Oor huise

marthinus versfeld

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Vertellers
Deel twee


deur merwe scholtz

Elke man bou vir hom 'n huis. Soms is dit 'n klein toe affêretjie soos 'n slakkedop, waarin hy hom terugtrek as hy jou sien aankom. Ander weer het huise met groot vensters wat jou blik na die landskap rig en met deur wat nooit op knip staan nie. Die eintlike meubelverhuiser is die lykbesorger.

Persoonlik glo ek in die wederopstanding van huise. Natuurlilk skep dit  probleme, soos dié van die vrou in die Skrif wat sewe mans gehad het en wat bekommerd was oor die vraag met wie sy op die ou end sou sit. Ek weet nie of sy deur die antwoord getroos is dat daar in die hemel geen  huwelike sal wees nie. Nieemin is ons nie vertel dat ons daar in die oop veld sal sit nie. Daar staan baie wonings en die een waarin ons sal trek, sal ons eie wees, d.w.s. die self wat ons van onsself gemaak het, want elkeen moet homself bewoon. Dit sal soos  'n goeie handskoen pas.

Dit hang alles daarvan af of jy met jouself tuis voel of nie. As jy vir iemand vra of hy tuis is, sal hy miskien dink jy's gek. Diepsinnige vrae word dikwels as gek beskou. Tog is daar baie mense wat altyd afwesig is. Wanneer jy hulle ontmoet, ontmoet jy 'n versperring. Hulle sit agter ystertralies waardeur jy geen hek kan vind nie. Hulle laat jou wonder of jy miskien iets makeer. In kwaai gevalle kan hulle jou  heeltemal deurmekaar laat voel. Maar let maar goed op: so 'n mens is van homself afwesig. Daar is twee van hom en daar is altyd 'n tweegeveg in die huis. Jy het al twee katte gesien wat so baklei dat hulle in die bossies wegraak. So is sommige mense en so is ons almal in 'n sekere mate. Die teoloë noem dit erfsonde en nadat jy deur al hulle lang woorde gesnuffel het, kom dit maar weer op die twee katte terug. Verlossing is wanneer hulle albei salig voor die vuur lê.

Niemand is met ander mense, of in enige plek of enige tydperk, tuis as hy nie met homself tuis is nie en vir ons bly dit 'n aspirasie. Die man wat rondhardloop, in sowel tyd as ruimte, is òf op soek na homself òf aan weghardloop van homself. Soms betaal dit. Verdwyn in die bosse van die klassieke oudheid en dan stel hulle jou miskien as professor aan. Spring uit na Indië. en dan kan jy in Kalifornië, en nog ander plekke 'n welgestelde swami word. Die wêreld is vir ons ontvlugtings goed ingerig. So word sukses in die aardse stad dikwels bereik.

Om tuis te wees, vereis dat ons onsselwe moet besit, maar gewoonlik moet ons onsselwe in die kantoor vir vermiste goedere gaan soek. Vir my is die hemel die plek waar jy jouself sal vind, met al jou besittings om jou, waaronder hoofsaaklik jouself. As die hemel onsigbaar is, is dit omdat dit te naby is om gesien te word en as dit onbeskryflik is, is dit omdat dit te konkreet is om met woorde te omgryp. 'n Skrywer dwaal van een woord na die ander, op soek na die onmiddellike wat alle woorde verniet sal maak. Derhalwe is dit die kuns van die lewe om te wees daar waar ons is, om aan die wêreld en aan ander mense teenwoordig te wees. Die hemel moet jou ou pyp insluit, en jou ou huis, en jou ou klere, en jou ou vriende, en jou ou vrou, almal blinknuut soos wat hulle werklik is omdat God hulle dag vir dag herskep. Of 'n mens sonder hierdie dinge 'n siel kan besit,  is miskien te betwyfel. Want hoe kan jy ingaan sonder om uit te gaan, en hoe kan jy jouself ontdek sonder om ander mense te ontdek? As Adam en Eva kaal en ontdek in die Paradys kon rondloop, was dit omdat hulle nog heel was. In daardie dae kon hulle nog met God gesels, en dit kan jy net doen as jy kaal is. Kaal beteken nie net dat jy van alles ontroof is nie, maar ook dat jy vir alles toeganklik is. Om met God te kan gesels, is om met die wêreld te kan gesels.

Dit geld nie alleenlik vir enkelinge nie, maar ook vir volke. 'n Volk of 'n ras wat nie met 'n ander volk of ras kan of wil gesels nie, kan ook nie met God gesels nie. So 'n volk skep dan 'n skyneenheid om al die onderlinge kattekwaad toe te gooi. Dit maak 'n rookskerm van onegtheid waarin almal opgaan in 'n algemene mening wat niemand se mening is nie. Die politici van die aardse stad adem hierdie rookskerm met genoeë in. Plaas dat hulle insien hoe onsigbaar hulle daarbinne is, kleed hulle hul in deksels van vyeblare, d.w.s. tenks en bomwerpers en masjiengewere en so af en toe raas hulle met God. 'n Christelike huis het groot vensters. Die tuiste van 'n volk kan nie 'n slakkehuis wees nie.

Daar is natuurlik ook dié wat nie kan insien nie dat as jy gasvry wil wees, jy eers 'n eie huis moet besit. Hulle kan net die wêreld raaksien en nie die plek waaruit hulle dit sien nie. Jy moet altyd relativeer vanuit daar waar jy sit en as jy nie goed vas sit nie, sal jy nie kan relativeer nie. Dit is net die man wat van homself seker is, wat dit kan bekostig om onseker en plooibaar te wees. Daar is altyd dié wat wil inmeng omdat hulle nie hul eie sake kan bestuur nie en wat almal so liefhet dat hulle niemand kan liefhê nie. Hulle raas met almal omdat hulle nie met hulselwe weet te raas nie. Dié wat presies weet wat reg is, weet gewoonlik nie wat met hulself verkeerd geloop hjet nie. As jou eie huis deurmekaar is, dan hardloop jy daaruit en dan kla jy as jou buurman se huis ook deurmekaar is. Jy maak van hom 'n sondebok. Gooi  jou katte oor die muur sodat hulle 'n ander man se tuin kan omkrap.

