Kafee

elsa joubert

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Vertellers
Deel twee


deur merwe scholtz

Halfses stroom die mense by die stasietrappe af, klouend aan handtasse en koerante, veral in die wind, stroom by die sypaadjies af, word by die kafee afgekeer of gaan verby. Teen sesuur is die gewoel verby, het die straat leeggeloop.

Die winkelier het sy winkel toegesluit, die ystertralies vasgeskroef en is huis toe. Die kantoor van die eiendomsagent is toe.

Die kafee van Isi Papadopoulos bly oop. Tot twaalfuur die nag sal die lig van Isi se kafee 'n flou vierkant lig op die straat werp. Die lamppale is ver van mekaar. En soggens vyfuur wanneer die koerantlorries kom, sal Toni stewig en donker en wydsbeen op die sypaadjie staan om die bondel wat afgegooi word, te vang en binne te dra.

Isi en sy broer Toni werk saam in die kafee. Die kafee is Isi se skuiling, sy dop; selfs wanneer hy in die deur staan, met slaptye, om straat af te kyk, of straat op, of sommer na die lug, is die kafee op sy rug vasgesuig, is dit 'n groot gewig op sy kort, ronde lyf. Die kafee hou hom vas, asof hy met toue vasgebind is.

Toni, sy broer, is anders. Hy staan met sy lang, skraal lyf teen die straatdeur se kosyn en leun. Hy krap met 'n stokkie in sy tande, spoeg wat hy uitkrap op straat. Soos hy spoeg, maak hy hom los van die deur en loop straat af, sy bewegings los en stadig. Sy duim haak hy in die lyfband wat laag om sy  heupe vasgemaak  is.

Hy kyk om om met Isi te praat; hy versamel die kousels op sy tong, spoeg dit  uit. "I take dog for walk, hey."

Hy fluit en die hond in die kamer op die tweede verdieping stort by die trap langs die kafee af. Die hond spring teen hom op, lek sy gesig. Toni sê woorde in Grieks om hom te paai.

Die kafee is op die grondverdieping van die gebou en in 'n kamer op die eerste verdieping woon Isi en sy vrou. Toni woon op die tweede verdieping.

Iphigenia, Isi se vrou, kyk Toni agterna wanneer hy verbyloop. Die hond hap in die lug rond; die skowwe skuif onder die fyn, harde, goudbruin vel.

Iphigenia werk agter die toonbank in die kafee. Sy vee die blad van die toonbank af; sy neem die lap en vat daarmee om die krane van die koffiemasjien, vryf die lang gedraaide krane van die espressomasjien stadig blink, op en neer, en om en om. Dan skud sy die lap en vou dit saam.

Sy sug. Sy skuif agter die toonbank uit en loop tussen die tafeltjies deur. Sy tel die suikerpotjies op, vee met die lap oor die chroomblaaie van die tafels, sit die potjies weer neer. Sy is jonk, maar haar lyf is dik, haar arms swaar. Die oorrok wat sy dra, begin skif waar dit oor die borste trek. Sy is moeg van die dag se werk en die vrywe; sy kry warm.

Isi sit by 'n tafeltjie naby die venster. Hy kyk uit op straat; maak of hy kyk, want hy hou Iphigenia dop.

"Jy moet ook sit," sê hy vir haar. "Neem die gewig van jou voete af."

Sy antwoord hom nie, sy gaan voort met haar werk. Nadat die tafeltjies skoongevee is, gaan sy terug na die toonbank toe. Sonder om te praat, skink sy vir hom koffie in. Sy neem dit vir  hom, trek dan 'n stoel uit en gaan sit, swaar.

Hy wys na die koppie. "Jy drink nie saam met my?"

Sy haal haar skouers op, beduie na die toonbank. Hulle wag.

Oor die stoepie voor die kafee, wat smiddags in vol son is, begin skaduwee kom. Die biljette van koerante, wat omgekrul het in die son, word slap. Daar is geen wind nie.

Wanneer die straatlig aangaan, kom Toni terug. Hulle hoor sy voetstappe van buite af n ader kom, sien  hoe sy lyf die deur vol staan, ingedruk word deur die hond wat stoot. Die hond ken vir Iphigenia; hy ruk sy kop terug teen die leiband wat Toni om sy nek gebind het. Met 'n pluk aan sy riem dwing Toni die hond tussen die tafels deur na die hoektafel waar Iphigenia die koerant vir hom neergesit het en waarheen sy dié tyd saans sy koffie bring.

