'n Emmer tanne vir 'n hospitaal holbekke

jAN SPIES

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

VERTELLERS
DEEL TWEE


DEUR MERWE SCHOLTZ

In 'n hospitaal - waar krankheid en ellende nie ontuis is nie - smaak dit my is snaaksigheid ook nie juis 'n vreemdeling nie. En snaaks is mos nêrens snaakser as dáár waar hy nie verwag word nie; veral as hy boonop sommer bloot net gebeur, of onvermoeds gebeur laat word.

Iets van dié aard het daar op 'n keer in 'n Randse hospitaal plaasgevind.

Daar daag 'n leerlingverpleegstertjie op. En hoe die prosedure presies werk, weet ek nie, maar om haar touwys te maak, moes sy glo allerlei soorte werkies doen.

Dit moet saam met die ander groentjies op 'n sekere vloer beddens opmaak, potte en panne leeg maak, waterglase vol maak, en so aan.

En so met verloop van tyd kom daar nuwe en ingewikkelder opdragte by.

Op 'n môre roep die ou hoofsuster daar in een van die gange af: "Hêi, jy," - nursie-sus-en-so - "kom hier."

"Ja, Suster?" vra die leerlingverpleegstertjie.

"Vat nou hierdie vloer van 'n kant af en maak allie mense wat valstanne het, se tanne skoon. Allie gange s'n."

En toevallig was daar op dié vloer baie oumense.

Endie verpleegstertjie vaar 'n gang daar af.

In die eerste kamer of saal is daar drie glase tande. Dié vat sy soos 'n waffersekelner wat sy storie met bier-dra ken en stryk daarmee aan na die kombuisietjie of wasplek en sy spring daar by die wasbak aan die tande. Waarmee en hóé weet ek nie, maar sy maak skoon en sit die stelle trug in die glase en gooi skoon water in en wikkel daarmee na hulle ou drie holbekbase toe.

In die volgende saal is daar 'n stuk of vyf mense met kunstande. En dié klomp glase is toe te veel om met een slag te dra.

Maar die verpleegstertjie is 'n praktiese kind en sy los hulle net so en sy begeef haar na die kombuis toe en kry daar 'n emmer in die hande. Dié maak sy so amper halfpad vol water en sy's weer die gang af.

Die emmer sit sy voor die deur neer en sy's die saal daar in en sommer so twee-twee dra sy die glase tande daar uit en gooi die stelle in die emmer water en gaan sit die leë glase weer by hulle-se base neer.

So maak sy saal vir saal in die gang af leeg en pak daarna die sygange.

Ná 'n ruk wil die emmer oorloop. Sommer in die naaste badkamer gooi sy 'n klomp van die water af om plek te maak vir nog tande.

Uiteindelik het sy die hele vloer se alle stelle tande in die emmer. En dit was ook net-net of die emmer was te klein.

In die waskamer tap sy 'n klomp water in die bak en keer die emmer daarin om. Dié maak sy op sy beurt so kwart-vol skoon water en sit dit eenkant neer en val met die skoonmaak weg. Plaat vir plaat tande vat sy so ligweg in die wasbak raak en gooi dit in die emmer. Nie lank nie of die hele emmer tande is skoon.

En toe sal die stomme kind sien die een praktyk bots met die ander praktyk. Waffer onderstel by waffer bo-stel en waffer heel stel by waffer bed in waffer saal?

En dan's daar nog 'n probleem: party mense het net bo- en ander net ondertande; party weer 'n halwe plaat met hake en twee tande, of drie, of vier of  hoeveel tande dan ook. In wie se haasbekgetrekte mond pas wat?

Sy wonder nog hoe nóú, toe staan die ou hoofsuster langs haar.

"Het jy klaar met die tanne?"

"Ja, Suster, ek is klaar, maar ek het nou moeilikheid. Ek verdwaal tussen hierdie klomp tanne."

"Nou wie't so 'n bleddie klomp tanne in sy mond?"

"Dis die hele vloer s'n Suster."