'n Klompie jare gelede, toe ek vir ons 'n plekkie in die Kouga aangeskaf het, moes ek vir ons 'n vakansiehuisie bou. Om so iets te besit, gee vir jou 'n sekere vastigheid van vooruitsig, waarin jou gesin tot 'n eenheid groei. Jou huis plaas jou in die wêreld. Dit gee jou 'n adres, êrens waar jy aangespreek kan word. Net soos jou siel jou liggaam nodig het om hom in die wêreld te plaas en hom warm te hou, so vereis 'n liggaam 'n huis om hom warm te hou. Derhalwe is jou huis ook 'n soort vlees en bloed waaruit jy die wêreld aanvaar en opbou. Jy gaan in om uit te gaan, en jy gaan uit om in te gaan. Daar waar hy staan, bepaal jou uitsig, en soos hy daarbinne uitsien, bepaal hoe jy die wêreld daarbuite gaan insien. As jy net 'n byl besit, dan is die wêreld vir jou iets wat omgekap moet word. Soos jy jou tempel bou, so sal jy jou gode sien, en as jou liggaam, soos Paulus sê, 'n tempel is, dan moet jou  huis hom dit nadoen. Die grond waarop hy staan, is heilig, en die gode is jou argitekte. Hierdie primitiewe dinge het ons grotendeels vergeet en daarom word ons so siek.

Nou ja, ek moes vir ons 'n huis bou. Waar? Waar dit 'n bietjie oop is. 'n Mens wil kan sien wat aangaan. Aan die bo-ent van die ou appelkoosboord, agter die ou pruim- en Kaapse suurlemoenbome, is daar 'n ou trapvloertjie waar hulle die bone uitgeslaan het. Die voor loop net agter onder die parrabome verby en bokant is die aalwynrantjie met volop klippers. Na ondertoe staan die populierbos, blou-pers in die winter en sprankelend in die somer-seewindjie; en bokant loop Tweerivier se kloof in die Kougaberge in. Jy kyk vas op Saptouskop. Jy kan ook die wit strepie van die pad sien, daar by die ou pereboom waar jy die water uitkeer.

Van bouery het ek maar min geweet. Ons het wel 'n bietjie ervaring met die bou van die Bergklub-hut op Waaihoek opgedoen, wat van klip en klei gebou is en waar ek die skrynwerker was. Maar in die Kouga kan almal nog op 'n plan 'n huis bou en om te vra, is om raad te kry. Jy doen 'n stap en dan vra jy omtrent die volgende stap en ek het darem geweet dat daar eers 'n fondament moet kom. Ek het nietemin verlate gevoel toe ek met 'n pik en 'n graaf en vier penne en 'n lyn na die ou trapvloer oorstap. Ja-nee, hy moet so staan met die voordeur na die ooste. Om hom vierkant te kry, moet die lengtes oorhoeks dieselfde wees. Slaan die penne in, veertig voet by vier-en twintig voet; die fondament moet dertig duim diep en vier-en-twintig duim breed wees. Vat die pik en slaan in die gruis en kweek die eerste hou. Soos Odusseus gaan ons huis toe, en ons hoop maar dat die dag sal aanbreek wanneer Penelopeia in haar voorskoot op die drumpel staan.

Toe die fondament gegrawe is, moes dit met klip en klei gepak word. Sonder hulp kry ek nie die klippers bymekaar nie. My getroue huurder, Tone, aan wie ek soveel verskuldig is, sal bystaan, en ou Gert Human en Sak Sysar sal kom wanneer hulle kan. Van klippers is daar 'n oorvloed in die Kouga. Soos een ou swartman gesê het: "Nou weet ek waar die klippers vandaan kom. Hierdie is die klippers se broeiplek!" Wat hy tog geweet het, is iets wat alle primitiewe mense weet: dat klippers ook 'n soort eie lewe het. Hulle spreek met 'n mens. Derhalwe is daar toorklippe, en gewyde stene, en 'n Kaäba, en 'n Stonehenge. Moenie dink dat die ou volk wat vuurklip gevorm het om die beginsels van ons beskawing vas te lê, dit net as 'n dooie ding beskou het nie. Daar lê vuur in opgesluit, die vuur wat in die mens brand, en wat van die gode kom. Ons praat van die Rots der eeue, die Rots wat leef. As jy reg teenoor klippe wil voel, lees maar weer die storie van Jakob en die klip en die hemelleer in Genesis 28, en soek die regte klippers vir jou Bet-el uit.

By ons is die klippers nie so lewend dat hulle vanself aangestap kom nie. Jy moet swaar karwei. Ook is dit nie mooi klippers nie, maar ongemaklike goed met punte en duike en min plat kante. Daar bo by die dam en in Hoekies is hulle anders, maar hoe om hulle hier te kry! Hier l ê hulle darem byderhand en ons moet hulle maar van die rant afgooi.

Ek hou daarvan om klippers te rol en te skuiwe. Alle kinders hou daarvan. Hier is 'n mooie met plat kante wat vir 'n hoeksteen goed sal wees. Werk hom uit die stowwerige rooio grond. Kyk hoe loop die miere en hoe krul die groot ou duisendpoot vir hom op! Skuif hom  uit en rol hom tussen die ysterbosse af. Gooi die klippies rondom vir stopklip af en soek maar nog een. Soek en rol twee dae lank totdat jou vingertoppe teer is en die gelykte onderkant die rant met klippers gesaai en gestapel lê.

Om klippers te pak, is ook 'n kuns. Hulle is almal anders van fatsoen. Derhalwe moet jy baie klippers byderhand hê en jy moet leer om in die blik van 'n oog te skat wat daar lê en hoe hulle met mekaar sal invoeg. Jy moet 'n soort personeelbestuurder van klippe word. Onder in die fondament kan jy van die groot lelikes gooi. Sit net 'n tamaai ou boetie by elke hoek. Pak hulle dan met kleiner klippies gelyk en werk hulle in 'n goeie laag dagha vas. Nou moet jy mooi werk. Aan weerskante moet daar klippe met mooi plat gesigte kom wat op stopklippies mooi vaslê. Hulle moet vaslê sonder klei. Die middel van die muur maak jy met klippies en dagha vol. En wanneer jy bokant die grond kom, gebruik 'n waterpas. Die oog bedrieg.