Met die hand wat nie aan die riem beur nie, haak hy 'n plastieksakkie met biltongskyfies van 'n draadstaander af en skeur dit met sy tande oop. Hy gaan sit en haal die stukkies biltong  uit, voer dit vir die hond. Die hond hap, volg sy hand soos hy daarmee sirkels in die lug maak, hom tart.

"Jy moet ent kry met die hond in die kafee," sê Isi vir Toni. "Die hond word te groot, dis nie 'n lewe vir hom nie."

"My dog likes me," sê Toni.

"Stil," sê hy vir die hond wat teen hom orent beur en sy gesig met die tong wil bykom. "Stil". Hy frommel die plastieksakke op. "Toe, dis nou genoeg. Later kry jy kos."

By die straatdeur kom die vriend van Isi binne wat saans met  hom skaak speel. Hy is 'n ou man en dra die kissie met die skaakstel versigtig onder sy arm, stut dit met albei hande.

Saans eet hy eers en dan speel hy en Isi. Hy gee sy bestelling aan Iphigenia. Hy is die eerste van die klante wat 'n stukkie kom eet.

Toni wat die stukkie verfrommelde plastiek op die vloer neergegooi het, staan op. Hy moet die hond kamer toe vat en terugkom kafee toe om die aanloop van mense te bedien. As die tyd druk is, is hule al drie op hul voete.

Iphigenia maak die suikerpotjie op die tafel vol uit 'n bruinpapiersak wat sy onder haar arm saamdra. Die hond spring op teen haar, kap met sy pote teen haar lyf. Sy hou die papiersak suiker ver van haar weg dat dit nie onder sy pote verskeur word nie. Van die hare wat in haar nek vasgebind is, kom los.

Nadat Toni met die hond gepraat het en hy bedaar, gaan sy voort met suikerpotjies vul. Sy dra pantoffels en soos sy loop, maak sy slofgeluide tussen die tafeltjies deur.

Die ou man praat met Toni. "Jy moet dink aan die kafee. Eendag gryp die hond 'n kind, en dan?"

Toni haal sy skouers op.

"Die hond meen nie kwaad nie," sê Iphigenia.

Selfs terwyl die wit suiker in 'n fyn stroompie uit die tuit van die papiersak in die glaspotjie loop, sien sy met oë in haar agterkop Toni en die hond by die winkeldeur uitgaan in die straat, teen die lamppaal vertoef, met die trap opklim, eers tot waar hulle kamer is, dan verder op na die kamer waar hy woon.

Sy bedien die kos wat die ou man bestel het. Sy kook vir dié wat bykom, wat die deuropening vul, wat die donker daar buite binnedring, wat hul bene onder die tafeltjies inswaai, hulle rûe krom teen die harde leunings van die chroomstoeltjies wat skaars hulle gewig kan dra.

Sy smeer die warmplaat vet, sy breek die eiers daaroop, sy keer die wit vog wat stollend oor die warm plaat loop, sy druk terug, sy braai die wors, sy draai dat die skeure wat deur die hitte oopgedwing word die wors nie verbreek in stukke nie, sy lig waar die hitte die plaat laat kleef aan die dermvlies, sy steek met die slaplemmes, sy trek die fyn bruinaangebrande vlies dat hy rek, dat hy skeur. Sy stryk oor die punte van die wors waar die vlies teruggetrek het, waar die maalvleis en stukkies vet bruiner word en peul. Dit stoom agter die warm plate waar sy werk, dit ruik na warm olie, na verkoolde brood waar die krummels in die braaipan vassteek, dit ruik na margarien wat in die warm brood inloop.

Sy strooi sout en peper, sy geur, haar vingers hou die tamaties orent dat haar hand die lem kan deurdruk, deur die klein weerstand van die vlies, deur die sagte rooi vleis, sny na sny, wat sy vang soos dit omval, terugdruk in plek. Wors, eier, tamatie, brood. Sy stoot die borde kos in rye om te wag op die hande van Toni. Tonie wat sy lyf soos dié van 'n stiervegter lig om tussen die tafels wat vol sit, deur te skuif. Toni met die skinkbord skouerhoogte, op die plat hand met die vingers oopgesprei.

