
Ek is in Oudtshoorn gebore en het my vroeë kinderjare daar deurgebring, en ek kan die plek dus nie heeltemal in perspektief sien nie. Daar is 'n hangbrug oor Olifantsrivier, 'n seekoegat in Meiringsrivier, Kottler se winkel by Middelplaatssiding, die Koffiehuis in Hoogstraat, 'n politieke vergadering by Hazenjacht in lanternlig, en 'n duisend en een plekke wat vir die buitestaander onbelangrik sal wees en wat heel moontlik in die drif van hedendaagse welvarendheid alreeds vernietig is òf daar nie is nie omdat hulle bloot versinsels van my kinderverbeelding was. Ek moet Oudtshoorn deur die oë van 'n vreemdeling probeer sien. Ek moet Oudtshoorn eintlik benader soos 'n volkome buitestaander.
Indien ek 'n vreemdeling is uit die buiteland, 'n wyndrinker en gevolglik 'n kenner van André L. Simon se werke, sal ek in sy A Wine Primer, alfabeties tussen Peru en Tunisia, onder South Africa vind dat wyn op groot skaal geproduseer word in Ladismith en Oudtshoorn, op ryker grond as dié van die Boland, maar miskien nie wyn van dieselfde gehalte nie. Gebore in Oudtshoorn, chauvinis uiteraard, maar desnieteenstaande, onthou ek dat ek op Vlakteplaas port gedrink het wat die glasie robynkleurig vlek en wat selfs 'n kenner soos Evelyn Waugh, voor sy kaggel in Engeland, 'n gevoel van warmte en satiriese wysheid sou gegee het. Ek onthou ook heerlike muskadel een oggend in een van die "kellers" by Oudtshoorn. Ek het n aby De Rust 'n wingerd gesien tussen amandelklip wat 'n ewebeeld was van 'n wingerd in Jerez. Leipoldt is baie vriendeliker as Simon in dié opsig want hy sê: "In twenty years' time, perhaps, George and Oudtshoorn may vie with Worcester so far as wines are concerned and ... may produce a wine as graceful and distinctive as die old Hugo Wine." Sy boek is postuum (in 1952) gepubliseer en ek glo dgraag dat Leipoldt korrek in sy voorspelling was, want hy was in elk geval nader aan die bron as Simon.
As 80-jarige vreemdeling uit die buiteland, met nog 'n goeie verstand en die bron van my herinnerings aan tye voor die Eerste Wêreldoorlog nog helder, sal ek die naam Oudtshoorn onthou as dié van die plek waar die volstruisveerpluime vandaan gekom het wat in Europa se danslokale mollige verhoogartiste se rondings agter 'n sprei van wit tergend bedek het. Of: as 80-jarige burger van ons Republiek sal ek met verlof van die wasige verlede aan die tieners van vandag vertel hoe Oudtshoorn se boere maklik 'n paar honderd duisend rand per jaar verdien het in die "volstruisveerdae" en hoe hulle Victoriaanse paleise gebou het wat slegs beskryf kan word as die angsdrome van demoniese argitekte. (Ek het as kind 'n paar van hulle ongeskonde gesien en ek betreur dit vandag, as grootmens, dat ons geslag met sierstene en die botheid van bou-ondernemers die verlede verknoei en vernietig het. Wat het geword van Oliver Towers?)
Is dit waar dat die mense van Oudtshoorn in "daardie jare" hulle eie teater gebou het, dat hulle 'n spesiale trein gehuur het om meisies van die Tivoli in die Kaap te bring om vir hulle te dans, dat hulle perde met sjampanje gewas het, dat hulle sigare aangesteek het met vyfpondnote, dat die duurste Engelse motors die hoofstraat met babbelende getoeter deurkruis het?
Die wingerde, die volstruise en die hele leefwyse in Oudtshoorn vorm deel van die agtergrond van mense "wat in goeie ryk grond goeie wyn kan produseer". Simon noem die naam Oudtshoorn en dan gaan kyk jy na die plek en jy kom te staan voor 'n legende en dis die sjarme van 'n legende dat jy nooit weet wat waar is en wat nié waar is nie. In 'n glasie wyn van Oudtshoorn leef die waarheid en die onwaarheid wat déél is van die kontradiksie wat inherent is aan die bestaan van die mens. Wie is ek? Waar en wat is Oudtshoorn? Wat is waar en wat is nie waar nie? Watter spoke wandel deur die verlate volstruisveerhuise en klappende deure? Watter illusies leef in elke korrel van die druiwetros?
