Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
Lomerige Lettie
"Dis opstaantyd Lettie!" het Mammie geroep onder van die trap af. "Jy sal laat wees vir skool."
Lettie het net gekreun en omgedraai met 'n "Ja Mammie" en weer van haar poppe en die popspeelbedjie wat Pappie haar vir Kersfees belowe het, begin droom.
Ná vyf minute het Mammie weer geroep: "Lettie, staan nou dadelik op, anders sal ek jou self daar kom haal."
Hierdie keer het sy darem sover gekom om onder die komberse uit te kruip, maar sy was nog so lomerig dat sy laat was vir ontbyt en daardeur natuurlik ook laat vir skool.
Mammie was baie ontevrede, want dit was nie die eerste keer nie. Dit het elke dag gebeur. Elke oggend het dit ewe swaar gegaan om Lettie uit die vere te kry om betyds aan die ontbyttafel te gaan sit. Wat moes Mammie doen?
"Wel," het sy gedink, "ek moet iets doen, anders word my dogtertjie lui groot." Sy het die saak goed oorpeins en eindelik 'n plan gekry.
Die volgende oggend het sy Lettie soos gewoonlik geroep en soos gewoonlik was daar geen antwoord nie. Mammie het haar maar laat slaap. Die ander het hul ontbyt geëet en Mammie het aangegaan met haar werk.
So omtrent tienuur het 'n stemmetjie van bo af geroep" "Moedertjie, ek is honger. Kan ek nou maar my ontbyt kry?"
"Ontbyt!" Mammie was verbaas. "Ons het lankal die tafel afgedek, Dis nou al by na tyd vir die middagete."
Lettie het begin huil. "Ek wil darem nou my ontbyt hê!"