Isi werk ook hard. Hy neem die geld by die geldkas. Sy regterhand druk die syfers, trek die hefboom, keer die geld terug; sy linkerhand werk met die koffiemasjien, druk die hefboom dat die koppies vol van die swart vloeistof loop. Maar hy vind dit moeilik, word verbouereerd, laat dit aan Toni oor om die koppies reg te skuif, die melk in die bekers te tap, die ekstra glas water te skink, die koffie wat gemors is met die vinnige haal van die lap in sy sak op te vee.

Dit duur nie lank nie. Is dit nagskkofmense? Is dit mense wat woon in kamers soos hulle s'n, oor geboue en kantore en winkels wat nou toe is? Hoe lank hulle ook talm oor die koffie, hoe lank hulle ook peusel aan 'n korsie brood, oplaas is dit klaar, die stoele teruggestoot en die tafels leeg.

Tyd vir Iphigenia om skoon te maak, vir Isi om die geldlaai na te gaan, vir Toni om die besem te vat en te begin vee.

Dan eet hulle self. Dan haal die ou man, die vriend, wat sit en wag, sy kassie met die skaakstel uit, skuif die suikerpot en tamatiesous, die sout-en-peperstelletjie en die asbak na die tafel langsaan, en vou die skaakbord oop. En Isi rek sy lyf, draai sy arms in die potjie na vore, na agter, rek sy kort nek, strek sy arms asof hulle voor die geldkas styf geraak het en gaan sit.

Iphigenia is nog besig. Sy was die borde en koppies, sy vee met 'n nat l ap en skoonmaakgoed oor die warmplaat, sy druk met haar vinger in die randjies, kry die vuiligheid met haar naelpunte uit die riffies, sy vee, sprinkel Vim, druk skoon. Dwarsdeur die etensuur, soos die borde van die tafels teruggebring is, het sy kos wat oorbly, die brood, die reste van worsrolletjies, die bene van kotelette, die stukke vet van beeshaas of wors, die verworpe deeg van vleispasteie wat besmeer is met tamatiesous, uitgekrap en in 'n blikbak bymekaargemaak. Sy gaan op haar knieë en tel die stukkies op wat uitgemors het met die uitkrap. Sy tel  met haar vingers op, vee die vuil van haar vingers af teen die rand van die bak. Dié sit sy eenkant.

Dan kry sy water en skrop die vloer. Sy druk die hare wat uit haar bolla loskom, van haar voorkop weg; van met haar lippe die druppels sweet wat langs haar neus afloop.

 Wanneer sy klaar is, trek sy die deur van die waskamertjie agter haar toe en tap skoon water in die bak. Sy trek haar klere uit en was. Wanneer sy weer aangetrek is, kam sy haar hare en druk dit met haar hande teen haar kop Sy sit op die stoel dat sy kan rus. Haar bors gaan stadig op en neer, haar oë is toe en haar kop leun teen die muur agter die stoel. Haar liggaam word slap.

Ná sy gerus het, maak sy die deurtjie van die waskamer oop, tel die bak met kos vir die hond van die vloer agter die toonbank op en sê vir haar man: "Ek neem die kos boontoe."

Die lug buitekant is koel om haar kop. Die strate is leeg en donker, Ver bokant die geboue sien sy 'n streep donker wat die hemel moet wees, maar sy sien nie sterre nie, omdat die gloed oor die stad die glans verdof het. Sy ruik die sterre wat sy nie sien nie, in die koel lug. Sy ruik donker aarde in die teerstrate wat nog warm van die dag se son is. Net 'n paar oomblikke staan sy buite, dan gaan sy in by die deur langs die k afee, die ingang tot die trap en sy begin boontoe klim.

In haar een hand is die bak met kos, met die ander hand hou sy die reling vas. Sy klim verby die eerste verdieping waar haar en Isi se kamer is, deur die donkerte op na die tweede verdieping. Die groot, onrustige hond het op haar gewag en hy spring teen haar op wanneer sy binnegaan.