Miskien is dit beter om Oudtshoorn as hedendaagse toeris te benader, volkome onbekend met die plek en met my as begeleier van twyfelagtige betroubaarheid.
Soos na Rome lei ale paaie na Oudtshoorn: vanaf Beaufort-Wes via die militêre teerpad deur Klaarstroom en Meiringspoort; vanaf Prins Albert oor die Swartberge; vanaf die see oor Outenikwapas of oor Robinsonspas. Willekeurig kies ek die een oor die Swartberge as jy van die binneland kom, vanaf die Swart Karoo. Dis die moeilikste en mins gesofistikeerde pad van almal, want jy sien iets van primordiale Afrika, daar is 'n bietjie lewensgevaar aan verbonde en die rit spook in jou drome totdat jy die veilige hawe van Oudtshoorn bereik. Op pad Kaap toe draai jy links na Prins Albert waar hulle baie wingerde gehad het, deesdae minder, maar waar hulle nog steeds die soetste vrugte in die hele Republiek kweek. Dan benader jy die kolossale Swartberge versigtig, want die Swart Godin is nog nie getem nie. Jy hou by 'n waterstroompie stil en jy kyk op na die katedraal van kranse wat God as 'n onmoontlike voorbeeld g stel het vir almal wat Sy handewerk probeer namaak. Op 'n wentelende grondpad styg jy teen 'n helling wat jou laat voel dat jy reguit hemel toe gaan met gevaarlike afgronde aan weerskante van jou. Jy sweet 'n bietjie bloed en dan bereik jy die kruin waar jy asem skep, moed skep, mediteer, en dan ewe gevaarlik dáál na die lappieskomberslanderye van Matjiesrivier, distrik Oudtshoorn - groen, simmetries en heerlik ordelik in teenstelling met die Karoo en die Berg. Jy ry verby 'n tolhuis van vervloë dae en vermeerder spoed as 'n teerpad jou nader aan 'n ander soort beskawing bring.
Langs die pas sal jy plaashuise sien en bosse bome en jy kan seker daarvan wees dat omtrent ónder elke boom, by elke huis, vuurwarm politieke vergaderings gehou is in die dae toe Oudtshoorn aan die res van die land 'n voorbeeld gestel het in demokratiese entoesiasme. Omtrent 'n driekwart myl van die Grotte bereik jy die pad wat na Oudtshoorn lei. Die Grotte links; Oudtshoorn regs.
Die Grotte van Oudtshoorn! Mens van Oudtshoorn en die Grotte indieselfde asem. Trouens, geen inwoner sal jou vergeef as jy nie die Grotte noem nie - die Grotte, Volstruise en Wyn. 'n Eienaardige trio wat 'n kwartet vorm saam met Tabak, want Virginiese tabak groei welig langs wingerdlande, vlak langs lusernlande waar volstruise pik en wei.
Indrukwekkender as die grotte wat ek in Mallorca gesien het, is hierdie netwerk van ondergrondse sale in die voorheuwels van die Swartberge. Die oumense vertel hoe hulle destyds met kerslig Dante se Inferno binnegevaar het en dis verbasend dat niemand omgekom het nie - maar skynbaar kom oumense minder maklik om op gevaarlike terrein. Deesdae is die plek verlig met ál die kleure van die reënboog. Gidse dwarsdeur die wêreld vertel ook, soos hier, dieselfde stories oor en oor. (Die Duiwel se Kamer, Koning Salomo, Die Waterval, Die Duiwel se Voetspoor.) Téén 'n krans gestu is 'n platform met 'n restaurant en "alle geriewe"/ Die parkeerterrein is onbeperk.
