het een van die seuns geskree en toe het al die ander hom begin terg.
Arme Robert se gesig het rooi geword en hy het vreeslik verleë gevoel. "Aanstaande week sal ek swem, maar nie vandag nie."
"Jy is bang! het die seuns geskree. "Hy kan nie swem nie!" het 'n ander een gesê. "Hy dink ons sal sy kop onder druk!" het nog een geskree.
Robert het begin weifel. Hy was tog nie meer siek nie en hy het heeltemal gesond gevoel. Waarom sal hy nie maar 'n bietjie swem nie? Die water was lekker warm. Hy kan mos vir 'n paar minute ingaan en dan weer gou uuitkom. Dit sou ten minste vir die seuns toon dat hy nie 'n lafaard is nie. En sy Ma sou dit tog nooit uitvind nie. Hy begin uittrek.
"Hoera!" het die ander seuns geskree. "Daar kom ou Robert! Laat ons hom natspat!"
Dit het Robert skaars 'n minuut geneem om sy klere uit te trek en Teddie se nat swembroek aan te trek. Toe hy egter in die water was, het hy nie gelukkig gevoel nie. Ook het hy glad nie lekker gevoel nie. Nadat die seuns hom natgespat het, het hy baie moeg gevoel. Hy het besluit om net eenkeer so 'n entjie te swem en dan uit te kom. Maar hy was nie ver nie of hy het 'n verskriklike pyn in sy bene gevoel - hy het 'n kramp gekry.
"Help!" het hy benoud geskree en binne 'n oomblik het 'n halfdosyn seuns hom te hulp gesnel. Hulle het hom uitgehelp en sy bene begin vryf totdat hy weer regop staan. Toe het hulle hom gehelp aantrek.
"Ek moes nooit ingegaan het nie," het hy huilend gesê, "ek was siek.
"Hoekom het jy dan nie so gesê nie?" het Teddie gevra. "Ons sou jou mos nie geterf het as ons geweet het nie. Ons sal jou nou maar moet huis toe neem."
"Nee moenie," het Robert gesê, want hy was bang. "Ek sal self huis toe gaan.
Sy Ma was nie tuis toe hy daar aangekom het nie. Hy is toe maar by die agterdeur in en het reguit bed toe gegaan.
"Hallo!" het sy Ma gesê toe sy sy kamer binnekom. "Hoe is jy dan weer in die bed. Ek dog jy het na die spruit gestap."
"Ek was daar, maar ... ek .... het siek gevoel en toe besluit om h uis toe te kom."
"Laat my jou voorkop voel, jy lyk vir my koorsig." Mammie het haar hand op Robert se kop geplaas en toe was die geheim uit.
"Robert, jou hare is nat!"
"Ek is jammer, Mamma."
"Waarom het jy dit gedoen?"
"Die ander seuns het gesê dat ek 'n lafaard was om nie ook te swem nie."
" 'n Lafaard! Maar dink jy nie dat jy 'n groter lafaard was om in te gee vir hulle nie?"
"Ek weet, maar ek het gedink dat Mammie nie daarvan sou hoor nie."
"Maar Robert, onthou jy nie dat die Bybel sê 'julle sonde sal julle uitvind' nie?"
"Ja....en dit het my uitgevind."