Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
'n Hele brood asseblief
Ná die groot revolusie in Rusland, het die mense van daardie land baie gely. Baie duisende is van die honger dood. En duisende ander wat voorheen volop gehad het, het bedelaars geword. Die kinders kon dit nie verstaan nie, want die verandering het so skielik gekom. Daar was seker baie van hulle wat hulle destyds wou dood huil.
Ek wil julle van een gesin vertel wat veral 'n baie swaar tyd deurgemaak het. Die Pappa het sy lewe in die opstand verloor, Mamma was dood en Ouma moes vir die drie kindertjies sorg. Voorheen het hulle in 'n mooi huis gewoon en hulle het genoeg gehad om te eet. Nou het hulle in 'n krot gewoon. Ouma het van die more tot die aand gebrei om iets te verdien om hulle aan die lewe te hou. Maar selfs met die geldjies wat sy verdien het, was daar nie altyd voedsel om te koop nie, wat alles was vreeslik skaars.
Die dag het gekom toe hulle niks meer in die huis gehad het om te eet nie. Nadat hulle daardie middag die laaste stukkie brood geëet het, was daar nie 'n krieseltjie kos in die huis nie. Ouma was baie hartseer, maar sy wou nie hê die kinders moes dit agterkom nie. Sy het die kinders na haar toe geroep, hulle vertel dat daar nie meer kos was nie en toe het hulle gebid. Hulle het die Here álles vertel en aan Hom gesê dat as Hy nie help nie, sou hulle van die honger doodgaan, net soos so baie mense rondom hulle.
Hulle het vreeslik ernstig gebid - net Ouma en die drie kinders, want hulle was baie honger. Ek weet nie wat die ander gebid het nie, maar die dogtertjie het as volg gebid: "Liewe Jesus, stuur ons asseblief iets om vanaand te eet - nie net 'n korsie brood nie, maar 'n hele brood, asseblief!"
Dit was baie lank laas dat hulle 'n hele brood gesien het en dus was dit sommer 'n groot ding waarvoor die dogtertjie gevra het.
Die aand het gekom en nog was daar vir hulle niks nie. Die arme kinders! Hulle was seker baie lus vir 'n stukkie brood!
"Ouma het nog nie die broodmes skerpgemaak nie," het die dogtertjie gesê, want sy het vas geglo dat har gebed verhoor sou word. Ouma het toe maar die mes geslyp, volgens Russiese gewoonte. Die aand het verbygegaan en dit het gelyk of die kinders maar koud en honger sou moes gaan slaap. Maar toe is daar skielik aan die deur geklop.