En toe het daar weer 'n ander snaakse ding gebeur. 'n Kleiner hondjie - die huishondjie - het op die toneel verskyn. Hy het daar aangehardloop gekom, heeltemal tuis. Ek was verbaas dat hy dit doen.
"O dis heeltemal in orde," het die dame gesê. "Hy is die enigste hond wat ons in die binneplaas toelaat. Die ander weet dat hulle buite moet bly."
"Wel," het ek gesê, "so iets het ek nog nooit gesien nie!"
Die laaste ding wat ek van daardie besoek onthou, is daardie ry groot honde wat soos 'n regiment soldate daar in die poort gestaan het.
Toe ek daar weg is, het ek gedink watter aangename plek hierdie wêreld sou wees as al die kinders maar net helfte so gehoorsaam wou wees as daardie honde! Wat 'n seën sou dit wees as ouers maar net hoef te sê "Gehoorsaam!" om gehoorsaamheid te verkry van al die kinders.
Hoe staan sake in julle huis? Gehoorsaam julle altyd dadelik, sonder om te murmureer? Nie altyd nie? Wel, dan wil ek vir julle 'n teks lees - dit is die derde vers van die eerste hoofstuk van Jesaja: "'n Os ken sy besitter en 'n esel die krip van sy eienaar, maar Israel het geen kennis nie, my volk verstaan nie."
Dit wil sê dat die diere, in God se oë, soms meer verstand het as mense. Hulle weet wie hulle voer, maar kinders dink soms nie daaraan nie. Die diere probeer om die base wat hulle voer, getrou te dien, maar daar is kinders wat Pappa en Mamma baie oneerbiedig behandel. Wat moet God van ons dink as ons so handel?
Ons moet nooit toelaat dat daar gesê word dat die diere beter is as ons nie! Volgende keer wanneer Mammie gehoorsaamaheid wil hê, moet ons dink aan daardie honde waarvan ek julle vertel het - en onthou, julle moet nie eens een tree oor die lyn trap nie!