
Streng gesproke moes oom Apie die swartskaap in ons familie gewees het, maar hy had 'n manier om jou teen wil en dank van hom te laat hou. Hy was 'n aweregse ou siel, maar voor jy jou kom kry, het jy daarvan afgesien om hom sy sondes toe te reken. Jy wou nog kwaad word, dan het hy jou weer laat lag.
My mense is doodgewone mense. Elkeen met syambag of sylappie aarde. Harde werkers, al sê ekdit nouself. En geen muisneste nie.
Aardse mense is hulle. Prakties en nuger en pligsgetrou en sonder fieterjasies. Jy doen 'n ding só en nooit anders nie. Reg is reg en verkeerd bly nou eenmaal verkeerd. Jy doen jou werk, trou, sorg vir jou gesin, word diaken of ouderling, gaan kuier Sondagmiddag, bepaal jou by jou sake. Jy is so gemaak en solaat staan en so hoort dit ook. Die lewe is doodmaklik.
Net oom Apie was anders.
Om mee te begin, het hy nooit getrou nie. Daar was 'n storie watniemand my destyds wou vertel nie. Ek moes dus aflei dis nie 'n storie vir kinders nie. Maar 'n woord hier en 'n woord daar het my laat glo die storie het te make met een van oom Apie se jeugliefdes. Miskien het syhom lelik in die steek gelaat; miskien hy vir haar. Ek weet nie.
Ten tweede het oom Apie selde gewerk. Soms het jy gehoor hy help uit by 'n slaghuis; dan weer het jy maande lank niks van hom gehoor nie. Die volgende hoor jy hy sit hand by in die of daardie plaaswinkel. Maar dis te betwyfel of hy ooit vir dié instaanwerkies betaal is, wanthy sousommer oornag weer wegraak sonder dankie of verduideliking.
Vriende had hy baie. Almal in die kontrei het hom geken en by almal was hy welkom. Dit moet hy goed geweet het, want hy sou maklik een oggend uit die bloute opdaag, 'n koppie tee bedel, en dan drie maande bly. Maar gee hy oplaas pad, was al die los werkies in en om die huis wat maande ongedaan gebly het, afgehandel. Die messe was beslyp, daardie stukkende stoel was reggemaak, die agterdeur wat altyd so moeilik toegemaak het, kon weer sluit, die skarniere hetn ie meer gepiep nie, en die buitekamer se dak sou nie meer lek nie.
Oom Apie was nie lui nie. En ook nie betroubaar nie. 'n Afspraak moes jy nooit met hom maak nie; hy kon oornag van plan verander. En sy stories moes jy met 'n knippie sout neem; hy had 'n vrugbare verbeelding.
Maar lag sou jy wel as hy in die geselskap is. Want al sy stories was snaaks, al het hy nie self so gedink nie.
Hy was kort van postuur en nogal geset en baie bles en bokant sy haakneus het 'n draadraambrilletjie sy ruie wenkbroue uit sy ondeunde oë gehou. En daardie oë, ja - hulle was altyd wakker en op soek na iets; 'n situasie om uit te buit, 'n poets om te bak. Maar juis omdat hy so wakker was, sou jy hom nie maklik in eie munt kon terugbetaal nie. Hy had 'n slag om uit die knyp te bly. Word hy in 'n krisis gedompel, is dit nie lank nie of hy verhang die bordjies.
Ek sien hom nog sit en lag dat sy magie so skud.
Siek het ons hom nooit gesien nie, en dit het hy toegeskryf aan die feit dat hy so baie stap, dat hy nie bekommernisse en verantwoordelikhede het nie, en dat hy sy maag gereeld skoon hou. Nie met kasterolie of wat ook al nie - net rivierklippies. Wat vir 'n volstruis goed genoeg is, is vir Apie ewe goed, het hy geglo. Elke maand, en wel op die eerste dag van die maand, sou hy sewe klein spoelklippies insluk.
Waar hy sy klere vandaan gekry het, weet niemand regtig nie. Want hy was altyd skoon aangetrek, sy knope was almal daar, sy sokkies was gestop en sy stewels was blink. Het die jeugliefde dalk nog iewers in die kontrei gewoon?
Ons sou later weet.
Daar was natuurlik stories oor diamante, maar waar sou iemand nou in ons afgeleë streek diamante kon bekom? Nee, die diamantstorie was waarskynlik maar net een van die baie mites wat daar mettertyd om oom Apie ontstaan het.
Nie alles in hom was met die logika te deurgrond nie, en waar die logika vasval, daar begin die legende.