Wel, regs, loodreguit na Oudtshoorn. Daar is 'n motel langs die pad. Vóór jy Oudtshoorn se Noord-Einde ingaan, sien jy 'n toeristeplaas, "Riempie", en dis 'n plek soos Safari en Highgate waar bussevol buitelandse besoekers hulle verkyk aan volstruise, die pluk van pluime, die ongewone gewoontes van die Voëls in talle opsigte, en die Eiers wat 'n voorbeeld is vir alle diere wat eiers lê.
Maar nou moet ek iets van Riempie die volstruis vertel, want dit is déél van 'n kultuur so énig soos die wynkultuur.
Teen die einde van die neëntiende eeu was die boere van Oudtshoorn op soek na voëls, want die "boom" was daar en iemand het in Beaufort-Wes of Ladysmith (niemand is seker nie) 'n volstruis gekoop. Omdat alle volstruise eners lyk, behalwe vir wenige kenners, is om dié besondere volstruis se been 'n riempie gebind en hierdie volstruis met die riempie om sy been het geblyk 'n top-gevaar te wees. Riempie het geland op Meiringsplaas in die omgewing van De Rust by die ingang van Meiringspoort. 'n Ander bloedlyn, Ketsjowayo gekruis met Douw, het gekombineer met die Riempie-bloed, iets het gekliek, en op die gebied van teling het 'n wonderwerk plaasgevind. (Boere langs die Olifantsrivier en elders het natuurlik ewe goed aanspraak op wonderwerke met ander voëls wat vir my onbekend is, maar ek noem Riempie omdat Riempie in 'n sekere sin familie van my is en, op stuk van sake, dit ék is wat hier oor Oudtshoorn skryf.)
In die begin van die eeu was dit nie ongewoon dat jy agter in jou voertuig 'n klein pluksel pluime ter waarde van R4 000 kon saamneem dorp toe nie. Met 'n handvol vere kon jy Europa besoek. Daar word beweer dat die boere van Oudtshoorn op die gebied van teling iets bereik het wat ongekend was. (Johan le Roux van Bakenskraal het 'n volstruisveer van toentertyd - vergelyk dit maar met die pluim van vandag: Dis 'n kalkoenveer wat hemele toe gegaan het.)
Dit bewys weer eens dat materiële sukses nie te versmaai is as ' n voedingsbodem vir skepping en teling wat maar net 'n ander vorm van skepping is nie.
Ek het dit alles maar net genoem, en nou gaan jy by Riempie verby, ry jy die Noord-Eind van Oudtshoorn binne. Kyk 'n bietjie na daardie sandsteenhuise (dié wat nog oorbly); tuishuise, dorpshuise, woonhuise. As jy in die middel van Oudtshoorndorp kom, sal jy 'n ou inwoner moet kry om jou die oorblyfsels van die glorieryke verlede te wys, amper onsigbaar agter die nuwe fasade van welvarendheid. Want dit is die dorp waar die boere destyds hulle eie hotel (die Imperial) gebou het; waar 'n boer 'n trein gehuur het om sy vriende na die Victoria-waterval te neem vir 'n vakansie; waar Napiers, Wolseleys en Rovers (dúúr motors daardie jare) "spiders" verbygesteek het. Oudtshoorn bly steeds 'n dinamiese plek: ná die induiestorting van die goue volstruis en die daaropvolgende depressie, het hy soos die phoenix herrys uit die as van die verlede; met wyn, tabak, industrieë en, snaaks genoeg, wéér volstruise, het hy, op 'n ewewigtiger vlak as in die sprokiesverlede, 'n welvaart bereik wat nogmaals bewys dat die mense van Oudtshoorn hulle vingers het op 'n pols waarin die ritme van ons tyd klop.
Maar, in hierdie stadium is ons op soek na die verlede soos dit spook in die volstruisveerhuise. Die bekendste was Oliver Towers - 'n rococo-gebou wat geen nugter skrywer ooit presies kan beskryf nie. Vir Oliver Towers moet jy onder die invloed wees van Oudtshoorn se wyn en van die bewussyn-stroomtegniek van Virginia Woolf om reg te kan laat geskied an iets wat soveel vorme gehad het dat dit eintlik ongevormd was. Oliver Towers is tot die grond toe uitgewis om plek te maak vir die nuwe Boys' High wat doeltreffend en verstaanbaar is in terme van ons tyd. Die ou Boys' High, langs die Queen's Hotel, ook van sandsteen en potensieel dus onderworpe aan dieselfde vermolming as Oliver Towers, is deur die C.P. Nel-museum oorgeneem en dus gered in die droewige bombardement oor-en-weer wat, helaas, Oliver Towers vernietig het. (Dis die moeite werd om die museum te besoek om ietsie van die ou Oudtshoorn te sien.)