Vir j ou klipwerk het jy 'n paar kliphamers nodig. Dit is maar 'n rowwe kliphouery wat ter sake is, maar jy leer tog iets omtrent klippe. Dit is nie die man met die sterkste arm en die grootste hamer wat die klippe stukkend kry nie. Dit is soms die man met die klein hamertjie wat die meeste vorm aan die lewe kan gee. Soek die naat van die saak, tik langs hom af en skielik val die klip oop. Klippe het ook 'n grein wat  jy met jou vingertoppe kan ontdek en jy kan niks maak as jy hulle dwars wil slaan nie. Jy moet uitvind wt die klip se trant is en hom dan oorhaal. Dit help nie om net vonke te laat spat nie.

Wat jy wel sal leer, is om die ou kliphouers te bewonder, die manne wat die suile van die oudheid gemaak het, die Inka-bouers, die ou Egiptenare, namelose manne wat hul name aan die klippe gegee het. Hulle was so behendig dat hulle selfs 'n advertensie vir 'n veilig op 'n rotsblok vlug kon uitbeitel. Wat mees opstandig was, kon hulle speel-speel onderdanig maak. Hulle het geweet dat die klip hom onder die hamer openbaar. Hy word meer klip soos hy gevorm word. Soek dus die vorm in die klip. Dit is hoekom die klipbouers op die Paaseiland die houe van 'n groot standbeeld met danse en inkantasies benader het. Hulle wou die wesentlike vorm van alle dinge aanspreek. Die engel uit die klip is die engel wat alreeds in die klip gesit het en aan hom is die kliphouer onderdanig. Laat die engele dus jou huisie bou, maar hu lle sal net met jou h ande bou en net met jou eie hande sal jy aan hulle raak. Wat ek uitgevind het, is maar net hoe onhandig ek is. Ou Gert was baie nader aan die engele en so is baie van dié wat met pikke en grawe swoeg.

Dagha stel ook sy vereistes. Die beste dagha maak jy van 'n sanderige klei en jy behoort dit eers 'n dag voordat jy dit gebruik, aan te maak en in te suur Dan word hy kliphard.

Op 'n goeie dag was die fondament klaar: Om verder te kom, moes ons sandsementstene met 'n vorm gooi. By ons is dit 'n voordelige manier van bou, omdat die grond net reg is: kleierig met omtrent dertig persent sand. Dit moet gesif word en geen plantaardige stof bevat nie. Een op tien sement is genoeg om vir 'n steen te gee wat klink. Werk die hoop maar heen en weer totdat dit goed deurmekaar is en moet dit nie te klam aanmaak nie. Die grond moet van die instamp kleef, anders sak jou steen inmekaar. En dan weg na die baan om hom uit te gooi. My maat, 'n Kaapse mediese dokter, en ek, met behulp van ou Gert, het tot honderd-en-dertig stene per dag in die kort winterdae gegooi.

Soggens het die ryp op die daghahoop gelê en saans het dit weer begin val toe ons kaal in die sloot staan om die klei van ons af te spoel. 'n Middel teen die ryp is 'n pond-blikkie marmelade en 'n halfbottel brandewyn wat saam in 'n kookkannetjie warm gemaak word. In die Bergklub heet dit marmeladesop. Ou Gert is sedertdien, gedeeltelik van die karrie, dood. Hy het sy huisie gebou en vir my altans het hy goed gebou. Die son sal hom nie bedags steek nie, nog die ryp onder die kille maan.

Om met sementblokke te bou gaan gou, maar eers moet jy vir jou kosyne en lateie sorg. Die kosyne het ek maar self aanmekaar getimmer, en oom Fanie het gesê dat ek lateie in sy populierbos kan kom saag. Oom Fanie is ook nou na sy rus. Hy was ouderdling en ek het altyd 'n paar pittige stories vir hom gebêre, want 'n ouderling wat oor die mensdom kan lag, is verdienstelik. Mag hy my weer op die kniekop klap en sê: "Man, het ek jou vertel...?" Ek het al baie vertellings in die Kouga gehoor, volkse vertellings waarvan sommige duidelik van Boccaccio afstam. Fiesole het Pampoendorp geword en die priester die dominee, maar in die kern bly die menslike verrigtings min of meer dieselfde.

Op 'n hete someroggend is ons die bos in, daar waar die windhoos 'n kolk in die bos geruk het voordat hy met die apoelbome gewerk het. Ons het onder in 'n diep put van groen gestaan, tussen die afgeknakte boomstamme. G'n windjie het daar geroer nie en die son het onbeweeglik bokant die bek van die put gestaan. Boonop was die hout half droog. Nat populier en droë populier kan jy saag, maar as hy half droog is, kan jy hom net deursukkel.

So het die mure verrys totdat ek en Tone die balke in die populierbos kon kap en met donkies aansleep en groen inmessel. Die latte was vasgespyker en die asbesplaat-platdak is op. Die mure word afgepleister - iets waarmee ek net so onnosel is as voorheen - en die kleivloer met Malthoid bedek. Penelopeia en haar kroos kan maar kom.

Soos hy daar staan, het ons plekkie uit die grond uit gegroei. Die klippe van sy fondament is een met die eeue-oue sandsteen waarvan die koppe gevorm is en sy mure het uit die gat in die grond verrys waar ons klei gegrawe het. Hy is 'n uitgroeisel van die landskap. So moet 'n man ook wees. Hy word aan homself gegee, klei wat hy self moet beweerk en wat hy nog kan bykry, moet hy daarvandaan gaan haal waar hy is. Met die stof vir jou huis word jy gebore en dit moet jy aanvaar. Daar is 'n verskil tussen 'n uitgroeisel en 'n gewas en 'n mens word tot 'n gewas wanneer hy altyd buite homself na homself gaan soek. Om vir die plek en die tyd waarin jy geborwe is, aanwesig te wees, is die eintlike geluk, en die bietjie filosofie wat ek besit, is ook maar van klip en klei. Jy kan maar skep soos jy geskape is.

As ek onder 'n jaspisrant beland het, sou ek van jaspis kon gebou het, maar dis gruis en ysterbos en verweerde sandsteen. As dit reën, is die ysterbos vol lanterntjies en soms ryp dit dood; en die sandsteen maak bakkies waarin oom Hansie byekorwe gesit het, sodat daar soms 'n bietjie heuning in die huis kom. Jy kan net uit die wêreld haal wat jy in die wêreld bring en aangesien jy jouself nie gebring het nie, besit jy niks sonder voorwaardes nie. Daar is altyd appels wat jy nie mag pluk nie en in die Langkloof is ons geneig om 'n bietjie parmantig oor appels te praat. Ons pluk die laaste appel af en dan bou ons huise soos vratjies op die landskap. Koöperasie kan gerus 'n bietjie koöperasie met die landskap meebring. Die tweegeveg met die Landbank is soms nie sonder verband met die tweegeveg met die klipbank agter die huis nie. Wat 'n volkshuis is, sal ons nie weet totdat ons uitvind wat 'n volk is nie en dit weet ons nie. Oorle oom Kasper se h uis het iets daaromtrent te sê. Die kerkhof lê nie ver van die huis nie en daar is hoenders wat by die kombuisdeur gaap.

