
C.J. Langenhoven
Op die en-see-see
Ek skryf hierdie op die lopende trein. Dit op sigself is onbelangrik, maar ek wil maar beduie dat ek my haas om te vertel wat daar vannag met my gebeur het op die reis. Ek was laat met my bespreking; toe ek eergister, die dag voor my vertrek, by die kaartjieskantoor kom in die Kaap, sê hulle vir my daar is nie 'n enkele sitplek meer beskikbaar nie. Ek sê toe hulle moet my maar al was dit in die eerste klas 'n plekkie gee. Maar nee, dié was dan nog die volste van almal. Daar was 'n klomp afgevaardigdes wat teruggaan huis toe ná 'n vergeefse beroep wat hulle op die parlementslede kom maak het vir noodleniging.
"Maar ek moet môre weg, sê ek, en ek lê vir die seun wat deur die luikgat loer my dringende noodsaaklikheid uit. Ek was bestel vir 'n belangrike lesing op Oudtshoorn en kon nie die duisende mense teleurstel wat daarheen toegestroom het uit alle dle van die land nie.
Die jonge man krap sy kop met die agterent van sy pen. "Meneer," sê hy, "as die saak regtig so desperaat is - ons het 'n leë kompartement, maar hy word nooit gebruik nie. Hy gaan oral met die trein saam omdat ons hom nie daar kan uithaal nie, maar hy bly toegesluit."
"Wat makeer hom dan?" vra ek.
"Meneer, hy's in 'n salon wat van Natal af kom."
"Nou ja, maar dan kom die ander sitplekke op daardie wa mos ook van Natal af?"
"Ja, Meneer, reg so. Maar daar het vanmelewe op weg tussen Durban en Pietermaritzburg 'n vreeslike moord in daardie kompartement plaasgevind."
"Is die moordenaar nog daarin?" vra ek. "Waarom haal die polisie hom dan nie daaruit nie?"
"Nee, Meneer, hy is lankal opgehang. Maar nag vir nag, wáár die wa ook oral in die Unie rondry, en tot in Duitswes, word die aaklige tonele van die moord in daardie kompartement weer afgespeel. Drie, vier maal al het ons passasiers wat nie daarvan wis nie, daarin laat slaap, maar slag vir slag as ons die oggend daar inkom, kry ons hulle dat hulle dood lê."
"Ook vermoor?"
"Nee; dood van die skrik. Kleur groenpers, are opgeswel, maag opgeblaas, oë uitgepeul, mond vol skuim."
"Magtig, seun; waarom het jy nie eerder gepraat nie? Gee vir my die kompartement. Om met spoke te werk, is juis my spesialiteit. Ek het 'n lewenstyd aan die ondersoek van daardie interessante verskynsels bestee; en vandag word ek deur die geleerde wêreld erken as die hoogste wetenskaplike gesaghebbende op die spookgebied. Daardie lesing op Oudtshoorn waar ek van gepraat het, sal juis die onderwerp van spokery behandel; en dis daarom wat ek nie môre se trein kan mis nie."
"Meneer, asseblief tog, ek soebat jou" - en daar kom trane in die jonge man se oë - "moenie vir jou aan sulke dinge blootstel nie. Ons kan jou nie mis nie."
"My seun, jou vrees om my ontwil is ongegrond. Hoe laat bly die eetsalon saans oop?"
"Tot so halftwaalf of so."
"Nou ja, goed. Dan sit ek daar tot hulle my uitjaag en dan gaan ek op die stoepie van die wa staan tot sê nou eenuur."
"En dan om eenuur dan, Meneer?"
"Omstreeks van eenuur begin die hane mos te kraai. Weet jy nog nie dat die laaste spook met die eerste haangekraai padgee nie?"
"Meneer, dit kan wees. Maar die trein raas so oor die los spore van die N.C.C. tussen Worcester en Mosselbaai, dat niemand van hóm af ooit 'n haan kan hoor kraai nie."
Toe word ek ongeduldig met die seun ten spyte van sy goeie bedoelings. "My jonge vriend," sê ek, "jou besorgdheid strek jou tot eer. Maar ek is gewénd om in trawale te kom en anderkant uit. Sê vir my: het daardie twee spoke, die moordenaar en die vermoorde, kaartjies uitgeneem vir môre se reis?"
"Nee, sekerlik nie, Meneer. Hulle het nie eens 'n parlementslid se pas nie."