'n Ander bekende volstruisveerhuis (dis n atuurlik 'n soortnaam) is Pinehurst, destyds behorende aan die Edmeads-familie, waarna 'n m eisie-manskoshuis van die Opleidingskollege, só toegebou deur moderne geboue dat jy hom skaars kan sien.
'n Derde een is vandag 'n koshuis van die Hoër Handelskool Langenhoven. Destyds die huis van produkeur Foster, 'n Oxford-tipe.
Dan is daar nog Glenara in Koninginstraat, gewese manskoshuis van die Opleidingskollege. (Léég - bestem om gesloop te word.)
En die een op Safari waar 'n grootjie van my van oumaskant hom volgens oorlewering amper finansieel gebreek het. (Sal 'n leser en besoeker asseblief vasstel of daar 'n swembad binne-in die huis gebou is?)
Dis merkwaardig hoe opvoedingsentra die paleise oorgeneem het. Dit getuig sekerlik van vooruitgang, want daar is vandag nie minder nie as tien skole in die dorp. Dis in die gees van ons tyd en niemand met 'n sosiale gewete durf daaroor kla n ie. Dis bloot 'n interessante verskynsel dat 'n plattelandse dorp en distrik weens 'n modegril met die draai van die eeu skatryk geword het, paleise gebou ht, hulle seuns oorsee en hulle dogters na La Rochelle gestuur het, en toe skielik in die depressie vir die tweede keer ondergegaan het en vir die derde keer weer bó gekom het om van Oudtshoorn een van die florerendste en kleurrykste plekke in ons land te maak.
Die charisma van Oudtshoorn is nog nie behoorlik uitgebuit nie.
Loop maar deur Hoogstraat, kyk regs op in die besigste gedeelte, gebruik jou verbeelding en jy sal die Koffiehuis sien waar Langenhoven ('n skrywer en ook 'n legende - as persoon en as skrywer) elke môre met 'n swierige kierie en 'n magnolia vasgesteek aan sy lapel sy intrede maak, omring deur bewonderaars wat wag vir kwinkslae en aforismes gerig teen sy geliefde vyande: die Engelse, die Engelse Afrikaners, die Sappe, die Filistyne. 'n Man met die voorkoms van 'n romantiese poëet, met die eensaamheid van iemand wat sy tyd jare vooruit is - iemand wat eintlik sy talent verspil het om sy eie mense te leer lees omdat hy deernis vir sy eie in sy hart gehad het en in die proses iets opgeoffer het waarvan niemand geweet het nie. 'n Pionier wat 'n slagoffer geword het van sy lotsbestemming om pionier te moet wees. Altyd omring deur bewonderaars wat dikwels nie die nuanses van sy verset begryp het nie. Ek was destyds té jonk om te begryp. Vandag dink ek dikwels aan hom soos aan 'n Oscar Wilde. Jy kan lees wat hy geskryf het; sy persoonlikheid en wat hy gesê het leef alleen in die herinnerings van dié wat binne hulle begripsvermoë en die raamwerk van hulle denke tweedehands kan weergee.
Die Koffiehuis was Langenhoven se forum. Die Koffiehuis is nie meer daar nie, die oumense gaan een na die ander dood, en al wat oorbly is die romantiese spook wat selfs in hierdie dae nog deur Hoogstraat wandel.
(Daar is 'n swaaibrug oor Grobbelaarsrivier waar Langenhoven sy pad na sy huis in Wesbank in kontra-beweging verken het, 'n huis wat vandag 'n nasionale monument is, 'n tipies onpretensieuse voorbeeld van die twintigerjare - in volkome teenstelling met die volstruisveerhuise.)