Van binne is ons plekkie taamlik ru en eenvoudig. Daar is net twee vertrekke, want ons is so baie dat die lewe in die openbaar moet aangaan. Die kleinste vertrek is nog 'n bietjie ongesellig. Daar is 'n paar slaapbanke, een bo die ander, vir die kleintjies. Die visstokke staan in 'n hoek tussen verfblikkies. Die saals lê in 'n ander hoek, langs die dennehout-rakke vir die kinders se klere en die onderkant die muurpenne waar my gewere, ou klere en onbeskryflilke ou hoed hang. Ek kan my voorstel hoe Watson die ontmoeting van Sherlock Holmes met daardie hoed sou beskryf. "Sherlock Holmes het die hopie vodde versigtig benader en met 'n tangetjie opgetel. Met u itgestrekte arm het hy dit venster toe gedra, waar hy dit onder sy sterk vergrootglas ondersoek het en met die toppe van sy gevoelige vingers deurfrommel het. Tot my verwondering het hy, effens skewebek, die gemors op sy kop geplak en toe weer op 'n koerantblad op die tafel voor ons geplaas. 'En wat dink jy van hierdie voorwerp, Watson?' vra hy toe. 'My liewe Holmes,' antwoord ek, 'dit is klaarblyklik 'n ou stoflap wat op die vullishoop gelê het en wat die rotte weer binnegesleep het om nes te maak.' 'My liewe Watson,' sê hy, 'ek was ook eers van daardie mening. Maar as jy my vergrootglas vat, sal jy sien dat daar 'n hoë persentasie lang grys mensehare met die detritus gemeng is. Ons kan dus aflei dat dit in verband met iemand se kop staan. Die eerste gedagte wat opduik, onwaarskynlik soos dit mag klink, is dat dit 'n soort hoed kan wees. Met hierdie hipotese in gedagte, trek dit met die tang versigtig oop. Kyk, dit is min of meer sirkelvormig, dít kon 'n bol gewees het en met 'n bietjie verbeelding kan jy hierdie flenters tot 'n rand saamstel. Nee, dit is 'n hoed. Dit moet 'n hoed wees. Hierdie swart sirkel waaraan die hare kleef, is sweet en klei. Toe ek dit met weersig op my kop gesit het, was dit vir my byna groot genoeg. Ha! wat het ons hier? Inkmerke. Die vergrootglas, Watson! Watson, Watson,' roep hy triomfantelik, 'hier staan iets...iets...iets...Watson, hier staan die letters: Pa se hoed!

"Nou moet ons ons afvra, Watson, wat ons omtrent die eienaar van hierdie treurige deksel kan aflei. In die eerste plek moet hy 'bn mate van intelligensie besit, omdat die hoed byna groot genoeg vir my is. Daardie gevolgtrekking kan ons nie ontduik nie. Jy kan ook sien dat die hoed nooiot wat se wafferse hoed was nie. Dit dui 'n plat sak aan. 'n Intelligente man met 'n plat sak ... ja, Watson, dit kan 'n professor of 'n skrywer wees wat hier tussen die bosse van sy skuldeise wegkruip. dit is duidelik dat hy sy selfrespek baie lank gelede verloor het en dat sy vrou met hom niks kan uitrig nie. Hoe weet ek dat hy 'n vrou het? Watson, hier staan mos Pa. 'n Vader is gewoonlik getroud, selfs onder professore. Dit meot 'n standhoudende relasie wees, want hier staan: Pa se hoed, wat aandui dat die eienaar die soort groot gesin moet hê wat mekaar se goed gebruik. Ons kan aflei dat hy 'n vrou het wat oor besondere geduld beskik. Aan die wit hare kan ons aflei dat hy taamlik bejaard is, alhoewel ons nie daarvan seker kan wees nie. Kinders en skuld kan 'n man jonk laat grys word. Aan die lengte van die hare kan jy sien dat hy te suinig is om na die haarkapper toe te gaan. Nee, Watson, ons het nie hier met 'n rot te doen nie, maar met 'n mens'!"

Dan staan daar ook my katel van balkies en strookyster en Penelopeia s'n wat 'n bietjie breër is. Waar die vrou is, daar is die huis. Die oorspronklike Odusseus het dit so goed geweet dat hy die vertrek om die kooi gebou en gesorg het dat die katel in moeder aarde wortel.

"Daar het 'n olyfboom gestaan binne die hof met langwerpige blare, goed uitgegroei en met 'n stam soos 'n pilaar. Rondom het ek aan die kamer gebou totdat ek hom kant en klaar het, met klippers wat mooi gepak is en toe het ek dit bedek en vaste deure gemaak wat mooi pas. Toe het ek al die fyn houtjies van die langblarige olienhoutboom afgeknip en die stam van die wortel af op met die disse afgewerk en glad gemaak, knap en mooi. Ek het dit mooi reguit gemaak en die bedstyl daarvan gevorm en dit met die handboor geboor. Van hierdie begin af het ek aan die katel gewerk totdat ek dit klaar gekry het en dit mooi gemaak het deur dit met goud en silwer en ivoor in te lê. En toe het ek dit met helderpers osriem gemat."

My arme Penelopeia het maar strookyster en moet maar self as olyfboom dien, maar sy hou ons op die grond. Maar my eie matras is iets meer besonders as Odusseus se velkomberse. Oor die tagtig jaar gelede, toe my vader gebore is, het hulle vir hom 'n matrassie laat maak wat met klipspringerhare gestop is. Op daardie matras slaap ek nog.