Wat die hoofsuster hierna gesê het, pas nie juis by tande en monde nie. Maar daar was nie genade nie; die ontbyt was op pad. Hulle pak die hele spulleltjie tande op 'n tafel uit en probeer soek bo- en ondermaters wat by mekaar pas.

Maar dis moeilik om uit te maak watter groottes en skeeftes en kleure by mekaar hoort; dit wissel van pêrelwittes tot pruimtwakbruines, van kleintjies soos 'n muis s'n tot by beitels soos dié van 'n perd, van yslike bakke tot dié wat hoort by 'n verkrimpte gesiggie.

Hulle kry 'n klomp uitgesoek wat lyk na pare en 'n groot klomp enkeles bly oor. In 'n horde hospitaalglase word hulle op 'n trollie gesit.

"Toe, stoot die spul van saal tot saal en laat die mense self uitsoek, lat hulle kan eet; ek stuur die kos op jou hakke agterna."

En die verpleegstertjie vlie daar weg.

Daar word gekies, maar as die een holbekmens nog spook om sy tande in te kry, skoert die verpleestertjie al na die volgende een toe. Alles geskied in die haas.

En die mense kry kos en hulle val weg.

Party worstel voort; party ander haal die tande uit en ry - soos die Rehoboth-Basters in my wêreld sou sê - op die rims.

Maar die borde was nog nie behoorlik weg nie, toe gegin lui die klokke. Dit smaak omtrent na Oujaarsnag om twaalfuur in 'n groot stad.

Die ou hoofsuster sê vir die ander susters en die verpleegsters sy wil self die klagtes aanhoor en dan verduidelik en besluit wat om te doen.

En sy loop 'n kamer in waar twee omies lê. Ja, waarmee kan sy help? Die klok is mos gelui.

"Suster, wat met my tanne gebeur het, weet ek nie. Dit smaak my of ek ve'môre met 'n paar skeefgetrapte skoene probeer kou het," beduie die een ou.

Die ander een sê: "Suster, was myne maar soos 'n paar skjeefgetrapte skoene. ek het om my brekfiseiertjie 'n dans  uitgevoer, jy kan maar sê, met 'n nommer-vyf-pantoffel en 'n nommer-elf-armyboot."

"Haal uit!" sê die hoofsuster. "Daar moet 'n fout gekom het; ek sal hulle nóú laat wegvat."

Sy is nog aan die inloop in die volgende saal, toe begin praat 'n ou tante al: "Ai, my kind, ek was dan  nou net aan die beter word en nou voel ek so mismoedig. Dis kompleet of my bo-kop gekrimp het. My tandvleis kom nie innie gleuf van my tanne in nie; ek byt al op die bo-plaat se verhemelte laans."

'n aner een kla dat sy met haar onderkakebeen buite die stelletjie om byt.

"Suster, ek had aanmekaar die tanne ennie kos deurmekaar. Dit was op nerf na of ek sluk die hele spulletjie in."

Nee, daar's fout, beduie die hoofsuster. Gee net kans, dan kom die ding reg.

In 'n ander saal het 'n ou oom sy tande uit en hy korrel om te probeer uitmaak wat hy sien.

"Suster, ek het nie my leesbril hier nie. Maar dis die hardste eier wat ek in my leefdag geëet het. Ek het 'n stuk tussen my tanne ingebyt en ek kan hom wragtag nie uitkry nie."

"Dis loutere goud, oom," sê die hoofsuster, ná sy self van naby gekyk het.

Die oubaas is daaroor meer vies as wat hy sou wees as hy moes weet dat hy met geleende tande geëet het.

"Maar ek het mos nie gevra julle moet goud daar insit nie."

"Wag, oom, dit kom nou-nou reg; ek laat haal die stukkie goud weer uit."

Die volgende kamer se pasiënt ie die ontbyt heelhuids oorleef nie.

"Suster, jy moet vir my hier 'n dokter kry om my tong te lap. Hy's so toiingrig soos 'n sak waarmee 'n klomp kleinhonne 'n nag omgespeel het. Ek kon vanmôre byt soos ek wil, maar dit bly verkeerd."

Die suster beloof verligting.

Langsaan gaan dit ingeslyks nie beter nie.

