En toe, een namiddag, toe sy weer daar in die gang gestaan en wag het by die deur van Pappie se kamer, het die verpleegster uitgekom en na die badkamer gegaan. En sy het die kamerdeur laat oopstaan!
In 'n kits was Gloria binne. Sy moes eenvoudig haar Pappie sien, en julle kan haar nie blameer nie, kan julle? Maar toe sy haar Pappie sien, het sy baie hartseer geword. Hy het so bleek en moeg gelyk. "Arme Pappie!" het sy gesê, terwyl sy sy hand streel. "Ek is so jammer vir Pappie."
En toe, na 'n rukkie van stilte, het sy gesê: "Ek het Pappie baie lief." Pappie het flou geglimlag. "Ek is bly dat jy na my kom kyk het," het hy gefluister, en geprobeer om haar koppie te streel.
Daar het trane in Gloria se ogies gekom, en skielik het sy na die venster gestap en na omhoog in die lug gekyk. Daar het sy met Jesus gepraat soos met 'n dierbare vriend. Dadelik was sy weer by haar Pappie. "Pappie", het sy ernstig gesê terwyl haar gesiggie van vreugde gestraal het, Jesus het nou aan my gesê dat Pappie gesond sal word."
Pappie het geglimlag en sy oë toegemaak. Op daardie oomblik het Gloria voetstappe gehoor. Dit was die verpleegster wat terugkom! Maar Gloria het nie nou aan weghardloop gedink nie. Dit was nou haar beurt.
"Sjuut!" het sy gesê toe die verpleegster inkom met 'n onvriendelike frons op haar gelaat. "Sjuut! my Pappie slaap. Moet hom nie wakker maak nie."
Die verpleegster het gekyk, en tot haar verbasing het sy gesien dat haar pasiënt eindelik aan die slaap was. Daardie klein dogtertjie het meer gedoen as al die dokters en verpleegsters saam.
Die arme siek man vir wie niemand meer hoop gehad het nie, het die hele nag deur geslaap - iets wat hy vir weke nie gedoen het nie. Toe hy die volgende oggend wakker skrik, was daar sulke groot beterskap dat die dokters hulle oë nie kon glo nie. En van toe af het hy sommer begin herstel totdat hy volkome gesond was.
Vandag is hy weer terug op sy kantoor, en hy word nooit moeg om te vertel hoe sy lewe gered is, nie deur die dokters nie, maar deur die gebedjie van sy eie dogtertjie, Gloria, daardie namiddag by die venster.