'n Poort deur die koue

Jan spies
(ter nagedagtenis: Johnny Rose)

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Vertellers
Deel twee


deur merwe scholtz

Vroeër dae was daar op Keimoes 'n sersant Jôbie Louw wat die arm van die gereg baie ver moes uitstrek om te kon bykom tot by die uithoeke van die yslike gebied wat onder sy gesag geval het. En wat dit vir hom glad nie maklik gemaak het nie, was dat sy vinnigste ryding bloot sy perd was; dit was lank voor die dae van polisiemotors.

Onder dié omstandighede kry hy laat een namiddag berig van 'n moord op Kenhardt. En hy  moet dringend soontoe om die saak te ondersoek.

En sersant Louw vertel dit was net mooi in die middel van een van die bitterste winters wat daardie geweste kon beleef het. En hy sou dwarsdeur die nag moes ry om die anderdagmôre op Kenhardt te wees.

Hy maak toe gou klaar en teen die koue van die nag koop hy 'n bottel brandewyn en steek dit in die saalsak. En met nog so 'n stukkie son val hy in die pad.

Maar sommer vroe-aand is dit al so koud dat sy tande kletter. En hy hou stil en hy klim van die perd af en rek so bietjie litte en haal die bottel uit die saalsak.

Maar net wat hy die bottel wou oopmaak, hoor hy iets met die pad aankom. En hy luister en hy hoor dat dit ook 'n pêrreruiter is. En hy druk die bottel trug in die saalsak en nie lank nie, of die ander reisiger word duidelik in die skemerdonker.

Van die grond af groet Jônie Louw: "Naand, vriend: ek is sersant Jônie Louw van Keimoes."

Die donker gedaante op die ander perd groet terug met 'n ouerige stem: "Naam, Sersant. Ek is pater Hoeflies en ek hoef seker nie by te sê: 'van Keimoes' nie."

"Nou ja, ek is op pad Kenhardt toe om 'n moord te ondersoek," sê sersant Jônie Louw. "Miskien is die geluk aan my kant, sodat ek môre die moordenaar kan vastrek. Sonuit wil ek aan die werk spring."

"Ek is ook op pad Kenhardt toe," sê pater Hoeflies. "Oor dieselfde moord; ek moet die vermoorde gaan begrawe."

En daar ry hulle twee toe saam - die dienaar van die gereg en die dienaar van die geregtigheid.

Maar vir sersant Jônie Louw verloop die eerste ent van die ries met gemengde gevoelens. Die pater gesels lekker en dit maak die nag korter. Maar die bottel brandewyn sit net skuins agter hy wat Jônie Louw is, se regterboud, onbereikbaar ver weens die pater se teenwoordigheid.

Hy is baie bly, sê pater Hoeflies dat sersant Loouw vir hom gewag het, toe hy hom agter in die pad hoor aankom het. Want die pad Kenhardt toe was vir hom nog altyd 'n eensame pad. Dit laat hom dink, sê hy, aan die pad van Jerusalem na Gasa, waarop Filippus by die hofdienaar van Ethiopië uitgekom het. Dit is 'n eensame pad, staan daar geskrywe. Dit kon net sowel die pad tussen Keimoes en Kenhardt gewees het, as dit van die eensaamheid moes afhang, sê pater Hoefllies.

Ja, sê sersant Jônie Lou, die pad tussen Jerusalem en Gasa ken hy nié, maar die een tussen Keimoes en Kenhardt is so eensaam lat hy éénsaam is. Daaroor kan daar sowaar, indien nie wragtag nie, geen twyfel wees nie.

"Ja," sê pater Hoeflies, "teen die eensaamheid het ons vannag darem mekaar se geselskap. Maar nou is die pad, pleks van eensaam, so uitermate kóúd." 

Dis toe die pater van die koue praat, het sersant Jônie Louw agterna vertel, dat dit hom voel of sy weerstand teen die koue heeltemal knak. Sy keel brand en die klamte aan sy neus is pure ys en sy bene is van sy knieë af morsdood dwarsdeur die rybroek se pype en deur die kamaste en sy voete is so dood dat dit vir hom smaak of hy met twee sementstene in die stiebeuels trap.

En dit was tóé dat sersant Jônie Louw uit die kloue van die bevriesing só smag na 'n paar slukke brandewyn, dat sy vrees oor die pater dalk mag sê, 'n nietigheid word.

"Pater, ek weet nie wat Pater daarvan sal dink nie, maar ek het 'n botteltjie brandewyn teen die koue in my saalsak gesteek."

