Hier kom 'n seun van vyftien jaar - daar is talle sulke jong seuns in die tronk. Hy het iemand se motor gesteel, en het toe in die tronk beland. "Wel, ou seun," sê die sipier, "en wat bring jou hier?"
"Ons het gedrink, meneer, en -"
Dis maar weer dieselfde ou storie.
Hier is 'n jong seun van agtien jaar. Hy het 'n vrou vermoor omdat hy gedink het dat hy geld by haar sou vind.
"Waarom het jy dit gedoen?"
"Ek was dronk meneer, en ek het nie besef wat ek doen nie."
Dit is alles baie tragies!! In hierdie gevangenis is daar sowat tweeduisend-vyfhonderd gevangenes; hulle gemiddelde ouderdom is vier-en-twintig jaar, en hulle almal blameer die drank vir hulle val. Soms word van die gevangenes vrygelaat op hulle belofte dat hulle sal verbeter. Maar baie van hulle kom tog weer terug, en dan word hulle weer deur die sipier ondervra.
"Waarom is jy dan weer hier?" vra hy. "Ons het jou mos vrygelaat!"
"Meneer, is die antwoord, "ek het 'n kroeg binnegegaan. Ek kon dit nie help nie, en daarom is ek weer hier."
So 'n persoon is 'n slaaf; een van die baie duisende slawe van drank. Geeneen van ons kan seker 'n verstandiger stap doen as om God te belowe dat ons nooit, nooit selfs een druppel sterk drank sal drink nie.
Dit is die enigste manier om weg te bly uit die kloue van drank. Laat ons sommer nou daardie belofte doen, en besluit om dit te hou!