Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale
In Vino Veritas
Verlede nag het my gees weggeloop Boland toe. Miskien loop jy hom raak, iewers tussen Stellenbosch en die Paarl. In 'n wynwingerd, in die son. Want dis parstyd in die wynland. Nou dat die jaar ryp geword het. Die wind en goeie weer en son het die trosse tot bekwaamheid begenadig - to parsbaarheid gesuiker in die oop hart van die sanderige aarde.
Nou kom die hande van mense en die ratte van masjiene en stroop die wingerdstokke van hul vrug. Rooi Pinotage. Wit Steen. Hulle is die eerstes. Dan Hermitage en Frans, eh later Colombar en Hanepoot. Teen die einde is dit Clairette Blanche en Cabernet. Mandjiesvol, lorriesvol...strate- en paaievol. Die hart van die wynland word gekneus, gemaal, gebreek voor dit met die gis en bêre in die duisternis herbore word tot kleur en boeket en liefde vir die mens se mond.
Die mens was klaar in die wingerd - om die suiker en die suur te meet wat die son en die weer en die aarde in die korrel gevorm het. Plek-plek, oral deur die wingerd, het die mensehand korrels gevat - vyf korrels sonder uitsoek om die middel van die tros. Om te meet waar die suiker lê, om die vrees vir reën te meet en die sontyd wat nog nodig is.