Afrikaanse Gedigte
Kom vannag in my drome
Kom vannag in my drome
as dit donker is en stil;
reik my jou hand deur die drome,
en ons sal dwaal waar ons wil.
Kom, in die sterreduister
sal ek jou siel erken;
soos elke nag in die duister
sal ek jou oë ken.
Soos rook sal ons siele sweef
steil deur die sterrenag,
bo oor die donker berge,
bo oor die donker nag.
Bo oor die blydskap en liefde
wat hierdie wêreld ken,
sal ons in roerlose straling
die ewige skoonheid ken,
Die skoonheid wat ons 'n oomblik
sien flikker en vergaan
tussen die donker dinge
waardeur ons lewes gaan
met ewig-stille weemoed en halwe herinnering
van iets wat was, en nog swewe
oor ons herinnering;
van iets wat ons nooit kan kry nie,
van iets wat ons nie kan sien,
die hart van droom en verlange,
dié sal ons siele sien,
Lief, as jy kom in my drome,
kom in die sterrenag,
en ons twee dwaal deur die drome
bo oor die donker nag.
N.P van Wyk Louw