"Nou ja, ek het 'n kaartjie waar ek netnou kontant voor betaal het - en vyf maal te veel ook, want die N.C.C.-Maatskappy is 'n rowersbende - en solank as daar ' n leë sitplek op die trein is, eis ek hom of ek huur vir my 'n trein Oudtshoorn toe op koste van die regering."
Leser, is jy begerig om 'n kleine komiesie (of kommissie) te verdien? Ja? Nou ja, kry vir my iemand wat 'n splinternuwe grammofoon uit die tweede hand wil aanskaf. Ek hou nie van die vervlakste goed nie en ek wil die ding nie in my huis hê nie. Maar ek was verplig om hom vir hierdie geleentheid te koop. Hy kos my 'n pond of twaalf.
Meer as dit nog het die rekord wat ek nodig had se maak my gekos. Daar is bitterlik min lewende hoenders in die Kaap. In die plaas daarvan hou hulle motorhorings en visbeuels aan om die nagure nie met onbehoorlike stilte te laat verstryk nie. Ek het die Kaapstad platgery met 'n teksie en my bankrot betaal, en tevergeefs. Ek was verplig om uit te ry platteland toe. Teen Kloofnek af, anderkant, bokant Kampsbaai, kom ek eindelik by ' n boereplasie uit tussen die dennebome, en daar sien ek het die mense pluimvee. Ná heelparty moeite - want hulle had agterdog aangaande my bedoelings - het ek daar 'n kamer te huur gekry, met die venster regoor die honderhokke. En daar het ek die nag - voorverlede nag - wakker gelê. Maar ek sweer jou voor dit was 'n rekord van 'n rekord van 'n gekraai wat ek daar opgevang het vir my orreltjie. En daarmee het ek dan gister op die trein geklim.
Die gerugte het gou genoeg onder die ander passasiers versprei dat ek van plan was om in die noodlottige spookkompartement te vernag. Ek het maar vroeg nag gesê, want ek had die vorige nag mos niks geslaap nie. Die mense in die eetsalon wou my almal soen vir laaste sien; maar ek hou nie van 'n soenery nie, toe het ek almal geaffronteer buiten twee of drie van die vrouelike passasiers.
My kooi was klaar opgemaak. Toe ek uitgestrek was, het ek die grammofoon opgewén en hom voor my op die vloer neergesit om net die werweltjie te kan aftrek wanneer dit nodig sou word. En toe gaan ek lê en ek maak my toe, maar ek laat die twee elektriese ligte brand. Ek raak ook byna onmiddellik aan die slaap.
Hoe lank ek geslaap het, weet ek nie; maar ek skrik wakker met 'n gevoel dat ek nie meer alleen is nie. Die ligte was albei so dof geword dat ek net rooi garinkies in die lampe sien gloei. In die donkerskemer kon ek uitmaak dat daar iemand op die bank regoor my lê, maar met sy voete-kant na my kop-kant toe.
"Aha," dog ek, "hulel het darem nog iemand gekry om hier by my in te sit wat nie bang is vir spoke nie. Dis darem maar aangenamer om nie so eensaam te wees nie."
Maar net toe ek my wou omdraai om weer aan die slaap te raak, merk ek iets besonders. Daar staan 'n kosmandjie en 'n kleretrommel van my op die anderkantse bank soos ek hulle gister daar neergesit het, en hulle staan dwarsdeur die persoon wat daar lê - die mandjie deur sy bors en die trommel deur sy twee bene, nes bosse deur die voorpunt van 'n drywende bergmis.
Verder merk ek op dat daar 'n omgekeerde toestand hier op my bank heers. Daar is 'n houtkoffer met klampe versterk, 'n leerportmanto, oopgesluit, met 'n bos sleutels nog daaraan, albei taamlik groot, en 'n stuk of wat kleiner stukke bagasie. En hulle staan almal op dieselfde plek waar ek lê. Maar hulle staan nie deur my nie - ek lê deur hulle. Dis ek wat die bossie is hulle die misbank.
"Die moordtoneel moet dan seker nog volg," dog ek by myself. En ek lê so 'n rukkie stil om te prakseer wat ek sou doen. Die spulletjie was oninteressant. In al my jarelange ondervinding was dit die eerste slapende spook wat ek aangetref het.