Ons kinders was almal gek na hom. Miskien om sy potsierlike figuurtjie, of miskien omdat hy sulke mooi stories kon vertel. Stories van jakkals en wolf en skilpad en krokodil en die skelm hiëna. Stories wat hy uitgedink het terwyl hy van die een plek na die ander voetslaan. Vir die grootmense het hy ook stories vertel, maar hy het ons altyd uitgestuur buitetoe en dan het die tannies sommer by voorbaat al begin bloos of aangebied om te gaan koffie maak.
Ek glo nie oom Apie was ' n engeltjie nie.
Toe, een Sondagmôre - dit was nog voor ontbyt - kom oom Apie by ons aangesit. Letterlik. Met 'n stoel oor die skouer. Hy was al ouer as sestig en swaar van lyf en die stoel, het hy verduidelik, is vir die rus. Hy loop 'n entjie en dan sit hy weer 'n slaggie. Daar isnie oral 'n klip langs die pad nie en as hy op die grond moet gaan sit, dan sukkel hy weer om op te staan.
Hy was die hele dag by ons en heeldag was hy en Pa en Ma druk in gesprek. Iets het gehaper, maar ek kon nie mooi vasstel wat nie. Daar was kort-kort 'n gelag in die voorkamer, soos altyd as oom Apie by was, maar dit het my nie om die bos gelei nie.
Ek sou eers jare later die storie hoor. En ook nie die volle storie nie.
Daar wás 'n jeugoliefde, ja. Maar die ding het nie mooi uitgewerk nie en sy nôi is met 'n skatryk boer getroud. Haar plig was by haar man, maar haar hart was by oom apie. Veertig jaar lank het hy haar gereeld gesien. Nee, doodonskuldig. Hulle sou sommer gesels en sy sou vir hom kouse stop en knope aanwerk. En dit het hom gepas. Vir 'n gebore losloper is dit 'n bedekte seën as sy enigste liefde per abuis met iemand anders voor die kansel beland.
Maar so met die gesels en die kousestoppery het oom Apie skynbaar ook al sy geheime met haar gedeel. En ons het rede om te glo nie al sy geheime was ewe eerbaar nie. Hoe anders verklaar 'n mens die res van die storie?
Op 'n dag, met oom Apie al in die sestig, kom sy eertydse geliefde se ryk man toe te sterwe. En sy sit met al die geld. En toe oom Apie een goeie môre weer gaan kuier, toe wil sy veertig jaar tevore se fout regstel en sy verklaar haarself bereid om met hom te trou. Sommer so. Uit die bloute.
Oom Apie is glo sonder sy gestopte kouse daar weg.
Veertig jaar lank was hy 'n swerwer, kon hy kom en gaan soos hy wou, en nogtans die voordele geniet van 'n vrou se versorgende hand. Maar omdat sy voor rykdom geswig het, het oom Apie geleer om geld te verpes. Hy wou nie geld hê nie; geld was vir hom 'n oorlas. Veertig jaar lank was oom Apie sy eie baas, aan niks ofniemand verkneg nie. En toe gaan sy eertydse geliefde se ryk man heen en bederf alles.
Miskien het sy eertydse geliefde veertig jaar lank skuldig gevoel. En miskien het oom Apie heelwat gedoen om daardie skuldgevoelens wakker te hou. En miskien het hy sy groot liefdesteleurstelling veertig jaar lank as gerieflike verskoning gebruik om oujongkêrel te bly. En miskien het niks hom beter gepas as dié verskoning nie. Maar toe die verskoning verval, toe sit oom Apie in die hek.
Die weduwee het haar egter nie van stryk laat bring nie. Sy het hom met liefde en geskenke begin oorlaai en wou haar nie aan sy nee steur nie. En toe hy hardkoppig bly, het sy begin dreig om veertig jaar se gedeelte geheime uit te lap.
Dit was toe dat oom Apie die Sondagoggend met sy stoel by ons aangesit kom. Buite raad. Hy wou Pa en Ma se advies hê en ek vermoed Pa en Ma het hom aangeraai om dan maar liewer te trou eerder as om in die skande te beland.
Gewoonlik as oom Apie by ons oorbly, het hy saam met my in die buitekamer geslaap. Maar nie in die bed nie. Hy het in 'n stoel geslaap. Die bed, het hy gekla, maak sy rug seer.
Hy is die aand vroeg kamer toe en toe ek later daar aankom, toe sit hy al in sy stoel. Maar hy was spierwit en sy gesig was vreemd. Ek het my buite weste geskrik en die lig afgeskakel. En in die maanlig het ek my 'n oomblilk verbeel en sien sy ronde magie skud van die lag soos altyd as oom Apie iemand 'n poetsgebak het. Maar ek was nie seker nie en ek het Pa loop roep.
Hulle het my die aand in die huis laat slaap en drie dae later het ons een van die grootste begrafnisse in die geskiedenis van ons kontrei gehou.
Oom Apie was uit die verknorsing uit.
H
Hennie Aucamp