Op die hoek van Hoogstraat en Koninginstraat is die moederkerk van Oudtshoorn, gebou van sandsteen. Daar is gekleurde glasvensters en ontwerpe om die preekstoel wat volkome onprotestants is in 'n uiters protestantse gemeente. Ek dink dit is dit wat Oudtshoorn anders maak as enige ander dorp in ons land.
As mens dink aan al die bevolkingsprobleme van ons land, dan sien mens Oudtshoorn as die smeltkroes. Daar het 'n helse klomp Boere, Engelse, Jode en Kleurlinge in welvaart en depressie mekaar oor en weer beveg en tussenin hulle afhanklikheid van mekaar betoon in tye toe daar geld te maak was, toe alles in duie gestort het, toe daar herlewing gekom het. Oudtshoorn is nie verlig of verkramp nie. Oudtshoorn is net anders.
Ter wille van die hedendaagse Oudtshoorn moet ek miskien die volgende vir reklamedoeleindes noem voordat ek na die verlede terugkeer:
Die modernste slagplaas in die Suidelike Halfrond, waar hulle die volstruis versny sodat elke stuk van die legendariese voël in terme van die behoeftes van ons tyd sy waarde het: stoffers vir woonstelbewoners; biltong vir fynproewers; pluime vir besoekers soos Erna Sack' volstruisveerleer wat die sterkste leer in die wêreld is; pote vir asbakke, lampskerms of ornamente en alles wat die toeris behaag in sy strewe na die vreemde in vreemde lande.
'n Militêre kamp.
'n Koöperasie waar almal lusernsaad koop.
'n Plattelandse rugbyspan wat formidabel is.
Hotelle wat streef na drie sterre.
Intensiewe besproeiing in die distrik deur die beste besproeiingsboere in die Republiek op die rykste grond in ons land. (Oudtshoorn se boere kan water lei teen hellings wat vir leke onmoontlik lyk. Oudtshoorn se boere kan met die oog oor 'n teodoliet triomfeer.)
Die soetste wyn.
Die soetse druiwe.
Pruimtabak wat jou kieste laat water.
Gasvryheid wat jou hart week maak; 'n rojaliteit met onthale op die skaal van prinse teen 'n agtergrond van suinigheid en beplanning wat hulle in die jare van depressie en induiestorting as 'n dure les geleer het. Die mense van Oudtshoorn kan knibbel soos niemand anders in hierdie land nie. Daar is geen winskopies in Oudtshoorn nie. Hulle is sjarmante maar geharde mense wat streef na sekuriteit en wins met die aaklige voorbeeld van die verganklikheid van welsyn en sy neweprodukte vlak in hulle herinnerings.
Hulle is haastige sakemanne wat dwarsdeur die land die stempel van hulle ondervinding afgedruk het, waar hulle ook al gegaan het. Hulle lewe in 'n tussenwêreld: ietsie van die Boland en ietsie van die Swart Karoo gegrif in hulle psigiese samestelling. Die mense van Oudtshoorn is die Israeli's van die Republiek. Hulle vertolk die Ou Testament net op hulle eie manier.
Teen die agtergrond van hulle materialisme en hulle regsinnigheid blink die Swartberge in die verte, bedek met sneeu. Sekere tye van die jaar sien jy Switserland. Daar is blink, wit water as sneeu smelt en die fonteine begin loop. Daar is siedende golwe as die riviere afkom ná reëns in die Berge. Daar is suring en vierklawer op die landerye. En daar is 'n pikswart niks as die Karoo oorneem en Oudtshoorn deel van die Karoo word.
Oudtshoorn is die Klein Karoo en die naam verduidelik alles.
Sal ons Oudtshoorn verlaat met die son wat ondergaan oor die laaste taferele soos in daardie flieks wat ons kinders van my eie geslag gesien het? Goed. Dan het ons 'n keuse: déúr Meiringspoort na Beaufort en die Karoo deur die mooiste voorbeeld van plooiingsberge in die land; óór die Outenikwapas bokant wat eers die Montagupas was en waar jy in wit gekalkte klippe die weg van die ou togryers kan sien tussen varings, heide en proteas, toe hulle patats van George, die moedergemeente, na Oudtshoorn gebring het. Of sal ons gaan na Mosselbaai via die Ruitersbospas met sy ander naam die Robinsonpas?
