
Dat hoenders ook my mense is, het ek eers ná my troue ontdek toe ons jonk en onervare gaan boer het. Jong boervroue begin almal op dieselfde manier met hoenders boer en brei daarna ooreenkomstig hulle aard en omstandighede verder uit. Party hoenderboerderye raak al groter en groter tot hulle betalende ondernemings word; ander raak al kleiner en kleiner tot die boervrou in krisistye by die strooise laat eiers haal.
'n Vrou begin met hoenders boer deur by haar man daaroor te neul. So het ek ook begin. My man het teëgestribbel, want dit is bekend dat 'n hoenderhen twee keer soveel kos van die baas opvreet as wat sy geld vir die nooi inbring, maar dit is 'n feit wat geen boervrou ooit van 'n hoenderboerdery afskrik nie.
Eindelik het ek dan 'n kuikenhuis, kompleet met 'n glasvenster en 'n ordentlike sifdraadkampie daaromheen, uitgeneul en my kuikens bestel. Bestel net die bete, want hulle eet net soveel as die slegste, gee party buurvroue my raad; bestel net die swakste, want die beste vrek net so maklik soos hulle, raai ander my aan.
My kuikens kom. Net die koms van my babas later kon soveel opwinding en geesdrif oortref. Ek het ure in die bedompige huisie saam met hulle deurgebring om te sorg dat hulle gemaklik is. Ek het drome gedroom en gesigte gesien. toe ek my kom kry, begin ek sekeres uitken; toe ek my kom kry, het ek 'n paar knieseriges in watte voor diestoof en voer hulle antibiotika met 'n oogdruppertjie; toe ek my kom kry, is party so mak, hulle eet uit my hand. Ek gee hulle name: ou Skewes, ou Vlekkie, ou Ogies, ou Piet. As ek vir hulle sing, lag hulle, as ek met hulle raas, druk hule hul snawels van skaamte in die kos. Hulle spring op my skoen se neus en klou jillend my kouse vas as ek loop. Hulle dink ek is hulle ma, sowaar as wat ek leef.
Dit was toe reeds vir my man duidelik dat my hoenderboerdery in een van die onbetalende soort gaan ontaard, die persoonlike soort, waar die hoenders sulke vriende van jou word dat jy nie kan verwag hulle moet nog vir jou eiers ook lê nie. Dit het my glad nie ontstel nie. Daar sou tog dan en wan iets vir ontbyt wees, en hulle kosrekening sou ek nog lank met mislukte koeke en verbrande pampoen onder beheer kon hou.
So speel-speel het dit voortgegaan tot 'n middag vroeg in Desember toe my hoenders net mooi uit hul babavere gegroei het, njap-njaap-kuikens geword het, soos my buurvrou sê - darem al hoender, maar nog nie eier nie. Die weer kom die middag toe so lelik aan. Ons het skaars die vensters en deure toe, die reënwatertenk oop en die wasgoed van diedraad, of die eerste haelkorrels val oor die werf of hulle met die hand gesaai word. Dit word pikdonker in ons platdakhuisie. Gelukkig dat die hoenderhuisie daar is, dag ek nog, nou is my hoenders darem veilig.
Een van die eienaardighede van ons toentertydse huis wat so teen die afdraand gesit het, was dat as die reent straf kom, die water bo-oor die afleivore loop, by die agterdeur in, oor die kombuis se sementvloer, onder die middeldeur deur tot op die eetkamer se plankvloer, waat dit deur die groot splete onder die vloer verdwyn, verder spoel en weer onder die fondament by die voordeur uitloop. Weke ná so 'n reent ruik die eetkamer en die voorhuis so muf soos 'n grafkelder. Met die gevolg dat ek daardie middag ook weer haastig voor om hardloop om die kombuisdeur van buite met sakke en bakstene dig te maak, terugkom en die middeldeur met strykkomberse enstronksakke toestop en met 'n emmer en 'n skepding reg staan. Die water wat dan insyfer, jaag ons haastig met die besem in 'n hoek vas, skep dit op en skiet dit by die venster langaan uit sodat die stroom nie die plankvloer bereik nie.
Eindelik bedaar die weer, en ek staan nog by die venstertjie en uitkyk na die haelriwwe oor die gras toe die eerste onheilsklop aan die bodeur kom. Daar staan die werfjongetjie tot oor syenkels in die haelwater met 'n sinkbad vol platgereënde hoenders: geskrik toe hulle die hael op die sinkdak hoor, uitgehardloop en in die koue verkluim. Maar hy weet van hoender, sê hy. As die miesies hulle gou-gou met warm water afspoel, dan partykeers kom hulle reg. Hy gee hulle vir my aan soos bossies blomme op stywe stele. Ek raap die wasskottel op, gooi die ketel daarin leeg, dompel die eerste kuiken in, spoel die modder uit sy verlepte vere, droog hom sommer met my voorskoot af, en jou waarlik, hy begin te skop, en toe ek hom op die vloer neersit, bly hy regop soos 'n blompot staan.