Toe dit nou darem alte vervelig begin te word, dog ek ek sou, om die tyd om te kry, maar lê en rook tot my onaardse reisgenoot wakker word. Ek haal my pyp en my vuurhoutjies uit my baadjie wat hier by my hang, en ek steek op. Ek rook nie flou twakkies nie; ek kry altyd vir my van daardie sterk donkergeswete rolle en ek kerf dit self. Ek het nie baie skywe getrek nie, of die persoon hier langs my gee 'n paar nieshoesies. Dan lê hy weer stil en dan proes hy weer. Naderhand word hy rusteloos. Hy draai hom om en hy begin te woel. Hy gaap, en met die gaap verstik hy in die rook en hy sit regop. Toe sit ek ook regop en ons twee sit mekaar en kyk.
En toe raak ek vir die eerste maal, ek wil nie sê ontsteld nie, maar verleë, verbouereerd. Die skepsel wat hier saam met my in dieselfde vertrek gelê en slaap het, is al die tyd 'n vroumens! Hare in die krulpenne, tande vir die oomblik opsy gesit, ouderwetse nagkleed; gelaatstrekke onaanloklik.
"Help, help!" skree sy. "Go away, you shameless man!" (Die leser onthou sy was 'n Natallerin of -res. Maar ek sal die verdere gesprek maar in Afrikaans rapporteer.)
"Juffrou," sê ek, "dis ek wat moet huiwerig wees - nie jy nie. Jy's 'n spook en ek is bang om een te word. Hoeveel passasiers het jy al hier doodverskrik, jy en jou doodgenoot? Buitendien, dis my wettige plek hier. Jy het agter my aangekom. Regtigwaar, ek wil nie onhoflik wees nie, Juffrou, maar ek beskou dis jy wat hieruit behoort pad te gee."
Sy dink 'n oomblikkie ná. Ek kon merk dat sy die billikheid van my standpunt insien. Toe sy weer praat, praat sy mooi.
"Meneer," sê sy, "ek kan sien jy is 'n jintelman. Wees nou barmhartig. Ek durf nie hier weg wees nie - ek moet wag om eers vermoor te word. Die aanvaller sal netnou hier wees met sy slagmes. Gaan tog nou asseblief net vir 'n halfuurtjie uit en wag tot Meneer my hoor behoud skree; en dan oor 'n rukkie daarná kan Meneer weer inkom en ek gee jou my woord jy sal sonder stoornis alleen jou plek kan behou tot môre."
"Nee, Juffrou," sê ek. "Neem my tog nie kwalik nie, maar ek hardloop nie weg van 'n dame wat in die gevaar is nie. Wag jy nou net tot daardie ellendeling hier inkom en jy sal sien hy sal in so 'n perdebynes hier verval dat hy jou by my kool ongehinderd sal laat vir die res van jou dood."
"Maar, Meneer," - en sy begin bitterlik te huil - "ek bid jou, ek kan nie anders nie. Ek moet, ek MOET vermoor word. Niks wat jy kan doen sal die geringste verskil daaraan maak ook nie. Dink Meneer dan om met vleis en bloed teen geeste te veg?"
Ek sien sy wil histéries word. En toe word ek bang. Eik wil liewer honderd moorde aanskou as een beduiwelde vroumens.
"Wel, Juffrou," sê ek, "hoe dit nou ook al is, jy en jou akteur-kollega sal vir vannag 'n ander skouburg moet gaan soek as my slaapvertrek."
Ek draai die werwel van my grammofoon. Meteens bars daar 'n stuk of tien, twaalf hoenderhaanstemme los in daardie beperkte ruimte dat ek dog die trein ontplof. Die elektriese ligte flikker helder op; gouer as nou is die vreemde bagasie en die vroumens verdwyn.
Ek was so in my skik met hierdie ontknoping van die drama dat ek nooiot daaraan dink om die masjientjie te stoop nie; die allementige geraas van die hane duur maar voort. Eindelik kom die rolletjie op sy end; rrr-rrr-rrr sê die masjientjie en hy staan. Daar kom 'n ratteltatteltat aan my deur. Die kondukteur maak oop.
"Wat is dit nou?" vra hy.
"Aan die skommel en die skud," sê ek, "sou ek oordeel dat dit nog al die tyd die New Cape Central is. Maar jy moet mos immers beter weet as ek?"
"Watter helse gedoente was dit hier in die kompartement?" gaan hy voort. "Vyf van die damepassasiers het flou geval van die skrik; twee bruidegoms, of gomme, het uit die slaap uit opgevlie en van die trein afgespring. Die N.C.C. sal naderhand 'n slegte naam kry. Wat het jy met die spoke gemaak dat hulle so geskree het?"
