Dit was 'n vreeslike dreigement daardie, want geld was skaars en daar was nie veel in hul spaarbussies nie.
Natuurlik het Nellie gou weer haar Ma se woorde vergeet en net die volgende oggend het sy na Mammie se kamer gehardloop: "Mammie, Mammie, Jan het melk op die tafeldoek gemors."
"Tien sent asseblief," het Mammie gesê.
"Tien sent, waarvoor?" het Nellie verbaas gevra.
"Vir nuus dra."
Arme Nellie het baie sleg gevoel, maar sy moes maar haar bussie gaan haal, 'n kosbare 10c uithaal en dit vir Mammie gee. Selfs toe het sy nie lank onthou nie. Dieselfde dag nog het sy verklik dat Manie haar voorskoot geskeur het.
"Tien sent asseblief," het Mammie gesê.
"Waarvoor hierdie keer?" het Nellie gevra.
"Jy't weer nuus aangedra."
Nellie het weer haar bussie gaan haal en nog 'n tiensentstuk uitgehaal. Maar weet jy, binne tien minute was sy weer by Mammie met nuus.
"Mammie, Mammie, Kleinboet het prente geteken in Marie se nuwe, skoon boek."
"Tien sent asseblief Nellie."
"Arme ek!" het Nellile huilend gesê, "moet ek al my geld weggee? Hier is amper niks oor nie."
"Jy kan ophou net so gou as wat jy wil, moet net nie meer kom nuus aandra nie."
Wel, Nellie het nie dadelik opgehou nie, maar toe sy die heel laaste 10c uit haar bussie gehaal het vir Mammie, het sy besluit - terwyl sy bitterlik gehuil het - om regtig te probeer om nie meer nuus aan te dra en te gaan klik nie. Dis vir haar 'n duur les gewees.