Tog moontlik! Toe ek die derde kuiken in die skottel het, kom die tweede klop aan die deur en 'n tweede bad vol hoenders. Ons pak hulle oop soos miskoeke, ons sit ál wat leë kastrol is vol water op die stoof. Ons stook die vuur met stronke dat hy dreun en ons was hoenders. Elke keer is daar maar weer 'n klop, weer 'n bad vol hoenders. Daar is later niks meer om mee af te droog nie , en ek gaan haal haastig my vrolik gestreepte uitsethanddoeke en hang die ander voor die stoof om droog te druk of bruin te skroei, selde wat. Ons pak koerante in die oond, sit party van die hopeloosste gevalle daarin om warm te word. Party haal ons deur; hulle sit daar verslae oor wat hulle getref het. Vir die ander is dit helaas te laat en hulle lê stomend morsdood op 'n hoop in die hoek.
Die kombuis is nie baie groot nie, die hoenders oor die tweehonderd. Alle deure en vensters moet toe bly, en die stoof ratel later van die hitte. Ek is nat tot op my lyf. Wanhopig en siek van treurigheid was ek maar hoenders. Eindelik is alles dan klaar. Die hele kombuis van onder die tafel tot teen die deur staan vasgepak van die hoenders, en 'n onheilspellende hoop toring lyfhoog in die hoek. Dit is halfnege in die aand. Ek weet nie waar my man is nie. Ek het hom sedert die onheilsklop op die agterdeur nog met geen oog gesien nie. Sit seker binne by brood en melk, want van kosmaak was daar geen sprake nie. Ek gee die getroue werfjongetjie vir sy onderskraging tien dooie hoenders present en stuur hom huis toe.
Nou begin ek by die hoop dooies. Ek trek hulle vere, klaar losgestoom, af en haal binnegoed uit. En nou, alleen by die lig van die paraffienlamp en verlos van die angsvallige bedrywigheid, herken ek hulle een vir een soos ek met hulle werk: hier is die outjie met die skewe vlerk, die een met die wit vlekkie by die oor, die een wat so hard probeer het om te kraai, die een wat altyd die vetergaatjies van my skoen wou uitpik; en hier, stil en nou net maar 'n swart ou flenterkadoes, is Piet. Ek huil. Daar, eindelik, staan drie skottels vol bleek lyfies van hulle wat my so sonnig, so bevatlik liefgehad het, my swakke pogings om vir nooitgekende moeders plek vol te staan, in soveel goeie trou aanvaar het.
Dit is seker naby elfuur. Ek weet ek kan die oorlewendes nie terugneem hoenderhok toe nie, hulle sal net hier in die kombuis moet slaap. Ek prop die laaste stronke in die stoof, kyk oor die swyende swart skare en maak die middeldeur versigtig agter my toe. Dis donker voor my en ek sien 'n flou skrefie lig onder ons toe kamerdeur. Ek maak dit oop en staan in die deur. My goeie man lê onder die komberse in die eilandjie van die paraffienlamp en lees, stil, weg van alles. Hy kyk op na my, druipend nat, verwese gehuil en ryp gestoom in hoendermis en -afval. Dit was 'n strenge toets vir die liefde, hoe jonk en seker ook al. Niemand kan hom kwalik neem dat hy aarsel voor hy die deken vir my oopslaan nie: "Ek het jou naghemp daar op die stoel by die deur gesit. Daar is warm water in die fles by die skottel. Maak jou bietjie skoon en kom lê, dan lees ek vir jou wat sê genl. De Wet in hierdie boek oor die slag van Rooiwal." Nie 'n woord van troos oor my hoenders nie.
Diep gekwets klim ek later by hom in, glad nie geïntereseerd in wat genl. De Wet oor ienigiets te sê kan hê nie. Toe hoor ek vir die eerste keer die gedreun van die spruit, ek hoor die gedrup van die dak, en die yskoue asem van die deurhaelde landskap buite kom aan my wange vat. Daarmee saam ook baie ander dinge.
"Jou mielies! Was jy daar?" vra ek bang.
Hy sit die boek neer: "Nee. Ek weet moes..."
Ek beur oor die geweldige lakenvlak wat 'n dubbelbed soms kan hê tot teen hom vas. Ons lê in mekaar se arms, weerloos afsonderlik en tesame teen die meedoënlose wette van die natuur waarin ons moet lewe, geluk vind en geloof behou. Die groot donker nag, die reuk van kneusing en pyn, die silwer doodskleed, die invreting van die water, dit lê alles myle wyd om ons heen gesprei. So het ons aan die slaap geraak.
Toe ek die volgende oggend wakker word, is dit van iets vreemds, iets soos 'n koesterende rustigheid oor my, asof daar 'n seënende hand oor ons bed gestrek is. Ek lig my kop na een van die vreemdste gesigte wat ek ooit in my lewe gesien het. Bankvas, bo-oor ons op die kombers, bo-op die kas, die stoele, die hele vloer vol, staan swart hoenders saamgedrom. Wakker soos brandwagte, maar roerloos, as hulle bang is om die stilte geweld aan te doen, staan hulle daar.
Waarskynlik het dit iets met die uitermate hitte in die kombuis en die latere temperatuurdaling te doen gehad dat die middeldeur se slot oopgegaan het. Hulle het die warmte van ons slaapkamer gevoel en daarheen versit. Beslis, ja, dit is al wat dit was, moes ek toegee - as ek aanvaar dat hulle hoenders is. Maar nou was hulle nie. Hulle was mense, my mense.
Dot Serfontein