Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
Miems se Gawe
"Bella," het klein Miems liefkosend gesê terwyl sy haar pop in die popwaentjie neerlê en haar sorgvuldig met die kombersies toemaak, "ek is seker dat daar in die hele wye wêreld nie nog so 'n mooi pop is soos jy nie."
Bella het natuurlik nie antwoord gegee nie, maar doodstil gelê op die wit kussing en haar oë was toe asof sy heeltemal tevrede was met haar lot.
"Ek dink ons kan nou maar 'n bietjie gaan stap, Bella," het Miems streng gesê. "Ek hoop dat jy jou goed sal gedra terwyl ons in die dorp is. En, onthou, as jy huil, kry jy geen lekkers nie." Onnodig om te sê, het Bella nie gehuil nie en sy was so soet soos min babas.
Miems het die wandeling vreeslik geniet en sy het baie trots gevoel, soos klein dogtertjies maar voel wanneer hulle alleen hul eie popwaentjie stoot.
Op straat het Miems 'n arm klein dogtertjie teëgekom met die vuilste ou pop wat sy nog ooit gesien het. "Bella, ek is so bly dat jy nie so vuil soos daardie pop is nie," het Miems gefluister.
Maar dit het gelyk of die arm dogtertjie haar vuil pop net so liefgehad het as wat Miems haar mooi pop gehad het, Sy het die pop styf vasgehou en aan haar gesê dat sy die mooiste pop in die wêreld was.
Op daardie oomblik - net toe die arm dogtertjie oor die straat geloop het - het 'n vramotor vinnig om die hoek gekom. Die dogtertjie het uit sy pad gesrping, maar sy het so geskrik dat sy haar pop laat val het. Dit het voor die motor beland en is flenters getrap!
Die arm dogtertjie het in trane uitgebars toe sy sien wat gebeur het met haar pop. Dit was die enigste pop wat sy ooit gehad het. Miems se ou hartjie was aangeraak. Dadelik het sy begin dink wat sy moet doen. Daar was niemand in die nabyheid nie en sy het gevoel dat dit haar plig was om die dogtertjie te troos. Sy het na haar toe gehardloop, haar handjie op haar skouer gesit en gesê dat sy nie moet huil nie. Maar die dogtertjie het gehuil. Miems het na haar popwaentjie gekyk en gedink aan haar pragtige pop, Bella. Sou sy? Sou sy?