Voor ek hom kon antwoord gee, raak die ligte weer dof; en skielik staan tussen my en die kondukteur die gedaante van 'n man in 'n groen jas, sy gesig met 'n rooi doek toegebind waar 'n donker baard onder uitkom, 'n lang steekmes in sy hand. In die doek is twee ronde gate waardeur twee oë nes vuurkole skyn.
Ek en die kondukteur kon mekaar dwarsdeur die gestalte sien; maar die kondukteur het nie lank vertoef om te staan en kyk nie. Hy vlieg weg; ek hoor hom in die gang op hardloop na die enjin; en dit duur nie lank nie of hulle het die trein op loop teen omtrent driehonderd myl in die uur. Ek en die moordenaar had die kompartement vir ons twee alleen. Hy maak nes hy my nie sien nie; hy stap verby na die ander koppenent toe. Hy staan 'n rukkie stil; hy voel op die bank op en af.
"My magtig," sê hy, "en wat is dit dan nou? Waar is sy?"
Toe draai hy om en hy sien my en hy word rasend van die woede. Ek steek my hand uit om die werwel van die masjientjie beet te kry; meteens val dit my by die ding is mos afgeloop en nie weer opgewén nie! Die enigste plan is, ek moet die spook bluf.
Dit duur 'n rukkie voor ek tussen sy vloeke 'n woord kon inkry.
"Haal af daardie doek van jou smoel af," sê ek. "Waarvoor dra jy hom nog? Hulle kan jou mos nie meer vang en ophang nie. En ek gesels nie met 'n mombakkies nie."
Hy kners op sy tande. "Hier het al drie verstoorders bly lê," sê hy. "Jy sal die vierde wees! Wil jy hulle sien?"
Op die oomblik was daar nog drie spoke - die passasiers wat van die skrik dood is. Ek sien sommer hier is my kans.
"Vriende," sê ek vir die drie varses, "wie se kant kies julle? Daardie ellendeling het die arme vroumens hier vermoor en toe is hy nog nie tevrede nie. Nadat hy klaar opgehang is, kom hy nag vir nag hierheen terug om sy gemene misdaad te herhaal, en hy maak vir julle drie ook slagoffers Gryp hom, kêrels; julle is énige nag net sulke spoke soos hy, en drie teen een."
"A, Neelsie," sê hulle, "waarom het jy tog nie eerder hier gekom om ons die plan te gee nie?"
En toe sien ek net blou vlamme en ruik swael. Maar ek verloor nie my oorleg nie. Solank as die woeste konflik aan die gang is - en dit moet ek darem van die moordenaar sê, hy het hom nie lafhartig gedra nie - wen ek my orreltjie weer op. Ek wou klaar wees vir gebeurlikhede.
Ek kon nie uitmaak dat die vier mekaar seermaak nie. Hulle stamp mekaar dwarsdeur die kop of deur die lyf sodat die vuis agter uitsteek; maar as hulle terugtrek, makeer daar niks. Ek was bly dat ek nie nodig had om te slaan aan die goed nie.
Intussen het die trein op 'n non-stop run by Swellendam, Heidelberg en Riversdal verbygejaag en oor Gouritsrivier se brug deur 'n wa en 'n span donkies; maar teen die hoogte anderkant uit raak sy water op. Die enjin was so groot soos hy is bloedrooiwarm.
"Gmf," sê ek by myself, "wat bog. Ek is nou al twee nagte wakker; dis tyd om te rus. En julle vier niksnutte kan ook nou gaan rus en basta. En pasop as ek julle weer een nag hier kry."
Ek draai die werweltjie. Met die eerste geluid wat die masjien maak, was dit skoonveld rondom my. Ek stop die masjien. "Genoeg gekraaiery vir een nag," sê ek.
Maar toe begin die boereplase langes Gouritsrivier o p antwoord te gee: "Koekeroekoekoe-oe-oe!" en hier en daar 'n Engelse haan tussen-in: "Cock-a-doodle-doo-oo-oo!"
As ek die grammofoon nie kan verkoop kry nie, sal ek my bure - en Vroutjie - se hoenders in die dag vir hulle laat leegkraai sodat ek in die nag kan slaap.
Maar ek moet my lesing voorberei vir vanaand.
C.J. Langenhoven