Wat nou oorbly is slegs 'n kaalgestroopte, koue poplyf, met deurmekaar hare en oneindige lipstiffiemerke van alle kleure en geure geplak oor sy hele liggaam. Maar die meisies word by die dag nog net liewer vir hom. Heel in die begin was hulle skaam en teruggetrokke, en twee jaar gelede sou net die waaghalsigstes dit gewaag het om voor hom te verklee. Niemand sou toe eers daaraan gedink het om aan hom te vat nie, wat nog te sê vertroetel. Inteendeel, so iets sou 'n verbreking van hulle hele ideaal en doelwit wees - om sonder 'n man te kan klaarkom.
Maar 'n vrou bly maar 'n vrou, en dank die Vader daarvoor. Een maand ná die intrek het een van die meisies saggies met haar vinger aan sy mond gevoel. Binne die volgende maand het 'n meisie sy hare gestreel terwyl sy liggies aan sy skouer druk asof dit uit vlees en bloed bestaan. Die ander negentien het gevolg en soos voëls met uitgestrekte nekke om hom beweeg, nuuskierig om iets te ontdek. Die eerste meisie wat daaraan gedink het om hom te ontklee was die lelikste van die spul. Sy het sletterige toutjieshare gehad, 'n gesig vol puisies, lippe te rooi en 'n lyf soos 'n stomp. Maar haar naam was Venus, en met eelthande het sy stilletjies die baadjie van hom afgeskil, toe sy hemp en frokkie, sodat sy met haar lippe haarself kon afdruk op sy bors. Die ander meisies was verheug oor hierdie ontwikkeling, en het met verwondering die res van sy liggaam ontklee. Hoe het hulle nie alles saam ontdek nie!
Die merkwaardigste van hulle saamwoon, selfs nou ná twee jaar, is dat die meisies geen teken van jaloesie of afguns toon nie. Niemand veroordeel die ander oor wat hulle doen nie. Elkeen is geregtig om die man lief te hê soos sy wil. En elkeen het geglo my liefde is uniek, my gevoel die treffendste. Hierdie toestand van algehele onbesitlikheid kon slegs heers omdat die man nie kon praat nie. Die winkelpop was stom. Sou hy vir die een kon sê: "Jy het mooi voete," of vir die ander: "Jou borste is sag soos meel," sou almal dadelik mekaar se oë begin uitkrap. Inderdaad, dit was die waarborg vir die twintig meisies se gelukkige voortbestaan; die winkelpop was stom. En hulle sou nooit oud word van kinders kry nie.
M.C. BOTHA
Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale
Saamgestel deur Abraham H. De Vries
Vyfde Hersiene Uitgawe
ISBN 0-7981-3569-7