Namate ons dan langsaam met verskillende weë Oudtshoorn verlaat, verlaat ons dan ook die volgende: op pad na Meiringspoort plaasskole met 'n éénmanonderwyser. Iemand soos Jan Snyman wat my die lotgevalle van die Engelse konings geleer het, 'n botteltjie anysbrandewyn vir meisies wat flou word op die rak, iemand wat my volkome verwar het toe hy in staat was om my te belaai met kennis wat strek van standerd drie tot standerd ses. 'n Eénmanskool wat my volkome mens gemaak het. Op pad na Meirin gspoort 'n tolhuis (naby Le Rouxstasie) wat later ' n hotel en 'n winkel was.
Op pad na Meiringspoort verby die Rooikranse wat lyk afof hulle deur sywurms gevreet is, lángs jou die vrubare landerye langs die Olifantsrivier; Dysselsdorp, 'n Kleurlingdorp in die verte, rooi en verlate teen die skruwe rante; De Rust, 'n Middeleeuse dorpie by die mond van die Poort, waar die waters oor ronde klippe in die vore kabbel en alles welig groei (magnolias, aronskelke), De Rust met 'n eiesoortige eensaamheid, vrugbaarheid, gehardheid, geilheid. De Rust waar hulle nog praat van Prinsipaal Burger, Hans die Meulenaar, Dora die Bakker en Baron die Winkelier. Dis die wêreld van geelbos, bossiestee, asbos vir loog, plakkies, botterboom bokant wingerdlande, tabaklande, lusernlande. De Rust waar die kerkklokke eersamer teen sonsondergang klink as op enige ander plek in ons land.
En nou begin die verlede weer by jou spook. Die oumense vertel jou van jare lank gelede toe hulle toggery het en okkerneute, rosyne, gedroogde vrugte, asyn, roltabak, wyn, witblits, witklip verkoop het in die Karoo, selfs in die Vrystaat, selfs tot in Johannesburg. Dis miskien die togryers wat onder die hang van die Groot Berg hulle vuurtjies aangsteek het wat verantwoordelik is vir al die spookstories. Dis miskien ook die afgesonderde valleie in Oudtshoorn wat daarvoor verantwoordelik is, want Oudtshoorn-distrik het meer spoke wat wandel as enige ander plek. (Ek behoort te weet.)
Ons het nou die Poort bereik. Die Poort is onbeskryflik. Die Poort na die Karoo. Dis die enigste herinnering aan my kinderjare wat nie kleiner nie maar steeds groter geword het. Die Poort van konglomeraatgesteentes. Daar is iets in Meiringspoort wat mens herinner aan Delphi, maar mens die teenwoordigheid van die Gode. Daar is geen Gode nie; daar is net die allemagtige natuur sonder Gode.
Ons sal Oudtshoorn nou weer probeer verlaat, langs 'n ander weg, na George en die see. Dis miskien 'n beter einde in terme van die "Travel Talks" van die flieks van destyds. Dis oor die Outenikwapas. In Oudtshoorn is dit onmoontlik warm. Jy ry met jou vinnige motor oor die Outenikwapas en meteens verander die klimaat. Jy trek 'n trui aan en hou stil op die kruin van die pas tussen Oudtshoorn en George. Heide en proteas omring jou; kolossale afgronde gee jou 'n gevoel van duiseligheid.
Jy gaan nou na 'n ander soort beskawing. Jy vergeet die Swart Karoo en jy sien ietsie van Europa, net op 'n groter skaal. Dis 'n mooier, sagter, klammer skoonheid as dié van die Swart Karoo. Dis 'n onmoontlike teenstelling - maar tussenin was Oudtshoorn, ongevorm, 'n oorgangstadium wat nie bloot 'n oorgangstadium was nie.
Tussen die Swart Karoo en die See het daar 'n vormverandering in jou psige plaasgevind. Jy het déúr 'n legende beweeg wat 'n ommekeer in jouself teweeggebring het; en die naam van die katalisator is Oudtshoorn.
"H
Etienne Leroux