As 'n seun het ek een ondervinding gehad van 'n gebed wat verhoor is, wat ek nooit sal vergeet nie. Alhoewel nog maar 'n seun, skaars sestien, was ek in die verre noorde van Skotland besig om van plaas tot plaas en van huis tot huis te gaan oor die eensame paaie - en hulle is eensaam, dit is gewis - in 'n poging om boeke oor die Bybel te verkoop om genoeg geld te verdien om kollege toe te gaan.
Een aand, na 'n moeilike dag, was ek omtrent twaalf myl van die plek waar ek loseer het. Die reën het neergestort - en hoe reën dit nie daar tussen daardie Skotse rante nie! - en ek kan jou dit verseker die vooruitsig om met my fiets deur die reën oor die slegte paaie te ry, was nie aangenaam nie, veral omdat ek baie, baie moeg was.
Toe, sommer eensklaps, word my voorwiel pap. Ek kan dit nou nog sien. Vir my het dit soos die laaste strooitjie gelyk wat, soos hulle sê, die kameel se rug breek. 'n Ruk lank het ek sommer daar langs die pad gesit en niks doen nie. Ek was te mismoedig. En wat kon ek ook doen sonder die goed om die wiel mee reg te maak?
Na 'n rukkie het 'n gedagte by my opgekom. Ek onthou dit nog so goed. Ek het gedink: Ek doen die Here se werk: Hy wil sekerlik nie hê dat 'n jong seun soos ek die hele nag in die reën moes deurbring nie. Dit het my moed gegee om 'n baie eienaardige ding te doen. Ek het daardie wiel gepomp en terwyl ek pomp, het ek gebid dat die wiel moes styf bly totdat ek my kamer kom. Toe spring ek op my fiets en begin ry.
Miskien sal jy dit nie glo nie - en ek is bevrees jy sal nie - maar daardie wiel het styf gebly, my veilig by die huis gebring en styf gebly vir 'n hele paar dae sonder dat ek iets daaraan gedoen het.
Jy mag sê, "O, wel, die klep het seker maar gelek, of dit was 'n klein gaatjie", maar ek is seker dit was nie. Vir my was daardie ondervinding 'n Goddelike verlossing.