Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
Praat-tamboere
Meer as duisend jaar voor daar ooit van radio's gehoor is, was die inboorlinge van Afrika in staat om oor lang afstande boodskappe aan mekaar te stuur deur middel van hulle praat-tamboere.
Ek bedoel nie dat hulle tamboere gehad het wat kon praat soos julle nie, maar hulle het nogtans gepraat!
In elke stat was daar mense wat so behendig was met die tamboere dat hulle deur die klank boodskappe kon stuur.
Sommige van die tamboere was so groot dat hulle twintig myl ver gehoor kon word. Sodra die tamboere in een stat gehoor is, het die volgende stat die boodskap opgeneem en weer uitgetamboer; en so het die boodskappe van stat tot stat gegaan totdat die hele omtrek dit gehoor het.
Wanneer daar groot gebeurtenisse plaasgevind het, is die boodskappe dwarsoor die vasteland van Afrika gestuur. Daar word vertel dat toe Koningin Victoria gester het, die boodskap epr kabel uit Engeland na Wes-Afrika gestuur is; inboorlinge wat honderde myle van die naaste spoorweg of telegraafkantoor gewoon het, het dadelik begin gesels oor die dood van die "Groot Koningin." Deur middel van die praat-tamboere het hulle die nuus voor die regeringsamptenare gehoor.
Toe die stad Kartoem geval en Generaal Gordon gesneuwel het, het die inboorlinge van Sierra Leone, duisende myle daarvandaan, nog daardie selfe dag daaroor gesels!
Die grootste tamboere word van hol boomstamme, twaalf voet lank en vyf voet in deursnee, gemaak. Probeer om julle so 'n groot tamboer voor te stel! Dis geen wonder dat hulle twintig myl ver gehoor kan word nie!
Julle sal seker baie graag sulke tamboere wil hoor?
Iemand wat feitelik sy hele lewe lank sulke tamboere gehoor het, het gesê: "Hulle klank word op die wind gedra...Boem-tap-boem! Doem...doem...t-rat...t-t-t-r-r-r-rat! Bo-e-e-emm!"
Julle kan hulle seker amper hoor nie waar nie? Ek wonder wat hulle boodskap is. Miskien het daar 'n groot ramp plaasgevind - 'n oorstroming of brand - of miskien het 'n vername opperhoof gesterf.
Die tamboere van Afrika spreek vandag nog, miskien sal jhulle hulle eendag hoor. Ek dink ook oor ander tamboere. Ons kan hulle God se tamboere noem. Hulle spreek met groot stemme en bring nuus, nie alleen van dinge wat gebeur het nie, maar van dinge wat nog sal gebeur. "Die wind dra hulle stemme."
Ja, al die vreeslike dinge wat vandag in die wêreld gebeur, die lyding van so baie mense, die droefheid van so baie Vaders en Moeders en kinders, die verwoesting van so baie huise - al hierdie dinge spreek met groot stemme tot ons.