Die groot vertrek is die eintlike woonkamer. In die een muur sit die groot vuurherd, oor die ses voet wyd, soos 'n spelonk, met 'n swaar populierhoutbalk bo, waaraan daar 'n kruisie hang. Dit is 'n bietjie vlak sodat dit rokerig is, wat net vir die varkboud wat aan die balk  hang, voordelig is. Binne die vuurherd is 'n lang yster-viervoet en daaroop staan die tweegellingysterpot waarin byna alles gekook word. Lekker kos moet in die rook staan. Dis ook nie almal wat goed vuur kan maak nie, want jy moet jou hout met liefde uitsoek. Daar moet renosterbos en ysterbos lê om die vuur aan die brand te kry. Populier vir 'n mooi helder vlam en om met appelkoosstompe te brand, want dé is maar vrekkerig. Basboom of swarthout vir 'n mooi standhoudende vuur en 'n paar lekker taaibosstompe as die wildsboudjie stadig moet kook terwyl hy in die veld rondloop. en jy moet weet om die hout spaarsaam te gebruik en reg in te stoot. Twee stukke hout is soms nes twee mense. Hulle lê daar opsy en smeul, maar sit hulle waar hulle teen mekaar lê en dan brand hulle lekker. Saans kan jy daar sit en pannebrood bak.

Links staan die spens, d.w.s. die rakke met sout en koffie en tee en botter; botteltjies kruie en speserye en takkies vinkel en roosmaryn en tiemie; 'n kardoes knoffel, die melkkanne en wat nog. Dan kom jy by die badskamer, naamlik die vensterlysie waarop die rooi en wit en geel en blou tandeborseltjies staan en waar daar handdoeke aan penne hang. Dié wat wil bad, moet in die voor gaan sit. In die oorkantse hoek kry jy die kinders se slaapkamer: yster-skeepsbanke wat ná die Eerste Wêreldoorlog uit 'n getorpedeerde Union Castle-skip uitgevis is.

In die middel is die eetkamer: 'n groot greinhout-tafel met lang houtbanke, waar die verskillende belangstellings moet wyk vir die brood wat saam gebreek word. Penelopeia het ook haar bêreplekkies vir naald en garing en medisyne vir skurwe voete en appelkoossiekte en snye en brandsere en wat dies meer. Willie Snyman glo net aan kasterolie vir alles, maar ek bring oondbossie ook by. Toe my seuntjie 'n nare pitsweer gekry het, het ek hom gou gesond gemaak met 'n smeersel van fyngemaakte oondbossie en houtas en kasterolie. Klipsweet kan jy in die berg kry, maar ons moes nog nie toevlug neem tot die bobbejaandrek waar ou tant Lenie van praat nie. Sy was nog 'n bietjie van die ou soort en sy het te veel moes verdra. As sy koffie gemaak het, moes die beker bruin aanslaan en hoe kwaaier die koffie, des te kwaaier is tant Lenie. As tant Lenie haar kierie gryp, het die mensdom padgegee.

Oorkant die voetenent van die slaapbanke staan die biblioteekk, 'n stel rakke waarop die suiker- en meelblikke en soms 'n sakkie bossiestee staan. By ons in die berg kry ons heuningbostee. Dis 'n peulblombossie met geel blommetjies wat in die voorjaar bymekaargemaak moet word. Jy sukkel berg af met 'n bondel in 'n osriem en dan kap jy dit met 'n skerp byl of kapmes fyn. Daarna maoet jy dit met 'n groot houtvysel goed kneus, effens nat spat en onder 'n sak in 'n warm solder twee of drie dae laat broei. Dit dit dan oop om uit te droog.

Op ons rakke is daar nie baie boeke nie, want van die boeke moet jy soms 'n bietjie wegkom. Maar tog is daar vir almal iets. Vir die gesin as geheel is daar die Bybel en die Kinderensiklopedie. Daar is stories waarna die kleintjies voor die vuur kan sit en luister en avontuurverhale vir die groteres; en ook Shakespeare se sonnette wat 'n oorblyfsel is van die dae toe Penelopeia nog oor genoeg tyd beskik het om romanties te voel. My drie geliefkoosde boeke is taamlik verskillend van aard. Daar is Thurbow Craig se Schooters' Delight, waarvan ek hou omdat die skrywer 'n  man van sy hande is en weet om 'n ou voorlaaier weer te laat lewe; 'n boek oor die Britse verowering van Tibet, 'n mooi beskrywing van hoe die goeie Britte die stoute Tibettane Britse moraliteit wou inprent, sonder om in te sien dat dit 'n Tibettaanse verowering van Londen sou regverdig; en Herodotus se Geskiedenis, omdat hy so intelligent nuuskierig was Daar is ook 'n Homeros. Homeros is digterlik omdat hy nie skryf oor dinge wat ver en ver verlede is nie, maar omdat hy so smaaklik kon skryf oor wat byderhand was: oor hoe jy 'n vuur vir 'n braaiveleis moet maak, of 'n boom afkap, of 'n bed opmaak. 'n Digter is 'n poietes, 'n man wat dinge maak en daarom stel hy in die maak van dinge belang. Homeros beskryf vir jou hoe Nausikaä die wa vir die wasgoed by haar pa gaan vra het sodat sy haar broers se hemde kan gaan was omdat hulle na 'n party wil gaan. Dit is poësie: om die goddelike werking in die opmaak van beddens, en die uittrap van wasgoed, en die bou van 'n swart skip in te sien. Hoe verder jy van die feë en van die onverstaanbare is, des te nader kom jy aan die poësie. Ek moet byvoeg dat baie mense sommige digters onverstaanbaar vind omdat hulle nie wil verstaan dat hulle oor eenvoudige dinge praaat nie. 'n Ding word poëties wanneer dit werklik byderhand is, wanneer dit aanwesig is. Die digter bou sy huis van die klippers wat byderhand is. Derhalwe is Homeros almal se tuiste en ek lees hom dwarsdeur en onverkort vir my kinders voor. Hulle lol altyd om die volgende deel te hoor.