"Suster, my troue ou malers het ve'môre die gjees gegee. Dit smaak my die nursie het hulle skoon gekook en toe in 'n trek neergesit lat hulle kon afkoel. Kyk hoe oorhoeks is hulle. Ek kou lat ek bars, maar kry nooit meer as net twee tanne op 'n slag bo mekaar nie."

Net 'n bietjie geduld en die oorhoeksheid is daarmee heen, beduie die hoofsuster.

En so sluit die een treurmare by die ander aan.

Een oou tante probeer haar mond toe kry, maar sy bly glimlag van oor tot oor.

'n Ander se lippe vou rolle voor sy nog die tande op mekaar het.

Nog een lyk of sy haar kieste opgeblaas het; 'n ander een se gesig is skeef.

Een ou oom het niks in sy mond nie.

"Waar is die tanne dan vanmôre, oupa?" wil die suster weet.

"Jy moet maar hier op die vloer in die blik kyk. ek het hulle weggesmyt. Ek het vannie vervloekste goed nog net pyn en smarte gehad vannie dag lat ek hulle gekry het. Maar vanmôre is hulle meer erg. Toe sê ek: Dissie laaste; weg is julle."

Sy ou kamermaat sê: "Ja, en myne voel ve'môre soos twee bekrekkers wat ek hier glyk in my mond het. Ek is lus en raak van hulle ook ontslae."

Nou ja, dit was al teen middagete se stryk, toe spook die hoofsuster en die leerlingverpleegster nog steeds om vir party van die stelle tande base te kry.

Toe sê die leerlingverpleegster: "Suster, vandag het ek baie geleer. Ek sal môre slimmer wees. Ek sal eers allie bo-tanne was; dan kan ek mos op die onnertanne pas waffer die regte is. En dan vat ek weer die onnertanne."

"Ja," sê die ou hoofsuster, "ek het ook vandag iets geleer en dis lat jy liewer in 'n hotel moet loop werk soek, waar jy kan skoene skoonmaak. Want as hulle deurmekaar raak, hoef  hulle darem nie ná elke aanpas gewas te word nie."

En so sluit die een treurmare by die ander aan.

Een ou tante probeer haar mond toe kry, maar sy bly glimlag van oor tot oor.

'n Ander se lippe vou rolle voor sy nog die tande op mekaar het.

Nog een lyk of sy haar kieste opgeblaas het; 'n ander een se gesig is skeef.

Een ou oom het niks in sy mond nie.

"Waar is die tanne dan vanmôre, oupa?" wil die suster weet.

"Jy moet maar hier op die vloer in die blik kyk. ek het hulle weggesmyt. Ek het vannie vervloekste goed nog net pyn en smarte gehad vannie dag lat ek hulle gekry het. Maar vanmôre is hulle meer erg. Toe sê ek: Dissie laaste; weg is julle."

Sy ou kamermaat sê: "Ja, en myne voel ve'môre soos twee bekrekkers wat ek hier glyk in my mond het. Ek is lus en raak van hulle ook ontslae."

Nou ja, dit was al teen middagete se stryk, toe spook die hoofsuster en die leerlingverpleegster nog steeds om vir party van die stelle tande base te kry.

Toe sê die leerlingverpleegster: "Suster, vandag het ek baie geleer. Ek sal môre slimmer wees. Ek sal eers allie bo-tanne was; dan kan ek mos op die onnertanne pas waffer die regte is. En dan vat ek weer die onnertanne."

"Ja," sê die ou hoofsuster, "ek het ook vandag iets geleer en dis lat jy liewer in 'n hotel moet loop werk soek, waar jy kan skoene skoonmaak. Want as hulle deurmekaar raak, hoef  hulle darem nie ná elke aanpas gewas te word nie."Jan Spies

Jan Spies

Vertellers 2

Die tweede groot verhaalboek

deur Merwe Scholtz 

Radio Kuber Kontrei is 'n gratis Afrikaanse Agtergrond musiek kanaal. Kliek op ► links en luister via TuneIn. Maak asb. die ♥ rooi! deur ons as 'n FAVOURITE te merk. Vind ons APP op Google Play