Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
'n Dapper klein dogtertjie
Ná daardie storie oor honde kan ons gerus een vertel oor voëls en hierdie een is 'n ware verhaal met 'n spannende avontuur.
Geelman, 'n baie mooi kanarie, het aan 'n klein dogtertjie met die naam van Mienie behoort. Sy het saam met haar ouers buite die dorp gewoon.
Geelman was Mienie se verjaardaggeskenk en sy het hom regtig baie liefgehad. Alhoewel sy die allerfraaiste koutjie vir hom gekoop het, het sy hom soms laat uitkom om op haar skouer te sit of langs haar bord op die tafel.
Al wat Mienie moes doen om Geelman te laat fluit dat die huis antwoord gee, was om saggies te sing.
Maar eendag het Geelman verdwyn. Sy deurtjie was oop en Geelman was weg. Mienie het die hele huis deursoek, maar tevergeefs. Toe het sy buite in die tuin in al die boompies gaan kyk en geluister of sy nie sy stemmetjie iewers hoor nie. Maar hoe sy ook al gesoek en geluister het, kon sy hom nie kry nie.
Mienie het baie ernstig met die hond en die kat gepraat. Sy het hulle om die waarheid te sê, verdink, veral die kat, maar hulle het albei heeltemal onskuldig gelyk.
Drie dae het verbygegaan en Geelman was nog weg. Arme Mienie se hart was baie seer, want sy het gevoel dat sy nooit weer so 'n mak en oulike voëltjie soos Geelman sou kry nie.
Toe sê 'n buurvrou een môre vir haar. "Ek dink ek weet waar jou kanarie is."
"Regtig?" het Mienie verbaas gevra, "Waar, waar Tannie?"
"Kom saam met my en ek sal jou wys," het sy gesê."Ek dink ek het hom gehoor fluit."
"Kom sommer nou," het Mienie gesê en sy was reeds by die voordeur uit.
"Hiernatoe," het die tannie gesê en sy het begin aanstap put se kant toe. Daar gekom, het Mienie haar hand styf vasgehou en in die put afgekyk.
"Luister!" Aandagtig luister albei. Toe hoor hulle onder uit die donkerte 'n dowwe "Tjilp, tjilp!"
"Dis Geelman, dis Geelman!" het Mienie uitgeroep. "My arme Geelman! Hoe gaan ons hom ooit uitkry?" het Mienie beangs gevra.
"Kon ons gaan vertel vir jou Pappie. Miskien kan hy aan 'n plan dink."
Hulle het terug huis toe gehardloop terwyl Mienie skree: "Ons het hom gekry. Hy is onder in die put. Hoe gaan ons hom daar uitkry Pappie?"
"Ek is bevrees dis onmoontlik. Die put is baie diep en ek het nie 'n leer wat lank genoeg is nie," het Pappie gesê.
"Maar ons kan nie vir Geelman daar laat bly nie," het Mienie huilend gesê. "Ek sal afgaan om hom te gaan uithaal."
"Jy in die put afgaan?" het Pappie uitgeroep.