Die Kersfeeskrip staan altyd onder die boekrakke waar die kleintjies kan inloer. Kersfees is by ons altyd 'n groot geleentheid. Die dag vantevore klap pa sy hoed op sy kop en vat hy 'n boomsagie en dan looop ons tou na die denneboom by die ou huis om op demokratiese wyse die beste tak uit te soek. Dit moet 'n tak wees op die toppie waarvan die Betlehemster van blink papier mooi sal vertoon en waaraan daar genoeg takkies is om presente vas te maak. Dan sleep die kleintjies dit huis toe en ons stel dit in die hoek by die venster op. Nou moet dit met allerhande tierlantyntjies versier word, glasballetjies en kersies en blinkstof en sulke goed. Die kinders verf dennebolle silwer en ook die knoppies van die rooigombome wat dan m et rooi papier gestop word. Niks is uitheems wat byderhand is nie. Ten laaste word 'n lang silwer slag om die boom gekrul, want ons moet nooit vergeet dat die Paradysboom ook die Kersboom is nie. Ons maak die silwer appeltjies self aan die boom vas, aan die takke waaraan die presente hang. Die krip in die grot moet ook gemaak word: Maria en Josef van plasticine, met gewade van gestreepte papier en die veetjies wat rondom die krip moet staan, omsingel van rotsblokke.

As die spul in die kooi is, sleep Pa en Ma die groot koffer na binne waarin die presente gebêre kê. Alles word in mooi papier toegedraai, met naam-etikette, en òf rondom die boom geplaas, òf in die kinders se kussingslope. Die Heilige Kindjie word in die k rip tussen die osse en die esels geplaas en ná middernag maak ons die lantern dood om 'n bietjie te slaap voor die rumoer begin.

In die oggend is dit altyd moeilik om die spul te bedwing totdat dit tyd word om Kersboom te hou. Die gesiggies moet skoon wees en die slaapbanke netjies, en dit vereis wat. Ook moet die huis skoon wees soos die nuwe wêreld. Dis die vrou wat hom skoon hou. Dan word die kers langs die krip aangesteek vir die nuwe lig wat in die wêreld gekom het, Lukas word voorgelees en 'n paar Kersliedjies soos "Stille Nag" word gesing. Soms geluk dit ons dat sommige van die bure ook daar is. Dan kry almal hulle presente. 'n Kind moet leer wat 'n present is, anders sal hy nie leer hoe om die lewe te ontvang nie. Dis 'n blink ding wat maklik breek. Daar is altyd trane omdat sommige goedjies so gou breek. Die industrialis maak rommel omdathy altyd werksure bereken. Net God kan ' n speelding maak omdat Hy oor die ewigheid beskik en dus verstaan hoe om te speel. Hy het nie bedoel dat ons moet breek nie.

In die middel van die oggend hoor jy gesang langs die vlei op. Daar kom die koor met hulle kinders aan, o nder veldmaarskalk Bella, ons Nausikaä wat Maandag onder die lemoenboom was. Aan die kinders se klere kan jy sien dat sy kan was. Merrie Krismas! Daar word stoot-stoot gesing, want ons het mos die nare gewoonte as ons plegtig wil wees, om uit ons middelrif te sing, seker as teken van innerlikheid. Dan word daar met behulp van die ou grammofoon gedans, en Penelopeia bedien koffie en lekkers en ek deel 'n bietjie tabak uit. Almal kom dan om die krippie te bekyk en daar staar die wydoog-snotgesiggies in die Kerslig, terwyl Odusseun hulle iets omtrent die gode vertel. Die Nuwe Testament is mos in Grieks geskryf.

As ek, wat godsonmoontlik is, 'n predikant sou wees, sou ek met grootmense min of meer só praat: "Soos alle ware vertellings begin die Evangelie volgens Lukas nes 'n sprokie met die woorde: 'Daar was in die dae van...'. Jy kan weet dat hierdie sprokie waar is deurdat dit die tyd van die gebeurtenisse so getrou aanstip. Die dinge warvan vertel word, het gedurende die keiserskap van Augustus plaasgevind toe Cirenius goewerneur van Sirië was. Wanneer Lukas oor die woord van God praat, is hy, wt die tye betref, baie presies. 'En in die vyftiende jaar van die regering van Keiser Tiberius, to Pontius Pilatus goewerneur was van Judea en Herodes viervors van Galilea en Filippus, sy broer, viervors van Iturea en die land Trachonitus, en Lisanias viervors van Abilene, tydens die hoëpriesterskap van Annas en Kajafas, het die woord van God gekom tot Johannes...'

"Tensy 'n mens kinderlik gennoeg is om al hierdie mooi name te geniet, voel jy asof jy aan Lukas wil sê: Hoekom roer jy jou nie? God is ewig en waarom lol jy so omtrent die juiste datum van sy handeling. So voel ons ook oor die lang geslagregisters in die Skrif, wat presies wil vasstel net wanneer 'n sekere persoon in die tyd opduik. Dit is asof hulle wil voorgee dat jy nie oor die ewigheid reg kan wees as jy oor die tyd verkeerd is nie. Die moeilikheid met die dwase maagde was dat hulle nie presies daar was waar hulle dan moes gewees het nie; en wanneer Lukas oor die Moeder van die Wy sheid praat, is hy baie presies wat tyd en ruimte betref.

"Dit is alles deel van die geheim van die Vleeswording, waar tyd en ewigheid mekaar oorkruis. God is bra stip op tyd en is stiptelik in 'n bakkrans op Kersnag gebore. Hy het daardie gebeurtenis geplaas net daar waar hy is. God het soos 'n minnaar sy liefde bewys deur betyds by die ontmoetingsplek aanwesig te wees. Derhalwe is daar vir die Christen 'n misterie van die geskiedenis. Wat daaromtrent geheimsinnig is, is dat dit so presies is.

"Die Engelse skrywer Charles Williams het beweer dat die hel nie akkuraat is nie. Die onegte mistikus is in 'n dwaal. Sy gang is 'n dwaalloop. Hy bewoon 'n newelagtige wêreld waar dinge nie omlyn is nie. Hy beweer dat hy nie werklik hier is nie, maar dat sy gees in die Kosmos sweef. Materie, tyd en ruimte is nie werklik nie, sodat jy nie 'n afspraak met hom kan maak nie, veral nie in 'n stal nie. Die vreeslikste van die hel moet wees dat dinge jou ontglip. Jy kan met niemand 'n afspraak maak nie, omdat julle horlosies nie met mekaar ooreenstem nie. Jy weet nie hoe laat dit is nie, omdat jy nie jou horlosie volgens die ewigheid kan stel nie.

