Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
Net 'n rukkie Annie
"Annie, Annie!" het Mammie geroep. Toe het sy 'n oomblilk gewag. Geen antwoord nie.
"Annie, Annie...ie!" het Mammie weer geroep en toe deur die kombuisvenster gaan kyk wat Annie doen.
"Net 'n rukkie, Mamma," het 'n fyn stemmetjie oor die werf gekom, "ek kom nou-nou."
"Maar ek wag vir jou, jy moet nou dadelik kom."
"Net 'n rukkie," het die onsigbare Annie geroep.
"Ag wêreld!" het Mammie gesug. "Ek is nou al net terdeë moeg daarvan om haar altyd te hoor sê 'Net 'n rukkie'.
Wag net dat sy vandag in die huis kom!"
Vyf minute het verbygegaan. Toe tien minute. Maar al wat kom, is Annie.
"Annie!" het Mammie geroep en sy het weer deur die venster gaan ky. "Kom dadelik hier!"
"Net 'n rukkie!"
"O, as ek nie nog...." het Mammie ergerlik gesê.
Maar op daardie oomblik het Annie se gesiggie om die hoek van die kolekamer verskyn en sy het so liefies geglimlag, dat Mammie nie geweet het wat om te sê nie.
"Hier is ek," het Annie vriendelik gesê. "Het Mamma my geroep?"
"Jy het my hoor roep," het Mammie gesê terwyl sy haar bes probeer om kwaad te lyk. "Hoekom het jy nie dadelik gekom nie?"
"Ek was besig...ek was besig om my pop se kleertjies te was," het sy geantwoord.
"Ek weet jy was besig, maar as Mammie jou roep, moet jy dadelik gehoorsaam. Dit is baie lelik om my eers tien minute te laat wag voordat jy kom."
"Ja, Mamma."
"En moenie dat ek jou weer hoor sê 'Net 'n rukkie nie', Annie!"
"Nee Mammie."
"Nou ja, bring dan hierdie eiers weg vir tant Sannie."
Annie het die mandjie geneem en by die hekkie uitgegaan, terwyl sy saggies iets sing. Maar op pad na tant Sannie het sy weer vergeet wat Mammie netnou vir haar gesê het.
Toe sy weer by die huis kom, is sy reguit na haar wasbalie agter die kolekamer. O, hoe lekker is dit nie om te was en te vryf net soos Mamma nie! Sy het haar eie wasgoedlyn gehad, 'n klompie van Mammie se wasgoedpennetjies en 'n regte tafel. Geen wonder dat sy so gelukkig gevoel het nie!