Maar Maria het nog geweier. "Ek kan nie gaan nie, ek kan nie gaan nie," het sy vasberade gesê, alhoewel daar groot trane in haar oë gekom het.
"Maar waarom kan jy nie gaan nie?" het die vriendelike mense gevra.
"Omdat ....omdat Pappie laat uitbly en drink en wanneer hy dronk huis toe kom, dan begin hy vir Mamma slaan en dan tree ek tussenby."
Of Maria ooit na daardie mooi tehuis gegaan het waarheen die vriendelike mense haar wou neem, weet ek nie, maar die eenvoudige verhaal van haar moed en opoffering sal altyd voortlewe. Sy was gewillig om die grootste kans van haar lewe op te offer, om haar rug te keer op die velde, blomme en bome, net om by haar moeder te staan en tussenbeide te tree wanneer sy in gevaar verkeer het. Sy was gewillig om alles op te offer net om haar plig te doen soos sy gemeen het om "tussenby" te tree en die swaar slae te neem, wat op haar Moeder sou geval het.
"Tussenbeide!" Is dit nie 'n mooi gedagte nie? En nou vra ek julle, kinders, sou julle gewillig wees om dieselfde vir julle Mammies te doen? Sou julle gewillig wees om soveel op te offer?
Julle sal natuurlik nie dieselfde kan doen wat Maria gedoen het nie, want ek is seker dat julle Pappies nie is soos hare was nie, maar julle kan darem tussenbeide kom wanneer Mammie te veel werk het, of wanneer sy swaar laste moet dra. Julle kan tussenby kom en haar help met die skottelgoed, met die wasgoed, met tafeldek en met die ander huiswerk. Deur 'n bietjie van jul speeltyd op te offer, kan julle tussenbeide kom in verband met baie dingetjies wat vir haar die lewe swaar maak.
"Tussenbeide!" Sou julle nie graag vredemakertjies tuis en by die skool wil wees nie, byvoorbeeld wanneer daar gevegte is, of wanneer die swakkeres in gevaar is nie - soos met boelies?
Daar is baie maniere waarop julle tussenbeide kan kom. Net soos Jesus ingetree het tussen ons en die sonde, so kan ons intree wanneer ander verkeerde dinge sê of doen. Julle kan tussenbeide kom met iets wat rein en edel en lieflik is.
Daar is byvoorbeeld die arm mense. Deur 'n bietjie opoffering kan julle tussen hulle en die armoede kom.
Daar is die siekes. Deur 'n bietjie meer van julle tyd op te offer en soms ook van julle geld, kan julle tussen hulle en die siekte kom.
Ook moet julle dink aan diegene wat hartseer is. Deur medelye en vriendelike woorde kan julle tussen hulle en hul droefheid kom. Net 'n klein drukke sal al help.
Hoeveel is daar nie vir elkeen van ons om te doen nie! Daar is baie geleenthede waar ons kan handel en optree soos Maria, waar ons haar mooi gees kan toon deur tussenbeide te kom.