"En daarom is Lukas oor datums so presies. Dit is 'n manier van sê dat God mens geword het om ons van die hel te verlos. Die Christendom wil die gebeurlikheid van ons vervlossing by ons inprent en  hy doen dit deur die belangrikheid van ruimte, tyd en materie te onderstreep. Christus is gebore op 'n sekere nag, in 'n seker eplek, van 'n sekere volk. As hy Joods was, kon hy nie Romeins wees nie. As hy donker hare gehad het, kon hy nie ligte hare hê nie. As hy aan bloedgroep A behoort het, kon hy nie aan bloedgroep B behoort nie. Omdat sy bloed alle mense kan red, wil dit nie sê dat jy dit voor die voet vir bloedoortappings sou kon gebruik nie. Die Christendom staan vas op die beginsel: A is A omdat God God is. Dit is wat dinge presies omlyn. Die hel is die afwesigheid van God, die plek waar dinge en mense vervaag. Dit is 'n plek sonder adresse, waar die tye ontwrig is, waar alles altyd op die punt staan om in iets anders vervreemd te word en waar letterlik niks gebeur nie. Dit is die bron van eentonigheid waar die rooi en die blou nie mekaar laat ontstaan nie en wat ewig verveel. Verveling is sonder betekenis.

"Maar in die Stal het iets gebeur: Die lig is van die donker geskei nog meer dan met die Skepping en die verlede is van die toekoms finaal afgebaken. Ons is betrokke in ' n Man en in 'n igen in 'n Handeling wat ons moet nadoen.

"Maar hoe moet ons hom nadoen? Ek is nie in 'n stal gebore nie en as ek nie Joods is nie, kan ek nie 'n Jood wees nie. Is Christus nie onherroeplik outyds nie? Christus was niemand anders nie en ons kan begin deur met onsself rekenskap te hou en wat ons is, te aanvaar. God is Hy wat is wat Hy is. Elkeen van ons is ook wat hy is. Ons is soms te haastig met self-verandering. Die eerste en derhalwe die laaste ding is om onsself te wees. Dit is die ewige geluk wat aan ons beloof is: om te wees soos ons geskape is en om 'n gesig te ontvang. Miskien is ek in Kaapstad gebore, ses voet lank, wiskundig aangelê, met bruin hare en met 'n blymoedige temperament. Deur al hierdie eienskappe word ek tot 'n afspraak met God genooi. Dit is die materie wat Hy wil omvorm en as ek met Hom wil wees, dan moet ek sy wegwysers aanvaar en dit is die konkrete omstandighede wat bepaal wat en waar ek is. Die eerste stap is om met onsself tuis te wil wees, in die tyd van die geskiedenis waarin geen twee dinge identies is nie. Gemeenskap veronderstel eensaamheid en veelsoortigheid.

"Om heilig te wees, is om met ons aanwesigheid ooreen te kom. Vanselfsprekend kan aanwesigheid nooit uit die mode wees nie, alhoewel hy hom volgens omstandighede sal openbaar. Die beoefening van die aanwesigheid van God is eenvoudig die beoefening van toeganklikheid. Die heilige is altyd daar waar hy moet wees, soos die engele op Kersaand, en altyd. Om vas in die wêreld te staan, is die wyse waarop ons ons van die wêreld bevry, want dan staan ons in die ewige Aanwesigheid wat hulle betekenis aan alle tye en plekke skenk. Deur stiptelik in Betlehem te wees. bewys God dat Hy stiptelik orals is.

"As Christene is ons voor die heilige krip aanwesig om Jesus te vereer en om onsselwe daaraan te herinner dat dit ons krip is waar ons gebore is en waar ons werk, en waar ons die lig deur die lantern van ons vlees kan laat vertoon. As hierdie gebruike ouderwets is is dit omdat die krip altyd nuwerwets is en omdat ons in die krip in die nuwe mode omgeskep is. Kersfees is nooit ouderwets nie omdat dit ons toestand in die lig van die hoop so presies vasstel dat ons kan weet dat ons in die aanwesigheid van die onveranderlike Ewigheid staan."

Maar, broeders en susters, ek moet nou afsluit omdat ek die hoender moet stoof, met pruime van die Santa Rosa-pruimboom voor die deur. Dis die vrug wat byderhand is. Op 'n warm dag bewaar Penelopeia sorgvuldig die mite dat 'n mansmens so af en toe die beste kan kook.

Soos jou huis van binnekant is, so sal jy van binnekant wees. Ek ontdekmyself in ons huisie, en ek kom daar tuis. As ek die voordeur oopsluit, dan kom ek weer tot myself. Die huis is ruim van binne en jy kyk teen die kaal rou balke op. In die somer is dit warm en in die winter is dit koud en dit is nie van binne afgewit nie. Jy sien die klein soos hy daar is. Al die meubels het ek self aanmekaar getimmer, van hout wat ander mense gesaag het. Hulle is rof en groot en dienlik en van baie hoeke weet ek nog nie hoe ek van hulle die beste gebruik kan maak nie. Daar is miskien 'n oorvloed van bakkies en borde en kommetjies en sulke goed, maar jy weet nooit of jy nie gaan mense kry nie. ek verbaas my soms hoe baie besoekers ons daar kan inpak, as hulle gewillig is om mee te werk. Jy kan 'n huis nie net vir jouself bou nie. Net 'n hut of 'n paleis is groot genoeg. Dit is net in hierdie bourgeois vratjies waar jy ontuis voel, met hulle nagemaakte "mooi" meubels, wat net soos ander se "mooi" meubels moet lyk, of wel 'n bietjie "mooier". Oormôre is hulle voeë wankelrig en die wind van die stoffering, wat so onnodig plek opneem, is uit. Jy moet kaal wees om te kan ontvang.

En soos jou huis van binne l yk, so sal die buitewêreld vir jou voorkom. Daarom is jou stoep en jou trappies so belangrik. Hulle is die bemiddelaars tussen jou huis en die wêreld. Alle tretjies is hemellere. Op die stoep is jy binne en buite. Daar gaan die wêreld vir jou oop en oor die stoep kom jy weer binne en daar vee jy jou voete af, want die wêreld is soms modderig. Maak jou stoep dus breed sodat jy kan leer om binne en buite te wees.