"Het jy?" vra pater Hoeflies opgewonde. "Brandewyn is nét die regte ding teen hierie koue. Maak oop; net 'n paar slukke is genoeg om 'n man weer vir 'n ruk op die perd te hou."

En sersant Jônie Louw trek die bottel aan sy nek uit die saalsak en hy draai die prop af en hy gee die bottel vir pater Hoeflies aan. En pater Hoeflies gee 'n sluk of twee en hy gee die bottel terug en sersant Jônie Louw gee 'n sluk of drie en hy draai die prop op en steek die bottel behoedsaam in die saalsak trug.

En sersant Jônie Louw vertel daar kom toe sommer weer gevoelte in sy lyf; dit smaak sommer direk met die brandewyn se warm grondvat in sy maag of sy hart weer die bloed tot in sy voete gepomp kry. En hulle ry en die gesels kry van voor af smaak.

Maar die lekkerte het nie waffer lank aangehou nie. Dit was sommer eensklaps weer koud - so asof die koue die ou brandewyntjies heeltemal laat verslaag het, veral sersant Louw. En hy sê: "Pater, dit voel my ek het al weer iets uit die bottel nodig." Dit voel vir hom ook hy het weer behoefte aan 'n bietjie ekstra hitte, sê pater Hoeflies.

En sersant Jônie Louw trek die bottel uit die saalsak en hy draai die prop af en hy gee in die donker vir die pater kans om 'n sluk of drie te gee en hy wat Jônie Louw is, vertel hy gee toe self so 'n sluk of vier aan die bottel voor hy die prop opdraai en die bottel by die saalsak se bek indruk.

En hulle gesels. En hulle geséls. Want dis of die winter 'n tree agteruit gee.

Maar nie vir te lank nie, of dit smaak of die koue met nuwe mening in die lywe opslaan van die voete se kant af. en sersant Jônie Louw sê vir pater Hoeflies hy sal moet verskoon, maar dit voel vir hom of hy op twee doodgespuite tandvleis sit - so koud is sy stêre. Hy dink hulle moet weer 'n slag die bottel nader kry.

En pater Hoeflies sê dit smaak vir hom ook of hy op 'n stuk lyf sit wat kant en klaar afgesterwe het.

En sersant Jônie Louw kry die bottel in die hande en hy draai drie prop af en hy gee aan, dat die pater homself na behoefte kan laaf. En hy vertel: Die pater gee toe so 'n sluk of vyf, ses aan die bottel en hy self help hom met 'n sluk of ses, sewe. En hy sorg dat die bottel die veiligheid van die saalsak bereik.

"Een ding moet jy van brandewyn en koue leer," sê pater Hoeflies vir sersant Louw, "as jy jouself eenmaal warm gekry het, moet jy sorg dat jy warm bly, of jy draai op die randjie van verkluim om.

"Ek het hoeka dié idee gekry, Pater," sê sersant Jônie Louw.

En hulle vergeet van die koue en die brandewyn en hulle ry en gesels 'n gat in nog 'n stuk van die nag in. En hulle bly vind mekaar wónderlik met als waaroor hulle gesels, vertel sersant Jônie Louw.

Hy moet verskoon, sê die sersant later vir die pater, maar hulle sal eers 'n slag moet stilhou; dit smaak vir hom die koue slaan op sy blaas. Dit smaak vir hom ook die koue begin dwing hom grond toe, sê die pater.

En hulle hou stil en hulle klim af en hulle staan langs die perde en in die sterlig sien hy, vertel sersant Jônie Louw later, hoe die pater met sy ander hand aan die saal vashou.

En daar op die vaste aarde maak hulle die bottel leeg en sersant Louw gooi hom in die donkerte in van die pad af weg.

En hulle sit voet in die stiebeuel en hulle gryp die pad en hulle gesels. En sersant Jônie Louw sê vir die pater die nag vir hom so wonderlik mooi. En die pater sê die nag is vir hom net so wonderlik mooi.

En sersant Louw sê dit lyk vir hom elke ster het 'n stert en pater Hoeflies sê dit lyk vir hom ook elke ster het 'n stert. En hulle gesels oor die sterre met die sterte.

En die pater sê hy dink net die ster van Betlehem was 'n groter ster met 'n groter stert.

En toe sê sersant Louw dit lyk vir hom die sterre se sterte krimp en die koue word groter. En pater Hoeflies sê dit lyk vir hom ook of die sterre se sterte krimp met die groter-word van die koue.

En later, so vertel sersant Louw, toe sien hy weer die sterre in alle helderte, maar toe voel hy ook die koue in al sy skerpte.

En hy sê vir pater Hoeflies hy dink hulle moet 'n ruk stilhou en eers 'n vuurtjie aanslaan.

