Het julle al ooit die storie van Dawid in die Bybel gelees? Wel, toe God na iemand gesoek het om koning te maak oor Israel, was daar baie mooi jongmanne wt graag wou koning wees. Hulle was lank en sterk en sommige van hulle was ook baie mooi aangetrek. Maar hulle het God nie geval nie. Hy het aan Sy profeet Samuel gesê om 'n dapper, eerlike skaapwagterseun daar in die veld te laat haal waar hy sy Pa se skape opgepas het. Die Bybel sê dat hy 'n mooi gesig gehad het en dat hy van binne ook mooi was. Hy het 'n goeie hart gehad.
En God het aan Samuel gesê "Staan op, salf hom, want dit is hy". "Want nie wat die mens sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die Here sien die hart aan.' (1 Sam, 16: 12, 7). Dawid is koning gemaak omdat hy van binne en buite goed was.
Dit is goedheid - nie mooi klere nie - wat mense mooi maak. Die eenvoudigste mense word dikwels baie bemin omdat hulle goeie harte het.
Dit is ook goedheid en nie uiterlike mooiheid nie, wat by God in aanmerking kom. Ons kan nie ons slegte harte vir God verberg deur ons mooi Sabbatklere aan te trek nie. En God sal altyd 'n goeie hart raaksien, al dra die persoon flenterklere.
Wanneer Jesus weer na hierdie aarde toe terugkom - en dit sal nie meer lank wees nie - om Sy kinders te kom haal na hul woning wat Hy vir hulle berei het, sal Hy nie gesteld wees op hoe hulle lyk nie. Wat Hy sal vra, is: Het hierdie kind My lief? Is hy 'n goeie seun? Het hierdie dogtertjie 'n hart van liefde?
As hulle Hom nie liefhet nie, sal Hy hulle agterlaat. Hy sal hulle nie in Sy heerlike koninkryk inneem nie, want hulle sal dit vir almal bederf. Dit is daarom dat die Bybel sê dat Jesus - wanneer Hy weer kom - sy engele sal uitstuur "en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen en sal hulle gooi in die vuuroond". (Matt. 13:41m 42)
Ons lees nie graag daarvan nie, dit klink nie vir ons mooi nie. Maar dit hoef nie met ons te gebeur nie. Jesus wil ons almal in Sy heerlike wonings hê en Hy het alles gedoen om dit vir ons moontlik te maak. Al wat Hy vra, is dat ons Hom moet liefhê en probeer om net so goed as Hy te wees toe Hy 'n kindjie was.
En dan, wanneer Hy kom, sal ons Hom hoor sê: "Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle toeberei is van die grondlegging van die wêreld af. Want Ek het honger gehad en julle het My iets gegee om te eet; Ek het dors gehad en julle het My iets gegee om te drink; Ek was 'n vreemdeling en julle het My herberg gegee; Ek was nakend en julle het My geklee; Ek was siek en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek en julle het na My gekom."
Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê "Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors en iets gegee om te drink? En wanneer het ons U 'n vreemdeling gesien en herberg gegee; of nakend en geklee? En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis en na U gekom?" En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: "Voorwaar ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broerders van My, het julle dit aan My gedoen." (Matt. 25:34-40)
Dit is God se idee van goedheid. Dit is die soort skoonheid wat Hy liefhet. Dit is die mooi dinge wat Hy wil hê dat ons moet doen. Diegene wat dit doen, sal Hy neem na daardie heerlike land van vrede, vreugde en geluk waar die lelike dinge nooit sal inkom.
Laat ons besluit dat ons daarheen wil gaan en dat ons gereed sal wees wanneer Jesus kom.