Dit het lank geduur voordat ons 'n stoep kon laat bou. Tyd het ontbreek. Ons ou treetjies was smal en steil en skamel en het nie 'n welkom aangebied nie. Op sulke dinge moet jy soms wag, want dit is nie altyd maklik om binne met buite te versoen nie. Toe kry ek 'n ou bruinman wat onbetroubaar genoeg was om 'n sekere meegevoel te wek. Ons  het die penne ingeslaan, ook waar die pilaartjies moes kom, want 'n prieel moet daar wees, sodat ons die sap van die druif in ons huis kan proe. Nou staan dit daar. Die pilare is skeef en krom en nie waar die penne ingeslaan is nie. Hulle lyk 'n bietjie neolities, maar aan die ontvangs sal dit niks afdoen nie. Die treetjies, soos paslik is, het 'n maat en het ek self gebou. Dit is wonderlik hoe baie klippers in jou treetjies moet inpak om hulle wyd en stewig te kry. Daar het kinderspoortjies in die nat sement gekom, maar kan Penelopeia saans daar sit en stories vertel, soos voorheen, wanneer sy nie moet weef nie.

Maar ek moet tot 'n end kom. Agterstel moet ook in die kraal kom. Ons leef in wisselwerking met die wêreld en jy kan nie inprop sonder om ook uit te prop nie. As kos van belang is, is die eindbestemming van kos ook van belang. Daar is niks saakliks wat nie ook poëties is nie en ons moet om die huis stap na agter toe as ons nog ' n bietjie wil dig. Daar is niks wat ek wil dig hou nie.

Agter die huis, bokant die kweperbos, waarmee die agterstelle van die kinders ook nie onbekend is nie, staan daar 'n kleinhuisie. Dit is van die ou soort met 'n vyfgellingkonka, wat by sommige stedelike besoekers nie baie populêr is nie. 'n Stedeling wil mos nie van uitprop weet nie en derhalwe is baie van hule geestelik so hardlywig.

Ek moet erken dat ek en Penelopeia hieroor 'n bietjie gestry het. Hierdie paleisie wat almal ontvang, het nie 'n deur gehad nie. Hy het tot vandag toe nog nie 'n deur nie. Penelopeia beweer dat mense kan inkyk en ek beweer dat 'n mens kan uitkyk, nogal op Saptouskop en Tweerivier. My bewering is dat die uitsig mooier dan die insig is en dat mense maar moet leer om hulle oë tot die heuwels op te hef. Die manlike verstand seëvier tot dusver, eenvoudig omdat daar geen verandering sonder die manlike hande sal kom nie. In alle geval kan jy altyd sit en sing as jy kennis wil gee van waar jy is. Ook Rots der Eeue.

Hier is jy ook in 'n situasie. Jy kan nêrens gaan sit sonder om in 'n situasie te wees nie. Toe Cartesius gaan sit het om te mediteer, was hy ook in 'n situasie wat hy nogal goed beskryf, maar in die bepaalde situasie waar ons nou van praat, behoort hy tot ander gevolgtrekkings te gekom het as dié wat hy bereik het. 'n Mens is in 'n situasie wanneer daar wisselwerking tussen hom en die wêreld is en waar hy nie 'n deur tussen homself en die werklikheid plaas nie. Wat binne is, is buite en wat buite is, is binne. Die uitsig bevorder die uiting. Volgens Freud is hierdie soort uiting karakterbepalend en lewensbepalend, 'n insig waardeur hy sommige mense, veral die geldhase, so mooi tipeer dat ons 'n mate van toestemming aan hom kan toeken.

Hierdie bepaalde situasie is vir 'n skrywer van groot betekenis. 'n Skrywer moet tot insig omtrent sy uitsig kom en dan uiting aan sy insig gee. Wat hy skryf,  is 'n soort afwerpsel. Hy verteer wat die wêreld hom aanbied en dan moet hy daarvan ontslae raak. Hy soek 'n uitgewershuuis. 'n Goeie skrywer skryf uit inwendige druk. Hy het oorweldigende indrukke. En as hy van hulle ontslae geraak het, het hy met hulle afgehandel. Hy is nou vir nuwe indrukke gevoelig en as hy volwasse is, sal hy nie soos 'n kind in die ou uitdrukkinge te danig belang stel nie. Waarvan hy ontslae geraak het, sal ander siele bemes, maar in 'n sekere sin is dit nie meer syne nie. Werk wat jy afgehandel het, moet jy begrawe en jy moet jou nie te veel aan die resensies steur nie. Sommige resensente is soos brommers: hulle leef op wat hulle nie self geskep het nie.

Sommige mense wil mos nie van hierdie dinge hoor nie. Hulle verkies die kanseltoon van dominee Manel wanneer hy hom verlos deur nagemaakte heuning deur sy mond uit te skei. My estetika berus op ander steunpunte, op Conrad byvoorbeeld, wat so gemaklik gesit en skrywe het dat die dringende geklop van die gesin hom nie daarui kon kry nie. Ook op Thomas Aquinas wat van sy grootste werk gesê het: mihi videtur ut palea. Dit het hy gesê ndat hy deur mistieke insig verlig is en dit word gewoonlik verteel: dit lyk vir my dis kaf. Wat het hy deur kaf bedoel? Palea sou in Duits Mist heet, d.w.s. die strooi wat in die stal gegooi word, sodat alles weer maklik verwyder kan word. Daar bestaan 'n Duitse uitdrukking: du redest Mist, wat hierdie soort strooi aantoon en dit is wat 'n Middeleeuse monnik ook in gedagte sou gehad het. Ons moet maar weer terug na die stal waar die Woord gebore word.

Ons ons heet die opstalletjie agter die huis die Graaf van Emmervol. Vandaar die uitdrukking:he's out for the count! Hy kry sy naam vanaf die feit dat jy die graaf se graf met 'n graaf moet grawe. Dit is ook maar Pa se werk. Die man wat sy huis bou, grawe ook sy graf en ons pad huis toe is deur 'n poort in die grond. Penelopeia is soms saakliker as ek, want dié wat vol lewe is, kan die dood ook beter aanvaar: Moeder Aarde is 'n wyse vrou. Verdiep jou maar in haar, ook met 'n graaf.

In hierdie hoofstuk het ek met 'n lykbesorger uitgegaan en ek kom met ene tuis. Ek moet kop en stert van my tema maak en as daar gate in my hoed is, wat dan van my broek? In ons genesis sit ons eksodus en vir openbarings moet ons ook nie skrikkerig wees nie.

Vertellers 2

Die tweede groot verhaalboek

deur Merwe Scholtz

Radio Kuber Kontrei is 'n gratis Afrikaanse Agtergrond musiek kanaal. Kliek op ► links en luister via TuneIn. Maak asb. die ♥ rooi! deur ons as 'n FAVOURITE te merk. Vind ons APP op Google Play