Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
Katie, Chris en die Kersboom
Dit was die dag voor Kersfees, en daar was nog geen kersboom in die eetkamer soos gewoonlik nie.
Dag na dag het Katie en Chris gekyk, en gehoop om die Kersboom daar te sien soos in vorige jare, maar daar was geen boom nie. Hulle het gewag en gewag, en verwag om dit enige oomblik daar te sien, maar hulle het tefergeefs gekyk.
Dit was nou al die heel laaste dag, en hulle het gevoel dat hulle nie langer kon wag nie. Hulle sal verplig wees om Mammie te spreek oor die saak, en hulle het.
"Mammie," het Chris gevra, "gaan ons dan nie vanjaar 'n Kersboom hê nie?"
"Dit is al Kersaand," het Katie gesê.
Moeder was baie verleë; sy het hierdie oomblik gevrees.
"Kinders, ek is baie jammer," het sy gesê. "Ek is bevrees dat ons vanjaar nie een sal hê nie. Ek het vir Pappie gevra om een te bring, maar hy was so besig dat hy heeltemal vergeet het. Hy het my gisteraand vertel, en nou is dit te laat. Ons woon so ver van die dorp af dat ons nooit een betyds sal kan kry nie."
"Ag Moeder!" het Chris gesê, "ons hou dan so baie van 'n Kersboom daar in die hoek. Ons kan nie Kersfees vier sonder 'n boom nie."
"Dit is baie jammer," het Moeder gesê. "Ja, ons wil 'n boom hê," het Katie ook gesê.
Die twee kinders is baie hartseer daar weg. Maar kon niks aan die saak gedoen word nie. Ten minste, so het dit gelyk.
Die twee kinders het saam raadgehou, en Katie het gesê, "Chris, dink jy dat Jesus ons 'n Kersboom sal stuur as ons Hom vra?"
"Moontlik sal Hy," het Chris gesê.
Sonder om Moeder daarvan te vertel, het hulle neergekniel en Jesus van hul teleurstelling vertel, en hoe graag hulle 'n Kersboom wou hê.
Julle mag sê dat dit lawwigheid is om Jesus om 'n Kersboom te vra! Wel, dit is 'n bietjie vreemd. Maar Jesus verstaan kinders, en Hy wil graag hê dat hulle Hom moet vertel van hulle begeertes. Hy hou daarvan om kinders te verras! Ek weet dat dit so is.
Daardie aand, nadat Katie en Chris reeds gaan slaap het, is daar aan die deur geklop. Dit was hulle buurman op die ander plaas, en hy het 'n snaakse verhaal vertel.