"Hoe aangenaam sal dit wees om die koel water op my handjies te voel," het Evelyn gemymer. Sy het toe nader gestaan en haar handjies uitgestrek sodat die water op hulle kon val. Hoe heerlik koel was dit! Sy het 'n bietjie nader gegaan sodat van die druppels ook op haar gesiggie kon val - net 'n paar druppels natuurlik.
Maar toe Evelyn haar kom kry, was sy besig om lekker daar rond te dans terwyl die water op haar gereent het. Eindelik was haar hare, voorskootjie, rokkie, skoene en kouse sopnat. 'n Paar minute later het sy iemand hoor skreeu. Dit was Moeder wat by die vensster uitgeleun het. Moeder kon haar oë byna nie glo nie.
Was dit Evelyn wat daar, sopnat, so onder die water heerlik rondgedans het op die grasperk? Is dit dieselfde dogtertjie wat netnou nog so mooi aangetrek was? Moeder kon dit skaars glo, maar dit was tog Evelyn.
"Evelyn!" het Moeder geroep, en haar stem het taamlik stroef geklink; "kom dadelik hier!"
Evelyn het gekom, en nou het sy nie meer gelag nie.
"Wat beteken dit, Evelyn?" het Moeder gevra. "Het jy my nie belowe dat jy jouself die hele dag sou skoonhou nie?"
"Ja, Moeder, maar ek het v-e-r-g-e-e-t."
"O, jy het weer vergeet, né?" het Moeder gesê. "Wel, dan sal ons 'n plan moet kry om jou te laat onthou."
Moeder het vir Evelyn na die badkamer geneem, en nie te lank nie of daar is snaakse geluide gehoor, en dit was sekerlik nie iemand wat gelag het nie.
Toe is Moeder se stem gehoor: "Jy gaan nou dadelik bed toe, Evelyn, en daar sal jy bly totdat jou klere en skoene weer droog is."
"Moet ek in die bed bly terwyl die son so heerlik daar buite skyn?" het Evelyn mistroostig gevra.
"Ja," het Moeder gesê, "jy moet daar bly totdat jou klere en jou skoene heeltemal droog is."
Hoe lank het daardie skoene tog nie geneem om droog te word nie! En terwyl Evelyn daar alleen in die kamer was, het sy oor en oor vir haarself gesê dat sy sal probeer om nie weer so gou te vergeet nie.