"Nee," sê die pater, "ek het ander raat." En hy vroetel in sy saalsak.

"Ek het óók 'n botteltjie vir die koue saamgebring!"

"Pater, Pater," sê sersant Jônie Louw, "ons ry dieselfde pad oor dieselfde moord en ons dink presies eners oor ons verwaarlosing in die koue."

"Ons dink presies eners oor ons verwaarlosing in die koue weens 'n ander man se moord," stem pater Hoeflies saam.

En sersant Louw vertel hy slaan toe nie eens meer ag op hoeveel slukke hy in vergelyking met die pater aan die bottel gee nie; hy sluk net. Want die warmte is min en die koue is groot. En die pater doen insgelyks.

En hulle ry en hulle gesels. en die pater sê hulle moet die hittetjie beskerm wat hulle het en hy trek die bottel uit vóór die koue nog sy krag kan wys.

En hulle gesels.

En sersant Louw sê vir pater Hoeflies dit lyk vir hom of die sterre se sterte weer aan die groei is. En pater Hoeflies sê dit lyk vir hom ook of die sterre se sterte weer aan die groei is.

En hy trek weer die bottel uit sy saalsak. En hulle máák hulle maak teen die koue.

En sersant Jônie Louw sê vir pater Hoeflies dit lyk vir hom die s-terre s-e s-terte s-it s-kuins onnertoe. En pater Hoeflies sê dit lyk vir hom ook die s-terre s-e s-terte s-it s-kuins onnertoe, maar hy dink nog s-teeds die s-ter van Betlehem was groter en s-y s-tert s-kuinser en s-ommer baie langer. En sersant Jônie Louw sê hy s-tem s-aam die s-ter van Betlehem s-e s-tert was s-kuinser en s-ommer baie langer.

Te min," vertel sersant Jônie Louw, "want ons is toe so eie met mekaar - hy sê vir my 'Jônie' en ek sê vir hom 'Pappie'."

En pater Hoeflies laat gaan sy  hand saalsak toe.

En hulle sorg dat die koue weeskant toe weggedruk bly soos die walle water van die Rooi See toe die Israeliete daar deur is. En die pad is 'n warm poort deur die koue tussen Keimoes en Kenhardt.

Dit lyk vir hom die s-sterre s-se s-sterte s-staan nou s-skiersregop s-soos s-stoks-stertmeerkaaie s-s'n, sê sersant Jônie Louw vir pater Hoeflies.

Dit lyk vir hom ook die s-sterre s-se s-sterte s-staan s-skiersregop s-soos s-stoks-stertmeerkaaie s-s'n, sê pater Hoeflies.

En toe begin die dag dofweg breek. En die koudste koue van die nag maak mening. En onder die perde se pote kraak die ryp. En pater Hoeflies se hand sukkel om sy vasvat om die bottel se nek te kry.

En die dienaar van die gereg en die dienaar van die geregtigheid knik vir mekaar en hulle deel die brandewyn wat in die bottel skommel.

En pater Hoeflies stoot die bottel rooidag-kant toe weg van die perd af.

"Lê daar, j-jou n-nutteloos-se k-krrruik," sê hy.

En die twee man ry. En hulle gesels.

En sersant Jônie Louw sê vir pater Hoeflies hy s-sweer die s-sterre h-het ook r-ryp oorr gekry, want h-hulle iss v-vaal. En pater Hoeflies sê ass s-sweer hom geoorloof wass, s-sou h-hy ook s-sweer dit het onners-stebo geryp, want d-die s-sterre iss assv-vaal.

En toe kom die son uit en Kenhardt lê reg voor die twee manne aan die einde van die pad waarvan daar nie baie gelykes is nie. Maar die twee is nog nie náby die einde van hulle gesels nie. Hulle práát.

En sersant Jônie Louw vertel: Toe hulle so al pratend Kenhardt inry deur die koue môre waarin die vaste lug elke woord ver dra, toe kom die mense uit hulle huise om te kyk watter yslike klomp luidrugtige vreemdelinge daar opdaag met 'n lawaai wat nie hóórt in 'n dorp waarin moord en begrafnis die geselskap is nie. "Maar daaraan steur ek en pater Hoeflies ons te min.

Vertellers 2

Die tweede groot verhaalboek

deur Merwe Scholtz

Radio Kuber Kontrei is 'n gratis Afrikaanse Agtergrond musiek kanaal. Kliek op ► links en luister via TuneIn. Maak asb. die ♥ rooi! deur ons as 'n FAVOURITE te merk. Vind ons APP op Google Play