"Bedaar, bedaar," sê sy vir hom. Hy lek aan haar gesig met sy groot, nat tong. Sy vee haar gesig af met haar mou, maar sy keer hom nie wanneer hy weer en weer lek nie. Dan buk sy om die bak op die vloer neer te sit. Hy begin vreet, sy lyf teen haar lyf gestoot asof hy wil bewus wees daarvan dat sy daar is.

Sy sit op Toni se bed, haar hande op haar skoot. Die ligte van die hoë advertensies op die dakke van die geboue om hulle flikker aan en af, gooi vreemde kleure oor haar gesig en oor die hond se lyf soos hy vreet. Rooi en groen en geel en vaal skaduwees gly oor haar hande, oor haar skoot.

Sy vreet lank. Sy sak agteroor en lê haar kop op Toni se kussing neer.

--- --- ---

Toni het die teelepel waarmee hy in sy koppie sit en rondspeel het, die soetigheid op die boom sit en uiteet het, neergesit en staan op. Hy loop by die kafeedeur uit. Die kafee is leeg; net die ou man en Isi sit afgetrokke en skaak speel.

Die ou man maak 'n beweging met sy skouers asof hy aan Isi wil vra: Gaan jy boontoe? En verder: As jy wil gaan kyk, sal ek 'n ogie hier onder hou.

En soos elke aand skram Isi daarvan weg, probeer hy skaak speel. Om bietjie later op te kyk en aan sy vriend te sê: "He's my brother, hey."

En nadat hy dit gesê het, begin hy wag op haar terugkoms. Wanneer sy oplaas die kafeedeur binnekom, verslap sy lyf, sak hy terug asof die spanning van die dag verlig is.

"Ons is dors, Iphigenia," sê hy vir haar.

Sy bring koffie vir Isi en die ou man. Sy mors 'n bietjie in die pierings. Hulle buk oor die skinkbord om suiker in te gooi. Sy ruik na laventel wat oor haar gegooi is, kwistelik. Sy laat rus haar hand 'n oomblik lank op Isi se skouer, kyk oor sy skouer na die stukke op die skaakbord. Die swaar liggaam skuif weg. Die hare wat netjies in die bolla vasgesteek is, glim; die bolla beweeg saggies in die lig soos sy terugslof toonbank toe.

Die leë blikbak van die hond, wat sy saamgebring het van bo af, skuif sy onder die onderste rakkie in, tot môre.

Toni het die teelepel waarmee hy in sy koppie sit en rondspeel het, die soetigheid op die boom sit en uiteet het, neergesit en staan op. Hy loop by die kafeedeur uit. Die kafee is leeg; net die ou man en Isi sit afgetrokke en skaak speel.

Die ou man maak 'n beweging met sy skouers asof hy aan Isi wil vra: Gaan jy boontoe? En verder: As jy wil gaan kyk, sal ek 'n ogie hier onder hou.

En soos elke aand skram Isi daarvan weg, probeer hy skaak speel. Om bietjie later op te kyk en aan sy vriend te sê: "He's my brother, hey."

En nadat hy dit gesê het, begin hy wag op haar terugkoms. Wanneer sy oplaas die kafeedeur binnekom, verslap sy lyf, sak hy terug asof die spanning van die dag verlig is.

"Ons is dors, Iphigenia," sê hy vir haar.

Sy bring koffie vir Isi en die ou man. Sy mors 'n bietjie in die pierings. Hulle buk oor die skinkbord om suiker in te gooi. Sy ruik na laventel wat oor haar gegooi is, kwistelik. Sy laat rus haar hand 'n oomblik lank op Isi se skouer, kyk oor sy skouer na die stukke op die skaakbord. Die swaar liggaam skuif weg. Die hare wat netjies in die bolla vasgesteek is, glim; die bolla beweeg saggies in die lig soos sy terugslof toonbank toe.

Die leë blikbak van die hond, wat sy saamgebring het van bo af, skuif sy onder die onderste rakkie in, tot môre.

Vertellers 2

Die tweede groot verhaalboek

deur Merwe Scholtz

Radio Kuber Kontrei is 'n gratis Afrikaanse Agtergrond musiek kanaal. Kliek op ► links en luister via TuneIn. Maak asb. die ♥ rooi! deur ons as 'n FAVOURITE te merk. Vind ons APP op Google Play